PEN Afrikaans: Stellingname rakende die taalbeleidswysigings aan die US, UP en Unisa

  • 0

Persverklaring

Die verreikende taalbeleidswysigings wat op 22 Junie aan die Universiteit Stellenbosch (US)1, die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) aanvaar is, was ’n donker dag – nie net vir Afrikaans nie, maar vir die ideaal van ’n meertalige demokrasie met respek vir minderhede en taalregte.

Afrikaans as tersiêre onderrigtaal is hiermee so te sê afgeskaf aan Suid-Afrikaanse staatsuniversiteite. Slegs die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit is nog Afrikaans.

Hierdie taalbesluite is ten koste van die jeug en daarmee ons toekoms geneem. Ghana en Tanzanië het verlede jaar ná dekades van die dwase koers wat ons onderwysowerhede nou met alle geweld wil inslaan, tot die besef gekom dat die belegging in moedertaalonderrig noodsaaklik is. Beide hierdie lande het verlede jaar ingrypende hervormings in hul skoolstelsel aangekondig wat ’n wegkeer van Engels-vir-almal terug na moedertaalonderrig behels.

Die populisme wat die ANC en EFF versprei, wil ons egter wysmaak dat dieselfde fout in Suid-Afrika tot ’n beter, inklusiewe toekoms vir almal gaan lei, terwyl soveel voorheen benadeelde leerders steeds vanweë ’n wanfunksionele onderwysstelsel met ’n oninhaalbare agterstand op universiteit aankom.

Theodorus du Plessis stel dit onomwonde in “Ongelykhede in taal en onderwys – perspektiewe op moedertaalonderrig in Suid-Afrika”, ’n lesing wat hy vanjaar aan Unisa gelewer het ter herdenking van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie 20162:

Een van die besonder ontstellende aspekte omtrent die huidige vlaag van bykans Engels-besetenheid aan Suid-Afrikaanse kampusse is die feit dat die beheptheid met die verwydering van Afrikaans as voertaal ons aandag aflei van ’n veel groter nasionale krisis. Hierdie krisis het te make met die onvoorstelbare onderprestasie op skool van Suid-Afrikaanse leerders. Volgens die Children’s Institute aan die Universiteit van Kaapstad se jongste Child Gauge-verslag (Volksblad het in 2015 ’n berig hieroor gedra) is die onderprestasie van veral swart skoolgangers so groot dat hulle teen die einde van die sekondêre skoolfase minstens vyf jaar agter hulle “bevoorregte” eweknieë is. Ons praat dus hier van ’n soort sistemiese ongelykheid wat universiteite in werklikheid erf.

[…]

Dit illustreer my punt waarom die verwydering van Afrikaans uit die prentjie niks aan die situasie van die swart student verander nie. Hoe maak dit die vyfjaaragterstand van die swart student op?

In plaas dus daarvan dat die owerheid ’n massiewe moedertaalonderrig-program van stapel stuur om sukkelende leerders te ondersteun en te bemagtig, word die moedertaalaanbod van ’n deel van die bevolking weggeneem in die naam van ’n uiteindelik simboliese “regstelling” van die onregte van die verlede. In stede van ’n legitieme welvaartbelasting wat ’n meer regverdige verdeling van inkomste en daarmee geleenthede ten doel het, word hierdie beleidsrigting aanvaar ten koste van mense wat nog in Afrikaans wil en kan leer – waarvan baie hulle tans in werkersklasomgewings en in oorwegend bruin, plattelandse skole bevind.

Die bestuur van PEN Afrikaans is daarom oortuig dat die strewe na ware veeltaligheid en die toegang tot moedertaalonderrig, ook op tersiêre vlak, nie ná 22 Junie in Suid-Afrika verby is en ook nie verby mag wees nie.

In Suid-Afrika, waar navorsing toon dat meer as 70% van studente wat by universiteite uitval hul studies staak as gevolg van gebrekkige taalvaardigheid in Engels, kan ons nie bekostig om nie ook ons inheemse tale vir kennisontsluiting in te span nie.3 Ons het moedertaalonderrig net so nodig soos ’n vrye pers ter opheffing van gemeenskappe wat tans op ’n katastrofale skaal deur die openbare onderwysstelsel gefaal word.

’n Eentalige universiteitswese gaan uiteindelik in die eerste instansie diegene bevoordeel wat reeds so bevoorreg was om gehalte-onderwys te ontvang het in ’n reeds bevoorregte skool. Dit is gewoon nie die antwoord op Suid-Afrika se groot sosio-ekonomiese probleme nie. Inteendeel, dit plaas verdere druk op skole wat steeds moedertaalonderrig aanbied, om ook te verengels.

Die besluite wat nou aan universiteite geneem is, maak dit daarom dringend noodwendig vir almal wat moedertaalonderrig vir hul nageslagte wil hê om na mekaar uit te reik. Mag hierdie waterskeidende oomblik in ons geskiedenis die begin van nuwe alliansies en ’n breë demokratiese beweging vir verdraagsame meertaligheid en bemagtigende moedertaalonderrig wees.

Daar is inspirasie te put uit die ontvangstoespraak van John Kani, wat vanjaar deur die KKNK met twee Kannas vir sy produksie van Sizwe Banzi Is Dead bekroon is. Dié 72-jarige veteraan-akteur-regisseur, wat saam met Sandra Prinsloo in die tagtigerjare pruike gelig het met ’n omstrede soen oor die kleurgrens in ’n produksie van Strindberg se Miss Julie, het dit duidelik gemaak dat hy aanvanklik een van die grootste kampvegters teen die Klein Karoo Nasionale Kunstefees was omdat hy oortuig was dis ’n stamfees wat groepe uitsluit. Nou dink hy anders: “Ons toekoms lê in die behoud van ons inheemse tale – waar is ons sonder ons tale? Ons is nêrens.”

Niks verhinder ons om hierdie woorde ter harte te neem, taalgrense oor te steek en nuwe bondgenote te vind nie. ’n Mens is nie net ’n mens deur ander mense nie, maar ’n taal is ook slegs ’n taal deur ander tale.

Eindnotas

1 Die bestuur van PEN Afrikaans het sy besware teen die US se beleidsverandering reeds duidelik gemaak in ’n stellingname in PEN Afrikaans se Mei-nuusbrief: https://www.litnet.co.za/pen-afrikaans-nuusbrief-mei-2016/

2 Theodorus du Plessis se volledige lesing kan hier gelees word: https://www.litnet.co.za/ongelykhede-in-taal-en-onderwys-perspektiewe-op-moedertaalonderrig-in-suid-afrika/

3 Sien: https://www.litnet.co.za/ongelykhede-in-taal-en-onderwys-perspektiewe-op-moedertaalonderrig-in-suid-afrika/

 

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top