Aantekeninge oor regsaspekte van ouervervreemdingsindroom in Suid-Afrika

  • 2

Aantekeninge oor regsaspekte van ouervervreemdingsindroom in Suid-Afrika

Chrizell Chürr, Departement Handelsreg, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 12(1)
ISSN 1995-5928

 

Abstract

Notes on the legal aspects of parental alienation syndrome

Parental alienation syndrome is a relatively unknown phenomenon that has not really been considered in South African case law pertaining to children and divorce. In layman’s terms parental alienation syndrome can be described as a mental disorder or condition where children are turned against one parent (the alienated parent) by the other parent (the alienating parent). This occurs primarily as a result of bitter divorce proceedings or in any lawsuit or dispute over parental responsibilities and rights. The purpose of this note is to explain what parental alienation syndrome entails, to discuss the recognition of this syndrome as a mental disorder or condition, and especially to indicate where and when the syndrome can occur in legal matters. The note also aims at creating an awareness of parental alienation syndrome, particularly among family advocates, social workers, lawyers and mediators. The best interests of the child as well the child’s voice in divorce proceedings are discussed. The importance of divorce mediation is emphasised and an approach conducive to the conciliation and problem-solving in all matters concerning children, especially in divorce proceedings, are highlighted.

Keywords: alienated parent; alienating parent; best interests of the child; divorce; divorce mediation; parental alienation syndrome; parental responsibilities and rights; parenting plan

Trefwoorde: beste belang van die kind; egskeiding; egskeidingsbemiddeling; ouerlike verantwoordelikhede en regte; ouerskapsplan; ouervervreemdingsindroom; vervreemde ouer; vervremende ouer


1. Inleiding

Ouervervreemdingsindroom is ’n betreklik onbekende verskynsel wat nog nie werklik in Suid-Afrikaanse regspraak oor kinders en egskeidings oorweeg is nie. In leketaal kan ouervervreemdingsindroom kortliks beskryf word as ’n geestestoornis of -toestand van ’n kind wat hom of haar tydens of ná ’n egskeidingsgeding ten sterkste met een ouer laat assosieer en laat weier om ’n verhouding met die ander ouer te hê. Dit vind veral plaas waar ouers in bestrede egskeidingsgedinge wat met erge konflik gepaard gaan, betrokke is of was.

Die doel van hierdie aantekening is om ouervervreemdingsindroom kortliks onder die loep te neem ten einde regsaspekte te bespreek wat daarmee verband hou. Hoewel ouervervreemdingsindroom kan voorkom waar ’n bestrede egskeiding met ’n hoë mate van konflik gepaardgaan, kan dit ook ter sprake kom in enige geding of twis oor ouerlike verantwoordelikhede en regte.

Verder is die doel van die aantekening om te verduidelik wat ouervervreemdingsindroom behels, om die erkenning daarvan as ’n geestestoornis of -toestand te bespreek, en veral om aan te toon waar en wanneer dié sindroom in regsaangeleenthede ter sprake kan kom. In die lig van die feit dat ouervervreemdingsindroom betreklik onbekend is, het hierdie aantekening ook bewusmaking ten doel, veral onder gesinsadvokate, maatskaplike werkers, regslui en bemiddelaars.


2. Wat is ouervervreemdingsindroom?

Ouervervreemding is in die sewentigerjare deur Richard Gardner geïdentifiseer en word deur hom omskryf as

a disorder that arises primarily in the context of child-custody disputes. Although the dispute is most often between the parents, it can arise in other types of conflicts over child custody, eg, parent vs stepparent, parent vs grandparent, parent vs relative, etc. Its primary manifestation is the child’s campaign of denigration against a parent, a campaign that has no justification against a good loving parent. It results from the combination of a programming parent’s indoctrinations and the child’s own contributions to the vilification of the target parent. When true alienatio, abuse and/or neglect is present, the child’s animosity may be justified, and so the parental alienation syndrome explanation for the child’s hostility is not applicable. Inducing a parental alienation syndrome into a child is a form of emotional abuse because it can result in the attenuation and even destruction of the child’s bond with a good loving parent.1

Ouervervreemding is dus ’n stel strategieë wat die een ouer (die vervremende ouer) gebruik om die verhouding van ’n kind met die ander ouer (die teikenouer of vervreemde ouer) te belemmer en te ondermyn. Hierdie strategieë het ten doel om ’n sielkundige afstand in só ’n mate tussen die teikenouer en die kind te bewerkstellig dat die ouer-kind-verhouding met konflik belaai word en uiteindelik tot gevolg het dat daar geen ouer-kind-verhouding tussen die teikenouer en kind meer bestaan nie.2

In die algemeen word aanvaar dat ouervervreemdingsindroom teenwoordig is indien die volgende gedrag by ’n kind voorkom:3

(a) Die kind, gewoonlik een wie se ouers in ’n egskeidingsgeding betrokke is wat met ’n hoë mate van konflik gepaard gaan, vereenselwig hom of haar in ’n baie hoë mate met een ouer en weier, sonder ’n geldige rede, om ’n verhouding met die ander ouer (die vervreemde ouer) te hê. Die kind weier kontak met dié ouer.

(b) Die volgende gedrag manifesteer by die kind: (i) aanhoudende verwerping of swartsmeerdery van 'n ouer in só mate dat dit die vlak van 'n veldtog bereik; en (ii) swak, ligsinnige en absurde regverdiging vir die kind se aanhoudende kritiek teenoor die vervreemde ouer word geopper.

(c) Twee of meer van die volgende manifesteer by die kind: (i) ’n gebrek aan ambivalensie ten opsigte van die vervreemde ouer; (ii) onafhanklike-denker-verskynsel, waar die kind uitdruklik aandui dat dit sy of haar keuse is om die vervreemde ouer te verwerp; (iii) refleksiewe steun van die een ouer teenoor die ander sonder die bereidwilligheid om onpartydig te wees; (iv) afwesigheid van enige skuldgevoelens oor gedrag teenoor die vervreemde ouer; (v) die teenwoordigheid van “geleende scenario‘s” wat daarop dui dat die kind idees en frases van die vervremende ouer eggo; en (vi) verspreiding van vyandigheid na die uitgebreide familie van die vervreemde ouer.

(d) Die gedrag of stoornis duur minstens twee maande.

(e) Die stoornis veroorsaak ’n klinies beduidende impak op sosiale, akademiese, beroeps- of ander belangrike areas van funksionering.

(f) Die kind se weiering om met die vervreemde ouer kontak te hê, is sonder enige geldige rede. Met ander woorde, ouervervreemdingsindroom kan nie gediagnoseer word indien daar wel ’n geldige rede vir die kind se gedrag is nie.

