
Die QR-kode en die gedig wat op ’n selfoon gespeel word
Die agt jaar oue Byderhandprojek van die vakgroep Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit het onlangs besondere erkenning te beurt geval. Aspekte daarvan is naamlik verkies om opgeneem te word in ’n internasionale hiperteksskeppings-uitstalling wat eersdaags in Rome plaasvind.

Skandeer en luister
Die Byderhandprojek behels die installering van digitaal bemiddelde gedigte en aanverwante artistieke materiaal in botaniese en ander tuine op ’n aantal plekke in Suid-Afrika. Dit gaan om sogenaamde lokatiewe literatuur, dit wil sê gedigte en ander tekste wat, by wyse van byvoorbeeld slimfone waarmee QR-kodes geskandeer word, gelees en beluister kan word by die plante of ander tuinvoorwerpe wat daardie skeppings tot onderwerp het. Meer inligting daaroor is beskikbaar te http://www.byderhand.net/.
Die uitstalling getiteld Hypertext & Art: A Retrospective of Forms vorm deel van die “Association for Computing Machinery” (ACM) se “Hypertext and Social Media 2023”–kongres wat in Rome sal plaasvind.
Die uitstalling in die Capitoline Museum in Rome duur van 6-20 September 2023 en bied ’n oorsig oor hipertekswerke uit die afgelope 35 jaar.
Daarmee word beoog om kongresdeelnemers se begrip van die uiteenlopende maniere waarop kunstenaars wêreldwyd hulself deur hiperteks uitgedruk het, te verryk, beide in terme van die stelsels wat hulle gebruik en die genres waarmee hulle geëksperimenteer het. As ’n uitbreiding van die konferensieverrigtinge na ’n gewilde openbare ruimte wat ook as ’n kulturele ikoon dien, word met hierdie uitstalling daarna gestreef om hiperteks as beide ’n wetenskaplike studieveld en ’n artistieke praktyk aan nuwe gehore bekend te stel.
Die uitgestalde versameling bevat ’n wye reeks hipertekste wat deur kunstenaars en wetenskaplikes sedert die middel van die 1980’s geskep is, naamlik deur gebruik te maak van verskeie digitale platforms en benaderings. Dit bied ’n verkenning van die ontwikkelende vorme van hiperteksskepping wat ontstaan het, en wat, soos die media-teoretikus Jay David Bolter beweer, die manier waarop die mensdom dink, aansienlik beïnvloed het – aldus die kuratorverklaring te https://the-next.eliterature.org/exhibition/hypertext-and-art/curatorial.html.
Die Byderhandprojek is opgeneem onder die volgende uitstallingstema: Beyond the click: Experimental methods for navigating and experiencing hypertext art. Dit is veral die projekdeel in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin, met die klem wat daar op breë toeganklikmaking geplaas is, wat as uniek tussen die ander werke in die uitstalling sal uitstaan.
Die Byderhand Karootuinverse-installasie vorm deel van die brailleroete wat in September 2022 in die genoemde botaniese tuin in Worcester bekendgestel is. Die projek is in samewerking met die tuinbestuur aldaar onderneem en die brailleroete en tuinverse-installasie is geïntegreerd met beoogde tuinontwikkelings beplan en onderneem. Plate met die werk van 10 digters uit die omgewing is op strategiese plekke langs die roete geplaas, waar besoekers dit op hulle selfone kan lees en beluister. Die digters, onder wie twee blinde digters, William Rowland en Jacques Coetzee, het self hulle gedigte voorgelees. Die klankervaring word uitgebrei deur musiekverwerkings van die gedigte, asook vertalings in Engels, Duits, Portugees en isiXhosa.
Wat verdere waarde tot die wandelpad voeg, is dat die Byderhandplatform en -koppelvlak saam met die visuele en brailleskrif-inligtingsborde gebruik word om botanie-inligting langs die roete beskikbaar te stel. Dié oudiogids dra by tot toeganklikheid en die rykdom van ervarings vir die tuinbesoekers.
In die Karootuinprojek kon die Byderhandspan verdere toepassingsmoontlikhede benut vir die beginsels en ontwerpoplossings wat in ’n vorige Byderhand-projekdeel in samewerking met die Pionierskool vir siggestremdes te Worcester ontwikkel is.
Die Capioline Museumkompleks, wat as een van die oudste museums in die wêreld beskou word, is beroemd weens sy versamelings en uitstalling van antieke kuns. Volgens die kurator, Dene Grigar van die Washington State University Vancouver, mag dit vreemd voorkom dat ’n kontemporêre hiperteks-kunsuitstalling hier aangebied word. Daar moet egter in gedagte gehou word dat Hypertext & Art: A Retrospective of Forms ’n terugblik bied op die historiese artistieke en wetenskaplike vordering wat sedert die einde van die drukpersera en tot aan die begin van die digitale era behaal is. Sommige van die uitstallingitems is nog met behulp van verouderde programmatuur en apparatuur geskep; hulle word dus op verouderde rekenaars uitgestal. Só beskou, begin die idee om ’n media-argeologie-uitstalling met skaars hiperteksskatte in ’n geliefde argeologiese museum wat fokus op die viering van kultuur, sin maak.

Franci Greyling
Die openingsgeleentheid van die uitstalling in Rome vind op Woensdag 6 September om 16:00 plaas. Op Dinsdagoggend 7 September sal kunstenaars beskikbaar wees om met besoekers oor hulle werk te gesels; dit word opgevolg met ’n middagprogram van geskeduleerde kunstenaargesprekke. Die Byderhandspan word deur Franci Greyling verteenwoordig.
Uitstallingsblad: https://the-next.eliterature.org/exhibition/hypertext-and-art/index.html.
- Foto’s: Izak de Vries
Lees ook:
Plekspesifieke digitale literatuur: samespel en wisselwerking in nuwe kontekste
Clover Aardklop 2015: Onderhoud oor die byderhand-leesprojek
Persverklaring: Aanlyn werkswinkel oor lokatiewe literatuur aangebied

