Oor grense deur Ton Vosloo – ’n resensie

  • 4

Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering
Ton Vosloo
Jonathan Ball Uitgewer
ISBN: 9781868428861

Om ’n boek te skryf en te laat publiseer, is ’n meer blootstellende ervaring as wat algemeen besef word. Wanneer dit eerlik en uit die hart uit gedoen word deur iemand met openbare statuur, is dit sowel nuuswaardig as dapper en riskant – dit maak die skrywer tot skyf.

Ton Vosloo se rol as joernalis en mediahoof beteken dat geen bekendstelling nodig is nie. Sy outobiografiese vertellinge, Oor grense, bied ’n eie blik op die vorming van ons veranderde samelewing en sy rol daarin.

Dit is ’n lekkerlees-boek, veral as jy in die nuus en die joernalistiek belangstel. Die vloeiende styl word met uitstekende staaltjies gesout en gepeper. So is daar die volgende twee wonderlike staaltjies, albei op bl 19, oor twee eerbiedwaardige en uiteenlopende politici, Helen Suzman en De Villiers Graaff:

Oor Helen het ek ’n storie. Sy het, soos wat algemeen bekend is, ’n affair gehad met die leier van die Progs, dr Jan Steytler. Dinsdag was vraetyd in die parlement en die lid (wat die vraag gestel het) moes gewoonlik teenwoordig wees vir die antwoord. Steytler het ’n vraag op die lys gehad. Toe die speaker die vraag stel, was nóg Helen nóg Steytler in die raad. Toe die speaker vra waar Steytler is, het minister Paul Sauer, wat met sy kop op sy hande gerus het, soos blits uitgeroep: “To Helen gone!”

Sir Div was ’n beskaafde, eerbare persoon, en nie sonder ’n sin vir humor nie. Toe hy destyds die posisie as leier van die Verenigde Party en dus leier van die opposisie aanvaar, vra ’n joernalis hom wat vir hom die lekkerste ding vir ontspanning is. Hy antwoord: “Wel, dit hang af. En as dit afhang, is visvang die lekkerste."

So is daar vele en diverse staaltjies oor persoonlike ontmoetings met HF Verwoerd, Nelson Mandela, FW de Klerk, PW Botha en Robert Mugabe, John Vorster en vele sake- en sportlui – ’n skatkis van herinnering.

Hoewel Vosloo in later jare ’n meer as nabye verhouding met die Nasionale Party sou ontwikkel, was sy Afrikanernasionalisme in sy jeug genadiglik louerig (10) – sy pa was sowel ’n Vrymesselaar as ’n rooilus – iemand wat in Noord-Afrika gaan veg het as deel van Jan Smuts se oorlogspoging in die Tweede Wêreldoorlog.

Wanneer hy sy joernalistieke helde lys, is die Bloedsap Piet Beukes as redakteur van Die Landstem dan ook een van hulle. Wat ook al sy keuses as jong man by die stembus of as persbaas later (meer hieroor binnekort), hy was sekerlik geen onnadenkende NP-dweper nie.

Heelwat van sy boek gaan daaroor dat die Nasionale Pers as voorloper van Naspers wel ’n mate van afstand van die Nasionale Party gehandhaaf het, en geen Hansie-my-kneg was nie.

Dis nogal ’n opspraakwekkende teenspraak tot hoe baie mense dit onthou, en sy eie vertellings in die boek, spesifiek oor hoe die Nasionale Pers "vir PW eerste minister gemaak het"  en hoe hy self sentraal in PW Botha se vervanging deur FW de Klerk gestaan het (met die Nasionale Pers se nuusblaaie wat gedienstig ingeval het) spreek nogal van die teendeel.

Nie die hoogtepunt van die boek se logiese gang nie, sou mens stellig wou beweer.

Dit geld ook die behandeling van Lang David de Villiers en Dene Smuts (156 en 160) deur die Nasionale Pers die oomblik toe hulle die Onafhanklike Beweging van 1987 steun, maar dis presies hier waar Vosloo se eerbaarheid in die vertelling deurslaan.

Dit verg sekerlik heelwat om na al die jare te erken dat jy verkeerd was, veral as jy so hoog vlieg as wat Vosloo as voormalige voorsitter van Nasionale Pers en Sanlam onteenseglik doen. Daaruit kan ons almal leer, want ons almal maak foute.

Dieselfde geld die hantering deur die Naspersleiers en Vosloo persoonlik van die WVK-voorlegging deur sommige van sy personeel in 1997. Duidelik het Vosloo (soos seker enige denkende mens se reg is) by nadenke nog nie sekerheid oor eie optrede nie, en hy verduidelik sy standpunte – lojaliteit wat ’n definitiewe afwysing van die maatskappy se rol verhoed, duidelik – ook vir diegene van ons wat beslis daarmee verskil het, en steeds verskil.

Uiteindelik lees mens tog sekerlik ’n outobiografie om die subjek te verstaan eerder as om volkome met hom saam te stem, en daar is eerlikheid eerder as geheueverlies, bewieroking of veranderende voetwerk verkieslik, of hoe?

