Patagonië: ’n onderhoud met Maya Fowler

  • 0

Patagonië
Maya Fowler

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415209288

Skrywers oor hul nuwe boeke: Maya Fowler gesels met Naomi Meyer oor Fowler se Patagonië.

Maya, jou boek Patagonië is in Afrikaans en in Engels geskryf. En jy het beide die Afrikaans en die Engelse teks self geskryf. In watter taal was die boek eerste geskryf, en ook: hoe het die kommentaar op die eerste boek die herskryf van die tweede teks beïnvloed?

Die Afrikaans het ek eerste geskryf, en dit het vir my sin gemaak so. Die karakters is Afrikaans, twee van hulle met die Anglo-Boereoorlog pas agter hulle, en een van die temas van die boek is die oorlewing van Afrikaans in verre Argentinië. Dit kan natuurlik alles suksesvol in Engels weergegee word, maar Patagonië het sy oorsprong in Afrikaans. Die kommentaar op die eerste boek het gelei tot die tipiese verbeterings van redigering: kyk na die tydlyn en logika daarrondom; sny om die teks meer gespierd te kry en die pas te versnel; ens. Dit was baie nuttig dat ek die Engelse werk kon begin met hierdie dinge agter die rug.

As dit by skryf kom: dis seldsaam dat ’n skrywer gemaklik en idiomaties vlot in twee tale kan skryf. Wil jy iets hieromtrent vertel? Van jou tale-agtergrond, van jou omgewing, van hoe jy dit reggekry het?

Ek is maar ’n talemens, en ek dink vroeë blootstelling is baie belangrik. My oorlede ma, ’n baie trotse Afrikaanse (“Afrikaner” is ’n gelaaide term, en dit gaan hier bloot om moedertaal), was net so ’n taalmens. Sy het my na ’n Duitssprekende kleuterskool op Stellenbosch gestuur, en daarna is ek na Rhenish Primary, ook op Stellenbosch. Toe ons Graaff-Reinet toe trek, bly ek in ’n Engelse skool. By die huis het ons Afrikaans gepraat, en ons het almal vreeslik baie gelees, beide Engels en Afrikaans. Ek is baie dankbaar vir hierdie aspek van my taalopvoeding.

Jy woon in Kanada. Waarom hoegenaamd ’n boek (ook) in Afrikaans skryf? Dalk kan jy hier van jou agtergrond vertel, asseblief.

Afrikaans is ’n baie sterk deel van wie ek is, en ek móét Afrikaans skryf. Tog hang dit af van wie my karakters is, en in watter milieu hulle hul bevind. Ek kan altyd ’n ding vertaal, maar as dit Afrikaanse karakters is, moet hulle eerstens in Afrikaans geskryf word, en andersom.

Die omgewing van Patagonië en die klein groepie mense wat daar woon en steeds Afrikaans praat, is deur die dokumentêre film Boere op die Aardsdrempel by ’n kykNET Silwerskermfees toegelig. Waar het jy van hierdie mense te hore gekom en hoe het dit jou verhaal beïnvloed? (Ek sien in jou bedankings werp jy reeds lig op die onderwerp en verwys jy ook na Andries Coetzee, wat losweg betrokke was by hierdie einste film! Sal jy vir doeleindes van jou antwoord asseblief hierop uitbrei?)

Die heel eerste wat ek van die gegewe gehoor het, was toe ek baie klein was en ons vir ’n familievriend van my pa in die Vrystaat gekuier het. Daar het my pa my vertel dat die oom se vrou, alhoewel sy Afrikaans is, in Argentinië gebore is, en dat sy Spaans kan praat. Ek was verstom. My pa het vertel hoe hulle in 1938 teruggekeer het na Suid-Afrika, en hoe hulle al hulle guanaco-biltong in die see moes smyt in Tafelbaai weens gesondheidsregulasies, of regulasies oor die invoer van vleis. Al die jare stel ek nog in hierdie mense belang. Ek het in ongeveer 2009 begin notas maak vir hierdie boek, en toe Boere op die Aardsdrempel uitkom, toe dink ek, wag, laat ek nou ordentlik aan die skryf kom. Ek het nogal ’n bietjie geskrik, want die storie was nog altyd so na aan my hart, en toe die film uitkom, toe dink ek, sjoe, nou gaan dit ander mense se verbeelding regtig aangryp. Ek was so bang iemand anders werk met die tema voordat ek ’n boek die lig kan laat sien! Oor Andries Coetzee, ja, ek het hom in die film raakgesien, en terwyl ek aan die skryf was, het ek bly navors. Dis toe dat ek met prof Coetzee in verbinding tree. Hy het vir my vertel van Rhoda van Schalkwyk se werk, wat ek toe gelees het. Dit was vir my ’n groot verligting dat die notas wat ek in Patagonië gemaak het, met haar bevindings ooreenstem.

Maya Fowler (Foto: Joanne Olivier)

Vertel my van hierdie storie wat jy geskryf het, asseblief. Wat was vir jou die sneller van die verhaal? (Of: jy het as kind van hierdie Afrikaanse ouens in die buiteland gehoor, maar wat het alles saam geperkoleer en uiteindelik veroorsaak dat jy die storie aangepak het?)

Die antwoord het ek deels by die vierde vraag hier bo gegee, en ja, dit was wat ek as kind gehoor het, maar ook wel dat ek lank reeds die musikale fuga as vorm wou gebruik vir die verhaal. Toe ek die dag besef ek kan die twee kombineer, het baie dinge skielik begin sin maak.

Jou hoofkarakter, Tertius de Klerk, word beskryf as ’n lamsakkige man, want hy het weggevlug van sy vrou (en sy land) ná ’n nag waarvan mense eerder nie moet uitvind nie. Vertel my van jou karakters, asseblief. En het jy van hulle gehou?

Ja, Tertius is soos jy hom beskryf, en sy vrou, Alta, is baie sterker as hy! Tertius is ’n dosent in geskiedenis, maar die studierigtings wat hom prikkel, laat die res van die wêreld koud. Alta is ’n tjellis en dosent in musiek. Albei van hulle is in die huidige tydvak. In 1902 het ons Tertius se oupagrootjie, Basjan, en die vrou in sy lewe, Salome. Basjan is ’n ware bliksem (met ’n vonkel in die oog), en Salome is hard omdat die lewe haar so gemaak het: danksy Kitchener se verskroeide-aarde-beleid het sy alles verloor. Ja kyk, al hierdie karakters het beslis foute, maar mense het foute. En ja, ek moet sê, ek hou tog van al vier, al sou ek hulle nie noodwendig almal vertrou nie.

Dink jy dat jou eie ekspatheid ’n rol te speel het in die wye en uitgestrekte reise van jou verhaal? En ook: is dit ’n reis na binne, of ’n reis oor landskappe? Wat was dus eerste, watter reis?

Nee, ek dink nie my eie ekspatheid speel ’n rol nie, omdat die konsep al so lank by my is. Dan, reis na binne of oor landskappe? Beslis albei. Die landskappe kom seker eerste. Soms vat dit jou kop dae of weke om by te kom waar die perd of die boot of die vliegtuig jou besorg het.

Het jy die verhaal (en ook die einde) vooruit beplan? Of het die storie organies ontwikkel soos wat jy dit geskryf het?

Die storie het redelik organies ontwikkel, maar omdat ek die fugavorm gebruik het, het ek geweet daar moet vier stemme wees, met ’n “tema” (“Hier moet ek weg”) en “antwoord” (“Vir my laat jy nie so maklik agter nie”) wat herhaal word. Tertius stel die tema wanneer hy besluit om te vlug, en Alta antwoord. In die 1902-tydvak stel Basjan die tema, en dan antwoord Salome, kort op sy hakke. Behalwe my speletjie met die musiek, het ek ook gespeel met die idee dat die geskiedenis homself herhaal.

Kanada is ook ver van hier. Is daar vir jou raakpunte tussen ’n land in Suid-Amerika (doer onder) en Noord-Amerika (doer bo) – in vergelyking met afstand en die verwysingsraamwerk van Suid-Afrikaners? Dalk kan jy noem wat jy ervaar as eenders en anders.

Sjoe, daar is eintlik min raakpunte tussen die drie plekke. Argentinië het ’n sterk Katolieke kultuur, en die land is volkome Spaans: daar is géén Engels nie. Op dié maniere is dit heeltemal anders as Kanada, anders as Suid-Afrika. Een ding wat dieselfde is, is dat mense in al drie lande oor die algemeen baie vriendelik is!

Hoe skets jy vir jou lesers ’n prentjie van ’n plek waar hulle nog nooit was nie? (En: was jy al orals op al die plekke waaroor jy skryf?)

Dis vir my belangrik om ’n plek te besoek voor ek daaroor skryf, ja, anders voel dit my nie ek kan eg skryf nie. Selfs toe ek aan Karin Brynard se Plaasmoord vertaal het, het ek die Griekwastad-omgewing besoek, want ek wou die wind hoor, die bossies ruik, die stof proe. Ek het gedink dis belangrik om dinge op daardie vlak te verstaan om outentiek te kan vertaal. En so is dit met die skryf ook.

Lees ook: 

Boer-tyne: 'n Familiefotoalbum uit Argentinië

kykNET Silwerskermfees 2015: Boers at the End of the World | Boere op die aardsdrempel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top