Onderhoud met Stephanus Muller: Dekolonisasie van musiek

  • 2

Stephanus Muller (foto verskaf)

Om te dekoloniseer. Is dit nodig? Is dit moontlik?

Stephanus Muller, hoof van Africa Open, Instituut vir musiek, navorsing en vernuwing (Engels: Africa Open – Institute for Music, Research and Innovation), gesels met Naomi Meyer. 

Om musiek te dekoloniseer. Jy verwys hierna in jou openingsrede by die jaarkongres van die South African Society for Research in Music (SASRIM) in Bloemfontein – nie óf mense dit gaan begin sê nie, maar wannéér. Is dit ’n frase wat jy reeds dikwels hoor? Is dit nodig? Is dit moontlik?

Ná my openingsrede het ’n voorgraadse student van die College of Music, Universiteit van Kaapstad, ’n referaat gelewer oor dekolonisering, musiek en institusionele transformasie. Dit was een van die belangrikste referate wat ek nóg by ’n nasionale kongres aangehoor het, en het geen twyfel gelaat nie dat dekolonisering ’n noodsaaklike lens bied waardeur van die mees aktuele en dwingende kwessies en uitdagings in tersiêre musiekbeoefening en -studie herbedink kan word. Ek was geraak deur die intelligensie van die voordrag, die dapperheid en weerloosheid daarvan, maar ook deur die behoefte van die student om in gesprek te tree met die verteenwoordigers van die akademie. Dit was nie ’n patetiese soort noodkreet, gerig vanuit ’n posisie van swakheid nie; inteendeel, dit het aangetoon in watter mate studente-aktivisme die intellektuele agenda ontwikkel en uitwerk. Voor hierdie geleentheid het musiekstudente by die UK reeds op sosiale media teen bepaalde praktyke van die College of Music beswaar gemaak, en op Stellenbosch was daar in 2016 ’n besetting van die Musiekbiblioteek, voorafgegaan en gevolg deur inisiatiewe van dosente en studente om die diskoers oor dekolonisering in die Departement Musiek aan die orde te stel op intellektuele forums.

Hierdie dinge is natuurlik nie onverwags nie. Op dieselfde manier as wat dít wat tans op universiteitskampusse gebeur, ’n onafwendbare wending is omdat universiteite nie geïsoleerd kan bestaan van ons sosiohistoriese konteks van ernstige ekonomiese ongelykheid en disintegrerende gemeenskap nie, kan geen akademiese departement aan enige universiteit onverskillig staan teenoor die institusionele, politieke en intellektuele vraagstukke wat al lank smeul, maar wat nou ontbrand het nie. Musiek is deur en deur ’n historiese en sosiale verskynsel, en dit sou rede tot ernstige kommer wees indien daar in musiekdepartemente wat dekades lank die belange van Europese musiekkultuur gedien het, geen dringende introspeksie sou plaasvind nie. Geïnstitusionaliseerde musiek het, weens die geskiedenis van die universiteitsektor in Suid-Afrika en die plek van musiek in hierdie sektor, ’n unieke potensiaal om kulturele eksklusiwiteit gebaseer in wit normatiwiteit, gekamoefleer deur die retoriek van verdraagsaamheid en diversifisering, te onderhou. Die dringende behoefte om hierdie dinge te verstaan en te bespreek is nie deur musiekprofessore uitgespreek nie, maar deur studente. Daardeur het hulle die selfingenomenheid van die akademie aan die kaak gestel. Dit behoort ’n saak van selfrespek vir akademici te wees om nie nou ook op die studente te wag om die rigting en inhoud van oplossings aan te dui nie.

