
Albei hierdie foto’s is die eiendom van die skrywer: ©Handré Brand. Op die foto verskyn Jacques Brink, Daniël Brink en Handré Brand.
Far away there in the sunshine are my highest aspirations. I may not reach them, but I can look up and see their beauty, believe in them, and try to follow where they lead. (Louisa May Alcott) https://www.goodreads.com/quotes/tag/aspirations
........
Sou dit realisties wees om te verwag dat ideale of aspirasies wat gedurende die vroeë kinderjare ontstaan, met verloop van tyd met die nodige insig en toepaslike nugtere oordeel as vroeë volwassene gerealiseer kan word, of kom dit aanvanklik (meestal) neer op blote romantisering van ideale? ’n Graad R-leerder wat sterk belangstelling in diereversorging toon en by die skool se loopbanedag in die drag van ’n veearts opdaag, gaan waarskynlik later op ’n stadium voor uitdagings en realiteite te staan kom, soos akademiese voorvereistes vir veeartsenykunde, keuringsprosedures, toelating tot opleidingsentra, asook finansiële ondersteuning."
........
Sou dit realisties wees om te verwag dat ideale of aspirasies wat gedurende die vroeë kinderjare ontstaan, met verloop van tyd met die nodige insig en toepaslike nugtere oordeel as vroeë volwassene gerealiseer kan word, of kom dit aanvanklik (meestal) neer op blote romantisering van ideale? ’n Graad R-leerder wat sterk belangstelling in diereversorging toon en by die skool se loopbanedag in die drag van ’n veearts opdaag, gaan waarskynlik later op ’n stadium voor uitdagings en realiteite te staan kom, soos akademiese voorvereistes vir veeartsenykunde, keuringsprosedures, toelating tot opleidingsentra, asook finansiële ondersteuning.
Idealisering sonder hoop impliseer egter ’n meer komplekse situasie. Dit verwys na toekomstige aspirasies sonder voldoende oortuiging dat die uitdagings wat daarmee gepaard gaan, realiseerbaar is, of deur doelgerigte optrede verwesenlik kan word. Volgens Snyder (2002) vereis hoop beide die identifisering van moontlike roetes na toekomstige doelwitte, asook die potensiaal en motivering om hierdie roetes na te volg. Indien hierdie vereistes ontbreek, kan die ideaal bloot ’n statiese normatiewe verwysingspunt bly en nie noodwendig tot doelgerigte optrede of konstruktiewe verandering aanleiding gee nie.
Die ontstaan en ontwikkeling van ideale of aspirasies gedurende die kinderjare behoort in teorie goed in te pas by Frederik van Eeden se windekind-fase, ’n lewensfase waarna verwys word in sy boek De kleine Johannes (Boekverslag 2001). Die windekind-fase is die suiwerste vorm waarin die fundamentele kern van die kinderjare na vore tree. Die kind kom dan totaal onskuldig voor, lewe in die spreekwoordelike paradys, fantaseer gereeld en toon ’n besondere sterk voorliefde vir plante en diere. Dié fase kan ook gesien word as die geleidelike aanvang van die ontwikkelingstadium van beroeps- en ander belangstellings waartydens die aanvanklike indrukke oor beroepe duideliker uitkristalliseer. Daarna volg die eksplorasiefase waartydens tentatiewe idees oor byvoorbeeld beroepsvoorkeure gevorm en vasgelê word.
Dit stem in ’n mate ooreen met Ginzberg (in Davenport en Padwick 2025) se teorie oor die ontwikkeling van kinders se loopbaandoelwitte – naamlik die fantasiefase (11 jaar en jonger), die tentatiewe keusefase (11 tot 17 jaar) en die realistiese keusefase (17 jaar en ouer) – asook met Gottfredson (in Davenport en Padwick 2025) se siening dat kinders se loopbaanaspirasies tussen 3- tot 11-jarige ouderdom gegrond word op hul ontwikkelende begrip van fisiese grootte, geslagsverskille en prestige.
Van Eeden verskaf ’n literêr-filosofiese voorstelling van die kind se verbeeldingswêreld, terwyl Ginzberg en Gottfredson sielkundig/loopbaanontwikkelingsraamwerke bied, waarbinne die geleidelike wegbeweeg van fantasie na meer realistiese beroepsaspirasies verduidelik word.
