Die elfde Tuin van Digters deur Izak se lens

  • 1

Tuin van Digters is vanjaar vir die elfde keer by die Breytenbach Sentrum in Wellington gehou. Die gedigtefees het Vrydag 7 Oktober 2022 begin en het op 8 Oktober klaargemaak.

Die Breytenbach Sentrum se tuin is vol gedigte. By die ingang is ’n mens reeds omring deur poësie.

Tuin van Digters is geopen deur Curtis van Kerwel, ’n kitaaronderwyser by die Breytenbach Sentrum.

Deon Meiring was weer die seremoniemeester.

Die aand is daarna opgevrolik deur ’n Nederlandse “borrel”, wat aangebied is deur die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV). 

SASNEV is vanjaar 25 jaar oud. Boonop het die Tuin van Digters saamgeval met die einde van die Week van Nederlands, wat van 1 tot 8 Oktober gevier is. Daar was dus meer as een rede om ’n paar borreltjies in waarderende kele te laat verdwyn. Sanet Botes, Emma Bedford en Ena Jansen geniet die oomblik.

Francois Lötter, die hooforganiseerder van die Tuin van Digters, het ’n paar woorde oor die samewerking met SASNEV gesê. Eureka Barnard, die bestuurder van SASNEV, het daarna almal verwelkom.

Karen Benjamin het ’n kort toespraak gemaak en SASNEV geluk gewens met hul verjaarsdag.

Toe is daar glasies geklink, soos deur Erwin Rhode en Eureka Barnard.

En glasies is gelig, soos deur Karen Benjamin en Babs Gons. Gons is ’n bekende Nederlandse kletsrymer.

Verskeie lede van die SASNEV-direksie was teenwoordig. Hier is Hendrik Theys, Eureka Barnard, Ena Jansen en Nicol Stassen.

Elda Kruger van ATKV het ook kom inloer.

Die jong 23-jarige kaalvoet Namibiese musikant Momo het die gaste met haar ukelele vermaak.

Dit is tradisie dat ’n kunsuitstalling in die Breytenbach Galery open tydens die Tuin van Digters.

Vanjaar het Gregory Kerr, die toenmalige hoof van die kunsdepartement en hoogleraar aan die Universiteit Stellenbosch, die uitstalling geopen.

Kerr het in sy toespraak daarop gewys dat kunsmatige intelligensie deesdae al hoe beter word om kuns te skep. Soms is die kuns wat deur masjiene geskep word, uitsonderlik goed. Tog, sê hy, is hy as kunstenaar nie bekommerd nie, want die rekenaar sal nooit volledig by die mens kan oorneem nie, juis omdat die rekenaar nie foute maak nie. Die ware waarde van kuns lê in die menslikheid, in dit wat elke stuk uniek maak.

Anne-Ghrett Erasmus Coetzee, die kurator, het almal genooi om die uitstalling te besoek.

Selfs beurtkrag het nie die ervaring gedemp nie. Die son se laaste strale was steeds genoeg om rustig na die kuns te kon kyk. Manie Rust, een van die stigterslede van die Breytenbach Sentrum, is in die voorgrond. 

En om die gedigte wat oral verskyn te geniet.

Mont du Toit het die wyn vir die opening geborg.

Die kunstenaars wat uitgestal het, is Louis Jansen van Vuuren, Frank van Reenen, Judy Woodborne, Willie Bester, Estelle Marais, Nadine Hansen, Sandra Hanekom, Theresa Jo, Shany van den Berg, Andries Samuel, Willem Samuel, Peter van Straten, Gregory Kerr, Johann Slee, Bastiaan van Stenis, Kobus Coetzee, Ruhan Janse van Vuuren, Alisa Farr en Jean Dryer.

Daar het ook ’n video gespeel wat Willem Samuel gemaak het.

Catherine du Toit en José Dias het die gaste toe vermaak met voorlesings en musiek. Hulle het tekste van Breyten Breytenbach, Ryk Hattingh, António Lobo Antunes, Konstantin Kavafi en Fernando Pessoa in verskillende tale voorgedra. Musiek van onder meer Chopin en Prokofiëf is gespeel.

