Onderwysers kan mekaar arendsvlerke gee: ’n onderhoud met Christa van Staden

  • 0

Foto van Christa van Staden: verskaf

Christa van Staden praat met Naomi Meyer oor tegnologie in die klaskamer, hoe ‘n slimfoontoepassing onderwysers kan bemagtig en toerus en ook oor haar artikel wat onlangs in LitNet Akademies (Opvoedkunde) gepubliseer is.

  1. Hallo Christa! Ek het jou onlangse artikel oor die Arend-toepassing gelees en sal graag nog met jou hieroor gesels. Wat het jou die idee vir hierdie navorsing gegee? Was daar iets wat jou geïnspireer het om spesifiek oor hierdie onderwerp 'n studie te doen?

Hallo Naomi, baie dankie vir die geleentheid om oor Arend te gesels. Ek het Arend in 2012 begin, gebaseer op my PhD-navorsing wat getoon het dat onderwysers 'n aanlynleeromgewing gebruik om inligting, kennis, ervaring en tasbare bronne te deel en om raad te gee, te ondersteun en leiding te neem. My fokus was die hele tyd op die verhoudings wat die onderwysers bou en hoe 'n tegnologie hulle kan help om verhoudings oor tyd en geografiese grense heen te bou om toegang te verkry tot die inligting, kennis, raad, leiding, ondersteuning, ervaring en tasbare bronne wat hulle nodig het om hulle werk te doen. Vir hierdie navorsing wou ek weet of die kennisbasis wat in Arend geskep word, waardevol is. Dit was nogal moeilik om te besluit watter maatstawwe gebruik behoort te word. Totdat ek meer oor die TPACK-raamwerk, wat ek as TPEIK vertaal, opgelees het. Dit het sin gemaak om die raamwerk te gebruik, veral omdat ek glo dat tegnologie gebruik moet word om vakinhoud op 'n pedagogiese-verantwoordbare manier aan te bied. Indien nie, is onderwysers dikwels teleurgesteld in die resultate.

  1. Sou jy sê die onderwysers onder wie die studie plaasgevind het, was deel van verskillende skole – en of die verskillende skole uit sosio-ekonomies-vergelykbare of verskillende soort omgewings gekom het? Het almal toegang gehad tot die tegnologie en was die omstandighede vergelykbaar genoeg om gesprekke te kon gehad het wat vir almal sin gemaak het? Ongelykheid in Suid-Afrikaanse skole is 'n ongelukkige realiteit.

Die onderwysers wat lede van Arend is, is versprei oor Suid-Afrika en sommiges werk in lande soos Abu Dhabi en Swaziland. Een van die onderwysers gee Afrikaans op die Kaapse Vlakte en vertel gereeld vir my hoe die kinders in vrees lewe. Dit is lekker om te sien hoe hy Arend gebruik om by ander onderwysers te leer, maar veral dat hy bereid is om ook te deel. Die gesprekke vind voortdurend plaas; sodra iemand iets wil weet, vra hy of sy 'n vraag en ander onderwysers raak daarby betrokke. Enige onderwyser in Suid-Afrika kan Arend op sy of haar selfoon aflaai en begin om saam te gesels. Dit gaan hoofsaaklik daaroor om 'n kennisbasis te bou waartoe almal toegang kan kry waar en wanneer hulle wil. 'n Kennisbasis wat ontwikkel as gevolg van onderwysers se eie behoeftes. 

  1. Deesdae is duisende skole op die sogenaamde D6-communicator-stelsel, 'n app vir ouers om inligting oor te dra van die skool se daaglikse aktiwiteite. Hoe verskil die Arend-app van die D6-kommunikasiesisteem, op 'n praktiese manier? 

Arend is slegs vir onderwysers en dit is in privaatbesit. Die doel is om 'n plek te bied waar onderwysers met mekaar kan gesels en by mekaar kan leer en nie om inligting deur te gee nie. In Arend word 'n onder-na-bo benadering tot die identifisering van leerbehoeftes gevolg, die onderwysers besluit self wat hulle wil weet en by watter inhoud hulle betrokke wil raak.

Arend is soortgelyk aan Facebook, maar Facebook is nie vir leer ontwikkel nie. Daarom skuif nuwe inligting die hele tyd teen die gemeenskaplike muur af. In Arend kan besprekingspunte georganiseer word sodat onderwysers later maklik toegang daartoe kan verkry.

  1. 'n Toep/app kan van groot hulp wees, en kernidees oordra. Mense kan ook meer gedetailleerde inligting oor en weer aflaai en oordra – soos eksamenvraestelle en nasienmetodes. Watter inligting, het julle ondervind, word die meeste deur die onderwysers gesoek (wat is die mees algemene navrae op die app?)