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Schoonees, Snijman, van Blerk, Wessels, Schonees, Swanepoel, de Villiers, du Toit, Odendaal en Hauptfleisch 1972:479) omskryf idealisering as konsepformasie wat op ’n voorstelling van die werklikheid gegrond is (byvoorbeeld ’n voorstelling van ’n ideale verhouding of rolmodel), eerder as konsepvorming wat op die konkrete werklikheid gebaseer is. Idealisering kom dus neer op ’n abstraksie van die werklikheid, wat voortspruit uit die interaksie van verskeie breinareas.
Watter sielkundige faktore sou kon meehelp om konsepformasie by ’n jong kind sinvol te realiseer? Of anders gestel: Hoe word ’n aanvanklike ideaalfantasie tot ’n volhoubare doelwit ontwikkel? Die selfbeskikkingsteorie (Cherry en Susman 2026) beklemtoon dat selfstandige keuses normaalweg met intrinsieke motivering gepaard gaan. Hiervolgens word intrinsieke motivering bepaal deur veral drie basiese sielkundige behoeftes, naamlik selfstandigheid (behoefte om in beheer te wees van omstandighede en om self keuses uit te oefen), bekwaamheid (behoefte om ervaring op te doen en in staat te wees om nuwe vaardighede aan te leer) en verwantskap (behoefte om binne die konteks van vertrouensverhoudings ondersteuning te ontvang). Wanneer aan hierdie behoeftes voldoen word, ervaar die persoon ’n sterk gevoel van intrinsieke motivering. Indien hierdie behoeftes egter verwaarloos word, kan intrinsieke motivering en selfvertroue daardeur benadeel word.
Oordrewe idealisering
Deur ’n psigoanalitiese lens beskou, kan oordrewe idealisering as ’n verdedigingsmeganisme geïnterpreteer word. Dit word gesien as ’n sielkundige gewoonte met negatiewe implikasies vir geestesgesondheid. Die positiewe eienskappe van die objek of situasie word oorbeklemtoon, terwyl die tekortkominge bewustelik geminimaliseer word. Hierdie tipe verdedigingsmeganisme word aangewend om die self- of eiewaarde te beskerm teen gevoelens van ambivalensie teenoor die geïdealiseerde objek (Bachert 2023).
Dit blyk dus duidelik dat nie alle sterk kinderlike ideale noodwendig uitvoerbaar en realisties is nie, omdat dit met oordrewe idealisering sou kon gepaard gaan.
Anne McClain
Met inagneming van die fundamentele beginsels van die selfbeskikkingsteorie, bestaan daar nuttige alledaagse voorbeelde wat bevestig dat oorspronklike ideale nie onveranderd realiseer nie. Ter illustrasie word die geval van Anne McClain (Jones 2026) van Spokane, Washington gebruik, wat daarop dui dat beroepsideale wat gedurende die kinderjare posgevat het, later tydens die vroeë volwasse of volwasse lewensfase op ’n realistiese wyse verwesenlik kan word. Anne was reeds vanaf 3-jarige ouderdom vasberade om ’n ruimtevaarder te word. Sy het gereeld saam met haar ouers na NASA-lanseringsprogramme op televisie gekyk, wat haar belangstelling as ’n visuele en ouditiewe prikkelvoorwerp gestimuleer het. Sy het aan die West Point Militêre Akademie gegradueer en daarna nagraads in Engeland gestudeer. Sy het as ’n vlieënier in die VSA/Irak-oorlog gedien met meer as 800 gevegsure op haar kerfstok. Daarna het sy die Amerikaanse vloot se Toetsvlieënierskool bygewoon, waartydens sy haar vliegure tot meer as 2 000 met 20 verskillende vliegtuie opgestoot het (Space Center Houston 2019). Hierna is McClain gekies as ’n NASA-ruimtevaarderkandidaat in 2013 en in Desember 2018 gedurende haar eerste ruimtevaart na die Internasionale Ruimtestasie gelanseer.
Haar ideaal het nie bloot oorvereenvoudig bly voortbestaan nie. Dit is geleidelik deur kennis, ervaring, opleiding, vasberadenheid en realiteitsbewustheid herdefinieer en tot praktiese uitvoer gebring.
