Carien Smith het vir Franci Greyling uitgevra oor haar LitNet Akademies-artikel: Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in ’n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: weerspieëling en weerklank
Hoekom het jy die Mooirivier as tema gekies vir jou kunstenaarsboekinstallasie?
Ek woon in Potchefstroom, skaars 500 treë van die Mooirivier af, en het ’n belangstelling in die omgewing en in fotografie. Vir ’n vorige kunstenaarsboek, Tinboektoe toe, het ek onder andere foto’s van weerkaatsings in die Mooirivier geneem. Met die uitdagings van die oorkoepelende projek, Weerspieëling en weerklank: Gesprekke oor tipografie, topografie en tipologie, het die Mooirivier ’n vanselfsprekende keuse geword. Sodoende kon ek my belangstelling in fotografie, die omgewing, geskiedenis en letterkunde kombineer.
Kunstenaarsboek-installasie: Mooirivier: weerspieëling en weerklank
Jy noem in die inleiding dat kunstenaarsboeke deur inhoud en vormgewing aspekte van sin van plek kan weergee, en op sigself ook “plek” kan word. Hoe sou kunstenaarsboeke op sigself ook “plek” kon word?
Kunstenaarsboeke kan onder andere deur vormgewing en deur die aktiewe betrokkenheid van die leser-deelnemer “plek” word. Kunstenaarsboeke kan byvoorbeeld ’n driedimensionele ruimte skep en ’n multisensoriese ervaring vir die leser-deelnemer bied wat soortgelyk is aan die ervaring van ’n fisiese plek. Die kunsvorm vereis die aktiewe deelname van en betekenisgewing deur die leser-deelnemer – die kunstenaarsboek kan dus sodoende ook as ’n plek vir ontmoeting beskou word. As intieme ruimtes kan kunstenaarsboeke as bewaarplekke, en as plekke van identifikasie dien (vergelyk hier Bachelard se gedagte van intieme plekke soos kaste en laaie). Verder het kunstenaarsboeke meermale bepaalde plekke as tema; die ervaring van die kunstenaarsboek as “plek” kan hierdeur versterk word.
Sou jy sê dat sin van plek deur die kunstenaarsboekinstallasie Mooirivier: weerspieëling en weerklank wél verkonkretiseer geword het?
Die betekenis en gevoel wat met sin van plek vereenselwig word, word oa opgebou deur persoonlike ervarings, stories en inligting oor die plek, en die wisselwerking tussen individu, gemeenskap en plek. My eie sin van plek, wat tydens die navorsing verdiep het, het sonder twyfel in die vormgewing van die werk neerslag gevind. Die topografie en vloei van die rivier word oa verkonkretiseer deur die gebruik van die konsertinaformaat, die aaneenlopende foto’s van weerkaatsings, die tipografie van die woordrivier, en die stemme en musiek wat inmekaar vloei. Deur die woordteks wat mense se belewing van en invloed op die rivier uitbeeld, word die mens se verhouding met die rivier oor die verloop van 170 jaar saamgepers. Die multimodale sintuiglike ervaring wat die boek bied, impliseer ook dat die leser-deelnemer as’t ware langs (en in) die rivier kan afstap. Verder kon die leser-deelnemers aan die Mooiriviergesprek deelneem en ook ander se menings oor en ervarings van die kunswerk én die Mooirivier lees. Uit die terugvoer van die leser-deelnemers wil dit wel voorkom asof hierdie multimodale, multisensoriese en deelnemende ervaring die rivier op verskeie wyses verkonkretiseer het. Terselfdertyd is die kunstenaarsboekinstallasie egter ook ’n abstraksie van die verweefde aspekte van die biostreek.
Die woordrivier-“Indrukke” – Mooirivier: weerspieëling en weerklank
Daar word ’n onderskeid getref tussen ruimte (as geometriese of topografiese abstraksie) en plek (konkreet – die ruimte waaraan betekenis gegee word) (Buell 2005:63). Deur die kunstenaarsboekinstallasie is daar ’n tweede laag van beide ruimte en plek wat toegevoeg word aan die oorspronklike tema van die kunswerk, as’t ware ’n dubbele ingeplaastheid. Wat is die interaksie tussen hierdie twee lae ruimtes en plekke en die invloede wat hulle op mekaar het, en ook uiteindelik die invloed wat hulle op die deelnemer-aanskouer het?
