Ons biblioteke: ’n onderhoud met Kaylene Plaatjies

  • 0
Agtergrond 

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

Afrikaans se 100-jarige viering vind in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.

LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.

Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.

As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.

Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge vanjaar, het LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied. 

Hierdie onderhoud met Kaylene Plaatjies is die sewentiende en laaste aflewering oor ons biblioteke. Kaylene is biblioteekassistent by Wesbank Openbare Biblioteek in Malmesbury.


Ons biblioteke: ’n onderhoud met Kaylene Plaatjies


Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg? 

Ek is nou al vir 18 maande lank ’n biblioteekassistent en ek kan my nie voorstel om iets anders te doen nie. So nee, ek sal nie ’n ander loopbaan oorweeg nie. 

Kaylene Plaatjies

Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?

As ’n biblioteekassistent is ek baie trots daarop om ’n liefde vir lees en leer by lede van die gemeenskap te kweek. Dit bring vir my groot vreugde om te sien hoe mense van alle ouderdomme gebruik maak van ons hulpbronne en betrokke raak by die programme wat ons aanbied, om hul kennis uit te brei en nuwe idees te verken. Verder is dit ongelooflik lonend om individue te verbind met die inligting wat hulle nodig het en hulle leerreis aan te help. 

Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?

Nie noodwendig nie. Terwyl biblioteekassistente mense soms help met projekte, navorsingsvaardighede aanleer of leiding oor hulpbronne aan studente verskaf, is hulle primêre verantwoordelikheid om die materiaalversameling te bestuur en die biblioteek se bedrywighede in stand te hou. 

Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?

Romanse in Afrikaans bly gewild, veral [die hygroman] ’n Gerieflike huwelik deur Maggie Cox. 

Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?

Ja. Daar was oor die afgelope maande beslis ’n verskuiwing in die manier hoe mense met Afrikaanse titels omgaan. Dit het veral gepaardgegaan met die opkoms van digitale inhoud en die groter aanbod van elektroniese materiale wat biblioteke aanlyn aanbied. 

Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?

Die skep van boekklubs vir volwassenes en naskoolse programme vir leerders [in die middae en skoolvakansies] bied groot geleenthede om ’n impak onder ons mense te maak. Verder kan biblioteke aktief betrokke raak by diverse gemeenskappe om te verseker dat almal gelyke toegang tot leesmateriaal en opvoedkundige hulpbronne het. 

Wesbank Openbare Biblioteek in 1978

Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?

Die internet het beslis ’n beduidende impak op die biblioteekwese op verskeie maniere gehad. Behalwe dat aanlyn materiaal biblioteke se inhoudsaanbod heelwat vergroot het, het dit inligting ook meer toeganklik gemaak as ooit tevore. En wat studie betref, het dit ’n navorsingsrevolusie teweeg gebring deur vinnige en maklike toegang tot groot hoeveelhede kennis oombliklik en gratis te verskaf. 

Op watter maniere dink jy kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?

Biblioteke kan die algehele gebruikservaring verbeter deur hul fasiliteite te moderniseer en op daardie wyse dit aantrekliker te maak vir jonger lede. Hulle kan ook kulturele verrykingsprogramme instel en praktiese kursusse aanbied, soos tuinbou of hoe om te brei.

Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?

“Tyd staan nie stil nie.” Uit Te gou is als verby deur Driekie Grobler. 

Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?

Dit sal oor meer as 100 jaar van nou af wees en baie dinge kan in daardie tyd gebeur, so dit is moeilik om presies te voorspel hoe iets so dinamies soos ’n taal oor so ’n lang tyd gaan ontwikkel. Ek glo wel Afrikaans het ’n sterk kulturele en sosiale erfenis. En dit sal steeds gepraat en gewaardeer word as ’n belangrike deel van die kultuur en identiteit van sy sprekers.

Lees ook:

Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd

Ons biblioteke: ’n onderhoud met Daniel Arendse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top