Die Willys
Benewens televisieprogramme, kan ’n wye verskeidenheid prikkelvoorwerpe dien as die basis of spreekwoordelike vonk in die kruitvat waarop ’n verskeidenheid ideale gebou word.
’n Eenvoudige persoonlike voorbeeld is die Willys Jeep-speelding (of Dinky Toy van Meccano Ltd, Engeland) wat ek op my vyfde verjaarsdag as geskenk gekry het. Dit was bloot ’n fisiese objek, maar tussen my en die Willys het mettertyd ’n hegte band ontstaan. Ek het selfs dikwels in my nagtelike drome “gesien” hoe ek en my pa ons viermanbootjie wat in die Gordonsbaaise hawe voor anker gelê het, teen die skeepshelling met die Willys uitsleep.

Foto: voorsien deur die skrywer. Oorspronklike Willys Jeep Dinky Toy 1954.
Later gedurende my graad 11- en 12-skooljare het ek in die Geskiedenisklasse kennis gemaak met die logistieke knelpunte gedurende Wêreldoorloë 1 en 2 en het verder kon lees oor die rol wat die Amerikaanse Willys Jeep- militêre uitgawe (1941–1945) tydens die Tweede Wêreldoorlog in hierdie verband gespeel het, met hul Go-Devil-viersilindermasjiene.
Tydens my universiteitsjare het my belangstelling in die viertrek-kortasafstand- (SWB-) Willys nog verder gegroei, veral tydens hewige debatte wat gereeld opgeduik het oor die voor- en nadele wanneer die Land Rover en Willys (spesifiek die short wheelbase-modelle) met sterk en oortuigende argumente met mekaar vergelyk is.
Toe duik ’n wonderlike geleentheid uiteindelik in 1972 op om ’n kosbare 1946 Willys CJ2A SWB aan te skaf. Dit was tydens ’n vriend se verjaarsdagfunksie op ’n plaas waar ek die Willys opgemerk het wat in ’n skuur geparkeer staan. Die boer en eienaar van die plaas het ingewillig om dit te verkoop en ek moes reëlings tref om die Willys, wat op daardie stadium ongelisensieer was, padvaardig verklaar te kry en te restoureer.
Die eindproduk was ’n groot sukses. Ek en my bergklimmersvriende kon byvoorbeeld met die toestemming van die betrokke plaaseienaar(s) tot relatief naby aan die diep klowe in die Limietberge (Slanghoek) ry en vandaar toegang verkry tot die pragtige 13 km Bobbejaansrivierstaproete wat vanaf die Limietberge deurgang bied na die destydse Bainskloof Hotel wat by die Eerste Tol geleë is.
Die Willys was, veral gedurende die wintermaande, geneig om ’n neerslag van vogtigheid aan die binnekant van die vonkpropverdeler se deksel te ontwikkel. Die enigste oplossing was om WD-40 (’n vog-absorberingsmiddel) aan die binnekant van die vonkverdeler te spuit. Dié oplossing het goed gewerk, maar dit was ook sover soos my kennis gestrek het aangaande die oplossing van die Willys se elektriese kwale wat, soos verwag kan word, met verloop van tyd kop uitgesteek het.
Op ’n bepaalde dag het ek met die Willys gery en net voor Villiersdorp by ’n vrou stilgehou wie se motor onklaar geraak het en langs die pad met oop masjienkap geparkeer gestaan het. Volgens haar het die masjien eenvoudig “uitgesny” en het die motor onmiddellik gaan staan. Ek het met jeugdige selfvertroue die vonkverdeler se deksel losgemaak, die punte liggies gewikkel en met WD-40 bespuit, wat ek toevallig by my gehad het, en siedaar, daar skakel die masjien aan. ’n Heldedaad is op ’n heel toevallige wyse verrig met geen of uiters beperkte kennis van die oorsaak van die probleem.
’n Ernstige dilemma het opgeduik toe ons op ’n hengeluitstappie (weer eens die gevolg van jeugdige oorhaastigheid om by die hengelwater uit te kom) die Willys tydens springgety op die seesand onder die hoogwatermerk geparkeer het. Gelukkig kon ons hom verskuif net voordat die bruisende seewater hom permanent na ’n watergraf sou meesleur.
