Stephanus Muller, intreerede as nuwe professor in Musiek, Universiteit Stellenbosch, gelewer op 10 Mei 2016

  • 0

stephanusmuller_dekolonsiasieonderhoud

Stephanus Muller
Africa Open – Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie
Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Universiteit Stellenbosch

Kopiereg © 2016 Stephanus Muller
Uit Engels vertaal deur Hans Oosthuizen

Stephanus Muller ontvang sy voorgraadse musiekopleiding by die Universiteit van Pretoria. Sy musiekstudie ondergaan in 1993 ’n klemverskuiwing van klavieruitvoering na musiekwetenskap en hy verwerf meestersgrade hierin by die universiteite van Suid-Afrika en Oxford.

Voor sy terugkeer Suid-Afrika in 2001 behaal hy vroeër daardie jaar ’n DPhil-graad by Oxford. Hy is in 2004 tot voorsitter van die Musiekwetenskapvereniging van Suidelike Afrika verkies en het in 2006 ’n aandeel gehad aan die samesmelting daarvan met die Ethnomusicology Symposium.

Na sy aanstelling as dosent by die Universiteit Stellenbosch in 2005 stig hy die Dokumentesentrum vir Musiek (Domus) as navorsings- en musiekerfenis-inisiatief. Domus het sedertdien van die belangrikste en waardevolste argiewe van individue en instellings verkry, sodat dit nou ’n unieke bewaarplek van musiekopnames, partiture en argiefdokumente in Afrika is.

Muller was sedert sy aanstelling by Stellenbosch die studieleier vir baanbrekende navorsing deur ’n nuwe geslag Suid-Afrikaanse musieknavorsers, van wie baie aangeskuif het om by toonaangewende universiteite in die buiteland verder te studeer of in doseerposte aan Suid-Afrikaanse universiteite aangestel te word.

By die Universiteit Stellenbosch is hy nou die direkteur van ’n ambisieuse institusionele inisiatief, Africa Open – Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie, wat reageer op die uitdagings van en geleenthede vir musiekstudie in Suid-Afrika en geborg word deur die Andrew W Mellon Stigting.

Muller het dié universiteit se Kanselierstoekenning vir Uitnemende Navorsing ontvang. Vir Nagmusiek, sy boek oor die komponis Arnold van Wyk, is hy vereer met ’n aantal toonaangewende letterkundepryse vir fiksie en niefiksie.

*

“I am open to you” could be recapitulated as “I have the capacity to bear your investment” or “I afford you”. This conservative voice is not associated with will or intention, but with the inevitability of affordance as a mesophilic bond, and with the survival economy and the logic of capacity. If you exceed the capacity by which you can be afforded, you will be cracked, lacerated and laid open. (Reza Negarestani, Cyclonopedia: Complicity with Anonymous Materials, Melbourne: re.press, 2008:198)

To conclude is not merely erroneous, but ugly. (Nick Land, Art as insurrection: The question of aesthetics in Kant, Schopenhauer, and Nietzsche, Fanged Noumena: Collected Writings 1987–2007, Falmouth, UK: Urbanomic, 2011:145–74, veral 174)

A trill is a trill. (Werner Ansbach, Why the lark cannot see the open, Essays in Defense of Nitwits, Pietermaritzburg: Kenotaphion Press, 2016:656–78, veral 666)

 