Dit is ’n prikkelende vraag, wat waarskynlik veel meer tyd vir besinning benodig. Plek en plekgehegtheid word in die literatuur soms as ’n reeks van verskillende skale aangedui wat ook by die gedagte van gelaagdheid aansluit. Buell verwys byvoorbeeld na die “nested quality of space”. Plek en die gevoel van behoort (en by implikasie ook ingeplaastheid) kan daarom as ’n uitkringende en ingebedde konsep verstaan word. Ten opsigte van die Mooirivier-installasie het die feit dat die boek in Potchefstroom uitgestal is, waarskynlik ’n duideliker waarneembare dubbele ingeplaastheid bewerkstellig. Die meeste besoekers aan die uitstalling ken die Mooirivier en het ’n bepaalde verhouding daarmee. Besoekers kan byvoorbeeld die plekname, inligting, literêre verwysings en plaaslike skrywers herken. Leser-deelnemers het dan ook aangedui dat die boek met hulle resoneer, bepaalde assosiasies meegebring het, en hulle aandag op aspekte van die Mooirivier gevestig het. Die leser-deelnemer kon haarself dus, terwyl sy die kunstenaarsboekinstallasie ervaar, terselfdertyd in die “werklike” omgewing plaas, en kon moontlik ’n ingebedde, dubbele ingeplaastheid ervaar. Die herkenning van en verbandlegging met die omgewing sluit aan by die plekspesifieke karakter van die kunswerk.
Waar besoekers nie met die omgewing vertroud is nie, of waar die kunstenaarsboek elders uitgestal is (byvoorbeeld by die ALV-kongres in Pretoria), was “herkenning” van die Mooirivier en die dubbele ingeplaastheid minder opvallend. Vir hierdie leser-deelnemer het die plekname byvoorbeeld nie dieselfde assosiatiewe waarde as vir bogenoemde leser-deelnemers nie. Leser-deelnemers het byvoorbeeld aangedui dat die werk hulle aan ánder riviere of rivierervarings herinner het. Die verband tussen die werk en die konkrete omgewing van die Mooirivier is dus nie so direk, opvallend en wisselwerkend nie. In hierdie geval sou die ervaring beskou kon word as ’n soort verplaaste/verlegde dubbele ingeplaastheid. In beide uitstallingskontekste het mense opgemerk dat die kunswerk hulle ook aan riviere en die omgewing as sodanig laat dink het. Hierdie reaksie dui op ’n groter mate van veralgemening en abstraksie.
Oog van Gerhard Minnebron
Daar word genoem dat die mens altyd in die middelpunt van ’n eie perseptuele plek is en daarom in ’n plek is. Om waar te kan neem moet die mens ook liggaamlik ’n subjek wees en in ’n plek wees – en dus is die mens altyd deel van ’n ingeplaaste ervaring (bl 320). Sou jy sê dat ingeplaastheid daarom deel is van ’n aktiewe proses wat deur die mens uitgeoefen word (om byvoorbeeld bewus te word van voorwerpe in ’n mens se perseptuele veld) of is dit eerder ’n minder aktiewe proses?
Volgens Casey is die mens as waarnemende, ervarende en bewegende wese altyd in ’n proses van ingeplaastheid. Smiley verwys na ingeplaastheid as ’n doelbewuste en bewustelike sintuiglike ervaring, besinning en waardering – dit wil sê ’n meer aktiewe proses. Ek meen dat die mens altyd deel is van ’n ingeplaaste ervaring, maar dat die ervaring van ingeplaastheid op verskeie wyses geaktiveer word wat tot ’n verhoogde (of verdiepte) en meer bewuste ervaring van ingeplaastheid kan lei. “Vervreemding” en “herkenning” (soos dikwels tydens reis ervaar word) kan byvoorbeeld die ervaring en bewustheid van ingeplaastheid aktiveer. Verder beïnvloed ’n mens se unieke omstandighede (soos beroep, belangstelling en liggaamlikheid) die waarneming van dinge in sy/haar perseptuele veld. Kuns en letterkunde kan die ervaring van ingeplaastheid vir beide die kunstenaar/skrywer en die kyker/leser aktiveer of verdiep.
“Casey onderskei tussen drie soorte liggaamlike beweging wat tersaaklik is vir plek, naamlik bly in plek, beweging in plek en beweging tussen plekke” (320). Hoe hou hierdie drie soorte liggaamlikheid verband met ingeplaastheid?