Africa Open ís ’n institusionele reaksie op hierdie potensieel vernuwende, potensieel destruktiewe energie, ’n poging om die dinkwerk en skepping aan te moedig wat ons kan begelei na sterker en beter universiteite wat die belange van ons land en die groter gemeenskap van intellektuele en kreatiewe ondernemings beter dien. Natuurlik sou die Universiteit Stellenbosch nie die stigting van hierdie instituut ondersteun het, en sou die Andrew W Mellon Foundation dit nie befonds het, indien hulle dit nie eens was dat die inisiatief spreek tot die dringendheid van die oomblik nie. Dit word goed verstaan dat dit wat Africa Open voorstel as navorsingsagenda in die instituut, konkreet worstel met die lank uitgestelde gesprekke oor die verhoudings tussen tradisie en vernuwing, tussen die soort institusies wat ons universiteite in die 20ste eeu was en wat hulle in die 21ste eeu kan word. Konkreet sluit dit in: die skep van ruimtes vir akademiese en artistieke eksperimentering en grensoorskryding van alle soorte deur die oopmaak van die universiteit vir die beste en opwindendste dinge in musiek in ons samelewing (insluitend, natuurlik, die beste dinge in ons institusies). Die uitkomste van hierdie oop proses sal uiteindelik implikasies hê vir aanstellings, vir konsertprogramme, vir opleiding en vir navorsing. Dit sal op die lange duur lei tot ’n herbesinning oor die verhouding tussen voorgraadse opleiding en nagraadse intellektuele en kreatiewe werk, oor die aannames wat ons praktyke ontwikkel het tot wat dit tans is, oor die verhouding van ons kuns met die verlede en die verantwoordelikheid wat ons het as ’n belangrike rolspeler op die kontinent. Africa Open sien die uitbou van die argief as ’n spilpunt vir hierdie werk, en is daarom sterk geïntegreer met die werk van die Dokumentasiesentrum vir Musiek (Domus). Indien ons hard werk, sal hierdie ontwikkelings nie beteken dat die beste eienskappe van ons huidige programme verval nie, maar eerder dat dit aangevul en versterk sal word. Ek is baie trots daarop dat Stellenbosch-universiteit nasionaal die voortou geneem het met die stigting van die instituut. Dit is ’n aanduiding van hoe belangrik musiek is vir die universiteit, maar ook hoe ernstig die universiteit voel daaroor om kwessies soos dekolonisering nie net pragmaties en ad hoc te hanteer nie, maar ook deur die skep van strukture wat langtermyn (hopelik remediërende) intellektuele trajekte volg. Die oorsake van die situasie waarin ons ons bevind, het ’n baie lang aanloop en geskiedenis. Om vas te kyk teen die protesaksies op ons kampusse as sou dít die probleem wees, eerder as een van die komplekse gevolge van besluite of versuim oor ’n baie lang tyd, is disoriënterend. Dit speel in die hande van populistiese retoriek van links en regs en word aangebied as regverdiging vir ’n teruggryp na ons historiese voorkeur vir die polisie as alternatief vir die morsigheid van spanning en verskil.

Nog iets oor persepsies: Dink baie studente van die Westerse musiek dat Afrikamusiek bestaan uit die bespeel van tromme? Brei asseblief uit op ander tendense in Suid-Afrikaanse en in die besonder Afrikamusiek wat mense mag verbaas?

Die kulturele chauvinisme waarvan jy praat, kom wel voor by sommige studente én akademici én praktiese musici, net soos dit by ander geheel en al afwesig is. Soms is hierdie reaksionêre persepsies gekoppel aan kwalik verborge rassisme, soms aan welmenende patroniserende houdings, soms aan vrees, soms aan die beskerming van eiebelang, dikwels gewoon aan onkunde. Dit vind uitdrukking in gebrek aan nuuskierigheid, die verheffing van burokratiese prosesse tot substantiewe kwessies, die onbewuste gelykskakeling van genres soos jazz met swart identiteit, die diversifikasie van elites in genres soos opera as plaasvervanger vir vernuwing, die paniekerige aansprake op universele estetiese waardes vir historiese kulturele voorkeure en die gebrek aan volhoubare investering in enigiets meer as toeristiese intellektuele en kreatiewe besigtigings en beluisterings van Afrikamusiek. In Maart ken Stellenbosch-universiteit ’n eredoktorsgraad toe aan Kofi Agawu van Princeton-universiteit. Agawu se werk het heelwat daartoe bygedra, miskien meer as dié van enigiemand anders, om begrip oor die kompleksiteit van Afrikamusiek te skep en om stereotipes en wanopvattings (soos die dominansie van ritmiek in Afrikamusiek bó harmoniek en melodiek, die voorkoms van poliritmiek, die oorbeklemtoning van verskil, die analitiese weerstandigheid van Afrikamusiek) te problematiseer. Maar ook in Suid-Afrika het die werk van verskeie akademici stelselmatig akademiese wanpersepsies begin verstel oor ’n breë spektrum van musiek wat verskillende aanknopingspunte het met Westerse musiek. Die dualisme Westers/Afrika is ’n oorvereenvoudigde identiteitspolitieke konstruk wat beperkte waarde het as ’n intellektuele of kreatiewe vertrekpunt. Ons het min te baat daarby om hierdie simplistiese opposisionele konstruk te handhaaf.