Openings

Opgedra aan my vriend Chris Walton

Om as ’n professor – in Afrikaans ook bekend as hoogleraar – in die universiteitsgemeenskap verwelkom te word, is ’n soort aankomspunt. Dis dus ook ’n soort dood. Vir dié dood is ek oopgestel deur, om Foucault aan te haal, “naamlose stemme wat my in die verre verlede voorafgegaan het en my voorberei het [...] om daarin verwikkeld te word, hul kadense deel van myself te maak”.1 In die inleiding tot dié lesing wil ek graag openings oorweeg wat my tot nou toe aangelok het; in die tweede deel verskuif my klem na openings wat nuut geskep word deur hierdie bevordering, met die veronderstelling dat dit nie eerder ’n neerdaling na donkerder plekke is nie. In dié proses bring ek hulde aan voorgangers en bied enkele opmerkings oor die tradisie waarbinne ek werk, gevolg deur ’n breë oorsig oor die musiektradisie in Suid-Afrika en oor hoe ek uitdagings en geleenthede in musiekstudie en -onderrig in ons land beskou. Dit is betekenisvol dat ek dit nie doen net as die Universiteit Stellenbosch se nuutste musiekprofessor nie maar as die eerste een wat dié posisie nie binne die Departement Musiek beklee nie. Dit verteenwoordig in sigself ’n belangrike drumpeloorgang in ons dissipline.

Musiek – nie net geïnstitusionaliseerde musiek nie – het ’n dissiplinêre karakter, nie net in die sin dat dit ’n kennisvertakking daarstel nie, maar ook in wat dit van sy beoefenaars verwag: opleiding, gehoorsaamheid, onderwerping aan gesag en respekvolle erkenning van hiërargie, bewustheid van reëls as ’n deug, getrouheid aan tradisie as iets net so belangrik as vernuwing, toewyding aan behendigheid, en vurig mededingende onafhanklikheid van ander artistieke of meer akademiese universiteitsdissiplines. My inlywing, van baie jonk af, in dié gemeenskap van vreemd welmenende outoritarisme het geskied deur die onderrig en leiding van merkwaardige mense, almal op een of ander manier aanhangers van dié dissiplinêre etos van musiek. Noem ek Joseph Stanford, Stefanus Zondagh en Marian Friedman, erken ek hiermee my verskuldiging aan en ’n verbintenis tot die musiekgenealogie soos verteenwoordig deur hulle.

Die gestrenge musiekopleiding waarmee ek as ’n klein seuntjie in 1978 begin het, was een van ontwyfelbare toewyding aan Westerse kunsmusiek. Dit het nie verander toe ’n sameloop van belangstelling en beperkings, baie jare later, my verbintenis tot musiek in ’n navorsingsrigting gelei het nie. Die mans van wie ek as universiteitstudent leiding gekry het, is in hierdie land gebore, maar hul musiekoriëntasie was gesetel in Europa. My deurslaggewende ontdekkings oor musiek as ’n akademiese dissipline, ontdekkings wat my die oorvloedige geleenthede vir musieknavorsing in Suid-Afrika laat besef het, was nie hier nie maar in Oxford, waar ek onder die operanavorser Roger Parker se leiding gewerk het.

Hoe het dit gebeur dat my intellektuele ontwaking vir die rykheid van Suid-Afrikaanse musiek by Oxford geskied het en nie by my eerste alma mater, die Universiteit van Pretoria, of my tweede, die Universiteit van Suid-Afrika, nie? Dit was beslis nie omdat Oxford as plek of instelling, of inderdaad omdat musiekgeleerdes daar, besonder geïnteresseerd in of ingelig oor musiek in Suid-Afrika was nie. Dalk het dit iets te make gehad met die soort intellektuele wêreld wat Oxford verteenwoordig het en, omgekeerd, die soort intellektuele wêreld wat my alma maters in Pretoria nie kon wees nie. Oxford het so ’n selfversekerde sin gehad vir die akademiese projek en van haar gesentreerdheid daarin dat sy akkommoderend kon wees selfs teenoor dit waarin sy nie besonder belanggestel het nie. Hierteenoor was die Suid-Afrika van my vroeë jeug vasgevang in sulke onsekerheid en gebrek aan selfvertroue dat dit brutaal onverdraagsaam was teenoor denke wat nie beskou is as direk in die eiebelang nie. Dit was dus nie ’n plek gekenmerk deur weetgierigheid, ontdekking, waagmoed, intellektuele avontuurlus, kreatiewe spel, perkelose moontlikheid en bemagtigde gesentreerdheid nie.