In die artikel verwys ek na Casey se teorie waarin die rol van die lewende-bewegende liggaam in die proses van ingeplaastheid uiteengesit word. In kort kom sy teorie daarop neer dat die mens se liggaam die sentrum van lokalisering in die plek is; plek en liggaam oefen ’n invloed op mekaar uit. Liggaamlike beweging behels dat ’n mens op verskeie wyses in die plek en tussen plekke beweeg, en die plek, asook verandering van plek, voortdurend met die lewende-bewegende liggaam ervaar. Die soorte liggaamlike beweging stel die mens juis in staat om (’n) plek op soveel verskillende maniere te ervaar, byvoorbeeld deur ’n verandering van fokus, ’n verandering van tempo, of om van plek self te verander.
Fotokant van Mooirivier: weerspieëling en weerklank
“Skrywers en kunstenaars beeld op een of ander wyse die mens se verhouding met plek uit” (322). Is dit die kunstenaar se plig om so objektief as moontlik te bly in die uitbeelding van die mens se verhouding met ’n plek, of wat is die rol van die kunstenaar se persoonlike verhouding met ’n plek in ’n kunswerk oor plek?
Hierdie vraag impliseer dat daar ’n ideale verhouding tussen kunstenaar, plek, kunswerk en kyker bestaan. Dit is tog nie die geval nie. Elke kunstenaar, kunswerk en konteks is uniek. Die kunstenaar se verhouding met plek is eweneens uniek. Mens reageer immers op verskeie wyses op plek (liggaamlik, sosiaal, kultureel, emosioneel, affektief, intellektueel). Daar kan tallose redes wees waarom die kunstenaar ’n kunswerk oor ’n bepaalde plek wil maak. Dit mag byvoorbeeld wees dat die kunstenaar juis kuns wil maak oor plekke wat vir haar onbekend is. In ander gevalle mag dit wees dat ’n kunswerk voortspruit uit die kunstenaar se langdurige en persoonlike verhouding met ’n plek. Ten opsigte van die uitbeelding van plek (ook betreffende subjektiwiteit/objektiwiteit) het die kunstenaar dieselfde vryheid.
Hoe het jy te werk gegaan om die sintuiglike waarneming van die Mooirivier konkreet deel te maak van jou kunstenaarsboekinstallasie?
’n Kunstenaar is voortdurend besig om te konseptualiseer, moontlikhede te oorweeg en besluite te neem – die meeste hiervan is intuïtief (dit is deel van die versweë kennis). In die artikel verduidelik ek hoe die kunstenaarsboekinstallasie oor die verloop van meer as ’n jaar vorm aangeneem het. Alhoewel ek gewonder of en hoe die plek en sin van plek konkreet gemaak kan word, het ek nie spesifiek op die verkonkretisering van sintuiglike waarneming as sodanig gefokus nie.
Die kunstenaarsboekinstallasie het binne ’n interdissiplinêre skeppende en navorsingsprojek ontstaan en is as praktykgebaseerde navorsing onderneem. Ten slotte, wat is jou ervaring van hierdie projekte en die praktykgebaseerde navorsingsbenadering?
Die oorkoepelende projek is die derde groot interdissiplinêre skeppende en navorsingsprojek wat ons in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die NWU onderneem het. Die projekte het ontstaan uit die behoefte om skeppende werk en navorsing te kombineer, en as mede-organiseerder is ek by al die aspekte van ’n projek betrokke. Die interdissiplinêre samewerking in die projekte, en ook die samewerking met genooide kunstenaars en skrywers, is ’n besonder stimulerende en verrykende ervaring. Die uitdaging om as skrywer tot ’n groepsuitstalling by te dra het byvoorbeeld daartoe gelei dat ek kunstenaarsboeke as genre ontdek het. Ek is ’n praktiese mens en geniet dit om dinge te doen en te maak; dit is ook makliker om abstrakter teorieë aan die hand van (eie) praktyk te verstaan. Deur die projekte het ek meer insig in my eie en ander kunstenaars/skrywers se benaderings, kreatiewe prosesse en werkswyses verkry. Die ervaring het ook in my onderrig neerslag gevind. ’n Praktykgebaseerde navorsingsruimte is ’n plek waar ek tuis voel.
Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in ’n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: weerspieëling en weerklank
Franci Greyling "Hierdie artikel bespreek ’n praktykgebaseerde navorsingsprojek: ’n kunstenaarsboek-installasie met die Mooirivier in die Potchefstroom-omgewing as tema." |