Ouervervreemding as ʼn leerhindernis by kinders

  • 1
ouervervreemdingleerhindernis650

Ryk Brink

Lees 'n LitNet Akademies (Regte)-artikel deur Chrizell Chürr wat hierdie webseminaar laat ontstaan het: “Aantekeninge oor regsaspekte van ouervervreemdingsindroom in Suid-Afrika”. Lees ook Jan-Hendrik Meyer se bydrae “Kinders kan daaronder ly” en Jean Oosthuizen se bydrae “Ouers wat skei en baklei laat kinders ly”.

Leerhindernisse is enige faktor wat daartoe bydra dat ‘n kind nie effektief kan leer nie. Dit kan ‘n baie wye omvang hê en sluit fisiese, emosionele en sosiale hindernisse in. Alhoewel mense gewoonlik aanvaar dat ouervervreemding die kind beïnvloed, verreken ouers en onderwysers dikwels nie die beperkinge wat dit plaas op die kind se vermoë om te leer en akademies te presteer nie.

Hierdie hindernisse vind ons gewoonlik in die eksterne omgewing waarin die kind funksioneer, asook in die gedagte- en gevoelswêreld van die kind.

Die fisiese omgewing

Wanner ouers se paaie skei, bring dit dikwels mee dat die kind ná die egskeiding of vervreemding by die een ouer woon, maar ook tyd saam met die ander ouer spandeer, veral wanneer die ander ouer geografies naby genoeg bly. Afhangende van die kommunikasie tussen die ouers rakende besoekregte, skep die gedurige wisseling van blyplek soms probleme by die skool. Die kind mag byvoorbeeld soms nie sy volledige skooluniform aanhê of al sy handboeke by hom hê nie en trek sodoende negatiewe aandag van onderwysers en skoolmaats. Dit laat kinders minderwaardig voel en plaas nog meer klem op die ontwrigtende effek van ouervervreemding. Die geografiese verskuiwing lei soms ook tot sosiale isolasie (verlies aan vriendskappe) en het ‘n invloed op die kind se selfpersepsie – ‘n kritieke faktor in die leerproses.

Die finansiële omgewing

Die finansiële gevolge van die ouervervreemding bring dikwels mee dat die kind nie meer met sy of haar gewone skoolaktiwiteite, veral met buitemuurse aktiwiteite, kan voortgaan nie. Dit beïnvloed die kind se gevoel van eiewaarde en selfaktualisering en bring mee dat hy of sy toenemend geïsoleer word van sy of haar vriendekring. Soms moet die kind ook na ‘n “goedkoper” skool gaan waar die geleenthede nie dieselfde is nie.

Die sosiale omgewing

Soms lei die sosiale isolasie as gevolg van ‘n vriendekring wat weggeval het, tot ‘n gebrek aan portuurgroep-ondersteuning. As gevolg van nog ontoereikende sosiale vaardighede onttrek kinders soms van ‘n maat wie se ouers besig is om te skei. Die emosionele pyn en ongemak van die betrokke kind word te veel vir die portuurgroep. So ‘n kind word soms uitgestoot, omdat die groep nie die vaardighede het om hom/haar te akkommodeer nie. Indien kinders nie met hul gewone buitemuurse program kan voortgaan nie, of geografies van hul portuurgroep verwyder word, voel hulle verder geïsoleerd. Hierdie isolasie beteken soms dat die kind se akademiese ondersteuningsnetwerk ook wegval of nie meer so goed soos in die verlede funksioneer nie. Dit kan ‘n groot invloed op hul akademiese prestasie hê, met katastrofiese gevolge vir hul selfbeeld en gevoel van eiewaarde.

Die gevoel van mislukking

Die mislukking van die gesinstruktuur as “ideaal” kan soms by die kind die persepsie laat ontstaan dat hy of sy uit ‘n “mislukte omgewing” kom en dus self ook ‘n mislukking is. Hierdie negatiewe emosies, saam met die verlies van ‘n sosiale ondersteuningsnetwerk, het soms neerdrukkende gevolge vir die kind by die skool. Op ‘n jong ouderdom het baie min mense al die vermoeë aangeleer om veerkragtig (resilient) te wees.