Antjie Krog is daarna gehuldig. Lees die volledige berig oor Krog se huldiging hier.

Dit was aand en dit was môre.

Ashlene Ayford en Grant Jefthas het die Saterdagoggend vir leerlinge van die Weltevrede Sekondêre Skool in Wellington die geleentheid gegee om hulle eie gedigte voor te dra.

In die Boland Cellar Woordtent het Gerhard Barkhuizen oor sy debuutbundel, Smee, gesels met Daniel Hugo. Smee het by Turksvy Publikasies verskyn.

Barkhuizen is ook ’n beeldende kunstenaar en sy gedigte is dikwels in gesprek met die beelde wat hy maak, wat daardie tekste outoëkfrakties maak. Dit het hy geleer terwyl hy ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk gedoen het.

Hy het selfs vir Turksvy Publikasies hul logo in metaal verewig deur turksvye aan ’n hoefyster vas te sweis, soos Daniel Hugo hier vertoon.

Barkhuizen is ’n sielkundige. Sy pa was ’n werktuigkundige en volgens Barkhuizen was sy pa se werkswinkel ’n plek waar ook talle sielkundige kwessies uitgepraat is. Die bekende Christine Barkhuizen-Le Roux is Gerhard Barkhuizen se suster.

Protea Boekwinkel het boeke verkoop.

Enige digter hou daarvan om hul boeke uitgestal te sien, vandaar Grant Jefthas se glimlag.

Susann Louw van die Toyota US Woordfees het ook kom inloer.

Praat jy!, wat met die steun van die Jakes Gerwel Stigting uitgegee is, het pas by LAPA Uitgewers verskyn. Thérèse Hulme, ’n narratiewe terapeut, het die boek saamgestel. Sy het met Theo Kemp, hoof van die Jakes Gerwel Stigting, daaroor gesels. 

Hulme gebruik skeppende werk om aan jongmense ’n platform te bied as ’n alternatief vir hul frustrasies. Sy werk veral in gemarginaliseerde gemeenskappe.

Hulme het by die Breytenbach Sentrum ook gewerk. Die Piemp-skrygroep van die Weltevrede Sekondêre Skool het so ontstaan.

Een van die jongmense wat aan die gesprek deelgeneem het, is ’n rymkletser bekend as Katy G. Dié jongeling vertel openlik dat hulle ’n gangster sou word, as dit nie was dat Hulme ’n alternatief gebied het nie.

Theltom Masimela, wat verskeie episodes van 7de laan geskryf het en ook die skepper van Arendsvlei is, het ook begin skryf danksy Hulme.

Theo Kemp doen ’n onderhoud met Fiësta se span.

In die Boland Cellar Woordtent is ’n oop mikrofoon opgestel waar enige een kon gedigte voordra. Anouk Cronjé (bo) en Kobus Coetzee, lede van die jeugdireksie van die Breytenbach Sentrum, het die geleentheid gereël.

Grant Jefthas het tussendeur gedigte voorgelees en Momo het haar ukelele gespeel.

Jolyn Phillips daag op.

Tanja Erasmus en Lynthia Julius by muurskilderye van bekende digters. Erasmus het die skilderye geverf.

In die ATKV Akkoordtent was Karin Benjamin in gesprek met die Nederlandse digter Babs Gons oor haar werk as digter en gesprokewoordkunstenaar.

Gons het al verskeie toekennings, waaronder die 2018 Black Achievement Award for Arts and Culture en die 2019 International Slam-O-Vision Contest Title, ontvang.

Hoewel Gons baie bekend is, en gewild onder die gaste, het ’n ander glanspersoonlikheid skielik alle koppe tydens haar optrede laat draai. Die joernalis Jean Oosthuizen het met sy lieflike jong corgi, Zennie, opgedaag ...

Zennie het vir die res van die dag ’n hele aantal harte gesteel.

Daarna het hy rustig by Jean se skoene gaan lê.

