
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die Spoegvanger
Skrywer: Stefanus S Vivier
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234751
...
Dit is ’n boek oor God en die Afrikaner, oor ontwaking en ontnugtering, maar dit is ook ’n boek oor soveel ander dinge.
...
Daar bestaan ’n aanhaling wat soms op die internet sirkuleer en wat ongeveer lui dat, vyf minute na ’n mens se geboorte word jy van ’n naam, ’n nasionaliteit, ’n etnisiteit en ’n godsdiens voorsien, en dan spandeer jy die res van jou lewe om daardie dinge te verdedig. Die internet vertel mens verder dat die aanhaling nie aan ’n spesifieke mens toegedig kan word nie, alhoewel dit soms verkeerdelik aan Amin Maalouf (1949–) of soms Edward Said (1935–2003) toegeskryf word. In die geval Die Spoegvanger is hierdie god “Die God van die gelofte. Die God van Bloedrivier. Die God van die Afrikaner.” (44). Die Spoegvanger word beskryf as ’n “plaasroman” en ook ’n “Bildungsroman”1, en beide klassifikasies is in die kol, want reeds voor die verhaal begin, verklaar ’n vooraf “vrywaring” dat sommige karakters in die boek werklik bestaan, maar dat dit nie suiwer geskiedenis is nie, en dat feit en fiksie in die verhaal vermeng word.
Dit is ’n boek oor God en die Afrikaner, oor ontwaking en ontnugtering, maar dit is ook ’n boek oor soveel ander dinge. Die verhaal wat op die walle van die Vaalrivier afspeel, gryp mens van bladsy een af aan en wil jou nie laat los nie, en omdat mens dadelik die indruk kry dat hierdie ’n verteller is wat uit sy eie komvandaan skryf, gekenmerk aan die plattelandse bestaan en die plaaslewe, met alles wat daarmee gepaard gaan, is die storie van meet af aan oortuigend. Dit is ’n wêreld waarvan iets ook aan my bekend is, maar nie ’n tydperk wat ek meegemaak het nie. In my eie geval, hoewel ek self ook as’t ware op die walle van die Vaalrivier grootgeword het, was daar ook die Noord-Kaap, waar baie boere nie so gretig “die 1838-Gelofte” herdenk het soos wat dit gebeur het aan die “Transvaal” en die Vrystaat kante van die grenslyne nie. Soos die verteller in die verhaal, was politiek ook iets wat grotendeels van ons af weggehou was, en tog was jy intens bewus van die roeringe onder die oppervlak.
As mens hierdie boek se tematiek in een sin kan opsom, dan sal dit soos volg gedoen kan word: My pa was ’n nasionalis, maar ek kon nooit daarmee vereenselwig nie. Hoeveel mense loop nie daar buite rond wat met so ‘n stelling kan assosieer nie? Dit is wat hierdie boek so aanloklik maak. Dit is geskryf in die tradisie van die postkoloniale roman, en mens herroep by die lees daarvan byvoorbeeld ook Karel Schoeman (1939–2017) se boek ’n Lug vol helder wolke. Die hoofprotagonis is die logiese opvolger op die plaas, maar hy pas nie in nie. Hy wil nie lekker vloei met hoe hy veronderstel is om te wees nie. In die geval van Die Spoegvanger is dit egter die nasionale politiek as tematiek, en nie hoofsaaklik die onderwerp van algemene identiteit nie, wat veral aan die orde van die dag staan. Schoeman se hoofkarakter toon byvoorbeeld weinig belangstelling in vroue, waar die verteller in Die Spoegvanger se seksuele ontwaking ’n natuurlike deel van die teks vorm, een waarin vroulike karakters deurslaggewend is. Op die plaas Wittedrift, in die distrik Potchefstroom, speel die verhaal van ’n anonieme hoofkarakter en sy grootwordjare af. Die vader-en-seun-verhouding staan sentraal in die storie, en bly tot aan die einde gespanne. Mens kry die indruk die naam Wittedrift ook fiktief is, en moontlik sinspeel op die nasionale strewes van die Afrikaner. Daar is talle boeke wat die politieke verskille onder Afrikaners belig, spesifiek binne families. Bram Fischer (1908–1975) en sy moeder Ella (1884–1964), het polities soos dag en nag verskil. Sy, die nasionalis, hy die kommunis. Maar dit het nie hulle respek en liefde vir mekaar geblus nie. Dit kom veral uit in die boek ’n Seun soos Bram deur Hannes Haasbroek (Umuzi, 2011). Mens dink ook aan Dana Snyman (1963–) se soort verhale. Snyman se boeke is legendaries vir die vele terugblikke op sy eie vader. En net soos in Snyman se boeke, is dit in Die Spoegvanger ook nie eenrigtingverkeer nie. Daar is meer as genoeg nuanse om die vertelling boeiend te hou. ’n Ander, meer klassieke voorbeeld sal wees J. van Melle (1887–1953) se Bart Nel, maar in laasgenoemde geval is dit die verhouding tussen ’n egpaar, eerder as ’n ouer en kind, wat onder die soeklig val. Die Spoegvanger is egter ook ’n boek oor verhoudinge met mense van ander rasse, en dit is veral die verteller se verhouding met die karakter genaamd “Hotnot”, wat ook ’n deurlopende sentrale lyn in die verhaal vorm.