Die onderwysers versoek gereeld dat kwartaalbeplanning gedeel word. Vir die ouer onderwysers is dit 'n probleem; hulle is van mening dat elke onderwyser die beplanning self moet doen. Omdat hulle vir die leerders voor hulle moet beplan. Die probleem is dat sommige provinsies, soos Gauteng, die beplanning beskikbaar stel. En ander nie. Vir my is dit nie 'n probleem as die beplanning beskikbaar gestel word nie, dit help onderwysers eerder omdat hulle die onderwysers moet gebruik om hulle eie lesse uit te werk.

Arend het nie ten doel om kernidees beskikbaar te stel nie, die fokus is op die praktyk. Vrae wat op die oomblik pla word in 'n gemeenskap van onderwysers, wat bereid is om antwoorde te verskaf waar hulle kan, gevra. Waarom onderwysers tyd spandeer om ander te help, weet ons nog nie, maar die vrae wat in aanlynleeromgewings gevra word, word gewoonlik beantwoord. Ek vermoed dit verbaas my omdat onderwysers selde in vergaderings betrokke raak. Ek wil nog navorsing daaroor doen om te probeer bepaal wat onderwysers motiveer om ander onderwysers, wat hulle nie ken nie en waarskynlik nooit gaan ontmoet nie, te help. 

  1. 'n Toep kan baie beteken en van hulp wees, maar dit het beperkinge. 'n Mens kan net soveel opsom in 'n antwoord of iets net in woorde verduidelik sonder om voor 'n klas te staan en te sien hoe iemand anders dit doen. Wat was van die beperkinge wat sommige van die onderwysers genoem of dalk mee gesukkel het?

Die gesprekke bly die hele tyd oop, dus kan onderwysers gesels tot hulle 'n oplossing vir 'n probleem gekry het. Die benadering is leerdergesentreerd, die onderwysers besluit self wat hulle graag wil weet, vra self die vrae wat hulle wil vra en deel self inligting wat vir hulle belangrik is. 

Ek stem saam, mens kan net soveel skryf. In Arend is verskeie video's gedeel waarin onderwysers of kenners kennis met behulp van tegnologie oordra. Onderwysers kan hierdie video's in hulle klasse gebruik of daaruit leer. Die benadering is leerdergesentreerd, die onderwysers besluit self wat hulle moet kyk en wat nie. 

Ek deel ook inligting as ek dink dit kan waardevol wees, nou of later. Hoofsaaklik om die gebruik van Arend te bevorder. Met ander woorde, in plaas daarvan om hulle te leer hoe om Arend te gebruik, gebruik ek dit op so 'n manier dat hulle verstaan hoe hulle dit kan gebruik. 

Op die oomblik is 'n belangrike beperking dat die toep net op 'n punt kennisgewings uitstuur as onderwysers gesels. Dit is veronderstel om soos Facebook te werk, maar dit gaan my 'n arm en 'n been kos om toe te laat dat 'n onbeperkte hoeveelheid boodskappe uitgestuur word. Ek is besig om aan 'n oplossing vir die probleem te werk. Dit kos my reeds 'n fortuin om Arend in die lug te hou. Ek vra wel R50 ledegeld, maar die onderwysers is maar traag met die betaling daarvan. Dus kom die grootste gedeelte van die onkostes uit my eie sak.

  1. Tegnologie is wonderlik en dit is ook oorweldigend. Ouer onderwyser-gebruikers kan dalk sukkel met 'n weerstandigheid om nuwe dinge te probeer, of hoe het julle dit ondervind?

Dit is beslis so, daar is onderwysers wat sukkel om nuwe dinge te probeer, maar Arend se lede wissel van onderwysstudente tot ervare onderwysers wat na aan aftrede is. Ek vermoed dit gaan eerder oor wil of wil nie. Op die oomblik maak Arend op die vernuwers staat om kennis te deel. Ek moet egter byvoeg dat onderwysers bereid is om te leer om 'n tegnologie te gebruik as hulle dit waardevol vind. 

  1. Tegnologie kan mense se aandag aftrek. Of het julle nie hierdie ondervinding gehad nie? Was dit 'n gespreksforum waar gesprekke nie in onmiddellike tyd (real time) hoef plaas te gevind het nie, of hoe het die mense gemaak om in gesprek te tree sonder dat hulle dalk skuldig gevoel het of aan FOMO gely het omdat hulle dalk besig was om klas te gee en nie deel kon wees van ander onderwysergesprekke wat aan die gang is terwyl hulle nie beskikbaar was nie?