Ouervervreemdingsindroom, of die bestaan daarvan, is egter ’n omstrede kwessie in die Suid-Afrikaanse reg, aangesien dit soms geopper maar ook teengestaan word in sake waar bewerings van huishoudelike geweld, dwelm- en drankmisbruik deur ouers en seksuele misbruik van kinders gemaak word. Ouervervreemdingsindroom kom ook meer algemeen ter sprake (en word natuurlik teengestaan) in bestrede egskeidingsgedinge (of enige daaropvolgende regsgedinge of twis rakende kontak en sorg, asook ouerlike verantwoordelikhede en regte) waar kinders ’n ouer verwerp as gevolg van huweliks- of verhoudingsprobleme en/of ’n egskeiding.4 Ten spyte van bogenoemde is Suid-Afrikaanse howe egter huiwerig om bevindings oor ouervervreemding te maak, dikwels omdat die howe en ander regsamptenare nie noodwendig met ouervervreemdingsindroom of die betrokke regsbeginsels vertroud is nie.5 Bykomend bestaan daar in sommige kringe ernstige bedenkinge oor die erkenning van ouervervreemdingsindroom as ’n geestestoornis of -toestand. Gevolglik neem ek dit volgende onder die loep.


3. Word ouervervreemdingsindroom as ’n geestestoornis of -toestand erken?

Daar bestaan al baie jare tweespalt oor of ouervervreemdingsindroom as geestestoornis of -toestand erken behoort te word al dan nie. In die algemeen word die Diagnostic and statistical manual of mental disorders (DSM) as die gesaghebbendste bron oor geestestoornisse of -toestande gesien. Die huidige weergawe van die DSM is op 18 Mei 2013 deur die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging gepubliseer en staan as die DSM-V bekend.6 Dit bied ’n “gemeenskaplike taal” en standaardkriteria vir die klassifikasie van geestestoornisse. Die DSM-V word in die VSA, asook in verskeie ander lande, insluitend Suid-Afrika, gebruik. Dokters, navorsers, farmaseutiese maatskappye, die regstelsel en verskeie ander liggame (en beroepe) maak van die DSM-V gebruik ten einde vas te stel of ’n sekere siekte, gedrag of afwyking as ’n geestestoornis of -toestand geklassifiseer kan word.7

Teenstanders van die ouervervreemdingsindroom is gekant teen die terme/begrippe ouervervreemding en ouervervreemdingsindroom, asook teen die insluiting daarvan as ’n geestestoornis of -toestand in die DSM.8 Daarteenoor het voorstanders versoek dat ouervervreemdingsindroom wel in die DSM-V ingesluit moet word. Hulle voer aan dat ouervervreemding op ’n sekere tipe mishandeling dui waar die een ouer (die vervremende ouer) wraak teen die ander ouer (die teikenouer) neem deur ’n kind of kinders van die teikenouer weg te hou en te vervreem.9

Nadat verskeie regs- en mediese kenners voorleggings oor die insluiting van ouervervreemdingsindroom in die DSM-V gemaak het, is daar besluit om dit nie in te sluit nie, sodat verdere navorsing gedoen kan word.10 Die definisie van sielkundige kindermishandeling (child psychological abuse) is egter in 2013 in die DSM-V verbreed en hierdie definisie oorvleuel met die definisie van ouervervreemdingsindroom. Sielkundige kindermishandeling word omskryf as die nietoevallige verbale of simboliese handelinge deur ’n ouer of versorger wat tot gevolg het dat dit beduidende sielkundige skade by die kind aanrig, of die redelike potensiaal het om sodanige skade aan te rig.11 Die DSM verwys spesifiek na die volgende voorbeelde: “[P]sychological abuse of a child includes berating, disparaging, or humiliating the child; threatening the child; harming/abandoning … or indicating that the alleged offender will harm/abandon … people or things that the child cares about.”12

Die DSM-V maak ook voorsiening vir “ouer-kind-verhoudingsprobleme” (parent-child relational problems) waar die kind se persepsie(s) van die vervremende ouer negatiewe gevolge vir die teikenouer kan inhou. Die kind kan vyandigheid of “sondebokskepping” teenoor die teikenouer ontwikkel, asook ongegronde gevoelens van vervreemding as gevolg van die nietoevallige verbale of simboliese handelinge deur ’n vervremende ouer of versorger.13

Alhoewel die spesifieke bewoording parental alienation syndrome nie in die DSM-V ingesluit is nie, kan daar geargumenteer word dat die uitbreiding van die konsep sielkundige kindermishandeling ’n beperkte definisie en insluiting van ouervervreemdingsindroom in die DSM-V teweeggebring het. Die bestaan en gevolge van ouervervreemdingsindroom kan dus nie blatant deur die Suid-Afrikaanse regstelsel en howe geïgnoreer word nie. Verskeie elemente wat in die definisies van ouervervreemdingsindroom, sielkundige kindermishandeling en ouer-kind-verhoudingsprobleme voorkom, is aspekte wat ingevolge die Kinderwet 38 van 2005 in ag geneem moet word wanneer die beste-belang-van-die-kind-standaard ter sprake kom. Geriefshalwe word daar voorts bloot na “ouervervreemding” in hierdie aantekening verwys. Aspekte van die reg wat moontlik ’n impak op ouervervreemding en die hantering daarvan het, word hier onder uitgelig.


