
Die akteurs Ben Albertyn en Tyrish Mili in Droomwerk. Foto: © Xolani Tuluman
Petrus droom oor sy voorouers in ’n hospitaal vir geestesiekes. Sy stammoeder, Diana van Madagaskar, loop op die seebodem terug huis toe. Sy oupa Piet, ’n apartheidsenator, herleef sy toesprake op sy doodsbed. Kan Petrus versoening in sy familie bring, of is hy te siek om te onderskei tussen werklikheid en droom?
Die digter Pieter Odendaal se teaterstuk, Droomwerk, is met die ATKV Woordveertjie vir beste nuwe dramateks bekroon en benoem vir die Hertzogprys vir Drama. Herscelle Benjamin beskryf Droomwerk as ’n moet-sien drama “met geweldige emotionele impak – ’n spirituele geleentheid.”
Die veelbekroonde Kaapse regisseur Kanya Viljoen hanteer die ontwerp en regie, met Lwanda Sindaphi as begeleidende regisseur. Die rolverdeling lees ewe indrukwekkend: Jill Levenberg van Suidooster en Ellen Pakkies, die opwindende jong akteur Ben Albertyn, teaterlegende Gerben Kamper, Tyrish Mili en Johann Vermaak. Levenberg het verskeie nominasies vir haar vertolking in Droomwerk ontvang, en het die 2023 Woordtrofee vir Beste Vroulike Byspeler by die Woordfees ingepalm. Na verskeie speelvlakke by kunstefeeste, maak Droomwerk uiteindelik ’n draai in Kaapstad.

Links en middel: Pieter Odendaal (skrywer en vervaardiger) en Kanya Viljoen (regisseur en ontwerper). Foto’s: verskaf. Regs: Lwanda Sindaphi, begeleidende regisseur van Droomwerk. (Foto: Linsdey Appolis)
Droomwerk is gebaseer op Odendaal se verkenning van sy herkoms as ’n wit Afrikaanssprekende man met slawe voorouers. Die hoofkarakters is losweg gebaseer op die skrywer, sy oupa (’n apartheidsenator in die 1970s) en sy stammoeder, Diana van Madagaskar, wat in die laat 17de eeu as slavin na die Kaap gebring is. Die stuk ondersoek die wortels van intergenerasionele trauma en bevraagteken die hegemonie van Westerse psigiatrie teenoor inheemse praktyke om geestesversteurings te behandel. Saartjie Botha skryf, “Droomwerk is ’n herontdekking van herkoms wat jou meesleur na die ongekaarte weerloosheid van historiese trauma, ’n oopskryf van heling.”
Droomwerk speel 26-30 April by Suidoosterfees (kaartjies beskikbaar by Webtickets). Hierna volg ’n speelvlak by die Avalon Ouditorium (Homecoming Centre) vanaf 8-11 Mei (kaartjies beskikbaar by Quicket). Droomwerk is ook beskikbaar in boekvorm by Protea Boekhuis.

Die akteurs Ben Albertyn en Jill Levenberg in Droomwerk. Foto: © Pieter Lombaard
Odendaal is ’n digter, dramaturg, vertaler en samesteller. Sy debuutbundel, asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg), is in 2019 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Hy was vroeër die uitvoerende direkteur van InZync Poetry op Stellenbosch en het onlangs sy doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Queensland University of Technology in Brisbane behaal. Hy doseer tans Skryfkuns by NWU in Potchefstroom.
Kaartjies vir Suidoosterfees: https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1542063628
Kaartjies vir Homecoming centre: https://www.quicket.co.za/events/256893-droomwerk#/
Instagram: @droomwerk_teater
Facebook: Droomwerk
Lees ook:
Pieter Odendaal se Droomwerk bring postkoloniale denke na die hospitaal

