Wat elke skrywer moet weet: Eienaarskap van outeursreg in opdragwerke, met spesifieke verwysing na letterkundige werke

  • 0

Sadulla Karijker

Daar is ’n algemene wanopvatting oor outeursregwerke, naamlik dat die persoon wat opdrag gegee het dat die outeursregwerk geskep word, ook die outeursreg in so ’n werk besit. Hierdie artikel sal illustreer dat, in die afwesigheid van ’n uitdruklike kontraktuele reëling tot die teendeel, dit slegs in ’n beperkte aantal situasies waar is dat die opdraggewer ook die outeursregeienaar van so ’n werk sal wees.

Outeursregbeskerming word voorsien deur die Wet op Outeursreg 98 van 1978 ("die Wet"). Die Wet bepaal watter tipe werke beskerm word, en, in die afwesigheid van ’n kontraktuele ooreenkoms wat anders bepaal, wie die eienaar van outeursreg in ’n werk is. Outeursreg bestaan byvoorbeeld in oorspronklike letterkundige werke (soos romans, stories, gedigte, handboeke, biografieë, opstelle en artikels), artistieke werke (soos skilderye, beeldhouwerk, tekeninge, gravures en foto's) en musiekwerke.

Dit is belangrik om daarop te let dat outeurskap (naamlik wie die outeur van ’n outeursregwerk is) en eienaarskap (naamlik wie die outeursreg besit) afsonderlike konsepte in die outeursreg is. Hoewel dit moontlik is vir die outeur van ’n outeursregwerk om ook die outeursregeienaar te wees, is dit nie noodwendig die geval nie.

Om te bepaal wie die outeursreg in ’n werk besit, is dit nodig om eers te bepaal wie die outeur van daardie werk is. Die Wet bepaal in artikel 1 wie die outeur van ’n bepaalde soort outeursregwerk is, en ‘outeur’ is dus ’n tegniese konsep. Ten opsigte van sekere kategorieë van outeursregwerke, soos byvoorbeeld rekenaarprogramme, stem die outeur van die werk vir outeursregdoeleindes nie ooreen met die algemene betekenis van daardie begrip nie. In die geval van letterkundige werke beteken dit egter wel: die persoon wat die werk in die eerste instansie geskep het. Daar moet op gelet word dat daar meer as een outeur van ’n outeursregwerk kan wees, indien elkeen van daardie persone ’n nie-onbeduidende bydrae tot die totstandkoming van die werk gelewer het en die onderskeie outeurs se bydraes nie van mekaar geskei kan word nie.

’n Outeursregwerk, soos ’n letterkundige werk, kom tot stand wanneer dit tot materiële vorm herlei is. Dit moet byvoorbeeld op papier geskryf of op ’n rekenaar getik word. Daar is ’n ou regspreuk in die outeursreg wat hierdie vereiste onderstreep, naamlik dat daar nie outeursreg in ’n idee is nie, maar slegs in die spesifieke materiële uitdrukking van ’n idee. Niemand het dus outeursreg in ’n bepaalde konsep of genre van letterkundige werke nie. Enigeen is vry om ’n roman te skryf oor die avonture van kinders by ’n skool vir towenaars of ’n liefdesroman waarin die romantiese held ’n vampier is, mits daar nie ’n wesenlike deel van ’n ander outeur se storie, intrige, voorvalle of karakterisering (name, eienskappe of kenmerke) oorgeneem word nie. Dit behoort duidelik te wees dat outeursregbeskerming nie beperk is tot die letterlike kopiëring van outeursregwerke nie, aangesien daar ook kopiëring kan wees deur middel van nie-letterlike oorname.