4. Relevante aspekte van die reg: ouervervreemding

4.1 Die beste belang van die kind

Artikel 28(2) van die Grondwet bepaal dat die beste belang van die kind deurslaggewend is in elke aangeleentheid wat die kind raak. Die Kinderwet 38 van 2005 gee uitvoering aan hierdie bepaling van die Grondwet. Artikel 7 van die Kinderwet handel oor die beste-belang-van-die-kind-standaard en lys faktore wat in ag geneem moet word wanneer besluite ten opsigte van die beste belange van die kind ter sake is. Verskeie van hierdie faktore is of kan relevant wees waar ouervervreemding ter sprake kom. Hierdie faktore sluit die volgende in: (i) die aard van die persoonlike verhouding tussen die kind en die ouers of enige spesifieke ouer; (ii) die houding van die ouer(s) jeens die kind, en die uitoefening van ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van die kind; (iii) die waarskynlike effek van enige verandering in die kind se omstandighede op die kind, insluitend die waarskynlike effek op die kind van enige skeiding van beide of enige van die ouers of enige ander kind; (iv) praktiese moeisaamheid en koste verbonde daaraan vir ’n kind om kontak te hê met die ouers of enige spesifieke ouer, en of daardie moeisaamheid of koste die kind se reg om persoonlike verhoudings en direkte kontak met die ouers of enige spesifieke ouer op ’n gereelde basis vol te hou, wesenlik sal beïnvloed; (v) die behoefte van die kind om in die sorg van sy of haar ouer, familie of uitgebreide familie te bly; (vi) die kind se fisieke en emosionele sekerheid en sy of haar intellektuele, emosionele, sosiale en kulturele ontwikkeling; (vii) die behoefte van ’n kind om in ’n stabiele gesinsomgewing groot te word; (viii) die behoefte om die kind te beskerm teen enige sielkundige leed wat veroorsaak kan word deur die onderwerping van die kind aan mishandeling, misbruik, verwaarlosing, uitbuiting of vernedering, of die blootstelling van die kind daaraan of enige skadelike optrede; (ix) die blootstelling van die kind aan mishandeling, misbruik, vernedering, slegte behandeling, geweld of skadelike optrede teenoor ’n ander persoon; en (x) welke aksies of beslissings wat verdere regs- of administratiewe verrigtinge met betrekking tot die kind sal voorkom of verminder. Verder bepaal artikel 9 van die Kinderwet dat die standaard dat die kind se beste belange van oorheersende belang is, in alle aangeleenthede betreffende die versorging, beskerming en welsyn van ’n kind toegepas moet word.14

Dit is dus duidelik dat die uitgangspunt is dat in alle aangeleenthede, selfs egskeidingsaangeleenthede en enige ander aangeleenthede waarin ouervervreemdingsindroom ’n rol kan speel, die beste belange van die kind voorop gestel moet word. Artikel 7(1)(l)(i)–(ii) is van besondere belang waar ouervervreemding te pas kom, omdat ouervervreemding binne die reikwydte daarvan kan val wanneer die beste-belang-van-die-kind-standaard ter sprake is. Hierdie twee subartikels omvat die behoefte om die kind te beskerm teen enige sielkundige leed wat veroorsaak kan word deur (i) die onderwerping van die kind aan mishandeling, misbruik, verwaarlosing, uitbuiting of vernedering of die blootstelling van die kind daaraan of enige ander skadelike optrede; of (ii) die blootstelling van die kind aan mishandeling, misbruik, vernedering, slegte behandeling, geweld of skadelike optrede teenoor ’n ander persoon.

Vervolgens word daar noukeurig na egskeidingsaangeleenthede gekyk.

4.2 Egskeidingsaangeleenthede

Egskeidingsaangeleenthede in Suid-Afrika word deur die Wet op Egskeiding 70 van 1979 gereguleer. Hierdie wet stel, soos die Grondwet vereis, ook die beste belang van die kind voorop. Artikel 6 van die Wet op Egskeiding handel oor kinders van ouers wat skei. Hierdie artikel bepaal dat ’n egskeidingsbevel nie deur ’n hof toegestaan mag word nie, tensy die hof oortuig is dat die voorsiening wat vir die welsyn van ’n kind gemaak is of beoog word, bevredigend is of die beste is wat in die omstandighede bewerkstellig kan word.15 Artikel 6(1)(b) bepaal verder dat indien ’n gesinsadvokaat ’n ondersoek instel, die verslag en aanbevelings van die gesinsadvokaat oorweeg moet word voordat ’n egskeidingbevel toegestaan word. Artikel 6(3) bepaal dat wanneer die hof die verslag en aanbevelings van die gesinsadvokaat oorweeg het, en tevrede is dat die voorsiening wat vir die welsyn van ’n kind gemaak is of beoog word, bevredigend is of die beste is wat in die omstandighede bewerkstellig kan word, kan die hof enige gepaste bevel ten aansien van voogdyskap, sorg, kontak en onderhoud maak.

Ingevolge artikel 4 van die Wet op Bemiddeling in Sekere Egskeidingsaangeleenthede 24 van 1987 moet die gesinsadvokaat ná die instel van ’n egskeidingsgeding, of ná die indiening van ’n aansoek om wysiging, intrekking of opskorting van ’n bevel oor voogdyskap, sorg, kontak en onderhoud, ’n ondersoek instel indien hy of sy deur enige party of die hof versoek word om dit te doen. Die gesinsadvokaat kan ook self, indien hy of sy dit nodig ag, versoek dat hy of sy aangestel word om so ’n ondersoek in te stel. Die doel van die ondersoek is om die hof by die verhoor van so ’n geding of aansoek van ’n verslag en aanbevelings te voorsien rakende die welsyn van die kind of oor enige ander aangeleentheid wat deur die hof na die gesinsadvokaat verwys word. Gesinsadvokate behoort dus kennis van alle aspekte van ouervervreemding en die impak daarvan op die kind en die stem van die kind te neem.16 Statistiek toon dat in meer as 30% van egskeidingsgevalle in Suid-Afrika die residensiële ouer die kind as instrument gebruik om beheer oor die ander ouer uit te oefen.17 Gesinsadvokate behoort dus opgelei te word om ouervervreemding of potensiële ouervervreemding behoorlik te kan hanteer of om in egskeidingsgedinge waaksaam daarteen te wees.18

Artikel 28(1)(b) van die Grondwet bepaal dat elke kind die reg op gesinsorg, ouerlike sorg of gepaste alternatiewe sorg het. Hierdie artikel van die Grondwet tref nie ’n onderskeid tussen ouers nie, omdat daar nie spesifiek na sorg deur die moeder of vader verwys word nie. In Suid-Afrika is daar dus ’n toenemende tendens om gesamentlike sorg toe te ken waar dit in die beste belang van die kind is.19 Sorg word in artikel 1(1) van die Kinderwet omskryf en die hof mag enige bevel daaroor in die beste belang van die kind maak.

Soos hier bo aangedui, kan die hof enige gepaste bevel ten opsigte van voogdyskap, sorg, kontak en onderhoud (ouerlike regte en verpligtinge) maak. Artikel 19 van die Kinderwet bepaal egter dat die biologiese moeder, hetsy getroud of ongetroud, volle ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van die kind het. Artikel 20 handel oor die biologiese vader van die kind wat met die moeder getroud is of was. Hierdie artikel bepaal dat die sodanige vader volle ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van die kind het. Artikel 21 weer handel oor die biologiese vader van die kind wat nie met die moeder getroud is of was nie. Hierdie artikel bepaal dat sodanige vader van ’n kind ook volle ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van die kind het (ongeag of hy saam met die moeder woon of gewoon het) indien hy daartoe toestem om geïdentifiseer te word of suksesvol aansoek doen om geïdentifiseer te word as die vader van die kind, of skade betaal ingevolge die inheemse reg; indien hy vir ’n redelike tydperk bydra of in goeie trou gepoog het om by te dra tot die grootmaak van die kind; of indien hy vir ’n redelike tydperk bydra of in goeie trou gepoog het om by te dra tot die uitgawes met betrekking tot die onderhoud van die kind. Artikels 19 en 20 van die Kinderwet ken dus gelyke ouerlike verantwoordelikhede en regte aan albei ouers van ’n kind toe. Artikel 21 van die Kinderwet ken volle ouerlike verantwoordelikhede en regte aan die biologiese vader van ’n kind toe, onderworpe aan bogenoemde bepalings.20 Ouervervreemding kan dus een van die ouers, die teikenouer, verhoed om sy of haar ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van ’n kind uit te oefen. Nietemin kan ouerlike verantwoordelikhede en regte op verskeie wyses afgedwing word.