Die klank in beide tente was puik.

Suna Verhoef en Engela Duvenage kuier saam.

Die sangpaar Frazer en Deniel Barry het toonsettings van Krog se gedigte voorgedra. Babs Gons het ook by hulle ook aangesluit om sekere items te lewer.

Johan Myburg, wat die Hertzogprys gewen het met sy vorige bundel, Uittogboek, het sy nuutste, Narreskip, bekendgestel. Louise Viljoen het met hom gesels.

Narreskip, wat by Protea Boekhuis verskyn het, gaan speels om met die wêreld van kuns en die mitologie.

Die lieflike bont voorblad is ontleen aan ’n skildery van Hieronimus Bosch wat in die Prado-kunsmuseum hang. In die bundel verskyn ene Bosch dan ook op safari in Afrika agter die stuur van ’n Toyota Prado!

Die idee van ’n skip wat deur narre beman word, kom uit boek VI van Plato se Republiek. Dit lewer kommentaar op ’n samelewing en ’n regering wat disfunksioneel is. Hoe gepas hierdie klassieke teks nie vandag is nie, is ’n paar keer genoem. Tog, sê Myburg, sy gedigte poog nie om bloot vinger te wys nie. Ons is almal narre op hierdie skip.

Op die plein oorkant die Breytenbach Sentrum het die groep Orwellington gratis vermaak verskaf.

Remona Voges het aangedring op ’n kiekie.

Een van die tafelversierings ook.

Diana Ferrus het in 2012 die Mengelmoesdigters by die Breytenbach Sentrum gestig.

Die groep digters skryf kaalkop oor die wêreld waarin hulle leef en werk. Diana Ferrus, Gaireyah Fredericks, Theresa Carstens, Sophia Oliphant, Jackie Saaiman, Jadrick Pedro, Naidene Lottering en Merle Danhouse het hul werk in die ATKV Akkoordtent voorgelees.

Ampie Coetzee, stigterslid van die Breytenbach Sentrum, is op 15 Oktober 2020 oorlede.

Om hom te gedenk is daar tydens die Tuin van Digters 2022 ’n stapel klippe neergelê.

Elke besoeker is genooi om ’n huldigingsklip met ’n boodskap op die stapel te plaas.

Jerzy Koch se tweede digbundel in Afrikaans, Polkadraai (Turksvy Publikasies), is ook bekendgestel.

Daniel Hugo was met hom in gesprek.

Koch, ’n Poolse akademikus en hoof van Nederlandse en Suid-Afrikaanse studies in die Fakulteit Engels van Adam Mickiewicz Universiteit in Poznań, skryf nie net sy eie, oorspronklike werk nie; hy het ook van Antjie Krog en Breyten Breytenbach se gedigte vertaal.

Hugo en Koch was ook in gesprek oor ’n akademiese publikasie van Koch oor die literatuurgeskiedenis van Afrikaans. Koch beweer dat Afrikaans baie dank verskuldig is aan die digters van die 1920’s, want hulle het die Afrikaanse poësie gevestig deur dit met Europese tendense te belyn. Op hierdie kern kon die Digters van Dertig voortbou en vernuwend werk.

Koch was nie die enigste oorsese digter nie. Klara du Plessis, wat in Kanada woon, het ook die fees bygewoon.

“Om Antjie te vertaal” was die titel van ’n gesprek tussen Georges Lory en Antjie Krog. Lees meer daaroor in hierdie berig.

Vier digbundels deur NB Uitgewers is bekendgestel. Louise Viljoen het die gesprek gelei.

Loit Sōls se bundel Moerstaāl is opspraakwekkend weens die manier waarop hy leestekens aanwend om klanke uit te beeld.

Sōls het sy kitaar gebruik om te demonstreer hoe belangrik klanke is in die ritmes van ons inheemse kulture waaruit Afrikaans ook sou put.

Stevlyn Vermeulen, ’n uitgewer by NB Uitgewers, het verduidelik waarom daar ’n nuwe versameling verse, Die maand is swart deur Adam Small, uitgegee is. Sy het ook daaruit voorgelees.

