Soos ’n Arend: 5 vrae aan Christa van Staden

  • 0

............ 

“Hierdie navorsing bewys dat onderwysers ’n toepassing kan gebruik om gevorderde vorms van kennis te skep en te deel. Dit is baie belangrik, aangesien hierdie vorm van leer selde erken word omdat daar oor die algemeen aanvaar word dat onderwysers kursusse moet bywoon om te leer.”

............ 

Christa, geluk met jou LitNet Akademies-artikel "’n Ondersoek na die tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudkennis (TPEIK) waartoe die Arend-toep toegang verleen". Ter inleiding, wat is Arend?

Baie dankie, Imke. Dit is ’n wonderlike ervaring as navorsing wat ná aan my is, deur LitNet Akademies se keuringsproses gaan en gepubliseer word. 

Arend is ’n webwerf wat ontwikkel is om ’n plek te bied waar onderwysers by mekaar kan leer. Die toep-weergawe van Arend is in 2018 beskikbaar gestel om die webwerf op selfone beskikbaar te stel sodat onderwysers met mekaar kan kommunikeer waar en wanneer hulle wil. Ek het die naam, Arend, om twee redes gekies.

Eerstens glo ek “the sky is the limit” wanneer onderwysers ’n platform gebied word waar hulle ten spyte van tyd en geografiese verskille by mekaar kan leer. Ons, wat navorsing oor leer in aanlynleeromgewings doen, kan nog nie verklaar waarom onderwysers hulle kennis so gewilliglik en so maklik met ander onderwysers deel nie. Aangesien hulle dit egter wel doen, kan onderwysers aangemoedig word om tegnologie te gebruik om by mekaar te leer.

Tweedens het ek die naam gekies omdat die aanlynleeromgewing my in staat stel om soos ’n arend oor die netwerk van verhoudings te vlieg om te kyk watter invloed verhoudings op leer het.

Kan jy asseblief die term TPEIK verduidelik, aangesien dit ’n belangrike rol in jou artikel speel?

Onderwysers moet in die klaskamer oor drie basiese vorms van kennis beskik, naamlik ’n deeglike kennis van die vakinhoud wat hulle aanbied (inhoudkennis), ’n deeglike kennis van hoe om die vakinhoud aan te bied (pedagogiese kennis) en tans is dit ook belangrik dat onderwysers oor ’n deeglike kennis beskik van die tegnologie wat gebruik kan word om onderrig en leer te verbeter. Die drie basiese vorms kan nie in isolasie funksioneer nie, daarom moet onderwysers in staat wees om hierdie blokke kennis met mekaar te integreer om gevorderde kennis te skep.

Indien ’n onderwyser nie van tegnologie gebruik maak nie, ontwikkel slegs een vorm van gevorderde kennis, naamlik pedagogiese-inhoudkennis, of die kennis om vakinhoud so te onderrig dat leerders dit verstaan.

Indien ’n onderwyser tegnologie gebruik, ontwikkel nog twee vorms van gevorderde kennis, naamlik tegnologiese-inhoudskennis, of kennis oor watter tegnologie gebruik kan word om vakinhoud aan te bied en tegnologiese-pedagogiese kennis, of die kennis oor watter tegnologie gebruik kan word om onderrig en leer te bevorder.

Die hoogste vlak van kennis, naamlik tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudkennis, ontwikkel wanneer hulle verstaan hoe hulle tegnologie kan gebruik om vakinhoud op ’n pedagogies-verantwoordbare manier te onderrig. Dit is noodsaaklik dat onderwysers hierdie vlak van kennis ontwikkel omdat daar reeds bevind is dat die leerders van onderwysers wat tegnologie in die klaskamer gebruik, beter presteer as die leerders van diegene wat nog nie tegnologie in hulle klaskamers gebruik nie. 

Hoe sou jy jou bevindinge aan ’n niespesialis verduidelik? Watter bevinding het jou die meeste verras?

Hierdie navorsing bewys dat onderwysers ’n toepassing kan gebruik om gevorderde vorms van kennis te skep en te deel. Dit is baie belangrik, aangesien hierdie vorm van leer selde erken word omdat daar oor die algemeen aanvaar word dat onderwysers kursusse moet bywoon om te leer.

Dit was verrassend om te ontdek dat onderwysers juis die hoogste vlak van kennis in Arend deel.

Wat is jou navorsingsgebied en hoekom sou jy studente aanmoedig om daarin te spesialiseer?

My navorsingsgebied kan in twee afdelings verdeel word.

Eerstens, doen ek navorsing oor hoe tegnologie gebruik kan word om onderrig en leer te bevorder, met die fokus op die gebruik van aanlynleeromgewings omdat hierdie tegnologie onderwysers en studente van geleenthede voorsien om by mekaar te leer. Dit is gebaseer op die idee dat ons verhoudings met ander moet bou om by hulle te leer, maar dat ons ook ons eie kennis moet deel omdat dit ons van geleenthede voorsien om as kenners geïdentifiseer te word. Hierdie navorsingsveld bied vele moontlikhede, daarom sou ek studente aanbeveel om dit verder te ontgin.

Tweedens, doen ek navorsing oor hoe verhoudings gebruik word om by ander te leer. Ek fokus op ’n spesifieke stel verhoudings, naamlik die verhoudings wat gebou word om toegang tot inligting, kennis, ervaring en tasbare bronne te verkry (of om dit te deel) en die verhoudings wat geskep word om ander te ondersteun en te lei. Hierdie spesiale vorm van ’n sosiale netwerk staan as ’n ontwikkelingsnetwerk bekend. Ontwikkelingsnetwerke is onsigbaar, daarom is ons selde bewus van die impak van verhoudings op leer. Hierdie navorsingsveld staan as sosiale-netwerk-analise (Social Network Analysis) bekend. Ek sou studente aanraai om in hierdie veld te spesialiseer omdat ’n handvol Suid-Afrikaners in hierdie veld spesialiseer.

Waar kan ek nog inligting oor jou werk opspoor?

Ek het ’n Afrikaanse aanlyn CV wat beskikbaar is by christavanstaden.com en ’n Engelse een wat beskikbaar is by christavanstaden.co.za. Ek gebruik die Afrikaanse blog om stories te vertel oor ons lewe hier in Kasakstan en die Engelse een om meer oor tegnologie te deel. In beide gevalle kan in die kieslys op CV geklik word om meer oor my navorsing te lees.

Lees ook

’n Ondersoek na die tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudkennis (TPEIK) waartoe die Arend-toep toegang verleen

WhatsApp en die onderwys? Die sosiale media tot die redding!

Ondersteuning van onderwysers aanlyn: ’n onderhoud

Sosiogramme en genetwerkte leer: ’n soort opsitkers vir onderwysers

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top