PEN Afrikaans Nuusbrief: Julie 2016

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Twee geliefde skrywers het ons in Junie ontval – Adam Small en Margaret Bakkes. Ons deel hierdie huldeblyke met innige waardering vir hul bydraes tot die Afrikaanse letterkunde.

Adam Small (21 Desember 1936 – 25 Junie 2016)


FOTO: Izak de Vries

PEN Afrikaans groet met groot weemoed die literêre reus, Adam Small. Mag hy sag slaap en sy geliefdes troos vind in die wete dat hy hierdie wêreld beslis nie onaangeraak gelaat het nie.

Kerneels Breytenbach, PEN Afrikaans se voorsitter:
Adam Small is naas Breyten Breytenbach, Abraham H de Vries, Dolf van Niekerk en John Miles die laaste van die geslag van Sestig wat nog aktief was as woordkunstenaar. Sy afsterwe laat nie alleen 'n groot leemte nie, maar ontneem ons literêre toneel van 'n minsame, trotse figuur. Iemand wat, soos hy dit self gestel het, met sy verse sy gehoor "singend" gelei het. Sy skryfwerk in die Kaapse tongval het 'n sleutelrol gespeel om die waardering vir alle Afrikaanssprekers se bydraes tot ons kultuurerfenis gevestig te kry. Daarbenewens het hy enduit die kruis vir die kunste gedra met sy "dienende digterskap", om JC Kannemeyer aan te haal. Almal wat hom deur die jare leer ken het, sal nooit kan vergeet hoe innemend as mens, en ferm as kunstenaar hy was nie – veral in tye waarin sy siening nie altyd met die modes van die tyd geklop het nie.

Bettina Wyngaard, PEN Afrikaans se ondervoorsitter:
Dis maklik om Adam Small te beskryf as die baanbreker wat Kaaps toeganklik gemaak het as kreatiewe skryftaal. Maklik, en waar. En onvoldoende. Hy was veel meer. Vir baie mense was hy die simboliese pen wat magtiger as die swaard is. My eerste kennismaking met sy werk was as jong kind, omdat my pa gaande was oor sy gedigte, oor die stille verset daarin, oor die waardigheid waarmee hy soveel indignities wat mense moes deurgaan, verwoord het. Vir baie mense was sy woorde die enigste bewys dat hulle nie alleen is in wat hulle deurmaak nie. Vandag is nie net 'n hartseer dag vir Afrikaans nie, dis 'n hartseer dag vir my. 'n Seder het geval.

Danie Marais, PEN Afrikaans se bestuurder:
Adam Small was 'n skrywer wat literêre grense verskuif het, en ook vir lank 'n stil, waardige herinnering aan die skreiende onreg wat apartheid binne die Afrikaanse taalgemeenskap meegebring het. Sy werk het die krag gehad om mense te oortuig dat hulle moreel verplig is om anders te dink en te lewe. My ma het by verskeie geleenthede vertel in watter toestand sy was nadat sy Kanna hy kô hystoe die eerste keer gesien het. Familie en vriende het haar tot bedaring probeer bring, maar sy kon nie en wou nie daarna tot bedaring kom nie. Small se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde kan moeilik oorskat word.

Lees hier die onlangs bygewerkte ATKV/LitNet-skrywersalbum oor Adam Small.

Margaret Bakkes (14 Desember 1931 – 29 Junie 2016)

 
FOTO: Izak de Vries

Die geliefde skrywer Margaret Bakkes het ons leeswêreld aanvanklik verryk as kortverhaalskrywer, en daarna met langer prosa, waarvan Sing vir ons, Matilda, My ouma in kaneel, en Die reise van Olga Dolsjikowa en ander omswerwinge veral die aandag getrek het. Die langer historiese werke oor temas rakende die Groot Trek het haar posisie gevestig as skrywer wat die geskiedenis uit 'n nuwe, begrypende perspektief kan lewe gee. Susanna die geliefde handel oor die lewe van Susanna Smit, eggenoot van die ongeordende Voortrekker-predikant, Erasmus Smit, en Kroniek van die sewe blou waens gaan oor Susanna se broer, Gert Maritz. Albei laasgenoemde werke het 'n blywende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer.
 
