PEN Afrikaans Nuusbrief: September 2018

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans
 
Die lente het aangebreek en daarmee saam ’n bedrywige tyd vir boekliefhebbers wat kan kies en keur uit literêre byeenkomste en ’n stewige oes nuwe boeke. Die Open Book-fees het tussen 5 en 9 September in Kaapstad plaasgevind en die South African Book Fair in Johannesburg vanaf 7 tot 9 September. Die 18de ALV-kongres is hierdie week in Stellenbosch aan die beurt en die Tuin van Digters-fees oor die naweek in Wellington. Meer daaroor onder.
 
Dit is egter ook ’n tyd waarin ons met kommer kennis moes neem dat verskeie ondersoekende joernaliste, plaaslik en internasionaal, onder skoot gekom het vir hul skryfwerk.
 
In Mianmar is twee Reuters-joernaliste, Wa Lone en Kyaw Soe Oo, tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis vir hul verslaggewing oor gruweldade wat teen die Rohingia-groep gepleeg is.
 
Op eie bodem het ondersoekende joernaliste Marianne Thamm en Chris Steyn dreigemente ontvang na aanleiding van hul werk aan die boek Die seuns van Bird Island en Sunday Times-joernalis Qaanitah Hunter het deurgeloop onder ’n persoonlike aanval en dreigemente waaroor SANEF (South African National Editors’ Forum) meer berig.

....

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020) mbt Die seuns van Bird Island via LitNet:

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

....

Die bevording van letterkunde staan sentraal tot PEN Afrikaans se bedrywighede, maar so ook die beskerming van vryheid van uitdrukking. Dit is ons oortuiging dat skrywers onder geen omstandighede vergelding in die vorm van fisieke geweld behoort te vrees nie. Sulke dreigemente het geen plek in ’n samelewing wat vryheid van uitdrukking as ’n grondwetlike reg verskans nie.
 
Verblydende nuus uit Skotland is dat die Eerste Minister besluit het om wel ’n konsultasieproses oor die hersiening van lasterwetgewing nog in 2018 van stapel te stuur. Baie dankie aan almal wat die petisie onderteken het wat ons op ons sosiale media platforms gedeel het.
 
Skotse PEN sê hieroor: “Reform is long overdue and this is a vital step towards ensuring our laws can better protect writers, journalists, scientists, bloggers, activists and social media users across the country against legal threats aimed at silencing criticism.” 
 
Die ATKV-Woordveertjies is toegeken
 
Die ATKV-Woordveertjies is onlangs in Stellenbosch toegeken. Met dié gesogte toekennings wil die ATKV uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaanse woordkuns vereer. Ons sê hartlik geluk aan al die wenners en benoemdes.
 
’n Volledige lys van die wenners is hier beskikbaar.
 
Tuin van Digters 2018
 

Ons tel die dae af na ’n jaarlikse hoogtepunt vir liefhebbers van die Afrikaanse digkuns. Die Tuin van Digters-fees vind hierdie naweek by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaas.
 
PEN Afrikaans bied vanjaar, met die ondersteuning van PEN International, twee afsonderlike sessies op die feesprogram aan. Albei sessies plaas die kollig op die veeltalige bloemlesing ConVerse. ConVerse is saamgestel deur Pieter Odendaal, Annel Pieterse en Mbongeni Nomkhonwana. Dit is gesamentlik deur InZync en die US Woordfees uitgegee.

In die gees van intertalige gesprekvoering is 15 opkomende digters wat in isiXhosa, Afrikaans en Engels werk, genader om gedigte by te dra wat by die tema van gesprekvoering aansluit. Die gedigte is in al drie tale by die bundel ingesluit.
 

 
 

Sluit om 10:30 by ons in die Akkoordtent aan, waar van die digters hul werk sal voordra.
 
Om 14:00, in die Woordtent, sal Danie Marais met van die samestellers en bydraers in gesprek tree oor die samestelling en ontvangs van die bundel, maar ook oor die belang en uitdagings van vertaling en die moontlikhede vir wisselwerking tussen die letterkundes van ons landstale.
 
Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry vanjaar weer gratis toegang tot die fees. Daar sal ’n lys van opbetaalde lede by albei ingange na die Tuin van Digters wees, so dit is nie nodig vir lede om dokumente saam te neem om te bewys dat ledegeld betaal is nie.
 
Die volledige program is hier beskikbaar.
 
Oop uitnodiging na PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering by Aardklop

 

Ons stel hierdie jaar die deure na ons algemene jaarvergadering oop – nie net vir lede nie, maar vir metgeselle en ander belangstellendes. Sluit gerus op 2 Oktober by ons aan by die ATKV-Boeke-oase by Aardklop. Die vergadering sal om 19:00 begin.
 
Kom klink ’n glasie en vind meer uit oor PEN Afrikaans se bedrywighede oor die afgelope jaar. Daar sal ligte verversings wees.
 
Lede word versoek om hul teenwoordigheid by penafrikaans@gmail.com te bevestig.
 
Ledegeld 2018
 
Ons doen weer ’n beroep op ons lede om ledegeld vir 2018 oor te betaal. Ons sentrum se ledegeld moet aan PEN International oorbetaal word voor die 2018 PEN-kongres wat hierdie maand in Indië plaasvind. Slegs PEN-sentrums wat hulle ledegeld betaal het, het stemreg by die jaarlikse kongres.
 
Baie dankie aan diegene wat reeds hul ledegeld betaal het!
 
Wat elke skrywer moet weet: outeursreg in opdragwerke

 
Literêre werke word dikwels in opdrag van ’n ander party geskep. ’n Paar voorbeelde van tipiese opdragwerke is vertalings, draaiboeke, resensies en rubrieke.
 
In die nuwe artikel in ons artikelreeks gee Sadulla Karjiker ’n uiteensetting van hoe die eienaarskap van outeursreg in sulke gevalle werk. Hy dui aan dat dit meestal nie die geval is dat die opdraggewer outomaties die outeursreg verkry nie.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2018 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in September 2018
 
Ten slotte is dit altyd ’n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste vir September kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top