
Enige digter of voornemende digter met gedigte in die onderste laai of in die kop kan dit Saterdag 16 September om 12:00 by die jaarlikse Tuin van Digters by die Breytenbach Sentrum in Wellington kom voordra of voorlees.
Kontak vir Kobus Coetzee by 073 538 8771 of Anouk Cronjé by anoukcronje02@yahoo.co.za as julle wil kom voorlees. Hulle is albei lede van die jeugdireksie van die Breytenbach Sentrum.
Hier is digwoorde van Francois Lötter, wat vanjaar die sewende agtereenvolgende jaar die organiseerder van die Tuin van Digters-fees is.

die tyd is hier vir meer digdink
was jy al by tuin van digters
dalk wel of miskien nog nooit
moenie meer wegbly nie
die woorde klanke beelde
vir niks buite die tuin mis nie
vrydag van vroegaand tot laat
tussen bundels boeke digters
lady diana ferrus se verering
die jazz-poësie van belgië
beelde van lewende woorde
baie praatjies en geselsies
propvol akkoorde en gedigte
en klinkende glasies
luister saterdag hoe
almal van vroeg tot laat
bymekaar kom om
te luister na mekaar
digters met hul gedigte
in woord(e) en in klank(e)
kunsmatige intelligensie
silwerwit die toekoms in
’n nuwe ons klyntji zine
vol stemme oud en jonk
ingrid jonker se pryswenner
met woorde uit donkerberg
onse breyten by sy pa
se groot bôrdienghuis
skouerskuur en kenmekaar
woorde deel en woorde maak
vrolik dansend singend
met die digters van die nag
in die tuin van alle digterstuine
in die wynlande van die boland
in die woordmakersvallei
in die middel van die wellington
as jy nog nie wis of weet nie
onthou om te onthou
meer digdink is nodig
(Besoek www.breytenbachsentrum.co.za vir die volledige program en kaartjie- en ander inligting van die Tuin van Digters-fees op 15 en 16 September by die Breytenbach Sentrum in Wellington.)