Die Wet reguleer die eienaarskap van outeursreg in artikel 21. Tensy een van die uitsonderings geld waarvoor artikel 21 voorsiening maak, sal die outeur van ’n outeursregwerk ook die eienaar van die outeursreg in daardie werk wees. Met ander woorde, die standaardposisie is dat die outeur (of mede-outeurs) van ’n outeursregwerk die eerste eienaar (of mede-eienaars) van die outeursreg in daardie werk sal wees. Die uitsonderings, wat hier onder beskryf sal word, bepaal dus die onderskeid of skeiding tussen outeurskap en eienaarskap, dit wil sê wanneer die standaardreël nie van toepassing is nie.

Die eerste uitsondering waarvoor voorsiening gemaak word, is ten opsigte van letterkundige of artistieke werke wat deur ’n outeur geskep word in die loop van sy (of haar) diens by die eienaar van ’n koerant, tydskrif of dergelike blad. In hierdie geval word die outeursreg verdeel tussen die werkgewer en die werknemer (outeur). Die werkgewer is die eienaar van die outeursregwerk vir soverre die outeursreg betrekking het op die betrokke publikasie waarvoor dit bedoel is, maar in alle ander opsigte is die outeur die eienaar van die outeursreg.

Die tweede uitsondering het betrekking op spesifieke opdragwerke. As iemand opdrag gegee het vir die neem van ’n foto, die skilder of teken van ’n portret, die maak van ’n gravure, die maak van ’n rolprent of die maak van ’n klankopname, sal daardie persoon (naamlik die opdraggewer) die outeursregeienaar van die opdragwerk wees. Let daarop dat die uitsondering nie van toepassing sal wees op enige ander tipes outeursregwerke, soos ’n letterkundige werk of ’n rekenaarprogram, wat in opdrag van iemand anders geskep is nie. Dit geld nie eers vir skilderye in die algemeen nie, maar slegs vir die skilder of teken van ’n portret. As die opdraggewer van ’n ander soort werk die outeursreg in die opdragwerk wil besit, kan dit slegs bereik word deur middel van ’n kontrak tussen die opdraggewer en die outeur wat voorsiening maak vir die oordrag van outeursreg in sodanige werk.

Die derde uitsondering het betrekking op outeursregwerke wat in die loop van die outeur se diens geskep is (buiten in die konteks van ’n koerant, tydskrif of dergelike blad). In hierdie gevalle sal die betrokke werkgewer die eienaar van outeursreg wees in ’n outeursregwerk wat in die loop van die diens geskep is. Hierdie uitsondering is nie beperk tot spesifieke tipes outeursregwerke nie.

Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie drie uitsonderings op die standaardreël gewysig of uitgesluit kan word deur ’n ooreenkoms tussen die betrokke partye.

’n Verdere bepaling oor eienaarskap van outeursregwerke is dat indien ’n outeursregwerk deur of onder die leiding of beheer van die staat of ’n erkende internasionale organisasie geskep word, die outeursreg by die staat of die betrokke internasionale organisasie sal berus.

Dit behoort dus duidelik te wees uit die voorafgaande dat indien iemand ’n opdrag ontvang het om byvoorbeeld ’n letterkundige werk soos ’n roman te vertaal, is die opdraggewer nie die eienaar van die outeursreg in die vertaling nie, tensy die partye kontraktueel ooreengekom het tot die oordrag van outeursreg aan die opdraggewer. Volledigheidshalwe moet dit egter opgemerk word dat die vertaling van ’n outeursregwerk (vir enige ander rede as die toegelate uitsonderings waarvoor die Wet voorsiening maak, soos vir persoonlike gebruik) vereis die outeursregeienaar se toestemming omdat dit neerkom op die skep van ’n aanwending van die letterkundige werk, wat een van die eksklusiewe regte is wat aan die outeursregeienaar van ’n letterkundige werk toegeken word.

Wees dus bedag op wie die outeursreg in ’n werk werklik besit, dit mag dalk nie die outeur wees nie en sal gewoonlik nie outomaties die opdraggewer wees nie.

  • Sadulla Karjiker – Anton Mostert Leerstoel vir Intellektuele Goederereg, Universiteit Stellenbosch
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top