Kinders kan daaronder ly

  • 0

egskeiding_kinders_in_middel

Moenie kinders onderskat nie. Al is hulle jonk, tel hulle seine wat ouers uitstuur, blitsvinnig op, skryf Jan-Hendrik Meyer as deel van ’n LitNet Akademies-webseminaar oor ouervervreemding en kinders. Lees ook die LitNet Akademies (Regte)-artikel deur Chrizell Chürr wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Aantekeninge oor regsaspekte van ouervervreemdingsindroom in Suid-Afrika.

Wanneer lewensmaats se paaie skei, is dit vir hulle en die mense naaste aan hulle soms ‘n skok en altyd ‘n reuse-aanpassing – waarvan nie die minste nie die herskryf van die narratief van hul lewens tot op hede is. Dikwels is dit tog ‘n narratief wat deur die samelewing ondersteun en aangeblaas word: die ridder op die wit perd wat die ander van sy/haar voete afswiep en in die pragtige sonsondergang wegry.

Sodra die paaie skei, mag daar by beide die gevoel wees dat hulle hulself, hul naastes en die breër samelewing ‘n verduideliking skuld oor hoe hulle daarin geslaag het om ‘n misoes van hierdie sprokie te maak.

Hierdie herskryfproses mag dan gepaard gaan met die swartsmeer van die ander, die ekslewensmaat. Die een wat dan aandadig raak vir die "dream deferred".

"Die ander wat nooit met my gepraat / gedeel / my aangeraak het nie. Die eintlike rede vir hierdie gemors."

En ja, dit gebeur nie in alle gevalle nie. Waar dit egter wel gebeur, hoop mens maar dat daar geen kinders by betrokke is nie. Want hulle ly dikwels die ergste onder die ontploffings van pyn, hartseer, verdriet en woede wat volg. Want verstaan mooi: die ander party gaan betaal, en niks is heilig in die vergelding wat volg nie.

Kinders is vir sommige die gerieflikste wapen en skild om te gebruik. Daar is byvoorbeeld geskei om “my” kind(ers) teen die ander ouer te beskerm. In die proses wat volg, moet die kind(ers) dan noodgedwonge kies. Daar kan aan hulle selfs subtiel gestel word dat as hulle nie saamspeel nie, dan gaan hulle ook gelos word soos die ander ouer.

Die kinders self sit dikwels met onsekerhede en teenstrydighede. Hulle is kwaad vir een/beide oor die verlies van die eenheid en terselfdertyd ervaar hulle skuld oor hul woede. Hulle koester soms fantasieë dat daar weer ‘n hereniging kan volg, ongeag hoe traumaties die ervaring van “eenheid” was. Daar volg dalk konflik tussen sibbe as hulle verskil oor wie van die volwassenes se weergawe hulle glo of by wie hulle hulself skaar.

Daar moet begrip wees vir die magtelose situasie waarin kinders soos dié hulle in hierdie situasie kan bevind. Hulle het geen sê in wat gebeur het nie en meestal geen werklike sê in wat daarna gebeur nie. Daar word van hulle verwag om vir ‘n prokureur/sielkundige/hof te vertel wat “werklik” gebeur (het). Hul getuienis mag bepaal by wie hulle bly en hoe gereeld hulle die ander sal sien, ongeag hoe hulle die ander mis. En daar is volwassenes wat hierdie magteloosheid genadeloos uitbuit.

Hierdie manipulasie vind nie altyd plaas soos verwag nie. Daar is dikwels die geval dat een lewensmaat werklik glo dat die ander onbetroubaar of onbetrokke is/was en dat die kinders beter af is as hulle by hom/haar – die primêre ouer – sou bly. En dan sal die persoon amper onbewustelik die kinders daaraan herinner deur gesprekke in hul omtrek van hoe negatief die ander inderwaarheid is. Kinders, ongeag hoe jonk hulle mag voorkom, tel hierdie seine vinnig op en besluit dan om vir hul eie welstand saam te speel.

Daar moet wel bygevoeg word dat die nodigheid om die self te herdefinieer mag fokus op die persoon self as die versorgende en betroubare/standvastige ouer, die ouerfiguur wat op ‘n konstante en deurlopende manier vir hul kind sal voorsien en daar sal wees. En die ander word dan noodgedwonge as die absoluut teenoorgestelde geherdefinieer – die een wat goed sê/doen slegs om hulself goed te laat lyk en nie werklik inniglik omgee vir die kinders nie.

En dan is daar natuurlik ook die volwassene wat direk aan sy/haar kind(ers) voorsê wat hulle vir ander mense moet sê oor die ekslewensmaat. Dit gaan dan gepaard met eksplisiete dreigemente van wat kan volg as daar nie saamgewerk word nie. Die dreigemente strek van eenvoudige verlies van voorregte tot selfs die verlies van toegang tot die volwassene self.

Weer eens: daar moet onthou word dat kinders dikwels vrees dat as hul iets verkeerd sê of doen (en dit sluit in iets positiefs oor die ander sê), dan kan hulle net so vinnig verlaat (versaak) word. Want het die lewensmaats dan nie aan mekaar ewige trou gesweer op grond van liefde nie? Hoe leeg word die frase “maar ek het jou lief” nie. In die omstandighede kan dit nie meer dien as bewys dat die kind ook nooit verlaat gaan word nie.

Die kombinasie van bostaande kan daartoe lei dat die kind(ers) geleidelik vervreem raak van die een of beide volwassenes. En dat die seer en verwerping wat hulle ervaar, eindelose probleme in hul toekomstige verhoudinge kan veroorsaak.

Ek beklemtoon: dit is moontlikhede hierdie wat soms uitspeel. Dis nie altyd die geval nie, en egskeiding kan ook positief bestuur word.

Daar moet ook genoem word dat die “slim speletjies” van die ouers deur kinders uitbuit kan word. Dis nie ongewoon om te hoor dat die kinders die lof van die ander besing en sodoende ‘n teenprestasie uitlok nie.

Juis daarom word daar altyd gehoop dat die volwassenes hul seer kan bêre vir mekaar en die proses van losmaak so kan aandurf dat die kinders die minste geraak word.

Dis hier waar begrippe soos respek, gemeenskaplike ouerskapsooreenkomste en kindgesentreerde uitkomste van uiterste belang raak. Sodra die kind se beste belang sentraal in die proses geplaas word, sal die volwassenes se selfrespek en aansien in hul breër omgewing tog sekerlik kan hoop om herstel te word?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top