Voordat sodanige afdwinging verder bespreek word, is dit belangrik om kennis van sogenaamde “ouerskapsplanne” te neem.21 Artikel 33(2) van die Kinderwet bepaal dat indien die medebesitters van ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van ’n kind moeilikheid ondervind in die uitoefening van hul verantwoordelikhede en regte, hulle eers moet probeer om ooreen te kom op ’n ouerskapsplan wat die uitoefening van hul onderskeie verantwoordelikhede en regte ten opsigte van die kind bepaal voordat die tussenkoms van ’n hof opgesoek word. Dit sou beteken dat ’n ouerskapsplan noodwendig in gevalle waar ouervervreemding te sprake is, opgestel moet word en dat die betrokke partye dus op die bestaan of moontlike bestaan daarvan ag moet slaan.

Ingevolge artikel 33(7) moet ’n ouerskapsplan ook aan die beste-belang-van-die-kind-standaard voldoen. By die opstel van ’n ouerskapsplan moet die partye die bystand van ’n gesinsadvokaat, maatskaplike werkers of sielkundiges, of bemiddeling deur ’n maatskaplike werker of ’n ander gepaste gekwalifiseerde persoon aanvra.22 ’n Ouerskapsplan moet ’n hofbevel gemaak word of by ’n gesinsadvokaat geregistreer word.23 ’n Geregistreerde ouerskapsplan mag op versoek deur die medehouers van ouerlike verantwoordelikhede en regte gewysig of beëindig word.24 Waar dit ’n hofbevel gemaak is, kan dit slegs deur ’n hofbevel gewysig beëindig word op aansoek van die medehouers van ouerlike regte en verpligtinge, die kind wat met verlof van die hof handel, of deur enige persoon wat in belang van die kind met verlof van die hof handel.25 Indien ’n gesinsadvokaat of ander deskundiges in gedingvoering gebruik word, moet hulle in die posisie wees om (i) ouervervreemding te omskryf; (ii) aan te toon watter psigologiese en/of psigiatriese verduidelikings vir die verskynsel binne ’n geregtelike konteks gebruik kan word; en (iii) te verduidelik watter impak dit op die gedrag van die kind het.26

Wat gebeur indien ’n party verhoed word om sy ouerlike verantwoordelikhede en regte uit te oefen?

Ouerlike verantwoordelikhede en regte kan op verskeie wyses afgedwing word. Eerstens kan die benadelende gedrag deur ’n interdik voorkom of stopgesit word, of die oorspronklike toestand kan daardeur herstel word. Tweedens kan die benadeelde ’n hof versoek om die ouer wat nie ’n bestaande hofbevel nakom nie, te verplig om dit wel na te kom. Derdens kan ’n ouer wat kontak wil afdwing, redelike dwang gebruik om toesig af te dwing. Hy of sy mag selfs van die ouer in wie se sorg die kind is, verwag om die kind te oorreed om kontak toe te staan. Dit is volgens Heaton27 egter nie duidelik of hierdie benadering steeds aanvaarbaar is nie. Vierdens bepaal artikel 35 van die Kinderwet dat dit ’n misdryf is om iemand wat kontakregte of ouerlike verantwoordelikhede en regte het, te verhinder om dit uit te oefen. So ’n misdryf is strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf van tot een jaar (gevangenisstraf kan ook periodieke gevangenisstraf insluit). Vyfdens, indien ’n party hom of haar aan minagting van die hof skuldig maak (met betrekking tot ouerlike verantwoordelikhede en regte), kan so ’n bevel (’n boete, gevangenisstraf of periodieke gevangenisstraf) ook gemaak word.28

Hierdie strawwe is egter, veral met inagneming van die beste belang van ’n kind, ongelukkig nie altyd gepas waar ouervervreemding ter sprake is nie. Wanneer ’n boete aan die vervremende ouer opgelê word, plaas dit waarskynlik ’n finansiële las op daardie ouer wat tot nadeel van die kind kan wees. Die beste belang van die kind behoort ook by die oplegging van ’n boete die swaarste te weeg. Gevangenisstraf is om dieselfde rede ook nie noodwendig gepas nie. Eerstens kan dit die ouer se vermoë om ’n inkomste te verdien en sodoende vir sy of haar kind te sorg, belemmer. Dit kan ook daartoe aanleiding gee dat die kind verder van die vervremende ouer vervreem word. Indien die howe by die toepassing van artikel 35 oor die oplê van gevangenisstraf moet besluit, moet die beste belang van die kind die swaarste gewig dra. In uiterste gevalle behoort die howe, wanneer daar wel besluit word om gevangenisstraf op te lê, eerder periodieke gevangenisstraf (in leketaal ook as “naweekgevangenisstraf” bekend) te oorweeg (in so geval het die ouer dan waarskynlik steeds die vermoë om ’n inkomste te verdien en kan hy of sy sy of haar verpligtinge nakom en kontak met die kind behou, sou dit in die belang van die kind wees).

4.3 Die kind se stem

Artikels 10 en 31 van die Kinderwet handel oor die stem van die kind in aangeleenthede betreffende die kind. Artikel 10 handel oor ’n kind wat sodanige ouderdom, volwassenheid en fase van ontwikkeling bereik het dat hy of sy in staat is om deel te neem aan enige aangeleentheid betreffende hom- of haarself. Ingevolge hierdie artikel het sodanige kind die reg om op enige gepaste wyse deel te neem en behoorlike oorweging moet aan sienswyses gegee word wat deur hom of haar uitgespreek word. Artikel 31 bepaal dat voordat enige persoon wat ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van ’n kind besit, enige besluit neem wat ’n kind raak, daardie persoon behoorlike oorweging moet skenk aan enige sienings en wense wat die kind opper, met inagneming van die kind se ouderdom, volwassenheid en fase van ontwikkeling.

