Agtergrond
Afrikaans Amptelik 100: Ons biblioteke, ver en wyd
Afrikaans se 100-jarige viering vind oor minder as 12 maande in Mei 2025 by die Taalmonument in die Paarl plaas. Hierdie Taalmonument-viering word georganiseer deur die Afrikaans Amptelik 100-beweging met die titeltema Afrikaans kom van vêr.
LitNet het oor hierdie 100-jarige vieringe berig en sy ondersteuning aan die Afrikaans Amptelik 100-beweging toegesê.
Benewens die tuis- en skoolomgewing is boeke een van die vrugbaarste voerare van ’n taal se voortbestaan. Hulle stimuleer nie net woordeskatontwikkeling nie, maar bied ’n breër blik op uiteenlopende kulturele kontekste en dien as mylpaalmerkers van taalevolusie oor tyd.
As bewareas van boeke is biblioteke daarom die gesaghebbendste rekordhouers van Afrikaans se veranderende zeitgeist.
Daarom, en in die aanloop tot die feesverrigtinge volgende jaar, gaan LitNet by ’n rits bibliotekarisse uit verskillende streke in die Wes-Kaap verneem om van hulle te hoor of, en indien wel, hoe Afrikaanse leesgewoontes oor die jare verander het. Hierdie onderhoudreeks word in samewerking met Kaapse Bibliotekaris aangebied.

Hierdie onderhoud met Charlotte Manuel is die vyftiende aflewering oor ons biblioteke. Charlotte is bibliotekaris by Touwsrivier Biblioteek.
Ons biblioteke: ’n onderhoud met Charlotte Manuel
Hoe lank is jy al ’n bibliotekaris en sou jy ooit ’n ander loopbaan oorweeg het?
17 jaar om presies te wees. Dit was al die jare my passie om in die biblioteekwese te wees. Dis die plek waar ek begin het, geleer is, gebrei is en kinders voor my sien opgroei het, vanaf hulle voorskoolse dae tot waar hulle hul skoene volstaan in hul professies waar die Here hulle geplaas het.
Waaroor is jy die trotste as bibliotekaris?
As bibliotekaris is ek baie trots omdat ons ’n baie belangrike rol speel in die gemeenskap en hulle kan dien in ons professionele hoedanigheid. Ons is daar om mense van alle kultuurgroepe met verskillende waardes en geloofsoortuigings te help. Ons dra die belange van ons gebruikers op die hart en dra ook by tot die bevordering van onderwys. Geen samelewing kan bestaan sonder opvoeding nie, en opvoeding word verkry in boeke wat beskikbaar is in die biblioteek.
Is bibliotekarisse gefrustreerde onderwysers?
Biblioteke, net soos ander werksomgewings, het ook sy uitdagings, en ja, somtyds kan dit nogals erg raak. Ek besef ook in ’n beroep soos die biblioteekwese kan ’n mens nie gefrustreerd raak nie, want dit kan jou moraal en produktiwiteit negatief beïnvloed. Dis belangrik dat jy daardie uitdagings konstruktief kan beheer sodat die reputasie van die biblioteek, sowel as jou eie reputasie, ongeskonde bly.
Wat is tans die gewildste Afrikaanse titels en genres?
Romans, avontuurverhale, spanning- en speurverhale, rillers en grillers. Dan ook aksietitels en Westerns.
Kon jy oor die jare ’n verandering in lede se Afrikaanse leesgewoontes waarneem?
Daar is nog lede wat fisies boeke kom uitleen, maar daar is beslis ook ’n toename in die gebruik van die internet. Mense laai dokumente elektronies af, doen navorsing en aanlyn aansoeke vir werk: Dit beteken meer tyd op die internet en minder tyd vir fisies lees. E-boeke is ook baie gewild. Mense doen deesdae alles elektronies; dié wat nie toegang het nie, sien hulle weg oop met internetkafees of biblioteke waar die dienste gratis aangebied word.
Hoe dink jy kan biblioteke bydra tot die hervestiging van ’n leeskultuur?
Om ’n leeskultuur te skep is nie net die verantwoordelikheid van ’n individu nie, maar ook van ’n toegewyde span wat die leiding kan neem. Ons moet verseker dat kinders vanaf ’n baie jong ouderdom voorgestel word aan boeke en só ’n liefde vir boeke aankweek. Ouers moet ook aangemoedig word om betrokke te wees by kinders se leesopvoeding. Biblioteke moet programme aanbied en leesleiers aanstel om die kinders te help om hul leesvaardighede te verbeter.
Watter impak dink jy het die internet op die biblioteekwese gehad?
Die internet speel ’n groot rol in die biblioteekomgewing. Dit het reeds ’n groot impak gemaak op hoe leerders, studente, werksoekers en mense van alle vlakke van die gemeenskap dit vir hulle onderskeie behoeftes gebruik. E-boeke is ook besig om lesers se leesgewoontes te transformeer. Biblioteke pas aan by hierdie nuwe realiteite (digitaal), maar voorsien ook steeds in die behoeftes van gebruikers wat op die meer tradisionele hulpbronne staatmaak. Die internet is ook ’n hulpmiddel vir biblioteke om te skakel met kliënte. Kinders kan nou ook hul opvoedkundige programme kom doen, byvoorbeeld Greenshoots, ’n aanlyn wiskundeprogram wat laerskole gebruik en wat ook op ons rekenaars beskikbaar is. Ons het ook ons gebruikers wat aanlyn vergaderings bywoon, onderhoude doen en werksoekers kom sien watter geleenthede daar is. Ons as kleindorpiebiblioteke bied lewensbelangrike dienste aan ons gemeenskappe, omdat almal nie toegang elders het tot al hierdie geriewe nie.
Op watter manier kan biblioteke hulself herdefinieer om relevant te bly?
Biblioteke kan relevant bly deurdat hulle aan die veranderde behoeftes van gemeenskappe voldoen. Hoewel daar reeds e-boeke en oudioboeke is, moet die fokus moet nou verder verskuif na digitale hulpbronne en moet digitale versamelings uitgebrei word sodat almal kan voordeel trek, want nie genoeg mense het toegang tot hierdie dienste nie.
Wat is jou gunsteling-openingsin uit enige Afrikaanse boek wat jy al ooit gelees het?
“Vanuit haar venster in die stadsmuur tuur Ragab oor die uitgestrekte vlakte van Jerigo.” Uit Ragab deur Francine Rivers.
Hoe dink jy gaan Afrikaans lyk en klink teen 2125?
Afrikaans is ’n volwaardige taal en sy sprekers maak ’n groot deel uit van Suid-Afrika. Dit is ons grondwetlike reg om aan die kulturele lewe van ons eie keuse deel te neem en sodoende Afrikaans te laat voortleef. Afrikaans sal nie uitsterf nie, maar as ek dink hoe Afrikaans deesdae gepraat word, hoor jy wel hoe dit gemeng word met soveel Engelse uitdrukkings en woorde. Afrikaans sal [dog] bly voortleef en voortbestaan, maar ek kan my net indink hoe Afrikaans oor 100 jaar sal klink ...


