
Daar is onlangs in “Die bestuur van interne kommunikasie by ’n Suid-Afrikaanse aftreeoord: uitdagings en moontlike oplossings”, ’n LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel, die volgende geskryf:
Daar is genoegsame bewyse dat interne kommunikasie ’n beduidende sukses- en oorlewingsfaktor vir organisasies is. Daarom is dit belangrik dat interne kommunikasie effektief bestuur word. Tradisionele korporatiewe besighede word dikwels as vertrekpunt gebruik vir navorsing oor interne kommunikasie, terwyl ander unieke interne kontekste minder ondersoek word. Die doel van hierdie artikel is dus om die bestuur van interne kommunikasie binne die konteks van ’n Suid-Afrikaanse aftreeoord as ’n unieke interne omgewing te ondersoek ten einde eiesoortige uitdagings en moontlike oplossings te identifiseer.
Aftreeoorde bied unieke uitdagings, omdat die inwoners nie ’n gesiglose massa is nie, maar elk sy of haar eie unieke ervarings beleef.
Met die lees van vriendin en oudkollega Estelle Kruger se artikel op LitNet het my kop na hoogste versnelling oorgeskakel ... Dit is immers waar ek nou is, en nadenke oor my eie ervaring het noodwendig gevolg.
Daai ding – oudword – kom soos ’n dief in die nag. Voor jy dit weet, is jy daar. Kan ’n mens jouself daarop voorberei?
Ek het vroeër ’n wonderlike vriendin gehad – Maggie Pepler – saam met wie ek Sondagoggende vroeg gebrei het terwyl ons na Fanie se Alle volke loof die Heer luister. Maggie moes later van haar huisie in Hertestraat op Stellenbosch na die ouetehuis, Utopia, gaan, en ons het ons sessies daar voortgesit. Utopia is nie ’n luukse aftreeoord (waarvan daar heelwat in ons omgewing is) nie. “Tehuis vir bejaardes” is die amptelike benaming – Utopia is ’n regte ouetehuis. Ek het my naam dus met ’n effense versigtigheid op Utopia se waglys geplaas – jy weet dit is die regte ding om te doen, maar jy hoop heimlik dit sal nooit nodig wees om jou daar te vestig nie …
Nadat my Grootpiet ’n redelik ernstige rugoperasie gehad het, het hy aangekondig dit is tyd.
Ons eerste woonstel in Utopia, aan die bopunt van die historiese Dorpstraat, het ’n manjifieke uitsig op Simonsberg gehad. ’n Toneel wat voortdurend verander soos wat die lig deur die dag en met die seisoene verander. Om die uitsig ten volle te benut, het ons die kooi geskuif sodat ons die eerste lig kon sien. Wanneer ek uit ons klein kombuisie se venstertjie kyk, kon ek almal se bedrywighede dophou – nuuskierigheid is immers my beste sowel as my slegste eienskap.
In my kop kon ek ’n storie skryf – gebaseer op my heel eerste ten volle geïllustreerde kinderboek – Kabouterland. Ek kon my verbeel Maangesiggie van Kabouterland neem sy beddegoed buitentoe om dit lug te gee (soos ons historikus Annette Strauss steeds daagliks doen). Die blou feetjie, klein Susan, vlieg met haar towerstaf deur die tuin en word deur ons liewe sammajoor, Groot Susan, dopgehou terwyl sy haar eie klein lushof versorg...
Wat ek werklik kon sien, is hoe my destydse professor in toegepaste wiskunde, Gerhard Geldenhuys, sy tekkies versorg vir sy weeklikse tenniswedstryd teen Jan Giliomee. Klein besige Gill van Coppenhagen (wat steeds weekliks twee stelle tennis speel) is reeds van voor ligdag in die pragtige tuin besig om te snoei en te werskaf. Isabelle is dikwels besig in haar eie klein tuintjie wat elke lente sorg vir ’n baldadige pienk rankroosskouspel. Ek sien dominees Tinus wat gereeld sy tuintjie natmaak en sy vrou, Marina, wat vir die kleinkind in Engeland oor die foon help met ’n som. Wie eerste elke oggend besig is en wie se ligte laat nog brand, sou ek kon rapporteer.