Hieruit blyk duidelik dat die kind se stem ’n rol in besluite oor ouerlike verantwoordelikhede en regte kan speel.29 Ouervervreemding kan ongelukkig ’n invloed op die stem van die kind hê in die sin dat die vervremende ouer die wense en sienings van die kind kan beïnvloed. Gesinsadvokate, ander relevante kundiges en die howe moet dus weer eens waaksaamheid aan die dag lê wanneer daar bepaal word of die kind se uitgedrukte wense en sienings syne of hare of dié van die vervremende ouer is.

4.4 Die rol van bemiddeling in egskeidingsaangeleenthede

Bemiddeling het toenemend belangrik in familiereg geword – in so ’n mate dat dit ingevolge die Kinderwet in sekere gevalle verpligtend is. ’n Kind het die reg om gehoor te word in aangeleenthede wat hom of haar raak.30 Daar word gedurende die bemiddelingsproses in egskeidingsaangeleenthede waarby kinders betrokke is, ingevolge die Kinderwet aan hierdie reg uitvoering gegee.31

Egskeidingsbemiddeling is ’n proses waar geskille tussen die twee partye (geskeide gades) op ’n effektiewe wyse besleg word. ’n Derde party (die bemiddelaar) help die partye om tot ’n skikking oor hul egskeiding te kom. Daar is ’n magdom voordele wat bemiddeling inhou en dit word as kardinaal belangrik beskou wanneer veral kinders by egskeidingsaangeleenthede betrokke is. Egskeidingsbemiddeling stel ouers in staat om goeie, deurdagte besluite oor hul kinders se welsyn te maak. Bemiddelaars word ook verplig om toe te sien dat die partye tot ’n egskeiding die beste belange van hulle kinders in alle onderhandelinge tussen hulle eerste plaas.

Egskeidingsbemiddelingsooreenkomste bevat gewoonlik ook meer omvattende definisies en duidelikhede oor voogdyskap, sorg, kontak en onderhoud van die kind(ers). Dus word toekomstige geskille tussen die geskeide partye (ouers) tot die minimum beperk. Egskeidingsbemiddeling benadruk dat in teenstelling met die huwelik, ouerskap nie by egskeiding beëindig word nie, maar dat beide ouers steeds hulle rolle, verantwoordelikhede en regte in ’n herstruktureerde familie behou. In bemiddelde egskeidingsaangeleenthede is daar dus ’n groter kans dat beide ouers by die opvoeding en grootmaak van hul kind(ers) betrokke bly. Egskeidingsbemiddeling het ook ten doel dat geskeide gades beter met mekaar oor die weg kom; sodoende verhoog dit ook die waarskynlikheid dat kinders na afloop van die egskeiding ’n betekenisvolle verhouding met beide ouers sal handhaaf. Die kans dat onskuldige kinders die slagoffers van hul ouers se egskeiding word, word dus verminder en beperk.32

Meer nog, die beste belange van die kind(ers) word gedurende egskeidingsbemiddeling voorop gestel en uitstekend beskerm. Artikel 28(2) van die Grondwet en artikel 9 van die Kinderwet bepaal dat ’n kind se belang van deurslaggewende belang is in elke aangeleentheid wat die kind raak. Artikel 6 van die Wet op Egskeiding en artikel 4 van die Wet op Bemiddeling in Sekere Egskeidingsaangeleenthede bevat spesifieke voorskrifte wat die beste belange van kinders as die belangrikste faktor in egskeidingsaangeleenthede beskou. Daar kan dus onomwonde gesê word dat egskeidingsbemiddeling van kardinale belang is en ’n sleutelrol tydens egskeidingsaangeleenthede en familiegeskille speel.33 Bemiddelaars word sodoende ook in staat gestel om gevalle van ouervervreemding te identifiseer en aandag daaraan te skenk.

4.5 Ouervervreemding en die Suid-Afrikaanse howe

’n Belangrike vraag is waarom daar weinig regspraak oor ouervervreemding in Suid-Afrika bestaan. Verskeie redes en waarskynlikhede kan aangevoer word. Daar bestaan ongelukkig geen amptelike verslae of statistiek wat aantoon of howe werklik primêr op die beste belang van die kind fokus, en of die fokus van die howe soms bloot op die regte van die ouers val nie.34 Hoe ook al, daar is verskeie faktore wat tot ouervervreemding kan bydra, waarvan baie ongelukkig voor die deur van die Suid-Afrikaanse regsisteem gelê kan word.35 Eerstens beskik hofamptenare en ander rolspelers wat by egskeidingsverrigtinge (of enige gedinge rakende kontak en sorg, asook ouerlike verantwoordelikhede en regte) betrokke is, nie noodwendig oor die nodige kundigheid ten einde ’n bevinding oor ouervervreemding te kan maak nie.36 Tweedens is tyd van kardinale belang wanneer dit kom by die hantering van probleme wat tot ouervervreemding kan lei, en ongelukkig neem hofgedinge om verskeie redes dikwels te lank om afgehandel te word.37 Derdens is die Suid-Afrikaanse adversatiewe stelsel een van die grootste sondebokke wanneer dit by die vervreemding van ’n kind van een van sy of haar ouers kom. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat so ’n stelsel opposisie skep waar daar aanvanklik geen intrinsieke opposisie was nie. Meer nog, die adversatiewe stelsel kan deur een of albei ouers gemanipuleer word, wat daartoe kan bydra dat daar nie altyd in sodanige gevalle gepaste oplossings gevind kan word nie. Die adversatiewe stelsel maak dit feitlik onmoontlik vir prokureurs en ander rolspelers om ’n meer konstruktiewe rol in egskeidingsverrigtinge (of enige gedinge rakende kontak en sorg, asook ouerlike verantwoordelikhede en regte) te speel.38 Tog bepaal artikel 6(4)(a) van die Kinderwet dat in enige aangeleentheid wat die kind raak, daar ’n benadering gevolg behoort te word wat bevorderlik is vir versoening en probleemoplossing en ’n konfronterende benadering vermy behoort te word.39 Vierdens kan aangevoer word dat gesinsadvokate dikwels in ’n te laat stadium by geskille betrokke raak, naamlik gewoonlik eers nadat egskeidingsgedinge reeds begin het. Die ideaal sou dus wees vir gesinsadvokate om in ’n vroeë stadium van konflik reeds betrokke te wees.40 Vyfdens word die verkryging van beskermingsbevele ingevolge die Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998 dikwels, onder aansporing van onetiese prokureurs, deur die ouer in wie se sorg die kind is, misbruik om die ander ouer te verhoed om kontak met die kind te hê.41

