Ontmoet die wenner van LitNet Akademies Kuberklas se wetenskapfiksiekompetisie

  • 0

LitNet Akademies Kuberklas het in 2012 die grootste wetenskapfiksie-kompetisie vir hoërskoolleerders in Afrikaans aangebied. Leerders van graad 10 tot 12 het stapels inskrywings gestuur. (Lees al die inskrywings hier.)

Die beoordelaars, Lauren Beukes, Koos Kombuis, Fanie Viljoen, Elzette Steenkamp en Dirk Laurie, is skrywers, navorsers en kundiges op die gebied van spekulatiewe of wetenskapfiksie. Hulle het Trudie Coetzee as wenner aangewys:

Eerste plek: Trudie Coetzee, Afrikaans Hoër Meisieskool

"Ek is ’n graad 11-leerder en het nog altyd 'n voorliefde gehad vir taal, veral Afrikaans. Ek het nog altyd gehou van lees en skryf en ek geniet dit veral om kortverhale te skryf. Ek was baie opgewonde toe ek hoor van die wetenskapfiksie-kompetisie en het baie genot daaruit geput om ’n storie te skryf wat op die toekoms gebaseer is. Ek hoop om altyd my passie vir taal te koester en nooit op te hou skryf nie."

Lees "Kloon" hier.

Naomi Meyer het haar 'n paar vrae gevra:

Hallo Trudie, vertel ons nog van jouself: wat doen jy as jy nie bobaas-wetenskapfiksieverhale skryf nie?

Ek hou myself maar besig met boeke en musiek en natuurlik die televisie! Ek speel klavier en probeer ook om soveel as moontlik in my vrye tyd te skryf, al is dit net in my dagboek.

Waar het jy te hore gekom van die kompetisie?

My ma is heeldag op LitNet en sy het my van die kompetisie vertel.

Wat was die inspirasie vir jou storie? Het die kompetisie jou ‘n idee gegee of broei die gedagte al lank in jou kop?

Ek het nog nooit wetenskapfiksie geskryf nie en hierdie kompetisie was 'n groot uitdaging. Ek het van die begin af geweet ek wil oor 'n kloon skryf wat 'n vrou is, maar die storie het self begin vorm aanneem hoe meer ek daaraan gewerk het.

Kyk jy wetenskapfiksieflieks of lees jy wetenskapfiksieboeke? Wie is jou gunstelingskrywers of -akteurs?

Ek is mal oor wetenskapfiksie wat met mense se koppe werk, soos die fliek Inception. Ek sal nie eintlik sê ek het 'n gunstelingakteur in hierdie genre nie.

Dink jy dis belangrik om wetenskapfiksie juis in Afrikaans te skryf?

Ek dink dit is baie belangrik dat hierdie genre in Afrikaans moet groei, juis omdat baie mense dit onderskat. Baie mense, ook Afrikaanse mense, het 'n groot liefde daarvoor. So daar sal altyd 'n mark wees daarvoor.

Sal jy in die toekoms voortgaan om te skryf?

Ja, beslis. Ek is heeltemal te lief vir skryf om op te hou. Ek sal definitief aanhou met skryf en lees omdat ek 'n groot liefde daarvoor het.

Wat sê die beoordelaars van Kloon?

Lauren Beukes:

"Kloon": A chilling take on eternal life through cloning. It questions who we are beyond photocopied biologies and what gives us meaning. The ending inevitably echoes the beginning in a devastating way.

 

Koos Kombuis:

"Kloon": ‘n Baie interessante idee word omskep as verhaal. Die spanning is voelbaar en die spanningslyn word goed volgehou, hoewel dit soms bederf word deur te lang verduidelikings. Die einde sou kon baat by meer “punch”.

 

Fanie Viljoen:

"Kloon": Met die intrapslag skep die skrywer al spanning en vandaar ontvou die verhaal in ’n slim storielyn wat die tema van kloning op ’n vars manier aanbied. Die knal-einde span die kroon op hierdie wenverhaal.

 

 

Kyk wat wen Trudie.

Klik hier vir nog inligting oor hierdie kompetisie.

Geborg deur:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top