Onderwêreld: gewaagd of geslaagd?

  • 0

Gesprek van Estelle Kruger met Elize Vos oor haar LitNet Akademies-artikel:

Voldoen Onderwêreld deur Fanie Viljoen aan die norme vir ’n geslaagde voorgeskrewe werk vir graad 12-Afrikaans Huistaal-leerders?

Was jy self nog altyd ’n ywerige leser van fiksie? Vertel bietjie daarvan asseblief?

Ja, beslis. As kind en adolessent het ek baie gelees. Vandag nog is ’n biblioteek vir my ’n wonderlike fantasiewêreld. In my onderwysloopbaan was dit vir my belangrik om soveel as moontlik te lees om aan my leerders die nuutste tendense in jeugliteratuur uit te wys. Tans vergaar ek al my gunstelingleesstof vir vakansietye; ’n dubbele bederf!

Hoe het jou belangstelling in jeugliteratuur ontstaan en ontwikkel?

In my ouerhuis was ek baie aan boeke en biblioteke blootgestel. As voorgraadse en honneursstudent was ek bevoorreg om by Elsabé Steenberg klas te kon hê. Sy het reeds die belangstellingsaadjie in jeugliteratuur by my geplant. Later was ek ewe bevoorreg om onder leiding van Betsie van der Westhuizen my MA-studie te kon voltooi; sy het vir my beslis die navorsingspad in jeugliteratuur duidelik uitgewys.

Wat was jou professionele betrokkenheid by onderwys voordat jy die akademie betree het?

Ek was bevoorreg om vir 23 jaar by Potchefstroom Gimnasium, en meer spesifiek in die Afrikaans Huistaal-klaskamer, my passie vir Afrikaans met wonderlike leerders te kon deel. Ek was 13 jaar lank vakhoof vir Afrikaans en was ook vir 12 jaar agtereenvolgens die hoofeksaminator vir die Literatuurstudievraestel vir die graad 12-Seniorsertifikaateksamen.

Jy werk met onderwysstudente wat Afrikaans wil onderrig. Wat is hulle persepsie van Onderwêreld?

Die onderwysstudente vind definitief aanklank by Onderwêreld; dit is een van die verhale wat hulle reeds klaar gelees het voordat ons dit in die klas begin bespreek. Ek het positiewe terugvoer gekry van verlede jaar se vierdejaars, van wie sommige nou voor matriekklasse staan: volgens hulle is die leerders gretig om die verhaal te lees.

Dink jy dogters sal in dieselfde mate as seuns kan identifiseer met die karakters in Onderwêreld?

Ja, ek dink so, moontlik net vanuit ’n ander perspektief: die protagonis is net so oud soos die deursnee-graad 12-leerder. Alhoewel die protagonis ’n seun is, word aktuele onderwerpe (onder andere kubermisdaad, die selfdood van ’n geliefde en gekompliseerde verhoudings) aangeraak waarmee meisies ook sal kan identifiseer.

Hoe het jy by interpretivisme en die hermeneutiek afgekom en besluit om dit as jou navorsingslens te gebruik?

Interpretivisme bied aan die navorser die vryheid om ’n idee rondom ’n sekere konsep te genereer (in hierdie geval die interpretasie van die literatuur, asook die dokument- en teksontleding) en die hermeneutiek behels die studie van die teorie en die praktyk van vertolking (die norme wat vir voorgeskrewe werke saamgestel is en moontlik in die praktyk van waarde kan wees, is ’n uitvloeisel hiervan).

Wat dink jy het bygedra tot die verskuiwing na die integrasie van omstrede temas in Afrikaanse jeugliteratuur?

Ek is van mening dat dit die tydsgees is waarin ons tans leef wat omstrede temas ’n regverdige staanplek in Afrikaanse jeugliteratuur gee.

As jy sou deel wees van die span in die onderwysdepartement wat moet besluit oor voorgeskrewe jeugfiksie, hoe sou jy jou kollegas oortuig om omstrede jeugboeke soos Fanie Viljoen se Breinbliksem en Onderwêreld te integreer? Baie volwassenes meen dat hierdie boeke nie pas by die “beskermde wêreld waarin [adolessente] veiligheid ervaar” (jou woorde in die artikel) nie.

As ons rondom ons kyk, is moord, selfmoord, verkragting, korrupsie, witboordjiemisdaad, kubermisdaad, tienerswangerskappe en gekompliseerde verhoudings deel van adolessente se lewens. Adolessente beleef nie noodwendig meer ’n “beskermde wêreld waarin hulle veiligheid ervaar” nie. Ons kan hierdie kontensieuse onderwerpe nie meer van hulle weghou en hulle leesstof langer in watte toedraai nie. Hierdie kontroversiële jeugboeke bied juis geleentheid tot waardevolle klasgesprekke en kan grootliks daartoe bydra dat adolessente weer hulle pad in die duister wêreld van probleme vind.

Hoe dink jy kan die video1 waarin Fanie Viljoen vertel hoe die skryfproses van Onderwêreld verloop het, in die klaskamer gebruik word?

Ek meen dat leerders dadelik aanklank by die video sal vind, aangesien Fanie Viljoen in die video met die leerders sélf, in algemene spreektaal wat hulle verstaan, gesels. Hierdie video kan beslis in die preleesfase gebruik word om aan leerders ’n beter begrip van die skryfproses te verskaf, asook van die navorsing wat met so ’n jeugroman gepaard gaan.

Hoe sou jy die norme wat jy gebruik het om aan te toon dat Onderwêreld ’n geslaagde voorgeskrewe werk vir adolessente lesers is, in 25 woorde verduidelik aan ’n besorgde ouer wat dink die boek gaan oor die bose en dat dit teen hulle godsdiensoortuigings indruis?

Hierdie spannende en aktuele jeugroman sal selfgerigte lees by adolessente lesers aanmoedig én vir hulle die ruimte skep om hulle eie waardesisteem te kan evalueer.

Watter invloed het Onderwêreld op jou as persoon/ouer gehad voordat jy begin het om dit te bestudeer? En nou daarna?

Ek was aanvanklik skrikkerig vir al die rekenaarterme wat ek met die eerste oogopslag nie heeltemal verstaan het nie, maar het gou besef dat die verhaal lesersvriendelik is en dat hierdie terme indirek aan die leser verduidelik word.

Nou besef ek dat die outeur wonderlik daarin geslaag het om die wêreld van tegnologie, maar ook die wêreld van kubermisdaad, toeganklik en realisties vir die gewone leser uit te beeld. Die slot dra ’n waardevolle en indirekte les oor: wanneer jy besig is met een of ander misdaad, is jy steeds deel van ʼn samelewing en het jy steeds ʼn verantwoordelikheid jeens hierdie samelewing.

Wat het jy van jouself geleer in die proses van hierdie navorsing en die skryf en publikasie van hierdie artikel?

Ek het net weer besef dat geduld, deursettingsvermoë en fokus nodig is om enige navorsingstaak suksesvol af te handel. Die skryf van hierdie artikel het my laat besef dat jeugliteratuur as selfstandige genre nog ’n braak navorsingsterrein is.

Is daar enige nuwe navorsing oor jeugliteratuur op jou horison? Vertel gerus vir ons sonder om jou geheime te verklap.

Ja, beslis! Ek stel baie belang in die leesmotivering van Afrikaanssprekende adolessente lesers, Afrikaansvakmetodiek en jeugliteratuur. Ek sal daarom graag hierdie drie belangstellings in toekomstige navorsing wil kombineer.

1 http://www.litnet.co.za/lok-simposium-2017-onderwereld-video-en-verslag

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top