Lees 'n LitNet Akademies (Regte)-artikel deur Chrizell Chürr wat hierdie webseminaar laat ontstaan het: Aantekeninge oor regsaspekte van ouervervreemdingsindroom in Suid-Afrika. Lees ook Jan-Hendrik Meyer se bydrae “Kinders kan daaronder ly”.
Die impak van ʼn egskeiding is veel groter as slegs twee mense wat uitmekaar gaan. Dit kan wêrelde laat verkrummel, en ma’s, pa’s en kinders ervaar die gevolge van egskeiding totaal verskillend.
Dit is ook nie net die kinders wat daaronder ly nie. Geskeide ouers gaan dikwels self deur diep waters na ʼn egskeiding, en die verhouding met hulle kinders ly baie keer erg daaronder. Dit kan jare neem om weer die ouer-kind-verhouding te herstel, en soms gebeur dit nooit nie.
“My ouers is geskei toe ek sewe jaar oud was. My pa het weggetrek en ek het hom eers weer gesien toe ek 14 was. Dit was vir my baie erg,” sê Lidia Theron. Sy is een van talle kinders wat ouerverveemding ervaar het as gevolg van egskeiding. Mens verwerk hierdie dinge, maar die letsels bly vir ewig, sê sy vandag.
In daardie jare (1949) was dit nie nodig geag om die kinders in te lig oor die egskeiding nie, sê Lidia. “Dalk was my suster wat vyf jaar ouer as ek is beter ingelig, maar sy wil tot vandag toe nog nie daaroor praat nie, nie eens teenoor my nie.” Sy sê net: "Dis 'n stuk wat ek uit my lewe uitgesny het."
Vir die jonger Lidia met haar nuuskierige geaardheid het dit baie vrae ontketen.
Na haar ouers se egskeiding het sy en haar ouer suster saam met hulle ma op ʼn klein dorpie in Namakwaland gaan woon. “Ek was in graad 3 en ons moes skool toe gaan. Ons was skaars daar toe is my ma met ʼn ander man daar weg. Ek het net geweet hulle gaan Kaap toe om te gaan trou. Ons was in die skool op Graafwater en die predikant se dogtertjie het vir my 'n maatjie geword, maar haar pa het haar verbied om met my te speel omdat my ma glo 'n “skarlakenvrou” was.
Met haar eie pa kon sy darem korrespondeer, maar sy het hom vir jare nooit gesien nie. “Die briewe wat hy vir my geskryf het, was oopgemaak voordat ek dit gekry het. Ek moes die briewe wat ek vir hom skryf, eers vir my ma gee om te lees. Ek was ʼn baie opstandige kind. In die wintervakansie van my graad 10-jaar het my pa nader aan ons gebly en kon ek by hom gaan kuier. Sy tweede vrou, wat skynbaar baie ouer as hy was, is dood en hy was toe reeds met sy derde vrou getroud. Nie lank daarna nie is hy van haar ook geskei.”
Later het haar pa weer uit haar lewe uit verdwyn, totdat sy hom ʼn paar jaar later in die Oos-Kaap, waar hy ʼn kroegman was, opgespoor het. Hy was toe reeds met sy vierde vrou getroud, wat saam met hom gedrink het. Op die ouderdom van 58 jaar is Lidia se pa dood sonder dat sy hom ooit werklik geken het. Met haar stiefpa het sy nooit goed oor die weg gekom nie en sy moes uiteindelik sonder ʼn vaderfiguur grootword.
Dikwels is dit die toutrekkery oor die kinders wat die grootste pyn en hartseer veroorsaak wanneer twee mense skei. Elke situasie is anders en mans en vroue hanteer dit ook verskillend.
Vic Jooste (skuilnaam) is ʼn geskeide pa wat verkies om nie sy of sy seun se regte name te noem nie.
“Al is ek hoe bitter teenoor my eks, gaan ek aan met my lewe en leef sy in haar eensame kerker van onvergenoegdheid en kritiek wat sy om haarself gebou het.” Vic sê hy gaan steeds uit sy pad om sy 24-jarige seun aan te moedig om sy ma te sien en tyd met haar te spandeer, maar hy voel nie daarna nie.
“Ek poog absoluut om niks sleg van haar te sê nie, maar kom agter sy doen nie dieselfde nie.”
Volgens Vic is dit waarskynlik omdat sy seun hom na baie jare se vervreemding uiteindelik leer ken het en nou besef sy ma is eintlik die een met die probleem.
In die eerste agt jaar na sy egskeiding het Vic sy seun slegs twee maal in Tygervallei raakgeloop.
“Een keer was hy so 12 jaar oud en in ʼn rolstoel na ʼn voetoperasie aan beide voete. Hy het met alle mag sy rystoel in ʼn ander rigting gestuur toe hy my sien.”
“Die ander keer het hy as 17-jarige by Mugg & Bean, waar ek en my destydse lewensmaat gesit het, ingestorm en my kliphard begin slegsê. Mense het in alle rigtings gespat. Hy wou nie kalmeer of sit en met my praat nie.”
