Onvertelde stories: Noord-Kaapse mondelinge-oorlewering-projek

  • 3

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl het van 8 tot 11 Mei 2017 die Noord-Kaap besoek om inwoners se stories op te teken. Janine Brown en Isabeau Botha vertel meer vir Menán van Heerden.

Waar kom die idee vir hierdie projek vandaan?

Ons wil graag ons museumversameling uitbrei om meer verteenwoordigend te wees van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap se taalerfenis. Die opteken van mondelinge oorlewering speel ’n belangrike rol in die bewaring van ’n taal en sy geskiedenis, veral om voorheen onvertelde en ongedokumenteerde geskiedenisse in te sluit. Dit sluit in om aan gemeenskappe en mense wat nie voorheen ’n stem gehad het nie, die geleentheid te bied om hulle stories te vertel. Ons wil ook graag gemeenskappe en skole bewus maak van die belangrikheid van storievertelling en mondelinge erfenis as ’n navorsingsmetode. Ons het tydens ons twee navorsingstoere na die Noord-Kaap ook as deel van ons leesprojek Laat ons Lees! 200 boeke aan elk van 11 laerskole geskenk (in samewerking met Biblionef) en by sewe van die skole ’n opvoedkundige program aangebied.

 Wat is die fokus van hierdie projek?

Dit vorm deel van ’n groter mondelinge-oorlewering-projek om die Noord-Kaapse kultuur en erfenis uit te bou en te bewaar deur middel van boekstawing. Die ATM het reeds stories in die Emthanjeni-, Renosterberg-, Kamiesberg-, Siyathemba-, Gamagara-, Thembelihle- en Siyancuma-munisipaliteite, asook in Orania, versamel.

Petrusville: Isabeau Botha saam met Willem Seekoei en sy kleinkinders (Foto: Janine Brown)

Waarom fokus die projek op die Noord-Kaap?

Eerstens is Afrikaans die grootste moedertaal in die Noord-Kaap (53,8% van 1,1 miljoen inwoners). Ons ervaring is egter dat tweede- en derdetaalsprekers in die Noord-Kaap Afrikaans goed magtig is, dit daagliks gebruik en ’n baie positiewe verhouding met Afrikaans as taal van bemagtiging het. Tweedens is daar baie onvertelde stories in die Noord-Kaap wat nog nie opgeteken is nie – stories wat verlore gaan soos wat dorpe kwyn en verdwyn, mense wegtrek en ouer mense (tradisioneel die storievertellers) nie meer die stories oor die ou dae kan vertel nie.

Het die ATM al sulke projekte onderneem, en beplan die ATM soortgelyke projekte vir die toekoms?

Ons het reeds verskeie mondelinge-oorlewering-projekte aangepak, waaronder die opteken van stories in Drakenstein in 2013 (in samewerking met Paarl Museum), in Porterville in 2013 ter viering van dié dorp se 100-jarige bestaan (in samewerking met Jan Danckaert Museum), asook kruiestories in die Langebergstreek in 2014 (in samewerking met Montagu Museum). Ons het ’n boekie oor elke projek gepubliseer wat gratis op die ATM se webwerf beskikbaar is.

In 2013 het ons ’n spesiale mondelinge-oorlewering-projek in samewerking met Esselenpark Primêr op Worcester ter viering van hul 60ste bestaansjaar onderneem. Dié projek is in 2015 by die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport se 2015-Kultuursake-toekennings as die Beste Nuwe Museumprojek bekroon.

Die skoolkurrikulum vir graad 4 sluit die saamstel van ’n museumuitstalling in. Ons het die skool se graad 4-leerders bygestaan om ’n interaktiewe museumuitstalling van alledaagse voorwerpe oor hul skool saam te stel, met byskrifte om daaraan betekenis te gee. Hulle moes verskillende vorme van inligting, waaronder foto’s, versamel. Hulle moes ook onderhoude met oudleerders en –opvoeders voer. Ons het die skool gereeld besoek om met onderhoudvoering te help en het ook ’n boekie oor die projek saamgestel (wat ook gratis op die ATM se webwerf beskikbaar is).

Ons beplan om in die toekoms mondelinge oorlewering in ander provinsies op te teken, onder andere in die Oos-Kaap. Ons wil ook ter viering van die ATM se 45-jarige bestaan in 2020 die storie van die ATM deur die oë van gewone mense, veral mense wat destyds by die oprigting en beginjare betrokke was, vertel.

Hoe gaan die stories bewaar word?

Al die stories word op video opgeneem en getranskribeer, waarna dit volgens temas ingedeel word. Alle materiaal, waaronder ook foto’s, word in die ATM se argief opgeneem. Ons het ook reeds taalverskynsels uit die Kamiesbergstreek in ons museumuitstalling en opvoedkundige programme ingesluit.