Dink ek terug aan daardie tyd, nou 25 jaar gelede, begryp ek dat selfs al kan die dissiplinêre openings wat die horisonne van ons denke bepaal, vlietend wees, dateer hulle tog hul onderwerpe. In my eie werk bly ek toegewy aan daardie navorsingsdeugde wat ek tevergeefs soek in dit wat ek nou herken as die hoogs polities gekompromitteerde universiteitsomgewing van my voorgraadse en vroeë nagraadse jare. Ek bly in my geïnstitusionaliseerdheid op ’n besonderse manier geopen deur daardie ervarings.

My professionele akademiese loopbaan het begin ná my doktorale werk in Oxford. Die meeste beskeie prestasies daarvan, nie allermins hierdie inhuldiging as professor by Stellenbosch nie, sou ondenkbaar gewees het sonder die vriendskap en kollegiale steun van Chris Walton, aan wie ek vanaand se lesing opdra. Walton, gebore in noordoos-Engeland, Oxbridge-opgelei (Caius-kollege, Cambridge en Christ Church, Oxford), Switsers-Duits genaturaliseer, Afrikaner-ingeburger, navorser en bibliotekaris, het by die Universiteit van Pretoria gewerk, eers as hoof van die musiekdepartement gedurende 2001 tot 2005 en daarna as navorsingsprofessor tot 2008, toe hy terug is Switserland toe. Ek beskou dit as die enkele mees gelukkige toeval in my nadoktorale akademiese loopbaan dat Chris in Suid-Afrika aangekom het op die tydstip toe ek uit Engeland teruggekom het hiernatoe. Met hom as senior vennoot het ons saam twee boeke uitgegee: Gender and sexuality in South African music (2005) en A composer in Africa: Essays on the life and work of Stefans Grové (2006), en ek is ingelei in ’n ongeëwenaarde werksetiek, wakker gemaak tot ’n ambisie vir die moontlikhede van Suid-Afrikaanse musiek en musiekstudie en geïnspireer deur ’n navorsingsgerigte toewyding tot ’n getransformeerde dissipline en samelewing.

Chris het my vroeë loopbaan gevoed, nie omdat ek sy verantwoordelikheid was nie, maar omdat hy geglo het ons dissipline kort ’n versterkte, verbredende, bemagtigde nuwe geslag geleerdes om musiek se volhoubaarheid as ’n universiteitsvak in Suid-Afrika te verseker. Deur sy voorbeeld het hy gelei, en gepubliseer, nie net oor sy vakgebied, naamlik Wagner en laat-Oostenryks-Duitse romantiek nie, maar ook oor Suid-Afrikaanse musiek. Ongeëwenaard, wat laasgenoemde betref, het hy dit in internasionale vaktydskrifte gedoen en só ’n breë gehoor blootgestel aan musiek wat lank net plaaslik van belang was. Hy was verantwoordelik vir die eerste International Musicological Society-streekskongres op die Afrika-kontinent, hier in Stellenbosch in 2010,2 vir die heel eerste uitgawe wat Fontes Artis Musicae, die International Association of Music Libraries, Archives and Documentation Centres se tydskrif, aan Suid-Afrikaanse musiek gewy het,3 die uitgebreide en herverlewendigde verbintenis van Suid-Afrikaanse navorsing met RILM (die Répertoire International de Littérature Musicale) wat sedert Walton se vertrek in Stellenbosch gesetel is, en die eerste kongres oor musiek en gender in Suid-Afrika, in Augustus 2003, naas vele ander inisiatiewe en professionele akademiese bydraes tot die musiekgemeenskap. Sy agtergrond en idees as voormalige hoof van die musiekdepartement in die sentrale biblioteek in Zürich is ingevoer in my vestiging van die Dokumentasiesentrum vir Musiek (Domus) in 2005, en Chris het my onvermoeid voorsien van raad en ondersteuning in my strewe om die Universiteit Stellenbosch se musiekargief die rykste en aantreklikste in die land en op die kontinent te maak. Die betekenisvolste is dat sy doseerwerk by die Universiteit van Pretoria gelei het tot ’n geslag van jong musiekgeleerdes, van wie baie doktorale studente of nadoktorale genote op Stellenbosch geword het, en wat reeds die mantel dra van ’n 21ste-eeuse generasie van dissiplinêre leiers. Ek wil erkenning gee vir wat ek verskuldig is aan dié merkwaardige man, wat ek vereer vir sy buitengewoon briljante intellek, sy waagmoed, sy gulhartigheid, sy gedugte eienskappe as navorser, asook sy persoonlike toewyding aan studente en kollegas en aan ons land.

Toe Chris by die Universiteit van Pretoria begin werk het, het hy blykbaar sy personeel ingelig dat hy die laaste wit man as departementshoof daar sou wees. Drie hoofde later, al drie wit en al drie mans, sou hy seker die eerste wees wat erken hy het hom oor sekere dinge vergis. Chris se werk in en uiteindelike vertrek uit Suid-Afrika het iets getoon van die aard van openings in die veld waarin ek klasgee en publiseer:

Openings is ingrypings.
Openings wat van buite af geskied, skeur oop.
Openings beteken opskaal.
Openings is broos.

Afhangende van ’n mens se subdissiplinêre uitgangspunt het Suid-Afrikaanse musieknavorsing ’n buitengewoon beskeie of nogal ’n voortreflike geskiedenis. Suid-Afrikaanse populêre en inheemse musiek was tot dusver oor die algemeen nie net die vrugbaarste navorsingsvelde nie, maar ook internasionaal die sigbaarste en bes erkende. Metodologies en dissiplinêr het dié navorsing geskiedkundig uitgegaan vanuit breë interdissiplinêre inklusiwiteit, dit was deurentyd deur sy betrokkenheid met musiek vatbaar vir kulturele en kritiese teorie, dit was op sigself dikwels teoriebouend, het die plaaslike as die spil van die studieprojek erken, het ’n internasionale leserspubliek gehad, was skaamteloos sosiopolities ontvanklik en opgeskerp, en het ’n lewendige dialoog tussen praktyk en navorsing gehandhaaf. Daarteenoor, waar universiteitsdepartemente op die onderrig van Westerse kunsmusiek toegespits was, was navorsing, of eerder die gebrek daaraan, die getuie van hoe bronne oorweldigend elders verwys is, meestal om uitvoerende kunstenaars op te lei in die tradisies en uitvoeringspraktyke van die Westerse kanonieke repertorium, waarin plaaslike akademiese ondersoek ten beste ’n beskeie aanhangsel was, en algemene musikologiese bewustheid, ten slegste, heeltemal afwesig. Vir sover die invloede op navorsing landwyd onbetwisbaar nypend was as die apartheidstyd se ideologiese oorbelegging in sulke musiekdepartemente in ag geneem word, het die meeste goedgesubsidieerde universiteite se verbintenis om konservatoriumagtige opleidingsinstellings te wees deur die jare dikwels-vermelde suksesse gelewer, meestal in die vorm van toonaangewende oudstudente wat later belangrike uitvoerende of doseerloopbane gehad het. Die Stellenbosse musiekdepartement het oor baie dekades in dié opsig ’n besonder belangrike rol gespeel en daar kan geredeneer word dat dit nou die belangrikste instansie in die land is waar dié soort klem en opleiding energiek ondersteun word.