Die verhouding tussen pa en seun het begin verander eers toe sy seun so twee maande voor sy 18de verjaarsdag ʼn afspraak gemaak het om hom op kantoor te sien. Dinge tussen hulle het stadig beter geword, maar volgens Vic was sy eksvrou steeds diep verbitterd oor die manier waarop hulle egskeiding verloop het.
“Sy was bitter omdat ek my destyds in 1998 binne drie dae so gestrip het dat ek alles weggeteken het en met R10 000 in my sak en 20 kg bagasie weg is Londen toe.”
Die ooreenkoms was dat sy vrou absoluut alles kry – besighede, eiendom, roerende bates, trusts, polisse, die lot, maar sy mag hom nooit weer gepla het vir geld nie.
In 2004 was Vic weer terug in Suid-Afrika en het voltyds by Maties ingeskryf vir ‘n LLB. Toe dagvaar sy eksvrou hom skielik vir onderhoud. Dit het ontaard in ʼn lelike regsgeding wat in Vic se guns beslis is nadat hy ʼn hofbevel gekry het dat sy nie van hom geld mag eis nie en dat hy geen finansiële verantwoordelikheid sal neem nie.
“Ek het my seun in Januarie 2002 die laaste keer ‘op goeie voet’ gesien en toe eers weer in 2009.”
Ondanks alles het Vic sy seun vanaf sy 18de verjaarsdag finansieel onderhou terwyl sy vrou, wat na die egskeiding alles gekry het, opgehou het om enige bydrae te maak vir hulle kind se opvoeding.
“Sy het teenoor ons seun erken dit is nie dat sy nie kan betaal nie – hy weet sy kan – maar dat sy my wil bykom.”
“Ek betaal alles vir hom – kar, woonstel, mediese koste, studies, boeke, klere, sakgeld – noem dit, ek betaal. Omdat ek wil en omdat ek kan. Sy ma het gedink sy gaan ʼn nuwe struweling begin deur die boodskap deur te gee dat sy hom niks meer gaan gee nie.”
Vic sê sy seun wou eers ʼn geveg daaroor aanknoop, maar hy het hom laat verstaan dit is nie die moeite werd nie. Die gevolg is dat sy seun nou al hoe minder van sy ma wil sien of weet.
Anna, wat verkies om nie haar van te noem nie, is ʼn geskeide enkelma en woon nou in Nieu-Seeland. Sy sê ouers en kinders pas deesdae beter aan omdat egskeiding deel geword het van die daaglikse samelewing en meer aanvaarbaar is vir die gemeenskap.
“Ten tye van my egskeiding was dit nie so aanvaarbaar nie. Dit hang ook af van die gemeenskap waarin jy lewe. In Nieu-Seeland trou bitter min mense en ‘partners’ verander omtrent met elke bottel wyn. Kinders is gewoond daaraan om met verskillende ouers saam te leef en pas makliker aan by die nuwe gesin.”
Tog bly dit veral vir die kinders moeilik, ongeag wat die gemeenskap sê. Ouers gaan aan met hul lewe, veral as beide dink dis vir die beste, maar die kinders voel meestal verwerp, al vertel jy hoeveel keer vir hulle dis nie hulle skuld nie. In Anna se geval het haar eksman vir 18 maande geen kontak met die kinders gemaak nie.
“Dit is nadat hy in die hof probeer bewys het ek is nie ʼn goeie ma nie. My seuns was 12 en 15 en dit was baie moeilik vir hulle. Ten spyte van al my pogings het ek geen reaksie van hulle pa gekry nie. My dogter was twee jaar oud.”
Toe haar man uiteindelik besluit om weer die kinders te sien, wou hulle niks met hom te doen hê nie. Haar dogter het hom nie eers meer geken nie. “Ek en die kinders het ʼn lang en swaar pad gestap voor alles weer na normaal teruggekeer het.”
Haar oudste seun, wat altyd baie sterk akademies was, is met dwelms gevang en toegesluit. “Dit het my baie oortydwerk en goeie advokate gekos om hom sonder ʼn kriminele rekord los te kry.” Die jongste seun het by die skool begin baklei en sy moes gedurig ingryp.
Daar was geen finansiële hulp van die pa nie en sy wou hom ook nie vra nie, omdat sy geweet het hy sal haar die skuld daarvoor gee. “Dit het twee jaar en nagte se wakkerlê saam met die kinders gekos voordat alles ‘gesettle’ het en ons weer terug was op die regte pad.”
Hoewel sy harde bene as enkelouer moes kou, voel sy die kinders kry nog swaarder as een van die ouers weer trou. “My kinders het gevoel dat die nuwe vroue in hulle pa se lewe hulle plek ingeneem het by hulle pa. Dis hoekom ek nooit eers daaraan gedink het om weer te trou nie.”
Sy glo dit maak dit moeiliker as albei ouers weer trou, want dan is dit weer ʼn geval van “my kinders, jou kinders en ons kinders” en daar is altyd een kind wat baie swaar kry.
Al drie Anna se kinders is vandag goedaangepaste volwassenes en vaar goed in hulle onderskeie beroepe. Die verhouding met hulle pa was nog nooit 100 persent nie, maar het ook verbeter.
“Ek is gelukkig, want ek weet van baie kinders wat nooit weer aangepas het in die lewe nie,” se Anna.



Kommentaar
Dankie, Jean.