Al die gesprekke vind soos in Facebook op 'n gemeenskaplike muur plaas. Die inligting bly op die muur soos op Facebook en onderwysers kan afblaai en aan die gesprekke deelneem waar en wanneer dit hulle pas. Hulle kan egter ook onder die forumfunksie aan spesifieke besprekingspunte deelneem omdat inligting in Arend georganiseer word. Vir my is dit problematies dat baie onderwysers Arend gebruik om te leer uit wat ander deel en om die geprekke te lees, sonder om self betrokke te raak. Daar kan verskeie redes daarvoor wees, maar dit is belangrik om in ag te neem dat sodanige onderwysers kompeterend van aard kan wees en daarom nie hulle eie kennis deel nie. Dit is wel 'n vorm van leer, naamlik passiewe leer. Maar dit is noodsaaklik dat onderwysers aktief deelneem. Daarom moedig ek hulle aan om die hou-van knoppie te gebruik om ander aan te moedig om te bly deel.

  1. Van ongelyke omstandighede gepraat: dink julle dat iets soos die Arend-toep, of tegnologie op fone – waaroor die meeste mense beskik – kan help om groter gelykheid te bewerkstellig?

'n Toep soos Arend maak gelyke toegang tot 'n goeie kennisbasis moontlik. En hier dink ek nie net aan skole in arm gebiede en skole in ryker gebiede nie, maar ook aan onderwysers wat by groot skole skoolhou en diegene wat by plaasskooltjies skoolhou en die enigste vakkenner is. Die onderwysers gesels met ander onderwysers wat dieselfde vak aanbied en leer so oor tyd en geografiese grense heen. Dit is belangrik om te weet dat jy nie die enigste onderwyser is wat met 'n probleem soos kinders met gedragsprobleme sukkel nie. As mens eers weet dat jy nie alleen is nie, word die las ligter.

  1. Taal. Is die Arend-toep en die spreektaal van die mense wat dit gebruik, in Afrikaans? Wat van onderwysers wat nie Afrikaans magtig is nie of dalk navrae het oor hulle skole en omstandighede in ander tale as Afrikaans?

Die voertaal is Afrikaans. Die staat vereis in beleidsdokumente dat leergemeenskappe in onderwysers se eietaal geskep word, maar onderwysers kan in Engels saamgesels. Hier moet ek byvoeg dat ek vind dat onderwysers nie in informele aanlynleeromgewings deelneem as dit nie hulle huistaal is nie. Dit is ook duidelik uit die verskeie informele Facebook-groepe vir onderwysers. Ek het in 2012 twee Facebook-groepe vir onderwysers geskep, naamlik RSA Onderwysers en RSA Teachers. Laasgenoemde het teen 'n slakkepas gegroei, die Afrikaanse een het tans meer as 18 000 lede, iets wat die behoefte aan 'n leergemeenskap vir onderwysers onderstreep. Onderwysers neem nie in leergemeenskappe deel as dit nie in hulle eie taal is nie. Daar kan verskeie redes daarvoor wees, maar ek glo die praktyk bewys dat onderwysers in informele leeromgewings in hul eie taal gemaklik is, kommunikeer en aktief deelneem.

  1. Hoe lyk jou ideale Suid-Afrikaanse skool en hoe kan tegnologie hier aangewend word om dinge te laat werk?

Sjoe, hierdie is ná aan my hart. Ek sou graag wou skryf oor hoe onderwysers en leerders tegnologie kan gebruik om onderrig en leer te bevorder. Maar, nadat ek onlangs onderwysers se gesprekke in Arend en RSA Onderwysers gelees het, is ek eerder van mening dat 'n ideale skool tegnologie gebruik om dissipline te handhaaf voordat aan enige ander maniere van gebruik aandag gegee kan word. 

En dit begin by die hoof, regdeur tot by die jongste onderwyser. 'n Onderwyseres skryf verlede week dat iemand in haar klas ingestap het, en haar en 'n leerder aangerand het. 'n Ouer een (manlik) het vertel dat 'n leerder hom aangerand het, en dat die Departement van mening is dat die leerder nie aangekla kan word nie. Hoekom nie? As onderwysers leerders aanrand, is dit voorbladnuus, en verloor die onderwyser sy of haar werk. Hoe kan onderwysers onder sulke omstandighede werk? Wie kan kreatief wees en aan maniere dink om die leerders in hulle klas te onderrig as hy of sy in vrees lewe? Ek het my droomwerk (die onderwys) verlaat omdat 'n gebrek aan dissipline dit onmoontlik maak om die onderwys te geniet. Daarom sou ek aanbeveel dat tegnologie in skole gebruik word om onderwysers se hande sterk te maak, leerders veilig te hou en belhamels te identifiseer. Maar wat help dit as die leerders weet daar kan niks van kom nie? Die onderwysers en geboeliedes moet steeds deur woongebiede beweeg om by die skool uit te kom. En vrees vir hulle lewens. Hierdie probleme moet eers uitgesorteer word voordat daar aan 'n ideale skool gedink kan word. En daar is skole wat dit regkry en tegnologie ten beste aanwend om onderrig en leer te bevorder.

Lees ook

Soos ’n Arend: 5 vrae aan Christa van Staden

’n Ondersoek na die tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudkennis (TPEIK) waartoe die Arend-toep toegang verleen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top