Persverklaring: 2025-UJ-prys vir vertaling – Naòmi Morgan vir Ons wag vir Godot

  • 0

Foto van Naòmi Morgan: verskaf

Die UJ-prys vir Vertaling is gerig op die bekroning van uitmuntende vertalings uit enige taal na Suid-Afrikaanse tale en wat die literatuurskat van die teikentaal verryk en aktueel is. Inskrywings vir publikasies uit 2024 is ontvang vir vertalings uit Nederlands, Grieks, Latyn, Italiaans en Frans.

Die wenner van die 2025 UJ-prys vir Vertaling is Naòmi Morgan vir Ons wag vir Godot haar vertaling uit die aanvanklike Frans van die Ierse dramaturg Samuel Beckett se ikoniese En attendant Godot (1952, Les Editions de Minuit). Beckett het die drama later self na Engels vertaal, met die subtitel “a tragicomedy”.

Morgan se vertaling is uitgesonder daarvoor dat dit ’n ryk vertaling van ’n gekonsentreerde literêre teks is en ook die opvoerbaarheid van die oorspronklike teks behou. Die geïntegreerde en onopvallend aanwend van die klank van woordkeuses, die gebruik van rym en ritme en die sukses waarmee humor oorgedra is, het neerslag gevind in ’n teks wat sonder leesversperring in Afrikaans kommunikeer, en meesleur. Die vertaling is ryk aan Afrikaanse intertekstuele verwysings, idiome en kwinkslae en die spreektaal en verwysingswêrelde van die karakters is oortuigend.

Morgan is bekend vir die sukses van haar toneelvertalings uit Frans soos Oscar en die pienk tannie en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran, terwyl die woordkunsproduksie van haar vertaling van Antoine de Saint-Exupéry se Die klein prinsie ook besonder geslaagd en gewild was. Sy het die vertaling van Ons wag vir Godot, wat by Naledi verskyn het, onderneem as ’n bydrae tot die viering van die amptelike taalstatus met Afrikaans 100.

Vir haar vertaling ontvang Morgan die prys van R50 000 van die Universiteit van Johannesburg.

Die prys word op Vrydag 29 Augustus aan Morgan oorhandig tydens die prysfunksie vir die UJ-pryse vir Afrikaans en die UJ-prys vir Vertaling. Uitnodigings volg binnekort. Belangstellendes kan e-pos stuur aan cornej@uj.ac.za of tarar@uj.ac.za.

Die beoordelaars vir die 2025 UJ-prys vir Vertaling was Marius Swart (US), Johanna Steyn (UV) en Karen de Wet.

Lees ook:

Persverklaring: Wenners van die 2025-UJ-pryse vir Afrikaans

Ons wag vir Godot: ’n onderhoud met die vertaler Naòmi Morgan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top