Ons beplan om temagebonde artikels op ons webwerf en op ander platforms, waaronder ons portaal op LitNet, te publiseer. Ons hoop om later ’n versamelbundel uit te gee.

Wie se stories het julle die meeste opgeval?

Die temas wat ons telkens in die Noord-Kaap raakloop, sluit in:

  • water (waaronder stories oor droogte, die waterslang, windpompe, putte, fonteine en boorgate)
  • koserfenis (waaronder disse, resepte en gaarmaakmetodes eie aan sekere dorpe en streke)
  • taalidentiteit (nuutskeppings, streekstaal en variëteite) en volkswoordkuns (byname, speletjies en gesegdes)
  • vervoer as lewensaar (hoe mense en dorpe (én spookdorpe) se wel en weë deur die spoorweë en paaie beïnvloed is).

Ons het wonderlike mense ontmoet wat elkeen ’n unieke storie te vertelle het. Soos oom Jan Mitchell van Olifantshoek wat vertel hoe hulle kleintyd tameletjie in ’n miershoop gemaak het; tannie Siena (Nannie) van Nel van Prieska met haar pa se kabaailiggie uit die myn en haar lekker lag oor haar eie vrylampie; oom Willem Olivier (oom Voël, omdat hy so vinnig kan werk) van Marydale met sy unieke posbus en deurklokkie; oom Johannes Blaauw (oorspronklik van Putsonderwater) wat verduidelik hoe ’n mens skilpad gaarmaak; en oom Flip Crouse, voormalige burgemeester van Kuruman, wat sy herinneringe aan sy ontmoeting met Nelson Mandela met ons deel. En op Orania het Joost Strydom vir ons nuwe woorde soos kiepkoepel (’n verskuifbare hoenderhok), swartbontes (Liqourice All Sorts) en flitspen (highlighter) geleer.

Siena van Nel (Nannie) van Prieska met haar pa se kabaailampie (Foto: Isabeau Botha)

Willem Olivier (Voël) van Marydale en sy tamatieblikkie deurklokkie (Foto: Isabeau Botha)

Janine Brown en Johannes Blaauw in Marydale (Foto: Isabeau Botha)

Op 8 September 2016, Wêreldgeletterdheidsdag, het Mervyn Swart ons genooi om ID du Plessis se graf te besoek op die plaas Houtkraal buite De Aar.

ID du Plessis se graf (Foto: Isabeau Botha)

Buite Philipstown op die plaas Rooipoort (waar hulle eers in 1994 krag gekry het) het ons die heerlikste ingelegde kwepers geëet en is ons huis toe met resepte vir pofadder, skaappeertjies en ystervark. Op Hanover het ons verneem dat jy ystervarkpenne moet fynmaak en die poeier in water kan drink as hulp vir pyne. 

Op Rooipoort is ons vertel van ’n weduwee wat gesê het dat sy nie weer man gaan vat nie, want “’n donkie wat deur die Here uitgespan is, mag geen mens weer inspan nie”. Regina Seekoei op Petrusville het weer vertel van Oumie Berta Cramer wat ná haar man se afsterwe gesê het: “My oorle man is dood, nou kan ek ook die askoek dans.”

Ons het baie weergawes van stories oor die waterslang opgeteken; ook op Petrusville, waar ’n regte slang (darem agter glas) die slaghuis se weergawe van ’n alarm is!

Wat ’n mens oral opval, is die vriendelikheid van mense ten spyte van groot werksloosheid, armoede en probleme soos drankmisbruik. ’n Plaasnaam soos Wet en Orde is in sterk kontras met ’n woonbuurt genaamd Vullisgat. Ons was saam hartseer oor museums en skole wat toegemaak het en skoolkoshuise wat vervalle staan terwyl plaaskinders ten duurste op die dorp moet loseer of kilometers ver elke dag taxi moet ry.

Ons besoek landelike skole waar die skoolklok soos in die ou dae steeds met die hand gelui word, waar (amper ook soos in die ou dae) 50 kinders van vier verskillende grade in een klas is (dit wil gedoen wees!), maar, dankie tog, darem net stories oor leie en griffies!