In Soller NO v G42word ouervervreemding kortliks bespreek. In hierdie saak is die sorg van K, ’n minderjarige kind van 15 jaar, uitsluitlik aan die ma toegeken. Ten spyte hiervan het K steeds verkies om by sy pa te woon en ten einde dit te kon doen, het hy van sy ma se huis na sy pa “weggeloop”. As gevolg van ’n verbete regstryd tussen die ouers oor K en oor geld het die verhouding tussen K se ouers bitter en vyandig geraak. K en sy pa het egter steeds ’n goeie verhouding gehad en hulle het glo gereeld met mekaar gekommunikeer. Verskeie sielkundiges wat K ondervra het, het tot die gevolgtrekking gekom dat K aan ouervervreemdingsindroom ly, aangesien dit duidelik geblyk het dat sy pa hom aangemoedig het om “moeilik en ontwrigtend” te wees. Sy pa het ook van hom verwag om tussen familielede te kies. Sowel die gesinsadvokaat as die regsverteenwoordiger namens K was van mening dat K, ten spyte van die feit dat ouervervreemding ter sake was, steeds ’n uitdruklike voorkeur gehad het om by sy pa te bly en dat hierdie wens nie as gevolg van dwang of onbehoorlike beïnvloeding ontstaan het nie. Ten spyte daarvan dat K aan ouervervreemdingsindroom ly, het die hof groter klem op die “stem van die kind” gelê. Soos hier bo aangedui, vereis artikels 6, 10 en 31 van die Kinderwet, asook artikel 12 van die United Nations Convention on the Rights of the Child, dat die kind se stem gehoor moet word en dat die kind se deelname aan besluitnemingsprosesse in aangeleenthede wat hom of haar fundamenteel raak, in ag geneem en beklemtoon moet word. Kortom gestel, hoe ouer die kind is, hoe belangriker is dit om na die stem van die kind te luister en toe te laat dat die kind direkte seggenskap het in aangeleenthede wat hom of haar direk en fundamenteel raak.43

Nog ’n saak wat oor ouervervreemding gehandel het, is die Zimbabwiese saak G v G.44 Hier was daar ’n geskil oor die kontak en sorg van die minderjarige kinders. Die verweerder (die kinders se ma) het Zimbabwe met die kinders verlaat en hulle in Kalifornië in die VSA gevestig. ’n Kliniese sielkundige het namens die eiser (die kinders se pa) getuig dat die kinders aan ouervervreemdingsindroom ly omdat die verweerder die kinders negatief teenoor hulle pa beïnvloed het en die verweerder die kinders doelbewus van die eiser wou vervreem. Die hof het gevolglik beslis dat die verweerder en kinders voor ’n sekere datum na Zimbabwe moet terugkeer. Die hof het ook beslis dat indien die verweerder versuim om dit te doen, kontak met en sorg van die minderjarige kinders aan die eiser toegeken sou word. Die hof het verder gelas dat die verweerder voortgesette sorg behou onderhewig aan die aanstelling van dr. B as kurator ad litem. Dr. B is verplig om die nodige onderhoude met die minderjarige kinders te voer, verslae op te stel en voorstelle te maak. Nadat die verslae en voorstelle van dr B bekom is, sou reëlings vir die verhoor van die saak getref word.

Afgesien van die Soller-saak is daar nog nie ander bewyse dat die Suid-Afrikaanse howe van die bestaan van ouervervreemding kennis geneem het nie.

5. Gevolgtrekking

Ouervervreemding kan beskryf word as ’n stel strategieë wat een ouer, die vervremende ouer, aanwend om die verhouding van ’n kind met die ander ouer, die teikenouer of vervreemde ouer, te belemmer en te ondermyn. Hierdie gedrag is daarop gemik om ’n sielkundige afstand in só ’n mate tussen die teikenouer en die kind te bewerkstellig dat die ouer-kind-verhouding met konflik belaai word en uiteindelik tot gevolg het dat daar geen ouer-kind-verhouding tussen die teikenouer en kind bestaan nie.

Ouervervreemdingsindroom word nie as ’n afsonderlike geestestoornis in die DSM erken nie, maar in 2013 is die definisie van child psychological abuse (sielkundige kindermishandeling)in die DSM-V sodanig verbreed dat dit met die definisie van ouervervreemdingsindroom oorvleuel. Die DSM-V maak ook voorsiening vir parent-child relational problems (ouer-kind-verhoudingsprobleme), waar die kind se persepsie(s) van die vervremende ouer negatiewe gevolge vir die teikenouer kan inhou. Die DSM-V maak dus indirek vir die diagnosering van ouervervreemdingsindroom voorsiening.

Verskeie aspekte van die reg wat by die hantering van ouervervreemding ter sprake kom, is in hierdie aantekening uitgewys. Eerstens is die uitgangspunt dat in alle aangeleenthede, selfs egskeidingsaangeleenthede en enige ander aangeleentheid waarin ouervervreemdingsindroom ’n rol kan speel, die beste belange van die kind voorop gestel moet word. Artikel 7 van die Kinderwet lys faktore wat in ag geneem moet word wanneer die beste-belang-van-die-kind-standaard ter sprake is. Verskeie van hierdie faktore is van so aard dat ouervervreemdingsindroom wel in ag geneem moet word wanneer die beste-belange-standaard te pas kom. Verder stel artikel 6 van die Wet op Egskeiding ook die beste belang van die kind in egskeidingsaangeleenthede voorop. Ingevolge artikel 4 van die Wet op Bemiddeling in Sekere Egskeidingsaangeleenthede moet ’n gesinsadvokaat ná die instel van ’n egskeidingsgeding, of ná die indiening van ’n aansoek om wysiging, intrekking of opskorting van ’n bevel oor voogdyskap, sorg, kontak en onderhoud, ’n ondersoek instel indien dit deur enige party of die hof versoek word. Die gesinsadvokaat kan ook self, indien hy of sy dit nodig ag, versoek dat hy of sy aangestel word om so ’n ondersoek in te stel. Die doel van so ’n ondersoek is om die hof by die verhoor van so ’n geding of aansoek van ’n verslag en aanbevelings te voorsien oor die welsyn van die kind of enige ander aangeleentheid wat deur die hof na die gesinsadvokaat verwys word. Gesinsadvokate behoort dus kennis van alle aspekte van ouervervreemding en die impak daarvan op die kind en die stem van die kind te hê ten einde in die belang van die kind op te tree wanneer ’n verslag en aanbevelings aangaande die welsyn van die kind gemaak word. In Suid-Afrika word gesamentlike sorg dikwels aan beide ouers toegestaan. Die Kinderwet bepaal ook dat albei ouers gelyke ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van die kind het. Artikel 33(2) van die Kinderwet bepaal dat indien die medehouers van ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van ’n kind probleme in die uitoefening van hul verantwoordelikhede en regte ondervind, hulle eers moet probeer om ooreen te kom oor ’n ouerskapsplan wat die uitoefening van hul onderskeie verantwoordelikhede en regte ten opsigte van die kind bepaal voordat die tussenkoms van ’n hof opgesoek word. ’n Ouerskapsplan behoort dus in alle gevalle van ouervervreemding ter sprake te wees. Gesinsadvokate, maatskaplike werkers, sielkundiges, bemiddelaars of ander gepaste gekwalifiseerde persone wat by die opstel van ouerskapsplanne betrokke is, behoort dus die nodige kundigheid oor ouervervreemding te hê ten einde in die beste belang van die kind op te tree. Waar die stem van die kind vasgestel word in gevalle waar ouervervreemding ter sprake is, behoort gesinsadvokate, ander relevante kundiges en die howe seker te maak of dit die kind se wense en sienings dan wel dié van die vervremende ouer is.