Naas haar skryfwerk het Margaret Bakkes saam met haar onlangs ontslape eggenoot, Cas, die wêreld van die kunste en lettere op 'n ander manier verryk. Hulle had vier kinders: 'n dogter, Mathilde, en drie seuns – Marius, Johann en Christiaan – waarvan eersgenoemde diep spore in die plaaslike mediawêreld getrap het, en laasgenoemde twee ook bekende skrywers geword het.

Lees hier die onlangs bygewerkte ATKV/LitNet-skrywersalbum oor Margaret Bakkes. 

Die taalbeleidsbesluite aan die US, UP en Unisa

Op 22 Junie het die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verreikende taalbeleidswysigings ten koste van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal aanvaar. PEN Afrikaans se stellingname rakende hierdie besluite kan hier gelees word.

Sensuur by die SAUK

Onlangse insidente by die SAUK spreek van blatante inmenging en staatsensuur wat gevaarligte vir ons demokrasie laat flikker. PEN Afrikaans se tweetalige persverklaring oor hierdie vergrype kan hier gelees word.

Hierdie persverklaring is ook aan die PEN International-sekretariaat in Londen gestuur waarvandaan dit verder onder PEN-sentrums versprei is.

Erkenning vir Bettina Wyngaard en PEN Afrikaans binne die internasionale PEN-gemeenskap

Daar was gelukkig ook goeie nuus in Junie: Soos in ons April-nuusbrief berig is, het die samesprekings tussen die PEN-sentra in Afrika byna ontspoor by die Maart-konferensie in Johannesburg, wat Danie Marais en Bettina Wyngaard bygewoon het. Die idee was om by dié kongres ’n bestuur vir PAN (die PEN Africa Network) te kies, maar daar was ’n groot misverstand, oftewel kommunikasiegaping, tussen die anglofone en frankofone sentrums. Laasgenoemde groep is reeds deel van ’n ander skrywersfederasie vir frankofone Afrika-lande wat hulle eers wou ken oor hul moontlike verdere rol in PAN. Die samesprekings het egter op ’n positiewe noot geëindig – nie net met die aanvaarding van ’n grondwet nie, maar ook met die vooruitsig op beter en nouer samewerking en solidariteit in die toekoms. Bettina het as bemiddelaar, wat deur albei blokke aanvaar is, ’n sleutelrol in hierdie positiewe uitkoms gespeel. Soveel so dat Carles Torner, die uitvoerende direkteur van PEN International, dit onomwonde teenoor my ná haar vertrek oor ’n koppie koffie gestel het: “Bettina was amazing!

Die nuwe goeie nuus is dat Bettina nou amptleik gevra is om as bemiddelaar ’n skikking tussen die anglofone en frankofone sentrums te help beding voor die volgende internasionale PEN-kongres in Ourense, Spanje, wat van 26 September tot 2 Oktober vanjaar plaasvind.

Baie geluk dus aan Bettina, wat ons naam binne die groter PEN-familie in die internasionale arena van die lettere hoog hou.

En van Bettina gepraat: Sy het nog altyd gesê dat Afrikaans ’n PR-probleem het en sy’s besig om hard te werk aan ’n oplossing vir ons taal se beeldprobleme – en nie net as diplomaat-fasiliteerder tussen die ander PEN-sentra in Afrika nie: In Junie het PEN American die volgende bekendstelling van PEN Afrikaans op hul webwerf geplaas: https://pen.org/pen-world/pen-afrikaans-rethinking-language-and-its-legacy

Die antwoorde op die vrae was ’n spanpoging van PEN Afrikaans se bestuur, maar Bettina het die skakeling met PEN America gekoördineer. Haar Trippel-7-projek word ook in die bogenoemde artikel op PEN America se webwerf uitgesonder as ’n spesiale inisiatief ter blootstelling van marginale Afrikaanse stemme.

Nuwe boeke in Julie 2016

Laastens is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Julie se publikasielys kan hier afgelaai word.

Hartlike gelukwense ook aan al die wenners van die Media24-boekpryse wat in Junie oorhandig is, met 'n spesiale saluut aan Ingrid Winterbach wat die W.A. Hofmeyr-prys die vierde keer ingepalm het. Klik hier vir foto's en meer inligting oor die wenners.

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top