Soos wat die tyd aanstap, so ervaar die verteller al meer en meer vervreemding van sy wortels, die Afrikaneridentiteit, wat verander van iets edel, na iets wat ongemak wek en veroordeel word – ’n tipiese trajek van postkoloniale letterkunde. Die boere bid hartstogtelik vir reën, maar die gebede word nie verhoor nie. Sekerhede wat eens as vanselfsprekend aanvaar was, verkrummel: “Ek het op die kraalmuur gaan sit en geluister hoe die nag om my saggies fluister, en gewag op die teenwoordigheid van God, maar om my het die stilte geskreeu” (166). Daar is ’n wêreld anderkant die grense van die Afrikanervolk, ver anderkant Uncle Charlies en die Voortrekkermonument. Ook die sterre in die hemelruim lewer hiervan ’n stil getuienis. En veral, die boeke wat hy by die biblioteek te lese kry…
...
Soos met ouer plaasromans, byvoorbeeld CM van der Heever (1902–1957) se boeke, skemer die romantiek van die Vrystaatse platteland en plaaslewe telkens deur in die verhaal.
...
Die Spoegvanger is nie ’n lywige boek nie, en beslaan maar sowat 186 bladsye, maar slaag besonder goed in die manier hoe die teks verskeie tradisies in een roman laat saamvloei. Soos met ouer plaasromans, byvoorbeeld CM van der Heever (1902–1957) se boeke, skemer die romantiek van die Vrystaatse platteland en plaaslewe telkens deur in die verhaal. Die verteller se konflik met die mense in sy omgewing, ondermyn nie sy liefde vir die grond en die landbou nie. Hy beeld homself egter deurlopend uit as verhelderd, veral in die manier hoe hy gedurig woorde opsoek in woordeboeke. In skrille kontras is die mense rondom hom, soos sy vader, wat die digter NP van Wyk Louw (1906–1970) se verse skeef interpreteer om by sy eie politieke oortuiginge te pas. Of sy maats wat hom as ’n “kafferboetie” (82) uitkryt. In die slothoofstuk duik daar eventueel dan ook postmodernistiese en nihilistiese elemente in die verhaal op. Die verteller gaan byvoorbeeld uiteindelik terug op sy spore na die plaas Wittedrift, maar: “Al het ek die plaas van hoek tot kant gefynkam, kon ek geen ander spore vind wat bevestig het dat ons daar was nie” (178).
Op pad na Wittedrift beweeg hy ook verby die digter Totius se ou plaas. J.D. du Toit (1877 – 1953), beter bekend as Totius, wat deurlopend in die boek ook as ’n pilaar van die Afrikanerkultuur voorgehou word, word beskryf as “die man van God aan wie Pa geglo het en wat vir die FAK gesê het apartheid is regverdigbaar uit die Bybel” (177). Ook Totius se plaas gaan ten gronde, ’n versinnebeelding van die niettigheid van die mens se strewe en bestaan? Die boek eindig egter nie met enige noemenswaardige ontknoping nie, slegs met ontnugtering, en die vae gedagte dat iets soms eers moet sterf vir iets nuut om gebore te kan word: “want nou weet ek dat as die koringkorrel nie in die grond val en doodgaan nie, sal dit nooit vrugte dra nie (181).
Hierdie “onvoltooide” ontknoping is wel ietwat onbevredigend, maar maak nie die verhaal minder oortuigend nie, inteendeel. Die 1838 Slag van Bloedrivier en die jaarlikse herdenking van “Geloftedag” staan sentraal in Die Spoegvanger. Waar “Geloftedag” in die eerste dekades na die historiese 1994-verkiesing afgeplat het, het die vraagstuk van Afrikanernasionalisme nooit volkome verdwyn nie, en is daar sedertdien weer ’n oplewing in die herdenking van die Geloftedag. Die opkoms van die internet en die verskynsel van podcasters, tesame met die invloed van organisasies soos Afriforum en Solidaritiet, sorg vir lewendige diskoerse rondom Afrikaner-etnisiteit in beide tradisionele sowel as sosiale media. Teen dié agtergrond staan ’n roman soos Die Spoegvanger as ’n somber herinnering van die donker kant van etniese nasionalisme. Dit vertel geensins die volkome storie nie, maar verskaf ’n ontnugterende blik op een van die hoofstukke van Afrikanernasionlisme.
Eindnota:
1 T. Hugo, Die Spoegvanger: ’n Lesersindruk, < https://www.litnet.co.za/die-spoegvanger-deur-stefanus-s-vivier-n-lesersindruk/>, Litnet, 17.09.2025.


