Dis weer tyd om te es-pee-ee-el en deel te wees van die grootste spelfees in Suid-Afrika.
Inskrywings vir die 2024 Sanlam WOW Spelfees is nou oop vir skole en individuele leerlinge in elke uithoek van die land. Dit word in ál nege provinsies aangebied.
Leerlinge van enige taalvlak in drie van die land se ampstale – Afrikaans, Engels en Xhosa – word genooi om in dié taalkategorieë deel te neem:
Afrikaans: graad 1 tot 10
Engels: graad 5 tot 9
Xhosa: graad 6 tot 8
Spel speel-speel en speel spel-spel
Inskrywingsvorms, spellyste en aanlyn speltoetse asook ander bronne kan by die skakels hieronder gevind word, asook op die Woorde Open Wêrelde-projek (WOW) se webwerf hier.
Vasgestelde spelfeesdatums en -venues sal met verloop van tyd gekommunikeer word. Die nasionale eindrondte vind voorlopig op 28 September 2024 by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas.
Sluitingsdatum vir inskrywings: 31 Mei
Skryf in en raak deel van ’n beweging van hoop en aksie vir ons kinders se toekoms. Sáám verander ons lewens speel-speel.
Woorde maak impak
WOW is ’n bemagtigingsprojek van die Toyota US Woordfees en pronk met die grootste spelfees in Suid-Afrika. Die WOW-projek, wat vanjaar mondig is, verbreed sedert 2003 reeds leerlinge en opvoeders se horisonne deur kreatiewe programme gerig op taal, letterkunde en die kunste in skole en gemeenskappe aan te bied. Verskeie lees- en skryfprojekte help om lesers te ontwikkel deur leesgenot- en begrip by hulle te kweek.
Die Sanlam WOW Spelfees gee aan jong leerlinge in ’n vroeë stadium reeds blootstelling aan die US en die geleenthede wat dié instansie bied. WOW gee aan voornemende studente die inligting wat hulle benodig vir tersiêre studie, en bemagtig talentvolle kandidate met WOW-studiebeurse van die US.