Dit, tesame met die feit dat kinders nog daarmee sukkel om die toekoms te visualiseer, laat die kind soms in ‘n spiraal van negatiewe denke verval. Hierdie denkpatroon bepaal dan wat die kind glo ten opsigte van sy of haar vermoë tot selfontwikkeling en selfaktualisering. Die fisiese, sosiale, sielkundige en opvoedkundige ervarings van die kind voor, gedurende en na die proses van ouervervreemding dra by tot wat die kind oor sy/haar eie vermoëns glo. Hierdie geloof hang dikwels ten nouste saam met ‘n ervaring van verlies aan beheer. Die kind voel uitgelewer aan die skeidingsproses en alles wat dit meebring en glo maklik dat hy of sy niks kan doen om sy/haar situasie te verbeter of te probeer beheer nie. Dit lei tot negatiewe selfspraak, ‘n algemene verlies aan motivering en ‘n gedagtewêreld wat al hoe meer fatalisties word.

Fatalistiese denke as ‘n leerhindernis

Wanneer individue ‘n intense verlies aan beheer ervaar en glo dat hulle niks kan doen om hulle situasie te verbeter of te verander nie, noem ons dit fatalisme. Kinders kan voel dat die proses van ouervervreemding beheer van hulle lewens oorgeneem het. Vir hulle is dit dikwels die einde van die ‘n gelukkige en geborge lewe soos hulle dit geken het.

Fatalisme gaan saam met ‘n intense gevoel van ontmagtiging en hopeloosheid en lei tot ‘n verlies aan lewenslus en motivering. Dit kan ook met angs en depressie gepaard gaan. Sulke kinders gooi soms net tou op. Hulle verlaat soms die skool, of gaan wel nog skool toe, maar onttrek in die klas deur passiewe ontvlugting. Hulle kom soms depressief voor en toon geen belangstelling in dit waarin hulle maats belangstel nie – dikwels omdat hulle weens finansiële of geografiese redes gewoon nie daaraan kan deelneem nie.

Soms vertoon hulle aggressiewe gedrag, wat hulle nóg verder van hul portuurgroep en selfs hul onderwysers isoleer. Hulle begin dink dat die lewe nie sin maak nie en gee nie om watter risiko’s hulle neem nie, want hulle glo dat niks in elk geval meer saak maak nie. Dis nie moeilik om jou in te dink watter effek sulke denke op hulle opvoeding het nie. Risikogedrag lei soms daartoe dat sulke kinders die skool verlaat omdat hulle met die gereg bots of omdat die skool se dissiplinêre proses dit vereis.

Kinders wat fatalisties dink, soek dikwels by hulle maats ontvlugting van dit wat hulle weerloos en onseker maak. Hulle spandeer soms soveel tyd by hul maats dat hul akademiese werk daaronder ly. Kortom: ‘n kind wat fatalisties dink, sukkel om sy of haar akademiese potensiaal te bereik en soms word hierdie fatalisme deur ouervervreemding veroorsaak. So ‘n kind kan die vervreemding beleef as ‘n eksterne proses wat beheer van sy of haar lewe oorgeneem het.

Die skool as surrogaatomgewing wat hoop en veerkragtigheid skep

Terwyl die betrokke kinders nog skoolgaan, is daar hoop dat hulle hulle akademiese potensiaal kan verwesenlik, mits hulle nie in ‘n spiraal van fatalistiese denke beland nie. Die skool kan byna as ‘n surrogaatgesin funksioneer in die tyd waarin die tradisionele gesinstruktuur vernietig is. Deur te verseker dat die kind ingesluit word in aktiwiteite, deur te help met tyds-, akademiese en logistieke bestuur, en met deurlopende emosionele ondersteuning, kan baie vermag word. Dit help met die opbou van vertroue en selfvertroue en versterk die kinders se geloof in hulle eie vermoëns om hulle potensiaal te verwesenlik, selfs al is die ouerhuis ontwrig. Positiewe portuurgroepondersteuning en leiding deur onderwysers help die kind om veerkragtig te wees en sy of haar eie identiteit te vestig.

Ouervervreemding laat kinders weerloos. Die skool is dikwels die laaste bastion waar sulke kinders deur konstruktiewe ingryping teen fatalistiese denke beskerm kan word. Wanneer die kind in die skool sukses en geborgenheid ervaar, help dit om die gevoelens van fatalisme, mislukking en hopeloosheid te verdryf. Daarom is dit belangrik om in en buite die klaskamer ‘n positiewe leeromgewing en -atmosfeer te skep waarin die kind sy identiteit kan vind en sukses kan ervaar om sodoende sy selfvertroue en selfpersepsie te kan herstel.

Die skool het die verantwoordelikheid om aan weerlose kinders veerkrag te gee. Dit vra ‘n holistiese benadering en ‘n positiewe ingesteldeid van alle rolspelers wat op die kind se fisiese, emosionele en akademiese welslae fokus.

Ryk Brink is ʼn berader by CBC St John's, Parklands en besig met ‘n DEd in opvoedkundige sielkunde.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top