Open Stellenbosch – Aluta Continua?

  • 3

Daar was al heelwat geskryf oor Open Stellenbosch, parallelle getrek met hulle verhouding met #Rhodesmustfall, en te velde gegaan oor hulle onredelike gedrag.

Dit word onrusbarend al hoe duideliker dat die lyne skerp getrek word: of jy’s bereid om die Open Stellenbosch-groep ’n spreekbeurt te gee, en dan’s jy noodwendig gekant teen Afrikaans, of jy’s lief vir Afrikaans en dan noodwendig ’n rassis en/of ’n kolonialis. Ek bly hoop nog dat ’n gematigde groep wat die goue middeweg kan uitmaak, die groep wat bereid is om na albei kante te luister en met ’n werkbare kompromie vorendag kan kom, hulle bydrae sal begin lewer.

Toe ek aanvanklik van Open Stellenbosch gehoor het, en dit aan ’n paar mense genoem het as ’n situasie wat gaan snowball en meer plofbaar word, was die antwoord; kom ons kyk maar eers wat gebeur. Die verwagting was duidelik dat die probleem sal oorwaai en lewe in die ivoortoring sal voortgaan soos wat dit nog maar altyd was. Die beweging kry egter net meer en meer momentum, soos wat die massavergadering hierdie week op die Rooiplein duidelik bewys.

Tydens ’n kollokwium deur die US Departement Afrikaans ’n week gelede, het een van die paneellede die volgende stelling gemaak: “Mens sou kon vra, hoekom kom jy Stellenbosch toe as jy nie Afrikaans magtig is nie?” Ek vermoed hy’t dit gedoen om die gehoor te provokeer. Daar was vroeër ’n vlietende verwysing na hoedat daar in die apartheidsera doelbewuste disruption van die status quo was. Ek wou my mede-paneellid op sy vraag antwoord deur te sê: “Miskien kom mense wat nie Afrikaans magtig is nie, Stellenbosch toe om die status quo te disrupt.” En miskien is dit broodnodig dat die status quo disrupt word. Die intellektuele enklawe het dalk voeling verloor met dit wat in die samelewing aan die gang is.

Die studente het nie geld of invloed wat hulle kan gebruik om verandering teweeg te bring nie. Hoe disrupt so ’n persoon dan die status quo? Deur jou teenwoordigheid wat die status quo legitimeer, te weerhou. Deur jou stilswyende instemming te stop. Deur die enigste werklike strategiese wapen in jou arsenaal, getalle, te gebruik om mense bewus te maak van die erns van jou saak.

Stellenbosch, en elke ander tradisioneel wit, Afrikaanse universiteit, het swart studente nodig om hulle legitimiteit te behou. Hulle het smiling swart gesigte op hulle brosjures nodig sodat hulle goed kan lyk. Miskien het dit tyd geword dat die universiteit besef dat daar twee gewillige partye moet wees om dit suksesvol te maak, en die een party maak dit nou baie duidelik die terme van die ooreenkoms pas hulle nie meer nie.

Kovsies kon daai skuif maak, omdat hulle ’n leier het wat bereid was om moeilike besluite te maak wat hom in sekere kringe ongewild gemaak het. Hy was gewillig om daai goue middeweg te probeer loop, alhoewel seker nie altyd met ewe veel sukses nie. Stellenbosch se nuwe leier is nog nie lank genoeg in die stoel om enigsins ’n daadwerklike impak te kon maak nie, en ons weet natuurlik glad nie watter politieke skuiwe agter die skerms gemaak word nie. Open Stellenbosch, en hoe hy die groep hanteer, sal in alle waarskynlikheid sy legacy by die universiteit definieer.

Wat die universiteit nog nie besef nie, of in elk geval nie artikuleer nie, is dat hulle swart studente nodiger het as wat swart studente hulle nodig het. Daar’s immers ander universiteite in die land. As swart studente en masse hulle teenwoordigheid aan Stellenbosch onttrek, dan is dit net ’n kwessie van tyd voor die universiteit algehele legitimiteit verloor.

Die ekonoom Henry George het die volgende stelling gemaak: “Progressive societies outgrow institutions as children outgrow clothes.” Ek wil byvoeg dat progressiewe verenigings ruimte maak vir die dissenting voice, die andersdenkende, die vis wat teen die stroom swem. Dis baie keer juis daai vis wat broodnodige verandering en dalk selfs verbetering na die groep bring.

Die enigste ware manier hoedat daar ruimte gemaak kan word vir daai stemme, is om te luister met die doel om te verstaan. Die vraag is natuurlik nou of Stellenbosch in staat is om daai kopskuif, om anderstaliges te akkommodeer en te verwelkom, te maak. Die probleem op Stellenbosch is immers nie Afrikaans nie. Die probleem is hoedat die taal gebruik word om uit te sluit en laer te trek. Geen taal kan bly voortbestaan te midde van ’n ons-julle, insider-outsider polemiek nie.

