Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.

Hierdie onderhoud met Daniel Arendse is die sestiende aflewering oor ons biblioteke. Daniel is die senior bibliotekaris by Huguenot Square Openbare Biblioteek in Belhar.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Daniel Arendse
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg?
Ek is ’n bibliotekaris sedert 1 November 2011. Ek onthou vanaf die eerste oomblik toe ek by ’n biblioteek ingegaan het, was ek onmiddellik vasgevang in die mooiheid en die wonders van die lewe daarbinne.

Daniel Arendse
Waaroor is jy die trotsste as bibliotekaris?
Ek is die trotsste op my loopbaanvordering. My eerste werk was by Westridge Biblioteek. Daarna het ek na Eikendal Biblioteek beweeg as aflosser, gevolg deur dieselfde posisie by Manenberg Biblioteek. Ek het toe aansoek gedoen vir ’n assistentbibliotekarisposisie by Heideveld Biblioteek. Ek het daar gebly van 2013 tot 2017, waar ek toe ’n volwaardige bibliotekaris word na die voltooiing van my PGLIS-kwalifikasie (’n nagraadse diploma in biblioteek- en inligtingstudies). Ek is toe aangestel by Meadowridge Biblioteek en is later na PD Paulse Biblioteek toe. In 2019 is ek aangestel as die hoofbibliotekaris by Leonsdale Biblioteek en beklee nou daardie posisie by Huguenot Square Biblioteek in Belhar.
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Gefrustreerd? Nie regtig nie. Maar ja, ons is onderwysers – en ook sielkundiges, maatskaplike werkers en soveel meer vir ons gemeenskap. Ons is al hierdie dinge en ons doen dit met ’n glimlag, want ons weet dat as ons nie die nodige inligting kan voorsien om die volgende persoon te help nie, sal ons wel kan sê waarheen hulle kan gaan om dit te gaan bekom. Ons help graag waar ons kan, en ons gebruikers is ons nommer 1-prioriteit.
Wat is tans die gewildste Afrikaanse genres en titels?
Rillers en romantiese verhale is baie gewild in ons gemeenskap; en ek geniet dit self baie. Dis titels soos Helena Hugo se Die lewe wat ek jou gegee het, Francois Smith se Die getuienis en Francois Bloemhof se Blou moord.
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
By die meerderheid van die biblioteke waar ek werksaam was, was die Afrikaanse afdeling altyd die mees gebruikte een. Dit het nog niks verander nie. Die enigste probleem is nou dat die aanvraag vir Afrikaanse boeke al hoe groter raak en iets wat ons sukkel om mee by te hou weens die koste van sekere van die boeke op aanvraag.
Hoe kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Ek dink wat die biblioteke tans doen, werk wel. Die stigting van verskeie boekklubs en om seker te maak dat die belangstelling deur en van buite biblioteke daarin versterk word, help ook baie.
Watter impak het die internet op die biblioteekwese gehad?
Die internet, tesame met die gerief van toegang tot wifi, het grootliks veroorsaak dat baie mense voel dat hulle nie noodwendig meer die biblioteek so baie benodig nie. Maar daarmee saam was, en is, biblioteke geforseer om saam met die tye te beweeg. Ons bied talle programme aan om die gemeenskap rekenaargeletterd te kry, en daar is ook aanlyn platforms soos die Libby-toepassing vir e-boeke en Pressreader vir aanlyn koerant- en tydskriftoegang.
Op watter maniere kan biblioteke hulleself herdefinieer om relevant te bly?
Op die oomblik is die Stad Kaapstad- en Wes-Kaapse Provinsiale Biblioteekdienste baie aktief om relevant te bly. Ons elektroniese platforms, waar die internet en boeke mekaar halfpad ontmoet, hou ons op dreef met dienste wat ons aanhoudend verbeter en moderniseer. Verder koördineer ons ons gemeenskapsuitreikpogings om programme te verskaf wat in die behoeftes van ons mense voorsien.

Tracey Muir-Rix van die Stad Kaapstad se Biblioteek- en Inligtingsafdeling het in 2024 vir die Belhar-gemeenskap ’n interaktiewe storievertelling in die biblioteek aangebied.
Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?
“Toe ek oud was, was ek nog jonk” – dit kom uit Toeval en anders deur Hennie Aucamp.
Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?
Afrikaans was oor die afgelope 100 jaar nog in die proses om te ontwikkel as ’n taal. Nou kan ons nie ’n lewe sonder dit bedink nie. Na my mening is daar nog vele verwikkelinge op pad as ons kyk na die debat oor Afrikaaps, wat ook nog sy plek inneem. Maar Afrikaans in sy wese sal bly soos hy is.
Lees ook:


