
Foto van Ton Vosloo: Naomi Bruwer
Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering
Ton Vosloo
Jonathan Ball Uitgewer
ISBN: 9781868428861
Om nie vir grense te stuit nie.
Die memoires van die topjoernalis, Ton Vosloo, is presies net dit: herinneringe.
Dis die persoonlike deelname, insigte en kritiese kyk na ’n loopbaan van meer as 60 jaar in die tyd toe Suid-Afrika se grondverskuiwing van apartheid na ’n demokratiese regering plaasgevind het. Vosloo het ’n rol in daardie verandering gespeel.
Ook het hy ’n rol gespeel in die grense wat die media self moes verskuif van gedrukte media na internetmedia – ’n vreemde oord waarin hy sy eie voorliefde vir die gedrukte media toenemend verskraal sou sien.
Met sy gewone bedaarde selfspot karteer hy hierdie weliswaar opwindende reis van die seun wat sportmal was, wat reeds op skool beriggies begin skryf het, tot die dom besluit om vakke te kies wat hom van universiteit sou weerhou. Totdat hy nie net ’n goeie sportverslaggewer nie, maar ook ’n vertroude politieke joernalis, ’n leidinggewende redakteur en uiteindelik, heeltemal tot sy eie verbasing, die skakel tot die ontstaan van een van die wêreld se groot mediahuise (ja, dit is so!) sou word.
Daar was in die media groot afwagting vir hierdie boek. Nie net vanweë die merkwaardige rol van die man self nie, maar ook weens sy beroemde en soms bevraagtekende verhouding met Koos Bekker, een van sy protégés, wat mettertyd ook die belangrikste persbaas in die land sou word. Die Vosloo-Bekker-verhouding is die stoffasie waarvan rolprente, toneelstukke gemaak word.
In sy hoofstuk “Koos Bekker, die talisman” gee Vosloo insig in die ontmoeting tussen hom as pasaangestelde hoofbestuurder van ’n papierkoerantryk en die jong, stil entoesias vir betaaltelevisie, Koos Bekker, pas uit die VSA, waar hy ’n studie van betaalkanale gemaak het.
Bekker en sy vriend Cobus Stoffberg het reeds gesien dat die grafosfeer (druk op papier) vinnig bes sou begin gee tot die sg videosfeer.
Vosloo het in hierdie tyd as pleitbesorger by die persdireksie opgetree vir die jonger manne se geesdrif, siening en “can do”-houding.
Immers het hy self in 1983 ’n “can do”-houding getoon om die firma voor te berei vir maatskaplike en politieke veranderinge wat hy reeds as joernalis voorspel het.
So het ’n sosiaal gemaklike Vosloo en ’n sku Bekker die mediamilieu begin skud.
Benewens ’n hele klomp nuwe druktitels het interessante ondernemings soos MTN en kykNET ontstaan. Aanvanklik rukkerig; toe begin die groei aanskoulik met onder meer die “wonder van Tencent”. As internasionale speler het Naspers geskiedenis begin maak as voorkeuraandeel. (Hierdie boek is geskryf voor die huidige hekkie met Tencent.)
Die bekende Vosloo-Bekker-simbiose kry ’n rukwindjie toe daar met die pers se 100-jarige viering in 2015 die amptelike geskiedenis van die pers uitgegee sou word. (Hierdie omvattende manuskrip is deur Lizette Rabe, ’n mediakundige en hoof van die Joernalistiekdepartment op Stellenbosch, oor vyf jaar geskryf.)
Vosloo skryf dat Bekker nie geneë was met die publikasie van die boek nie, omdat dit ook op die verlede fokus. (Daar was inderdaad ’n tyd toe werknemers by Nasionale Koerante kontrakte geteken het dat hulle die strewe van die Ñasionale Party sou volg.) Vosloo het Bekker in ’n oop gehoor gevra om wel die boek te publiseer. Daar was daarna geen kwade gevoelens nie. Vosloo-Bekker sou saam in die mediageskiedenis oorleef.
Vosloo getuig steeds sy voorliefde vir papier en wys onder meer na Jeff Bezos, van Amazon-faam, wat The Washington Post in beide druk en digitaal uitgee. Vosloo, ’n sterk ondersteuner van ondersoekende joernalistiek, glo onder meer in die “dieper” delf van die gedrukte pers eerder as die vinnige inligting op die internet wat ook deur sosiale media beduiwel word.
Mag hierdie insig stu verleen aan ’n langer lewe van papier en ink.
Kommentaar
Uitstekend geskryf, dankie Martie!