Woonstel 18 het met sy vreemde hoekigheid ook gesorg dat my eie kop besig bly. Ek het probeer uitpluis hoeveel verskillende soorte hoeke daar is – ek het tot vandag nie die regte antwoord nie. My Ouboetkind het vir my ’n werkplekkie ingerig en Grootpiet kon die ander Isabelle (die vorige bewoner wat na ’n kleiner plek kon trek) se lekker net-pas-lessenaar gebruik om sy stories by te skryf en sy goedjies te doen.
Toe Gerhard en Annalien uittrek, was ons gelukkig om by #53, met sy eie stoepie, in te trek. Hier kon ek in ’n tuin sit terwyl ek die daaglikse blokkiesraaisel doen. Wat ’n voorreg! Nou kon ek weer almal uit ’n ander hoek dophou. Gill wat steeds vroeg doenig is om onkruid uit te trek of te snoei, en nou kon ek ook vir Marthie, ons breikoningin, in haar klein hoekie sien. Een van my eerste planne was waar om vir my kleinkinders hulle Paaseiers weg te steek. Dit was ’n reuse sukses (met toeskouers) en hulle kon kennismaak met ons inwonende verkleurmannetjie.
Om in Utopia te kan oud word, is werklik ’n seën, selfs vir ’n dowe siel soos ek. My balans is reeds lankal in sy glory, maar ek en my staptjommie, Elsa, kan as die weer dit toelaat, in Die Laan gaan stap – verby tant Cinie de Kock se huis waar ek as kind Latynklasse gehad het, tot by Elsa se grootwordhuis oorkant Coetzenburg (met sy eie vele magiese herinneringe). My tafelmaats, Audrey en Sarie, bespreek graag die nuutste dramas in ons sepies en Audrey skop my as die tafelgebed verby is sodat ek nie tot na poeding nog met toe ogies sit nie. Sarie se seun is ’n medeskrywer van een van die sepies, maar moet maar saam met ons bespiegel oor wie nou na wie vry. (Elise onthou dat ek ernstig vir Wade, my gunstelingkarakter, gebid het toe hy in ’n krisis met sy vryery was).
Ons inwonerskomitee, onder leiding van hoofseun Brian, sorg vir groot joligheid. In die winter kon ons voor die kaggel sit met ’n glas wyn (ons woon immers in Stellenbosch). Dinsdae hekel en brei ons saam en luister na Elsa wat voorlees uit ’n lekker boek. Woensdae drink almal saam tee in ons sonnige sitkamer, en Donderdagaande kyk ons fliek. Daar word soms croquet gespeel in die voortuin – die oumense is nog lekker kompeterend. Maandae en Vrydae is daar speletjies met Lego-bouery as die nuutste toevoeging. In die sitkamer is daar altyd ’n legkaart waaraan enigeen kan meebou. Onlangs het ons selfs ’n regte egte wynproe gehad, aangebied deur David van Velden van Overgaauw. So werk ons komitee en ons bestuurder, Anneen, saam “to keep the old man out” (dankie Clint Eastwood).
Deur ’n gelukkige sameloop van omstandighede geniet Utopia strome van regte, vars, skoon water en ons tuin jubel met lowergroen grasperke en ’n fees van kleure! Jaarliks, gedurende die Stellenbosch Tuinweek, bied ons ’n uithalerteetuin onder ons skadubome aan: smullekker gebak uit ons eie kombuis word bedien deur flukse tannies met jare se ervaring van kerkbasaars en skoolfunksies. Ek tel die geld – saam met Betroubare Brian.
Een van die hoogtepunte in ons afgelope jaar was die Oscar-aand wat hoofsaaklik deur die bekwame Anneen gereël is. Daar was ’n talentkompetisie met klavierspel, voordrag, sang en selfs ’n dansery – sommige van ons kan ewe hups met ’n vierwiel-walker Charleston! En, anders as in die regte lewe, was daar vir elke deelnemer ’n sertifikaat – ons was almal wenners!
Die onafwendbare en slegte kant van oudword is wel die aftakeling, en daai besoeker met die krom sekel gaan ook nie altyd by Utopia se deur verby nie. Ons word stadigaan daarvan bewus as ons vir mekaar sê: “Nou kap hulle darem erg in ons bos.” Ek self moes tydens my verblyf in Utopia van sewe mede-inwoners afskeid neem wat vir die laaste keer “verhuis” het. Dis immers die hoofrede vir ’n oop kamer in ’n ouetehuis. Daarmee saam het etlikes wat verswak het, na ander versorgingsplekke moes gaan.

Diegene wat nie meer heeltemal onafhanklik kan regkom nie, word ondersteun deur ’n klein spannetjie versorgers; hierdie liewe vroue is goed gekwalifiseer, maar hulle vriendelikheid, deernis en geduld daarby is kosbaar
Ek kan min vir my kinders gee, maar wat ek wel vir hulle kan gee, is die gemoedsrus dat ek veilig is, en boonop dolgelukkig – net hier waar ek is.
Wanneer ek wel skuldig voel oor die niksdoen en luister hoe ’n duif koer (ek sit en doen f%k%l terwyl ek na Wanda se pers feetjiestuin kyk), hoor ek my broer Diek se stem: “Toe jy moes werk, hét jy gewerk.”
Lees ook:
Kommunikasie binne aftreeoorde en boeke oor aftreeoordbewoners: ’n gesprek met Rudie van Rensburg


Kommentaar
'n Besinning sonder sentimentaliteit. Werklik goed geskryf.
Aansoekvorm vir Utopia lê langs my rekenaar. Ek sien uit na Moederkerk-eredienste en oor die straat stap vir boekbekendstellings by Oude Leeskamer.