Teen die agtergrond van jou opmerkings oor protes haal ek jou uit jou openingsrede aan:

Openings are restitutive.
Openings reverse decline.
Openings embrace protest.
Openings lacerate.
Openings butcher.
Openings burn. 

Heel prakties: Hoe omhels mens dié onafwendbare, soms anargistiese, soms noodsaaklike protes binne die werksomgewing?

Eerste moet ek sê dat ek glo dat die dinamika van protes op die verskillende universiteitskampusse beduidend verskil. Dit is duidelik dat partypolitieke mobilisering by Wits, byvoorbeeld, ’n baie belangriker deel van die proteste uitmaak as by Stellenbosch. Die vlakke van polisiebrutaliteit wissel ook, met arrestasies en interdikte in Stellenbosch wat skaars die nuus haal, terwyl ons skokkende beelde van die brutalisering van studente by UCKNAR (University Currently Known as Rhodes) op sosiale media kon sien, asook hoe ’n militêre voertuig op ’n kerkperseel afjaag in Braamfontein en ’n priester in die gesig geskiet word. Verskillende strategieë sou noodwendig nodig wees om in hierdie heel uiteenlopende kontekste sinvol te handel, en een van die stigtende dinge van 2016 was hoe die mees ekstreme voorvalle van gewelddadige protes aangegryp is deur universiteitsowerhede as regverdiging vir die militarisering van betreklik vreedsame omgewings.

Die tweede opmerking is dat ek ’n direkte verband sien tussen hierdie teruggryp na die wet-en-orde-benadering deur ons universiteite en die dekades lange ondermyning van die humaniora op ons kampusse ten gunste van apartheidsera-wetenskapsbesteding en daarna die burokratiserende impulse van ons universiteite wat die soort skeefgetrekte befondsingmodelle voortgesit het. Net meer as 20 jaar gelede, betreklik onlangs dus, het intellektuele aan Suid-Afrikaanse universiteite nog selfsensuur moes toepas wanneer daar gedink en geskryf word oor ’n hele spektrum van idees wat nou met groot dringendheid deur die studente op die agenda geplaas word: ekonomiese ongelykheid, strukturele en stadige geweld, identiteitspolitiek, transformasie. Skrywers, musici, denkers, intellektuele, kunstenaars – die mense wat ons realiteit interpreteer en verbeel en weerspieël en vorm – moes “reg” dink en skryf. Mense en boeke en films en musiek is verbied, en loopbane is verwoes. Na my beste wete het universiteite nooit ná apartheid probeer om vas te stel wat die omvang van die skade van hierdie praktyke (in samehang met internasionale isolasie) was nie.

Hierdie versuim het rampsalige gevolge op verskillende gebiede, waarvan één die voorkeur is vir traangas eerder as colloquia, vir arrestasies eerder as seminare, vir hofstukke eerder as gedigte. Dit wat ons tans in die gesig staar, sal nie deur die polisie opgelos word nie. Die humaniora is kern tot die probleme (en hul oplossings) wat deur die gebeure van 2015–2016 aan die orde gestel word, maar dit is deur die slopende effek van die polisiestaat en daarna deur gebrekkige befondsing en korporatisering so verarm dat ons kommerwekkende gebrek aan diepte toon in ons reaksies op die sosiale onrus. Die maatstaf vir die omvang van ons probleme is nie die omvang van die gewelddadige onrus nie, hoe ontstellend dit ook al is. Dit is eerder die beperkte woordeskat van universiteitsbesture, die afwesigheid van die filosowe, die stilte van die skrywers, die onttrekking van die historici, die isolasie van die kunstenaars en oor die algemeen die gebrek aan prominensie van denkers en kunstenaars in hierdie tyd.

