Persverklaring: ATKV deel van Worldplay on Paper by Mogale-fees 2023 | 3 November, Javett-UP

  • 0

Die spitsvondige titel en die ruimte waarin dit aangebied word, verklap reeds iets van die andersheid aan vanjaar se Worldplay-aanbieding by die Mogale-fees op 3 November by die Javett-kunssentrum by die Universiteit van Pretoria.

Woordkuns word inderdaad woord en kuns, maar dit is ook ’n geleentheid waar tien opwindende zines in A5-grootte bekendgestel word. Tien digters en tien beeldende kunstenaars/illustreerders het in pare saamgewerk om elkeen ’n unieke zine te skep, as’t ware klein, geïllustreerde digbundels.

Die idee vir die projek kom al ’n lang pad en sou as PaperBass in Johannesburg debuteer. Die Goudstad se verlies – weliswaar vir 2024 weer moontlik op die kaarte – beteken Pretorianers het nou die voorreg om ’n uitstalling en voorlesings te beleef en die heel eerste mense te wees om hul hande op dié bundels met ’n baie beperkte (en genommerde) oplaag van 50 elk te lê.

Hoewel geïllustreerde digbundels hier ter plaatse, of zines, waarin kunsdissiplines vermeng word, nie ’n nuutjie is nie, was die gestruktureerde aard en omvang van dié projek wel ’n uitdaging. Jaco van der Merwe (40), die groot dryfkrag agter die projek, sê, “digkuns is een van die wêrelde waar ek graag speel”, soos blyk uit Worldplay-aanbiedings landswyd, wat “soos ’n speletjiesprogram aangebied word, maar met die magic van digters en musikante.” Jaco is self ’n digter, ’n lid van die musiekgroep Bittereinder (wat vroeër vanjaar ontbind het) en hoof van die filmkunsskool van die Open Window-instituut. Hy is ook die stigter van Wêreld, ’n multidissiplinêre platform vir kreatiewe projekte.

Self is Van der Merwe by ’n legio projekte betrokke, waaronder ’n paar van die ATKV (Jaco was die hooforganiseerder van die onlangse Taalgenoot-RUK EN RYM), wat die einste zines insluit. Vir hom is dit wonderlik dat die ATKV nie net in ’n Afrikaanse konteks gesien word nie, maar binne ’n multitalige projek waarby woord- en beeldende kunstenaars betrek is wat in uiteenlopende genres werk. Danksy jare se samewerking met die nieregeringsorganisasie Hear My Voice, ook vir die Mogale-fees, was dit nie te moeilik om met die hulp van Phomolo Sekamotho (algemeen meer bekend as Flex of He & I) ’n lys name van digters saam te stel nie. Open Window-kollegas Nina Torr en Maaike Bakker het gehelp met die name van kunstenaars – “baie cool mense” uit die geledere van Open Window (toe en nou), wat ook betrokke is as een van die groot borge saam met die ATKV en die Mogale-fees. As die mens wat sy voet in albei dissiplines het, het Van der Merwe die heerlike taak om pasmaats te vind, op homself geneem. “Dit was lekkerder as enige cheese and wine pairing,” sê hy.

Uiteraard was die aantal pare aanvanklik meer, maar uiteindelik is dié tien pare deel van Volume 1 (soos op die agterblad aangedui) van die zines. Hulle is (met die digter se naam, gevolg deur die kunstenaar/illustreerder): Xabiso Vili en Maaike Bakker; Bibi Slippers en Nina Torr; Angie Gallagher en Neil Badenhorst; Jolyn Phillips en Imile Wepener; Lethokule Msimang en Miriek Jansen van Rensburg; Jonathan Lefenya en Kyle Kemink; Jaco van der Merwe en Zinhle Zulu; Xitha Makgeta en Daniella Rodrigues; Belita Andre en Bianca Brand; Flex of He & I en Sorrypanic.

Die voorblad van elke zine is volgens Van der Merwe soos ’n klein kunswerk, want dit is met ’n aparte sifdrukkuns-proses gedoen, en elkeen het sy eie titel. Buiten dat dit 20 bladsye is, is daar geen vasgestelde aantal gedigte en illustrasies nie. “Elke duo het sy eie vibe uitgewerk, my en Zinhle s’n is soos ’n graphic novel.”

Met die aand van die bekendstelling sal dit teen R300 per genommerde eksemplaar te koop wees. Die hele oplaag van tien sal teen R2 500 beskikbaar wees en ’n stel van vyf sal R1 300 kos. Daar sal ook afdrukke van die kunstenaars se werk te koop wees, wat in die Javett uitgestal word. Etlike van die digters sal Vrydagaand 3 November optree, terwyl daar voorlesings sal wees van die werk van diegene wat nie teenwoordig kan wees nie.

Van der Merwe glo daar sal beslis ’n Volume 2 wees, want buiten dat hy baie uit die proses met Volume 1 geleer het, is dit ’n projek wat hy graag sal wil voortsit en kan dit moontlik in die toekoms selfs die deelname van internasionale kunstenaars insluit. “Om mense in dialoog te sien – dit is die wêreld waaraan ek wil bou.”

Worldplay on Paper begin om 20:00 op 3 November, kaartjies kos tussen R120 en R150 en kan bespreek word by https://bit.ly/mogalefestival2023.

Lees ook:

Bittereinder se laaste maal: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe, woordkunstenaar en kultuurbewaarder

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top