
Oor die afgelope ses jaar het drie kollokwiums plaasgevind onder die vaandel van die Ontlaeringprojek. In die breë is die Ontlaeringprojek gemoeid met hoe ons oor die onderrig van Afrikaans dink, en kan dink. Twee spesiale joernaaluitgawes (een in Stilet en een in Tydskrif vir Letterkunde) het intussen verskyn. In 2023 het ’n aantal kritiese gesprekke rondom (onder andere) die Ontlaeringinisiatief op LitNet plaasgevind, waarin deelnemers besin het ooraspekte soos akademiese netwerkvorming, en die verhouding tussen politieke aktivisme en die akademiese projek.
Met hierdie oproep nooi ons navorsers uit om ’n laaste keer amptelik aan hierdie gesprek deel te neem. Die doel van die spesiale uitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe is om akademiese artikels en meningstukke byeen te bring wat terugskouend, maar veral ook toekomsgerig, met die Ontlaeringprojek in gesprek te tree. Die drie kollokwiums het onder andere fokus geplaas op Afrikaanse letterkunde, pedagogiek, burgerskap, transnasionalisme, geworteldheid, en Afrikaans in spesifieke ruimtes. Bydraers is welkom om hierdie onderwerpe, of die onderwerpe aangeroer in die gesprekke op LitNet, verder te ondersoek. Verwante invalshoeke word ook hartlik verwelkom.
Alle navorsers wat oor Afrikaanse taalkunde, letterkunde, of breër Afrikaanse kulturele verskynsels navorsing doen, word vriendelik genooi om teen 29 Februarie 2024 kort artikelvoorstelle in te stuur. Volledige artikels (van tussen 8 000 en 10 000 woorde) sal teen 30 Junie 2024 ingewag word, vir publikasie teen die einde van 2024.
Laat weet ons asseblief teen 29 Februarie 2024 indien jy van plan is om ’n bydrae in te stuur, en waaroor jou bydrae sal handel.
Die e-posadres waarheen alle korrespondensie gestuur kan word, is unlaagering@gmail.com.
Die Ontlaeringspan
Earl Basson, Bibi Burger, Janien Linde, Mathilda Smit
Lees ook
Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem: ’n paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa
Ontlaering: ’n Herverbeel van die pedagogiek van Afrikaanse letterkunde