Die Noord-Kaap voel dus omtrent soos die A tot Z van Afrikaans, amper soos oom Flippie de Bruin se optekening van hoe hy en die ander kinders op Olifantshoek tussen 1920 en 1930 die alfabet geleer het (oorvertel deur Sarah du Pisanie):

A is ’n aap
B is ’n bees
C was amper ’n sekel gewees
D is ’n donkie hy skop agter op
E is ’n eend met ’n bles voor die kop
F is Flippie met die pyp in die mond
G is ’n graaf om te spit in die grond
H is ’n huisie waar ’n vuurtjie in brand
I is ivoor ’n olifanttand
J is ’n juk vir die osse se nek
K is ’n kalfie wat nog later moet trek
L is ’n lepel
M is ’n mes
N is die naam van ’n voëltjie se nes
O is ’n oor
P is ’n perd
Q is sommer ’n o met ’n stert
R is ’n roos
S is ’n slang
T is ’n tier wat ’n kalfie wil vang
U is ’n uurwerk ons noem dit ’n klok
V is ’n varkie hy staan in die hok
W is ’n wolkie daar bo in die lug
X is ’n kruisie hy lê op sy rug
Y is ’n yster hy deug vir ’n paal
Z kry ons min in die Afrikaanse taal.

Wel, interessante stories kry ons baie in die Afrikaanse taal, veral in die Noord-Kaap! Elke dorp in die Noord-Kaap is ’n stowwerige skatkis van stories, elke grondpad lei na verrassings soos hanskoedoes, San-tekeninge en geen selfoonontvangs; elke mens wat jy ontmoet is ’n hele wêreld wat wag om ontdek te word. Soos een tannie gesê het: sy is dankbaar vir ons kuier en ons moeite met die projek, want dit “prikkel jou geheue”.

Quaggafontein buite De Aar: ’n Mens wil eintlik graag by elke windpomp en by elke fonteinnaambordjie stop om ’n foto te neem! (Foto: Isabeau Botha)

Waterslang-stories

– Nog ’n ding van die slang: Ons was altyd bang – ons het maar net gehoor die oumense praat mens nou maar bang. Jong, die slang bly hier bo by die tweelingdam. Baie van die kinders het altyd gesê: “Jong, daar’s ’n slang, ’n waterslang.” Nou wil ek mos altyd weet hoe lyk dié waterslang. Dan sê sy: “Dis so ’n lang, dik slang met ’n menskop en dan is sy lyf soos ’n vis.”

Maar eendag is ons nou nuuskierig en wil nou die slang sien. Maar toe ons nou daar kom – jy sien maar net die water. Maar ek het nog nooit werklik die slang gesien nie, ook as ons altyd so rivier toe gaan. Eenkeer het ons daar by Vanderkloof se vakansieoord by die munisipaliteit gaan uitkamp. Toe was daar ’n jong kind ook geverdrink daar. Daar waar die bote afgaan. Toe hoor ek: “Nee, dis die slang wat hom daar so afgedruk het.”

Maar ons het hom nog nie self gesien nie. En as die water ook so onstuimig word, dan sê die mense mos: “Hy’s nou kwaad vir jou wat hom nou kom henner het en hy soek nou een van julle.”

Soos juffrou Beerwinkel sê: “In die wolke in. Dan sien ons maar die wolk wat gaan. Dan sien jy die wolk wat in die vorm van ’n stert afhang, dan sê hulle: ‘Die slang gaan nou ’n bietjie weer hier oor.’” – Maria Wilson, Petrusville

– My plaasmense wat saam met my gewerk het, was nogal bygelowig, reeds oor die fontein wat daar is. Die fontein het agt boorgate en hulle is uitgegrou. As jy nou binne die fontein staan, hy’s twee meter afgegrou tot op die bank, soos die oumense gepraat het van “op die vaalbank”. Dis op die harde ystergrensbank. En nou elke jaar val die grond in, en dan verswak die fontein, dan moet jy dit weer oopgrawe.

Toe’t my pa nou besluit tot hiertoe en nie verder nie, want dit vat omtrent veertien dae van jou tyd om dit weer oop te grawe. Toe gaan bou hy sulke sementkaste reg rondom die agt boorgate, en gooi vir hom concrete bo-oor, met ’n inspeksiegat wat jy kan inklim. En elke jaar moes ek nou daar inklim en dan loop ek en dan haal ek al die wortels uit.

Op ’n dag toe is ek en my mense nou weer daar – ons moet skoonmaak en so. Die een moet inklim, die wortels binnekant afbreek en aangee vir een, hy gee dit bo by die gat uit. Ek het die grap gemaak: “Wie klim vandag saam my hierin; jy moet net pasop vir die waterslang.” Dit was die einde gewees. In my 20 jaar wat ek daar geboer het, het ek alleen daarin geklim. Ek praat van maklik ’n 100 meter. Dit is ’n concrete-kas wat jy moet in loop. En omdat ek gesê het “Julle moet oppas vir die waterslang” en eintlik net ’n grap gemaak het, was dit my lot gewees. Vir 20 jaar het ek alleen daar ingeklim en daai wortels uitgehaal. My mense het gesê nee, hulle klim nie daarin nie, want die baas het gesê daar is ’n waterslang. – Johan van der Walt, Petrusville

In die omgewing van Petrusville het ons telkens verwysings na “dumplings” raakgeloop, ook genoem “waterbrood”, “pollekoek” en “dompeling”.