Ouervervreemding kan ongelukkig een van die ouers, die teikenouer, verhoed om sy of haar ouerlike verantwoordelikhede en regte ten opsigte van ’n kind uit te oefen. Indien dit wel die geval is, kan ouerlike verantwoordelikhede en regte op verskeie wyses afgedwing kan word. Eerstens kan die teikenouer om ’n interdik aansoek doen ten einde die situasie te herstel. Hy of sy kan ook ’n hof versoek om die ouer wat nie ’n bestaande hofbevel nakom nie, daartoe te dwing. Derdens kan ’n ouer wat kontak wil afdwing, redelike dwang gebruik om dit te doen. Hy of sy mag van die ouer in wie se sorg die kind is, verwag om die kind te oorreed om kontak toe te staan. Laastens is artikel 35 van die Kinderwet ter sprake. Artikel 35 bepaal dat dit ’n misdryf is om iemand wat kontakregte of ouerlike verantwoordelikhede en regte het, die uitoefening van sodanige verantwoordelikhede en regte te weier. So ’n misdryf is strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf van tot een jaar.

Hoewel dit duidelik is dat ouervervreemding of soortgelyke benadelende gedrag ’n impak op die kind en die beste belang van die kind het, is daar weinig regspraak daaroor in Suid-Afrika. Dit kan aan verskeie faktore toegeskryf word, waarvan die belangrikste waarskynlik is dat hofamptenare en ander rolspelers wat by egskeidingsverrigtinge (of enige geding rakende ouerlike verantwoordelikhede en regte) betrokke is, nie noodwendig oor die nodige kundigheid beskik ten einde ’n bevinding oor ouervervreemding te maak nie. Daar kan ook aangevoer word dat die uitgerekte aard van hofgedinge in Suid-Afrika, die gebruik van ’n adversatiewe stelsel, die feit dat gesinsadvokate dikwels eers in ’n laat stadium by geskille betrokke raak en die kwaadwillige aanwending van beskermingsbevele ingevolge die Wet op Gesinsgeweld, ouervervreemding kan vererger.

In die algemeen behoort hofamptenare, gesinsadvokate en enige ander betrokke beamptes dus bewus gemaak en opgelei te word ten einde ouervervreemding so te hanteer dat daar in die beste belang van die kind opgetree word. In die besonder kan artikel 33(2) van die Kinderwet, wat oor mede-ouerskap handel, strenger toegepas en afgedwing word. Dit is vanselfsprekend dat ouerskapsplanne mede-ouerskap bevorder, wat op sy beurt weer in die beste belang van die kind is, omdat dit erkenning gee aan die kind se reg op ’n stabiele verhouding met beide sy of haar ouers, ongeag of hulle vervreem is of nie. Dit is egter ook so dat daar wel uitsonderings hierop kan wees waar dit nie in die kind se beste belang is om kontak met beide ouers te hê nie.


Bibliografie

American Psychiatric Association. 2013. Diagnostic and statistical manual of mental disorders. 5de uitgawe. Washington DC: American Psychiatric Publishing.

Baker, A.J.L. 2008. Parental alienation syndrome – the parent/child disconnect. Social Work Today,8(6):26.

Baker, A.J.L. en P.R. Fine. 2014. Surviving parental alienation: a journey of hope and healing. Maryland: Rowman & Littlefield.

Barrie, G.N. 2011. The best interests of the child: Lessons from the first decade of the new millennium. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:126–34.

—. 2013. Giving due consideration to views expressed by the child in family law proceedings: The Australian experience and lessons for South Africa. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:124–38.

Bekink, M. 2012. “Child divorce”: A break from parental responsibilities and rights due to the traditional socio-cultural practices and beliefs of parents. Potchefstroom Electronic Law Journal, 15(1):178–212.

Bekker, J.C., G.J. van Zyl, E. Wakeforden en J.M.T. Labuschagne. 2004. Legal remedies available to an aggrieved parent: Observations on the parental alienation syndrome in custody and access litigation. Child Abuse Research: a South African Journal, 5(1):26–31.

Bernet, W., W. von Boch-Galhau, A.J.L. Baker en S.L.Morrison. 2010. Parental alienation, DSM-V and ICD-11. The American Journal of Family Therapy, 38(2):76–187.

Boezaart, T. (red.). 2009. Child law in South Africa. Claremont: Juta.

Boniface, A.E. 2013. Resolving disputes with regards [sic] to child participation in divorce mediation. Speculum Juris,1:130–47.

Bonthuys, E. 2006. The best interests of children in the South African Constitution. International Journal of Law, Policy and the Family, 20:23–43.

Burns, J.K. 2014. Social and ethical implications of psychiatric classification for low- and middle-income countries. South African Journal of Psychiatry,3:66–71.

De Jong, M. 2005a. An acceptable, applicable and accessible family-law system for South Africa – some suggestions concerning a family court and family mediation. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:33–47.

—. 2005b. Judicial stamp of approval for divorce and family mediation in South Africa. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg,68(1):95–102.

—, M. 2008. Giving children a voice in family separation issues: a case for mediation. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg,4:785–93.

Dunne, J. en M. Hedrick. 1994. The parental alienation syndrome: An analysis of sixteen selected cases. Journal of Divorce & Remarriage,21(3/4):21–38.

Du Toit, C. 2009. Legal representation of children. In Boezaart (red.) (2009).

Gardner, R.A. 2006. Introduction. In Gardner et al. (reds.) (2006).

