
Foto van Brian Fredericks: verskaf
Veels geluk aan Brian Fredericks, ontvanger van die Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2023.
Tyrone Pretorius, rektor en vise-kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), kondig graag aan dat die Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2023 aan Brian Fredericks toegeken word. Die beurs beloop R475 000 en is ’n toekenning wat spruit uit ʼn bemaking van wyle Marjorie Wallace ter ondersteuning van kreatiewe skryfkuns in Afrikaans.
“Die Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs is die grootste toekenning vir die aanmoediging van skeppende skrywers in ons land en getuig van Rabie en Wallace se visie en ruimhartigheid van gees,” bevestig Pretorius.
" ’n Beurskomitee bestaande uit kundiges in die skrywerswêreld, het eenparig besluit op Fredericks se aansoek. Altesame 28 aansoeke is ontvang en die komitee was beïndruk met die diverse stemme, genres en skryfervaring van die aansoekers. Soos in die verlede was die beurskomitee beïndruk met die hoë gehalte van die aansoeke, tekenend van die lewenskragtigheid en talent binne die Afrikaanse skrywersgemeenskap."
Fredericks se voorstel vir sy beoogde “roman in fragmente” sentreer om ’n gemeenskap wat nie meer bestaan nie, waar die lewens van mense van diverse kleure, kulture en herkomste eens heg verweef was. Toe word hulle ’n geskiedenis oor ontworteling wat nog hoofsaaklik van buite af bekyk is. Nou gaan die ontworteldes vir hulself praat met Fredericks die skrywende hand wat dié geskiedenis van binne af aanmekaar wil heg uit die fragmente van hul verlore lewe, stories en versplinterde herinnerings, in al die soorte Afrikaans wat hulle dáár geleer praat het. Voorop staan die nostalgie as wond of verwonding wat indringende vrae opper oor hoe ’n geskiedenis tot so ver terug as die slawetyd, en van ontworteling en verlies, identiteite geskep en herskep het, oor hoe ons ons geskiedenisse opteken en oor wat en hoe ons (wil) onthou en hoe en hoekom ons (wil) vergeet.
“Fredericks se voorstel kan ’n boeiende en nodige Afrikaanse roman oplewer wat hierdie komplekse, netelige kwessies op die voorgrond dwing,” het een van die lede van die beurskomitee gesê.
Lees ook:
Die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2023: ’n onderhoud met Steward van Wyk
Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas
Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2023