Om meer konkreet te antwoord op jou vraag, kan ek verwys na twee inisiatiewe wat Africa Open laat verlede jaar van stapel gestuur het as pogings om gesprek te soek te midde van disintegrerende vertroue tussen institusies en studente, en die immer groter wordende radikalisering van standpunte (van studente en besture). Die eerste was om ’n groep aktivistiese studente by Wits te ontmoet en te vra of hulle dit sou oorweeg om die musiek van protes wat met die studenteopstande gepaard gaan, op te neem, te versamel en vir navorsing en studie beskikbaar te stel aan die Dokumentasiesentrum vir Musiek. Die ontmoeting met hierdie jongmense en wat daarna gebeur het, was hoopgewend. Alhoewel hulle politieke standpunte op die oog af teoreties onverbiddelik radikaal is, het hulle onmiddellik die potensiaal van die voorstel ingesien en is die projek geformaliseer en die nodige strukture tot hulle beskikking gestel. Dit het gou geblyk dat die musiek wat die studente tydens byeenkomste en optogte sing, insluitende die gedekoloniseerde “Nkosi sikelel’ iAfrika”, komplekse genealogieë openbaar met musiek van die struggle, van verskillende kerkdenominasies, van mynwerkers, van tronkmusiek, van tradisionele repertoriums. Alhoewel dit musikologies interessant is, is daar ook die fassinerende moontlikheid dat hierdie musiek spreek van die intergenerasie-transmissie wat so belangrik is om trauma, pyn en woede onder die studenteaktiviste te verstaan. Dissiplinêre werk, dus, wat die moontlikheid bied om die soort noodsaaklike gesprekke te voer wat so moeilik is om te choreografeer. Interessant genoeg het die Wits-studente op eie stoom ’n seminaar belê waar hierdie sake bespreek is, en ek hoop om die resultate van daardie gesprek in hierdie jaar na ons kampus te bring sodat Wits- en Stellenbosch- en Kaapstad- en UWK-studente met mekaar in gesprek kan tree oor wat nou hulle navorsing geword het oor die klank van protes.

In November het Africa Open die inisiatief geneem om ’n solidariteitskonsert in die Kruiskerk op Stellenbosch te hou. Van die belangrikste digters van die Fallism-beweging en legendariese musici het opgetree. Dit was die eerste openbare inisiatief om op musikale en literêre wyse te reageer op wat op ons kampusse gebeur, en dit is spoedig opgevolg deur ’n geleentheid in Johannesburg wat deur studente gereël is (en waarby ons nie betrokke was nie). Die Kruiskerk-konsert, getiteld You’re in chains too, was ’n merkwaardige kuratoriese projek van die filmmaker en skrywer Aryan Kaganof. Die digters Nathan Trantraal, Lesego Rampolokeng, Stacy Hardy, Afurakan, Siphokazi Jonas en Koleka Putuma het opgetree, en onder die musici het getel Louis Moholo-Moholo (dromme), Kyle Shepherd (klavier), Nduduzo Makhathini (klavier), Jitsvinger (hip-hop-kunstenaar en digter), Emile YX Jansen en Heal The Hood (hip-hop-kunstenaar), KHOI KONNEXION en Siyabonga Njica (digter en kitaarspeler). Lwazi Lushaba van Kaapstad het gepraat, en ook verskeie studenteaktiviste. Stacy Hardy se voorlesing is ontwrig en AS IS (met Niklas Zimmer, Garth Erasmus en Manfred Zylla) kon daarna nie optree nie. Die poësie en musiek en resepsie van die konsert sou die agenda vir ’n jaar se besinnings kon verskaf, met verrassende en ontstellende en hoopgewende intreepunte vir debat en gesprek. Kyk gerus as voorbeelde van wat tydens die geleentheid plaasgevind het, na die volgende skakels: https://vimeo.com/194567596 (Siphokazi Jonas), https://vimeo.com/193038316 (Ashanti) en https://vimeo.com/192738789 (Your silence is painful). Ek hoop om in hierdie jaar maniere te vind om die poësie en musiek en debatte wat ná die konsert plaasgevind het, op ’n manier te publiseer vir wye verspreiding sodat verdere gesprek en bewusmaking en teoretisering en skepping kan plaasvind.