In die middae as ons uit die skool uitkom, was daar van die maats se ma wat so ’n groot pot gehad het, dan het sy geknie en dan het sy waterbrood gemaak. Wanneer ons nou gaan vir onse speletjies en dinge, dan kom vat elkeen net vir hom ’n stuk van daai waterbrood. Baie lekker.

Waterbrood

Jy kook die water en sit bietjie vet in dat die brood nie kan vasbrand nie en dan as jy hom klaar geknie het, dan vat jy vir hom bolle, sit dit in. Lekker groot bolle, sit dit in. So drie of vier sit jy in die pot in. Dan kook daai brood nou met die water. Ander het stokkies ingesit lat die brood nie kan onder vasbrand nie. En met die water dan word die deeg nou so gaargemaak. – Regina Seekoei, Petrusville

Springbokpeertjies

Ons noem dit sommer Karoo mushrooms. Ons eet hom maar. Maar as jy hom eenmaal geëet het, dan weet jy hoe dit proe. Baie ryk. Hy word baie mooi voorberei, baie mooi skoongemaak. En dan het my ma (Ina van der Walt) dit in krummels gesit en in die olie gebak. En daai Amerikaners eet vir jou, want hulle kom honger uit die veld uit. En vanaand dan, môreoggend, hoor jy maar die ou was siek gewees, so hy’s baie ryk. – Corné Stottelaar, Petrusville/Vanderkloof

Springbokpeertjies, skaapstertjies en ystervark rugvel resepte
Uit Doornfontein, Ina van der Walt se wildsvleisresepte

Springbokpeertjies
(of as die ramme te min was, kry skaappeertjies by Jurie by die slagpale)

Skil af tot dit wat jy in jou hand het, soos gemaalde varkvleis lyk! Sny in 1,5 cm-blokkies en laat lê so bietjie in koue soutwater. Die enigste metode van gaarmaak wat ek ken, het ’n Amerikaner my geleer!

Maak deeg aan: 2 koppies bruismeel, sout en swartpeper en klop dit aan met ’n blikkie bier. Die deeg moet so ’n halfuur in die yskas rus.

Doop elke blokkie in deeg en braai in warm olie. Sit voor met kaassous.

Héérlik vir só ’n pikante ding, sal Johann sê.

Sophie van Ross van Griekwastad (Foto: Isabeau Botha)

Skaapstertjies

(soos Corné daarvan hou)

Maak maar bymekaar sodat jy in die jagseisoen genoeg het. Stertjies kan met wol en al vir 20 min op die kole braai – dis vir plaaskinders heerlik! As die jagters stadsjapies is, verwyder liewer die vel, sit so 2 uur lank in die ysterpot in die Aga, braai dit dan oor die kole – onthou die Aromat of braaivleisspeserye.

Van sterte gepraat, moenie die grootwild se sterte verlore laat gaan nie – saag dit op en maak dit saam met bietjie vark gaar, of meng dit met beesstert en maak gaar.

Wenk: As jy enige snit wildsvleis vinnig sag wil kry, laat lê in vars, gerasperde pynappel. Goeie idee om pynappel in jou marinade te meng – sagte steak binne ’n uur.

Yvonne van den Berg en Meemie, die einameerkat, van Douglas (Foto: Isabeau Botha)

Ystervarkrugvel

(mits Jannie en René daarvoor sorg!)

Soos Hendrik Susan sê: “gulpooprukkende lekker ervaring”

Benodig: ystervark, pekelwater, water om in te kook, 50 ml suurlemoensap, sout, peper, Aromat en bietjie chillibite-speserye.

As jy dit self moet skoonmaak, verwyder penne deur dit in vlam te skroei, dan trek penne maklik uit. Plaas vark in baie warm water en skraap baie goed. Slag rugvel af en laat lê dit in pekelwater vir een dag. Verwyder en was in vars water. Kook vel nou in water met die suurlemoensap tot sag. Haal uit, druk droog, sprinkel met speserye en braai oor die kole tot goudbruin en bros – sny dun skyfies en eet maar ’n broodjie daarby!

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Arno van Zyl, Springbok

    Ag hoe besonders en hoe nostalgies. Dinge wat aan my so bekend is uit my wonderlike (en arm) kinderjare.

  • Avatar
    Oom Flip Crouse

    Puik taalbewaringsaksie! Broodnodige materiaal vir ons nageslagte! Ons eer julle vir julle inisiatief en opofferinge so vrolik gemaak in belang van Afrikaans en sy sprekers!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top