Philip de Vos se Môre en gistraand en die einde van die maand het, soos gewoonlik, die luisteraars laat glimlag en beter voel.

Plunder, deur Antjie Krog, is by die geleentheid amptelik bekendgestel.

PEN Afrikaans het daarna vir Krog gehuldig onder die titel “Digter wordende”. (Lees meer hier.)

Die Ingrid Jonker-Prys is aan Jacques Coetzee oorhandig vir sy bundel An illuminated darkness (uHlanga Press). Lees hier meer oor hierdie bundel.

Francois Lötter het ’n paar woorde namens die direksie van die Breytenbach Sentrum gesê en het die Dagbreek Trust vir hul voortgesette ondersteuning van die projek bedank.

Brian Walter het ’n kort toespraak oor Coetzee se werk gelewer. Coetzee is blind en spreek daardie donkerte aan in sy werk. Walter is self ’n ontvanger van die Jonker-prys.

Simone Garcia Marques (Ingrid Jonker se dogter) het die beeld, wat deur die Breytenbach Sentrum geskenk is, aan Coetzee oorhandig.

Coetzee het die beeld in ontvangs geneem en het dadelik met sy vingers begin “lees”, soos hy ’n teks in Braille sou lees.

In sy bedankingswoorde het Coetzee uHlanga Press daarvoor geloof dat hulle die bundel nie bloot in druk uitgegee het nie, maar ook as ’n oudioboek en in Braille.

Ronel Foster is ’n vorige sameroeper van die komitee wat die Ingrid Jonker-prys toeken en is steeds betrokke by die administrasie daarvan.

Dit het nou al tradisie geword dat Ons Klyntji by die Tuin van Digters bekendgestel word. Hierdie jaar het dit weer gebeur. Verskeie bydraers het uit hul werk voorgelees.

Bernadette Madell

Pieter Hugo

Erns Grundling

Zian Vivier

Karin Schimke en Andries Samuel

Yolande Cater

Hermien de Vos

Churchil Naudé

Engela Duvenage

Jean-Marie Potgieter

Yolanda Faye Holden

Eckhard Cloete

Deon Meiring

Grant Jefthas

Sybrand Harris

Natasha Harmse

AW Bosman

Rozanne Vos

Dora Kell

Hanru Niemand

Anouk Cronjé

Daarna is die fees afgesluit met musiek deur Riku en Jacki Lätti, met hul vriende, Hanru Niemand en Churchil Naudé.

Riku Lätti

Jacki Lätti

Churchil Naudé

Hanru Niemand

In ’n stadium het Jacki Riku se hare gevleg dat hy minder warm kry.

Daar is gedans en saamgesing soos die nag begin omrol het om te gaan slaap.

Tuin van Digters word finansieel ondersteun deur die Dagbreek Trust, NB Uitgewers, ATKV, Boland Cellar, Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, NLDTF (Nasionale Lotery), Drakenstein Munisipaliteit, Rupert Historiese Huise-stigting, Prosperity Management Africa en Annandale Wines.

Lees ook:

Antjie Krog gehuldig by vanjaar se Tuin van Digters

Huldigingsrede: Antjie Krog, 7 Oktober 2022

Toyota US Woordfees 2022: Afrikaans herontdek by feeste

  • 1

Kommentaar

  • Dis opvallend dat slegs sommige digters se foto's van hul voorlesings geplaas is, terwyl Logan Adams en Ernest Loth ( beide erkende digter) nêrens feature nie! En die feit dat die gehoor sy voorlesings geniet het, spreek boekdele veral die gedig oor die 4 jarige vermoorde Mia en "Untill lockdown do us part "of vertoonwoordig slegs een of twee bruines die res maar 80% beeldmateriaal is wit?! Dit lyk my sommige digters word doelbewus misgekyk. En dít terwyl beide Adams en Loth Paarliete is maar buiteplekke se digters word vereer... Skande of blote subtiele rassisme?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top