Dis natuurlik ook nie net waar van universiteite nie. Enige instansie wat tradisioneel wit-gedomineerd was, skarrel rond om swart gesigte te kry om hulle te legitimeer. Dit maak elke uitnodiging om by so ’n organisasie aan te sluit, outomaties suspect. Dit maak dat elke swart persoon wat by so ’n organisasie aansluit, twee keer harder moet werk om net die helfte so nuttig gevind te word as die wittes wat hulle plek aan die tafel as vanselfsprekend aanvaar. Soos Ginger Rogers blykbaar gesê het oor haar dans-roetines met Fred Astaire: “Everything he does, I have to do backwards and in high heels.” Dit word ’n bose kringloop – die swart persoon voel asof hulle soos kroonwild gejag word, nie omdat hulle inherent bevoeg of talentvol is nie, maar omdat hulle swart is. Die wit organisasies voel gefrustreerd, want swart mense wil nie aansluit nie.

Met enige transaksie moet daar voordeel vir al die partye tot die transaksie wees. Dis vanselfsprekend. Tradisioneel wit organisasies moet hulleself afvra watter voordeel hulle die ander party bied. Die voorreg van ’n plek aan die tafel is nie genoeg nie. Dis nie eers meer ’n voorreg in 2015 nie, dis ’n reg. Om die plek aan die tafel in te neem, moet aanloklik gemaak word, en dis waar baie organisasies tekortskiet. Daar word nie ’n ernstige poging aangewend om business as usual, wat grootliks net tot wit voordeel is, te verander nie. Daar word nie daadwerklike pogings aangewend om die swart stemme waarlik te hoor nie. Daar is toenemende onvergenoegdheid onder swart geledere met hoe sake gedoen word. Swart mense is  moeg daarvan om aan ’n tafel te sit waar hulle die enigste swart gesig is, en hulle maak ’n voorstel. Stilte. Die gesprek word verander. Dan, na ’n decent tydsverloop, maak ’n wit persoon dieselfde voorstel, en skielik is dit ’n briljante idee. Is ’n wit gesig nodig om die idee te legitimeer? Hoekom is die swart gesig en swart stem dan hoegenaamd nodig? Dis ’n subtiele manier van uitsluiting, en miskien juis meer gevaarlik omdat dit nie noodwendig doelbewus met kwade rade gedoen word nie. Gee my enige dag die rassis wat bewus is van sy rassisme, eerder as die do-gooder met hulle onbevraagtekende aanvaarding van hulle eie meerderwaardigheid wat nie besef watter skade hulle aanrig nie.

Dit kos dapper leierskap om ware inklusiwiteit teweeg te bring. Dit beteken dat die bevoorregtes vrywilliglik hulle eksklusiewe bevoorregting moet deel, en dalk selfs deel daarvan moet prysgee. Dit beteken dat mense meer intentional moet wees om ander met opregtheid in te sluit – nie die vals glimlag waarmee elke swart persoon al op een of ander stadium mee gekonfronteer was, die vals bonhomie wat baiekeer minagting verdoesel nie, maar ’n opregte mens-tot-mens sonder skanse oopmaak en insluit.

“Hatred does not cease by hatred, but by love; this is the eternal rule.” – Buddha

Eers as ons daai ewige reël kan begin nastreef, ongeag van watter geloof ons bely, kan die stryd opgesê word.

Also read: My thoughts on complexity and the intersectionality of change at Stellenbosch University – Lovelyn Chidinma Nwadeyi

Also read: Open Stellenbosch: “Yeah but you said it” – revisited

Also read: Afrikaans-in-dialogue, rather than Protection-of-Afrikaans

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Wyngaard gee aan die begin voor dat sy die goue middeweg gaan aandui maar gaan dan voort om net die swart saak te bepleit. Daar is baie van die gebruiklike vals stories wat onkrities herhaal word, soos die een dat swartes twee keer so goed moet wees om dieselfde resultaat te behaal. Dit kom uit Amerika. Wat my betref is dit voldoende as die US aan enigeen oopgestel is. Net diegene wat aan bepaalde akademiese vereistes voldoen behoort as student of dosent toegelaat te word. Te veel tyd, geld en aandag word aan nie-akademiese sake verspil.

  • Salomé Smith

    Goeie artikel! Ek wil net vir Bettina sê dat daar nie 'n woord soos aluta in Portugees bestaan nie. Die frase is A = Die ; Luta = stryd; Continua = Duur voort.

  • George Bekker

    Bettina ek het jou storie versigtig deurgelees. Die raad wat jy vir ander het moet jy ook self toepas. “Hatred does not cease by hatred, but by love; this is the eternal rule.” – Buddha

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top