’n Verdere hoogtepunt vir my was toe ’n goeie en gewaardeerde vriend ’n versoek rig om die Willys as troukar te gebruik om hom na die kerk te vervoer, met my en sy broer as strooijonkers agter die stuur. Dit het die veeldoeligheid van die voertuig onderstreep.

Foto: voorsien deur die skrywer. Die Willys as troukar. Op die foto verskyn Jacques Brink, Daniël Brink en Handré Brand.
Vandag sou die 1946-model Willys CJ2 SWB ’n pragtige antieke versamelaarstuk gewees het. Die effek van die wêreldwye brandstofkrisis gedurende die laat sewentigerjare het egter sy tol begin eis, veral wat die swaar brandstofverbruik van die Willys betref, sowel as die beperkte beskikbaarheid van noodsaaklike en oorspronklike onderdele vir die voertuig se instandhouding. Die afskeid was swaar toe die nuwe eienaar die geliefde Willys kom haal om sy boot by Houtbaai se hawe te lanseer. My herhalende drome oor Gordonsbaai se sleephelling is op ’n eienaardige manier bewaarheid.
Ten slotte
Kinderlike ideale kom aanvanklik dikwels as fantasiegedrewe en geïdealiseer voor, maar dit beteken nie noodwendig dat dit uitsluitlik op blote romantisering neerkom nie. ’n Aanvanklike ideaal kan, indien dit deur intrinsieke motivering, welmenende volwasse ondersteuningsbronne en blootstelling aan die werklikheid gevoed word, geleidelik transformeer na ’n volwasse en realistiese aspirasie. Die primêre onderskeid lê dus nie noodwendig tussen kinderlike fantasie en volwasse realiteit volgens ’n binêre verdeling nie, maar veel eerder hoe doeltreffend idealisering bestuur word in terme van realistiese verfyning en fokus, asook ’n waaksaamheid teen oordrewe idealisering.
Bibliografie
Bachert, A. 2023. What to know about idealization and mental health. Charlie Health, 8 Mei. https://www.charliehealth.com/post/what-to-know-about-idealization-and-mental-health (26 Augustus 2026 geraadpleeg).
Boekverslag. 2001. De kleine Johannes door Frederik van Eeden. Scholieren.com. https://www.scholieren.com/verslag/boekverslag-nederlands-de-kleine-johannes-door-frederik-van-eeden-46587 (22 Augustus geraadpleeg).
Cherry, K. en D. Susman. 2026. How self-determination theory explains motivation. Verywell Mind, 20 Junie. https://www.verywellmind.com/what-is-self-determination-theory-2795387 (28 Augustus geraadpleeg).
Davenport, C. en A. Padwick. 2025. Making their minds up: flux and stability in young children’s career aspirations in North East England. Humanities & Social Sciences Communications, 12(1):1038. https://doi.org/10.1057/s41599-025-05364-z.
Jones, J. 2026. Raising an astronaut ... or a scientist, or an inventor, or an engineer: STEM programmes prep kids for the future. Inlander, 9 Februarie. https://www.inlander.com/healthandhome/raising-an-astronaut-or-a-scientist-or-an-inventor-or-an-engineer-stem-programs-prep/article_7081990f-0204-5af7-99a3-9689d3963094.html (26 Augustus 2026 geraadpleeg).
Schoonees, P.C., F.J. Snijman, N. van Blerk, A.C. Wessels, L.J. Schonees, C.J. Swanepoel, A.J.D. de Villiers, S.J. du Toit, F.F. Odendaal en D.C. Hauptfleisch 1972. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Vierde Deel H-I. Pretoria: Die Staatsdrukker.
Snyder, C.R. 2002. Hope theory: rainbows in the mind. Psychological Inquiry, 13(4):249–75. https://doi.org/10.1207/S15327965PLI1304_01.
Space Center Houston. 2019. Astronaut Friday: Anne McClain. Space Center Houston, 26 April. https://spacecenter.org/astronaut-friday-anne-mcclain/ (26 Augustus geraadpleeg).
Lees ook:

