Die materialisme en oordaad van Kersfees

  • 3

Foto: Unsplash

Ek het arm grootgeword en was vir ’n groot deel van my lewe in aanraking met minderbevoorregtes.

Ek ontsnap gewoonlik aan hierdie tyd van die jaar se materialistiese welvaart en hou my besig in my eie werklikheid.

Waar ek in ’n aftreeoord woon, leef apartheid onbeskaamd voort: Die inwoners is almal wit; die kombuispersoneel is almal bruin vroue; die tuiniers en skoonmakers in die gange is almal swart.

Daar was pas ’n (sinlose) viering van “Deck the doors” waar die inwoners hulle buitedeure na die gang versier het in ’n kompetisie van wie s’n is die mooiste en wie s’n die kreatiefste. Sinloos om op te merk dat ek nie deelgeneem het nie.

Ek wag met siddering vir die volgende dae se feesvieringe – Kersfees en Nuwejaar, wat vir my geen betekenis het nie. As kinders was ons grootste geskenk om in die aand per trein na Johannesburg te ry en in die strate “window shopping” te doen.

Om dit sterk te stel: Ek walg van die oordaad van versierings, eetgoed en aktiwiteite – dít in die omgewing van ’n township met bruin en swart inwoners waar armoede aan die orde van die dag is.

Dit is vir my moeilik om ’n balans tussen alles te vind en nie openlik met afsku na alles te kyk nie.

En ek ween.

“And that is all I want to say about that.” – Forrest Gump

  • 3

Kommentaar

  • Juliana Heymans

    Sjoe Estelle... ek stem saam met al die oordadigheid. Ek wonder soms of die werklikheid van die Christusfees ooit besef word. Ons gesin/familie streef daarna om almal by mekaar te wees. Ons waardeer die Grootste Geskenk ooit ontvang. Groete

  • Barend van der Merwe

    Ek het nie arm grootgeword nie. Maar my ouers was ook nou nie uitermatig ryk nie. Ons was almal vet, gelukkig en gesond. Ons het niks tekorte gehad nie. Inteendeel, daar was meer as wat die hart kon begeer. Afhangend van hoe mens dus kyk, was ons dalk wel ryk. Nie uitspattig ryk nie. My pa kon nooit die bakkie koop wat hy eintlik begeer het nie. Ons kon nie na hartelus rondry nie. Maar my ouers was liefdevol.

    As kind was ek vreeslik preuts. Grensend aan peïtisties, kuis en koekerig. Ek was 'n Calvyn-junkie. Soos 'n wafferse Totius het dit in my hart gebrand: DIE WÊRELD IS MY WONING NIE! En ja, die uitspattigheid van die feestyd was vir my net 'n teken van die vervalle sondigheid van die mens.

    Dit het my gekos om eers 'n ateïs te word om Kersfees ten volle te geniet. Terugskouend het ek wel baie van Kersfees geniet. Pa en ma se liefde en omgee. Familietye saam, maar die godsdiens het met mens se nugtere denke ingemeng. Is ek nie vandag nader aan Jesus se bevel om nie andere te oordeel, as in my jare toe ek 'n Calvinis was nie? En godsdienstig was nie? Weliswaar is ek nie die een wat eerste is om die kersversieringe uit die kas te pluk nie. Maar eerder as om gedurig vas te skop en stroom op te wil swem, vind ek myself meegesleur deur die eeue oue tradisie van seisoene wat kom en gaan, die mengsel van kulture en tradisies, die mooi musiek, die hoop wat versinnebeeld word in die geboorte van Jesus, wat vir miljoene Christene hulle god en verlosser is.

    Maatskappye is ingestel op winsbejag en hulle sal natuurlik elke geleentheid tot daardie doel aanwend. Tog is dit vir my asof iets soos Kersfees veel meer beheersd gevier word deesdae as in die verlede. Die Kersversieringe gaan later op. Nie meer in Oktober al, soos wat al in die verlede gebeur het nie. Die musiek is nog nie eens ten volle in Kersfees tjoen nie. Al is Kersfees oor 'n week.

    Mens vind die mooiste, kreatiefste interpretasies van kersbome, gemaak van eenvoudige planke en inheemse bome. Jesus self se geboorteverhaal vertel 'n storie van eenvoud en armoede. Maar vir gelowiges spreek die fees self waarskynlik van die hoop waarmee hulle leef op die vooruitsig van die ewigheid met hulle God, 'n ewigheid waarin daar geen gebreke, tekorte of ellende sal wees. Oorvloed en voorspoed sal heers.

    Natuurlik worstel Suid-Afrika nog met die infrastruktuur van apartheid, en die einde sal nooit aanbreek nie. Mense sukkel om met mekaar oor die weg te kom. Hulle deel nie 'n geskiedenis en dikwels ook nie tale nie. Die reënboogdroom is lankal aan skerwe, en word deur mense op sowel die linkerkant as die regterkant van die politieke spektrum verwerp.

  • Estelle Kruger

    Dankie Barend, vir jou eerlikheid en nugterheid. Jy hey 'n paar snare van my hart hiermee aangeraak. Vriendelike groete.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top