Dit gaan in die finale instansie om begrip, nie instemming nie – en oor geskiedenis soos dit werklik was vir die ooggetuie – Leoplod von Ranke se “Geschichte wie es eigentlich gewesen war”, uit die hoek van die skrywer.

Vosloo verduidelik verligtheid as "die wil om te verander" en neem ons op ’n reis van sy belewing van hoe dit gehelp het met demokratisering. Dis duidelik, of mens nou met sy sienings saamstem of nie. Dis voorts kennelik so dat hy nie van jou verwag om met hom saam te stem nie – hy stel sy saak en jy kan daarmee maak wat jy wil.

Natuurlik vertel Vosloo ook die verhaal van hoe Naspers van Afrikaanse mediamaatskappy tot wêreldreus gegroei het, en oor hoe Koos Bekker eers deur ’n telefoonoproep uit Amerika homself aangemeld het, om later as talisman te ontpop. Dis ’n verhaal wat baie mense sal aangryp, van naby vertel.

Daarom dra dit nogmaals tot die boek by dat hy – baie diplomaties en ongedetailleerd, maar definitief – nie die uitval vergeet wat hy en Bekker by die bestekopname van Naspers se geskiedenis gehad het en wat sy uittrede ietwat versuur het nie.

Hierdie is ’n heerlike boek vir enigeen wat belangstel in ons land se geskiedenis en spesifiek sy koerantgeskiedenis. Die Afrikaanse persstryd, die loop van ons geskiedenis, die getuies van groot tye en die mense wat die nuus gemaak het, word afgewissel met skreeusnaakse staaltjies – ’n gunsteling is die een oor die Bloemfonteinse magnaat Bill Troskie, sy sekretaresse en wat die skrywer Mikro haar woeps sou noem.

Dis ’n voorslagverhaal uit die pen van ’n meesterstorieverteller, en ’n verhaal vertel uit sy hoek. Lees dit gerus met ’n oop genoeg gemoed om met sommige dele saam te stem en met ander te verskil, maar wees voorbereid op ’n wipwarit wat beslis deurgaans opwindend bly.

 

  • Jan-Jan Joubert is ’n onafhanklike politieke joernalis en skrywer. 

Oor grense deur Ton Vosloo: ’n lesersindruk

Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering – ’n resensie

  • 4

Kommentaar

  • Johnnes Comestor

    Vosloo se Afrikanernasionalisme word beskryf as "genadiglik louerig". Ek vind dit eienaardig dat diegene wat hulle deesdae van Afrikanernasionalisme distansieer, (meesal) nie dieselfde met swart of Afrika-nasionalisme doen nie.

  • Barend van der Merwe

    Ek verstaan nie wat jy skryf nie. Kan jy jou punt meer uitbrei. Verkieslik met 'n voorbeeld of twee.

  • Johnnes Comestor

    Barend, dat Afrikanernasionalisme verguis en swart of Afrika-nasionalisme geprys word, of ten minste nie veroordeel word nie, is onderliggend aan die politiek soos dit deesdae plaaslik en elders bedryf en beleef word. Ek is nie geneë om in 'n polemiek oor hierdie prominente verskynsel betrokke te raak nie - daar is sinvoller dinge om te doen.
    Nasionalisme het tydens en veral na die Tweede Wêreldoorlog in onguns verval vanweë die eensydige assosiasie daarvan met die Nazi's. In Suid-Afrika word Afrikanernasionalisme veral sedert 1994 verguis vanweë die assosiasie daarvan met apartheid. Pleks van nasionalisme te prys, word politieke saligheid deesdae in globalisme gesoek. Selfs regering deur die meerderheid kiesers in 'n land word nie as voldoende beskou nie. Die selfbeskikking of onafhanklikheid van iedere land word ondergeskik aan groter groeperings gestel, soos die Afrika-Unie, die Europese Unie of die Verenigde Nasies. Dit is die ideologie van globalisme, wat nie met globalisering, bv wêreldwye handel of die uitruiling van inligting via die internet, verwar moet word nie.
    In die 2de deel van Carstens en Raidt se boek, Die storie van Afrikaans, staan: "Swart nasionalisme is waarskynlik net so erg as wit nasionalisme" (bl 188), maar dit is wit nasionalisme, spesifiek Afrikanernasionalisme, wat in die res van die boek herhaaldelik veroordeel word terwyl dit glad nie met swart nasionalisme gedoen word nie.

  • Barend van der Merwe

    Dankie. Dat nasionalisme bestaan is 'n feit. Ek ervaar dit egter net as 'n vae los en vas verskynsel. Hoe meet mens dit? Hoeveel sogenaamde "Afrikaners" koop in op Afrikanernasionalisme? En wat behels sogenaamde Afrika nasionalisme? En hoeveel mense koop daarop in? Nasionalisme is iets waaroor ek maar redelik neutraal is. Of dit nou Afrika of Afrikanernasionalisme is. Beide is vir my ewe niksseggend. Dis net so niksseggend soos die woord "Christen". Dit kan enige iets beteken en behels.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top