Gardner, R.A., S.R. Sauber en L. Demosthenes (reds.). 2006. The International handbook of parental alienation syndrome. Springfield: Charles C. Thomas Publisher.

Gould, J.W. en D.A. Martindale. 2009. The art and science of child custody evaluations. New York: Guilford Press.

Heaton, J. 2009. An individualized contextualized and child-centred determination of the child’s best interests, and the implications of such an approach in the South African context. Tydskrif vir Regswetenskap,34(2):1–18.

—. 2010. South African family law. 3de uitgawe. Durban: LexisNexis.

—. 2011. The law of persons. In Visser (red.) (2012).

Launspach, L.H. 2012. Gesinsberaders in die Wes-Kaap se perspektiewe op ouervervreemding tydens egskeiding. Ongepubliseerde MDiac-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.

Lowenstein, L.F. 1998. Parent alienation syndrome: A two-step approach towards a solution. Contemporary Family Therapy, 20(4):505–20.

Mahlobogwane, F. 2013. Parenting plans in terms of the Children’s Act: Serving the best interests of the parent or the child? Obiter,34(2):218–32.

Skelton, A. 2009. Parental responsibilities and rights. In Boezaart (red.) 2009.

Sloth-Nielsen, J. 2009. Seen and heard? New frontiers in child participation in family law proceedings in South Africa. Speculum Juris,23(2):1–19.

South African Law Commission. 2002. Project 110. Review of the Child Care Act Discussion Paper 103. February 2002.

Van Rooyen, C.L. en B. Mahendra. 2007. Psychology in family and child Law. Londen: Jordan Publishing.

Visser, C.J. (red.). 2012. Annual Survey of South African Law. Cape Town: Juta.

Wood, C.L. 1994. The parental alienation syndrome: A dangerous aura of reliability. Loyola of Los Angeles Law Review,27(4):1367–415.


Eindnotas

1 Gardner (2006:5).

2 Van Rooyen en Mahendra (2007:65).

3 Bernet (2010:78–9, 186); Gardner (2006:25–6); Baker en Fine (2014:12); Baker (2008:26).

4 Dunne en Hedrick (1994:21).

5 Sien meer hieroor par. 4 hier onder.

6 American Psychiatric Association (2013).

7 Burns (2014:66).

8 Wood (1994:1367); Gould en Martindale (2009:329).

9 Bernet (2010:76–7).

10 Bernet (2010:77–8).

11 American Psychiatric Association (2013:719).

12 Ibid.

13 American Psychiatric Association (2013:715–6).

14 Vir ’n volledige bespreking van die beste belang van die kind, sien Heaton (2010:163–7); Barrie (2011:126–34).

15 Art. 6(1)(a).

16 Sien ook par. 4.3 hier onder oor die stem van die kind.

17 Launspach (2012:75). Die teenoorgestelde kan ook gebeur. Die nieresidensiële ouer kan ook die kind as instrument gebruik om beheer oor die ander ouer (residensiële ouer) uit te oefen. Sien die bespreking van die Soller-saak in par. 4.4 waar K (’n minderjarige kind) se pa (nieresidensiële ouer) hom aangemoedig het om “moeilik en ontwrigtend” te wees en sodoende vir K as instrument gebruik het om beheer oor sy ma (residensiële ouer) uit te oefen.

18 Sien ook Launspach (2012:119–21) oor die impak en langtermyngevolge van ouervervreemding op die kind.

19 Heaton (2010:173–4).

20 Sien egter ook art. 28 van die Kinderwet wat oor die beëindiging, uitbreiding, opskorting of inperking van ouerlike verantwoordelikhede en regte deur die hof handel; Bekink (2012:194–6).

21 Sien vir ’n volledige bespreking van ouerskapsplanne Skelton (2009:90–2);Heaton (2010:301); Mahlobogwane (2013:218–32).

22 Art. 33(5).

23 Art. 34(1).

24 Art. 33(4).

25 Art. 34(5).

26 Sien Launspach (2012:78, 79–82) oor voorgestelde riglyne vir evaluasie tydens sorg- en kontakondersoeke en riglyne vir aanbevelings in evaluasieverslae.

27 (2010:180).

28 Art. 35(1) en (2); vir ’n volledige opsomming van die remedies sien Heaton (2010:179–81).

29 Sien in die algemeen vir ’n bespreking oor die stem van die kind, Sloth-Nielsen (2009:1–19); Barrie (2013:124–38).

30 Soos in par. 4.3 hier bo bespreek. Hierdie reg handel oor die stem van die kind ingevolge artt. 10 en 31 van die Kinderwet.

31 Boniface (2013:130).

32 De Jongh (2005a:98–9); De Jong (2005b:33–47).

33 Sien ook De Jong (2008:788–9).

34 Sien bv. FS v JJ 2011 3 SA 126 (HHA) parr. 32–33, 43 waar die HHA (per Lewis AR) die beslissing van die hof a quo kritiseer omdat dié hofversuim het om die beste belang van die kind in ag te neem (sien Heaton (2011:879–84). Sien ook Heaton (2009:1–18) oor die benadering wat deur die howe aangewend moet word wanneer die beste belange van die kind toegepas word, t.w. 'n benadering wat geïndividualiseer en gekontekstualiseer is en waarin die kind sentraal staan. Sien ook Bonthuys (2006:23–4) waar die outeur aanvoer dat alhoewel die beste-belang-maatstaf onpartydig blyk te wees, dit dikwels oorskadu word deur 'n resultaat en beslissing wat afhang van die sosiale en kulturele waardes van die tyd en maklik tot diskriminasie en vooroordeel kan lei. Sien bv. Van Rooyen v Van Rooyen 1999 4 SA 435 (K) waar die regter se moontlike vooroordeel die beste-belang-maatstaf oorskadu het.

35 Bekker et al. (2004:29–31).

36 Bekker et al. (2004:29).

37 Ibid.

38 Lowenstein (1998:505); sien ook Bekker et al. (2004:29).

39 In FS v JJ 2011 3 SA 126 (HHA) par. 54 beklemtoon Lewis AR die belangrikheid van artikel 6(4) van die Kinderwet: “Legal practitioners should heed s 6(4) of the Children’s Act which provides in matters concerning children an approach ‘conducive to conciliation and problem solving’ should be followed and a confrontational approach should be avoided.”

40 Sien egter ook die bespreking van art. 33(2) hier bo in par. 4.2; Bekker et al. (2004:30).

41 Ibid; South African Law Commission (2002:649).

42 2003 5 SA 430 (W).

43 Sien ook Minister of Education v Pillay 2008 1 SA 474 (KH) 494E–G; Du Toit (2009:109).

44 2003 5 SA 396 (ZH).

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top