Watter taal praat musiek in hierdie dae op Stellenbosch? Dalk die enigste werklik meertalige departement op die kampus waar jy is?

Africa Open is ’n Tipe 2-instituut, maw dit het die status van ’n onafhanklike departement in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en my posisie as direkteur beteken dat ek – soos ander departementele voorsitters – aan die dekaan rapporteer eerder as aan die voorsitter van die Departement Musiek. Ek maak dit duidelik, omdat dit ten dele jou vraag beantwoord. Die beste manier om die soort inisiatiewe soos wat ek hier bo beskryf (en heelwat ander wat ek nie hier kan uiteensit nie), werklikheid te laat word, was om hierdie soort struktuur tot stand te bring naas die Departement Musiek. Institusionele vernuwing is moeilik in die dissiplinêr-gereguleerde omgewings wat die ruggraat vorm van universiteite se intellektuele projek. In die geval van die Departement Musiek maak die leerplanne, aanstellings en bedrywighede dit duidelik dat dit ’n departement is wat op Westerse kunsmusiek fokus. Dit is om hierdie rede dat Stellenbosch-universiteit se steun vir Africa Open, gepaardgaande met voortgesette ondersteuning van die Departement Musiek, so beduidend en grensverskuiwend is as ’n institusionele strategie. Africa Open wil die Departement Musiek help om die uitnemendheid te handhaaf wat uit hierdie historiese fokus ontwikkel het. Maar die instituut wil ook die intellektuele en kreatiewe beweegruimte skep waarin ons met minder angsvallige en skoorvoetende pogings vorendag kan kom om te kyk hoe hierdie fokus insluitend eerder as uitsluitend kan wees. Hierdie is een voorbeeld – sonder presedent in my dissipline – van hoe ’n dekoloniseringsagenda struktureel beslag kan kry in institusionele strategie. Die nuwe bedeling stel ’n toekoms in die vooruitsig waarin ons heelwat beter, heelwat interessanter en heelwat invloedryker werk kan doen (ook musici en akademici wat fokus op Westerse kunsmusiek) nie deur ons Westerse musikale erfenis die rug toe te keer nie, maar deur verbeeldingryk en dapper oop te maak na ander aspekte van ons kulturele erfenis en die fassinerende wyses waarop musiek met ander media en dissiplines in hierdie verstrengelde ruimtes bestaan.

Lees ook:

  • 2

Kommentaar

  • Estelle Kruger
    Estelle Kruger

    'n Werklik interessante onderhoud, met moontlike antwoorde vir die wesentlike kwessie van die vraag: "Wat is dekolonialisering van kurrikula?"
    Die skepping van 'n aparte instituut blyk 'n uitstekende (voorlopige) oplossing te wees.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Muller het sy intreerede blykbaar in Engels gelewer en sy instituut se naam is Africa Open. Die koloniale taal Engels word ter dekolonisering gebruik. Daar is 'n aktivisties-anargistiese nie- (selfs anti-) Westerse klank van protes in sy onderhoud en intreerede. Dit is myns insiens nie bevorderlik vir afdoende kritiese openheid teenoor Westerse kultuur en beskawing nie, om van Afrikanerkultuur en Afrikaans nie te praat nie. Die handhawing van gesonde dissipline, wet en orde sal vorentoe nogal nodig wees ter behoud van wat aan die Universiteit Stellenbosch opgebou is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top