Oor grense deur Ton Vosloo: ’n lesersindruk

  • 0

Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering
Ton Vosloo
Jonathan Ball Uitgewer
ISBN: 9781868428861

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Oor grense is ’n memoir van die joernalis en voormalige grootbaas van Nasionale Pers (later Naspers) Ton Vosloo. Kenmerkend van ’n memoir is die gebrek aan volledigheid; so is dit dan ook in die geval van hierdie boek. Die geskiedenis van Naspers is alreeds redelik volledig gedokumenteer in boeke soos Sonop in die Suide: Die geboorte en groei van die Nasionale Pers 1915–1948 deur CFJ Muller, Oor grense heen: op pad na ’n Nasionale Pers, 1948–1990 deur WD Beukes en Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990 deur WD Beukes. Teenoor hierdie geskiedenisboeke bied Oor grense iets veel makliker verteerbaar, en daar word ook ’n bietjie verder as 1990 gekyk, sommer ook in die toekoms van die Afrikaanse media in, en ook na die toekoms van Afrikaans self.

Hoewel die boek nie ’n outobiografie is nie, en ook dus nie chronologies geskryf is nie, delf Vosloo tog in die eerste hoofstuk in sy jeugjare asook sy eerste jare in die media. Van daardie punt af is die hoofstukke eerder volgens onderwerp verdeel as volgens chronologiese tydsverloop. Die memoires bevat weinig van sy persoonlike lewe; by sy eie bekentenis “skryf ek oor my loopbaan en weinig oor my persoonlike lewe” (285). Dit kan ook nie anders nie, want wat Vosloo oor sy loopbaan te skryf het, is reeds ’n mondvol.

Heelwat van die inligting in die boek sal reeds aan sommige mense bekend wees, veral diegene met ’n lewendige belangstelling in die geskiedenis van die Nasionale Pers. Daar was die platgeslane Afrikanervolk na afloop van die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902), die rol van die Nasionale Pers se publikasies in die opheffing van wit Afrikaanssprekendes, Nasionale Pers as mondstuk van die Nasionale Party van generaal JBM Hertzog (1866–1942). Dan is daar die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 en die implementering van die beleid van apartheid. Die tuislandbeleid. Die ontstaan van die verligtes-en-verkramptes-stryd onder Afrikaners, en uiteindelik die onderhandelde oorgang van 1994. Vosloo doen spesiaal moeite om aan te dui hoe die Nasionale Pers se koerante, veral in die vorm van Die Beeld (later Beeld) en Rapport, die verligte saak gedienstig was, en op dié manier ook ’n bydrae gelewer het tot die oorgang van Suid-Afrika van ’n minderheidsregering na ’n demokrasie. Dit is ’n saak waarna Vosloo herhaaldelik terugkeer; mens wil byna sê tot vervelens toe, maar sy punt is duidelik.

Suid-Afrika se sedebewakers het teen 1976 besluit om televisie die groen lig te gee, en op sy beurt het televisie die koerante ’n geweldige knou toegedien, want nou was adverteerders agter lugtyd op die beeldradio aan en het die koerante se inkomste dramaties getuimel. Die storie van Nasionale Pers is miskien in essensie hoe dit daarin kon slaag om by veranderende tegnologie aan te pas. Dit is vandag nog so met dié maatskappy, dat dit darem georganiseerde pogings aanwend om by tegnologiese veranderinge aan te pas. Op dié manier het Suid-Afrika M-Net (Electronic Media Network) in 1986, en in die proses Egoli en Carte Blanche gekry en uiteindelik ook DStv en kykNET. Vosloo dokumenteer ook iets van Nasionale Pers se ondernemings in die res van die wêreld, byvoorbeeld in China, en verduidelik dat die media eintlik deesdae slegs 6% uitmaak van waarmee Naspers deesdae besig is.

Daar is ’n interessante hoofstuk oor Nasionale Pers se uitnodiging om ’n voorlegging aan die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) te maak. Benewens individuele sake het die WVK se sittings ook institusionele sessies gehad, waar organisasies en maatskappye genooi is om te getuig oor hulle skuld aan die sisteem van apartheid. Nasionale Pers het nooit so ’n voorlegging gemaak nie, en is uiteraard hewig daarvoor gekritiseer, maar ’n groot aantal van dié maatskappy se werknemers het besluit om skuld te erken. Dit help natuurlik in hierdie tipe boek as jy kan skryf oor jou etes en uitstappies saam met die voormalige president Nelson Mandela (1918–2013), wat dan ook gebeur in ’n hoofstuk getiteld “St Nelson en ek”.

Daar is ’n hoofstuk oor Afrikaans in die post- 1994 Suid-Afrika wat maar ’n droewige prentjie skets. Wat lofwaardig is van hierdie hoofstuk, is dat Vosloo nie doekies omdraai soos wat dikwels gebeur wanneer daar oor taal in Suid-Afrika gepraat word nie. Hy skryf oor Afrikaans onder meer as volg: “Die radio- en televisieprogramme, popfeeste, kunstefeeste, sepies, liedjies en populêre tydskrifte in Afrikaans gaan voort, en skep ’n misleidende gevoel dat die water ten minste nog lou is. Maar die stryd om Afrikaans as amptelike taal op alle terreine te laat geld, is verloor. En ’n taal wat nie amptelik gebruik word nie, sal ’n kreefetang gaan” (253). Vosloo is krities oor Solidariteit se pogings om Afrikaans te bevorder, want hulle “skrik bruin mense af” (260). Hy skryf ook van sy en andere se onsuksesvolle pogings om iets aan die ondergang van Afrikaans te doen, maar eindig op ’n vae noot deur te verklaar dat die laaste hoofstuk oor Afrikaans nog nie geskryf is nie. Hy hoop skynbaar op ’n wonderwerk.

Soos reeds aangedui, bevat Oor grense baie inligting wat vir die gemiddelde belangstellende persoon van Suid-Afrikaanse geskiedenis reeds oorbekend sal wees. Nogtans is die boek die lees werd, veral omdat dit baie inligting dokumenteer oor Naspers se geskiedenis sedert die ontstaan van die internet, en ook omdat dit Vosloo se perspektief op van die gebeure uit sy lang loopbaan gee. In een van die meer omstrede paragrafies in die boek verwys Vosloo na die 1992-referendum. Hy verwys herhaaldelik na die geskiedkundige Hermann Giliomee wat hy beskryf as “’n goeie vriend” (260), maar skryf oor die 1992-referendum dat dit bewys het dat die meeste blankes die een-mens-een-stem-beginsel aanvaar het (139). Dit is ’n ope vraag of die referendum ’n instemming was tot meerderheidsregering, of slegs ’n mandaat vir verdere onderhandelings, ’n vraag wat Giliomee onder meer in sy nuutste boek The rise and demise of the Afrikaners bespreek. Ek het my eie vermoedens oor die saak, en ek hoop om iewers die tyd te kry om Giliomee se boek te kan lees.

Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering – ’n resensie

Oor grense deur Ton Vosloo – ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top