Soos vele politieke kompromieë van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu wat op die einde van apartheid gevolg het, blyk die gedagte toenemend oorbodig te wees dat daar net een musiekdepartement in Suid-Afrika sou oorbly waar Westerse kunsmusiek deur leerreëls, gebruike en leerplanne die agenda sou oorheers, met die uitsluiting van alle ander musiekvorme. Die onbetwisbaar noue verbintenis tussen die studie en uitvoer van Westerse kunsmusiek in Suid-Afrika en, andersyds, koloniale en apartheidsbenaderings tot kultuur, lê nie, soos wat dikwels verkeerd aangeneem word, slegs by die materiële vorme daarvan nie (sy instrumente, werke, gebruike, ruimtes, uitvoeringspraktyke – waarvoor daar ter verdediging gewoonlik ’n argument van “universeelheid” aangevoer word), maar dit lê meer betekenisvol in die anti-intellektualisme van sy Suid-Afrikaanse weergawes. Dit kom steeds uiteenlopend tot uiting in die onverskilligheid daarvan teenoor die plaaslike, die oorweldigende verlede-gerigtheid, respek vir kultuursentra wat geografies ver weg is, isolasie van ander kunste, vervreemdheid van kritiese denke, en gevolglik die eienaardige betowering met dit wat nageboots word. Waar ook al musiek in die greep van dié saamgestelde kragte bestaan, is dit dood. Die eis om radikale hervorming, geartikuleer onder verskillende protesbaniere, wat ons sedert 2015 op Suid-Afrikaanse kampusse gehoor het, sal uiteindelik vanaf standbeelde en kunswerke oorbeweeg na musiek. Die vraag is nie óf nie, maar wannéér dit gaan gebeur. Kunsverbranding en standbeeldverwydering wys ’n uiterlike opdamming van kragte sonder inagneming van die stelsel se vermoë om dit te kan bekostig. Instellings se wesenlike onvermoë om die digbevolkte uiterlike van hul dissiplinêre neigings te aanvaar, is veel ernstiger as hul onvermoë om deel te neem aan die noodsaaklike argumentvoering oor die relatief eenvoudige kwessies soos wat uitgevoer behoort te word of selfs van leerplanne. Daar wink ’n toekoms waarin afgeslote bevoorregtingsruimtes, gebou op ’n omhelsing van onkunde, van buite af geopen sal word.

Openings is regstellend.
Openings keer agteruitgang om.
Openings omhels protes.
Openings verwond.
Openings verskeur.
Openings brand.

In 2015, dieselfde jaar waarin Suid-Afrikaanse universiteitskampusse in proteste ontvlam het, is Domus se tienjarige bestaan gevier. Na my aanstelling by die Universiteit Stellenbosch in 2005 stig ek Domus, met voortdurende raad van Chris Walton, wat in sy alte kort hoofskap onsuksesvol probeer het om so ’n instelling by die Universiteit van Pretoria te skep. Toegerus deur ervaring met my navorsing oor die komponis Arnold van Wyk se lewe en werk, ’n projek wat toe reeds vier jaar geduur het en eers nege jaar later voltooi is met my boek Nagmusiek se publikasie in 2014) het ek besef die lot van die Van Wyk-argief was die reël eerder as die uitsondering in Suid-Afrika. As historiografiese musikoloog het ek ook besef dié toedrag van sake raak die kern van my dissipline. Eenvoudig gestel: bestee elke Suid-Afrikaanse nagraadse student of navorser soveel tyd as wat ek moes met die versamel, orden en katalogiseer van haar of sy onderwerp se argief, indien dit ’n onderwerp is wat in ’n mate deur ’n argief gesteun word, geskied daar geen navorsing nie (soos nou nog dikwels in Suid-Afrika die geval is), of dit gebeur ontmoedigend en onproduktief stadig. Meer nog, ek het klinkklaar besef dat Suid-Afrika, soos baie ander samelewings wat gretig is om verby ’n traumatiese verlede te beweeg, minder as noukeurig omsien na haar komponiste, uitvoerende musici en kunstenaars se dokumentêre nalatenskappe. Geld was vir seker ’n rede, maar ook politiek en ideologie. Suid-Afrika wou graag vergeet, en dit het vir eers aanvaarbaar gelyk om dit deels te doen deur die verlede wat ons probeer vergeet het, agter ons te sit. Argiewe is nie net níé sistematies bymekaargebring en versorg nie; gerugte het rondgegaan dat hulle oral in die land en by baie instellings verwaarloos en selfs aktief vernietig is. Domus is dus gestig weens ’n diagnose van instellings- en dissiplinêre krisis.

Domus het begin met die ordeningsproses van die 20 versamelings wat die Stellenbosse Musiekbiblioteek se Spesiale Versamelings lukraak verkry het (insluitende die internasionaal belangrike versamelings van die bibliofiel Michael Scott en die dirigent Albert Coates) saam met ’n proaktiewe beleid om nuwe versamelings te werf. Die eerste aansienlike nuwe aanwins was dié van die Johannesburg-gesetelde 12-toon-komponis Graham Newcater in 2007, gevolg deur die manuskripte van die Pretoriase komponis Stefans Grové. Dat Domus versamelings ontvang het van individue sonder enige verbintenis tot ons universiteit en geografies gesetel naby ander universiteite en argiewe, het vir ons bevestig dat instellings landwyd onverskillig en/of onbevoegd is om die dringende dissiplinêre verpligting waardeur Domus voortgedryf word, te erken.

Intussen was dié dringende verpligtinge, soos wat ek dit in 2005 voorsien het, aan die toeneem. Toe Domus die permanente leenooreenkoms vir die Eoan-groep se argief in 2008 gesluit het, het ’n uitgebreide projek oor gemeenskapsbetrokkenheid en mondelinge geskiedenis ontstaan. Ons argiefbedrywighede het iets meer geword as dokumente versamel en katalogusse skep. Suid-Afrika se musiekgeskiedenis, het ons besef, kon nie opgeteken word sonder om aktief betrokke te raak en te streef na die oorbrugging van die verdeeldheidserfenis wat andersins alle geskiedskrywing komende vanuit Stellenbosch sou verdoem tot die beperktheid van “wit geskiedenis” nie. ’n Argief soos die Eoan-groep s’n kon help om dié wit oorvertellings te deurbreek, maar die voorvereiste was ’n hervestiging van ’n vertrouensverhouding met die gemeenskap wat dié kultuurbate besit. Die moontlikheid vir die argief om ’n verskil te maak, kon net in werking gestel word as ons vanaf ’n hernude sosiale kontrak sou begin, en Domus het dus die nodige vertroue begin bou as ’n voorvereiste om die argief te kry ten einde dit te bewaar. Dié proses het gelei tot ’n boek-4 en ’n filmprojek5 wat op betekenisvolle maniere die kernverstaan peil van hoe musiekgeskiedenis geskryf word.

Teen dié tyd het dit toenemend duidelik geword dat ’n lewendige betrokkenheid by Suid-Afrikaanse musiek nie kon geskied in afsondering van die uitgebreide musiekverband van ons tyd en plek nie en dat die argief ’n eksperimentering- en vernuwingsruimte geword het wat gehoor gee aan instellings se beweginglose vasgevangenheid tussen ’n verlede wat aan die verdwyn is en ’n voortdurend uitgestelde toekoms. Domus het seminare, komposisiesimposiums, tafelrondes en lesings geborg, ’n begin gemaak met die reël van aktivistiese musiekgebeure, en belangrike navorsings- en musiekprojekte geborg.6 Deurentyd is nog argiewe tot ons versameling toegevoeg: die Musiekwetenskapvereniging van Suidelike Afrika, NewMusicSA, Obelisk Musiek, die South African Jewish Music Centre en die Kaapse Filharmoniese Orkes, die versamelings en/of literêre nalatenskappe van George van der Spuy, Christopher James, John Simon, Lionel Bowman, Hanlie van Niekerk, Michael Blake, Nico Carstens, Surendran Reddy, Aryan Kaganof, Hubert du Plessis, Pieter de Villiers, Richard Behrens en Anton Goosen, die David Marks Hidden Years Music Archive en die Hennie Aucamp kabaret- en Entartete Kunst-versamelings, om net van die belangrikstes te noem. Teen ons tienjarige bestaansviering het Domus 50 versamelings by die aanvanklike 20 gevoeg. Nie net het die grootte van ons versamelings verskeie kere vermenigvuldig nie, maar die musiek- en materiaalverskeidenheid is ook vanaf Westerse kunsmusiek aanmerklik uitgebrei om rolprent-, jazz-, populêre, folk- en tradisionele musiek in te sluit.

Ons groeiende argiefmateriaal én uitgebreide navorsingsinisiatiewe het dit vir Domus moontlik gemaak om ’n kernrol te vervul in die handhawing van die intellektuele integriteit van musiek as akademiese dissipline, en andersyds om radikaal-dissiplinêre hervorming te stimuleer. Domus se aanskaffingsbeleid het ’n dissiplinêre dimensie gehad, maar dit het wesenlik in ’n minder netelige verhouding met die dissipline gestaan as dié tussen leerplan en dissipline. Naas dissiplinêre maatstawwe is versamelings aanvaar volgens oorwegings soos befondsing, strategiese posisionering, kudos, behoefte, regstelling, navorsingsmoontlikhede en nagraadse belange, om net enkeles te noem.

Oor dié balans van argiefoorwegings wat die dissipline se grense tegelyk vashou en uitstoot, kan ’n mens twee standpunte stel. Eerstens dien dit, byna deur verstek, tot die behoud van die dissipline, want dit ontwikkel vanuit ’n voortdurend verbredende maar ononderbroke siening van dissiplinêre konsensus en materiële produksie. Tweedens bedreig of ondermyn dié ontwikkeling nie dissiplinêre orde nie, want dit is sonder direkte verband tot die leerplan, met ander woorde tot dit wat voorgraads gedoseer word. Die argief is in vergelyking met die leerplan nóg ’n institusionele noodsaaklikheid nóg ’n voldoende voorvereiste vir die dissipline se bestaan en behoud. Dissiplinêr is dit dus potensieel meer strategies, presies omdat nie universiteitsbesture of die meeste praktiserende akademici meen dit vorm ’n institusionele vereiste nie. So gesien, word die teenstrydigheid tussen oënskynlik reaksionêre en progressiewe agendas wat in die argief se kern ingebed is, beter verduidelik as ’n aandrang op wat WJT Mitchell genoem het “die reg van die kunste en die geesteswetenskappe om net so eksperimenteel en nougeset as die wetenskappe te wees, net so oop vir die veranderende karakter van argiewe oor mense se geskiedenisse as wat wetenskaplikes is vir nuwe bewyse en nuwe metodes om bewyse te produseer”.7 Gegewe die geneigdheid van die humaniora en kunstedissiplines om te kanoniseer (ten einde te vergeet van mededingende hermeneutiese aansprake) in die afwesigheid van meer soliede waarheidseise en in die lig van die spesifiek Suid-Afrikaanse angst wat gepaard gaan met versnelde politieke en kulturele transformasie, kan die argief inhoud gee aan die reg waarvan Michell praat.

Vernuwing wat só gesien word (of in Mitchell se woorde “eksperimentalisme”, of “transformasie”, of in Suid-Afrikaanse politieke taal “dekolonisasie”), is nie gebaseer op vernietiging (dikwels gelykgestel met “ont-opleiding” of “in die steek laat”) en ’n gevolglike vervanging nie, maar op die dissiplinêre selfvertroue wat aanvanklik spruit uit ’n massa gegewens met presies die soort eienskappe wat vir ’n dissipline se erkenning nodig is. Op dié manier het die argief die moontlikheid om die enkele ruimte te word wat institusioneel geldig maar nie gekoöpteer is nie, waarbinne die sogenaamde ideologiese teenstrydigheid tussen behoudende en radikale benaderings opgeklaar word. Dít is waar die onderskeid tussen institusioneelheid en dissiplinariteit betekenisvol word. Die dissiplinêre inisiatiewe, soos ek dit in 2005 gesien het, sou beter gedien word as dit, minstens, volgens my siening, nie saamloop met wat institusioneel gebiedend noodsaaklik is nie. Domus het geïllustreer hoe ’n polities verwronge institusionele gebruik, voorgehou as dissiplinêre normatiwiteit, uitgedaag en verander word tot die dissipline se uiteindelike voordeel. Die argief laat ons toe om dít te doen, maar anders as die instelling waartoe dit slegs ’n bykomstigheid kan wees, weerstaan dit die druk om dit in die naam van die dissipline te doen. Dit is my oortuiging dat argiewe se vermoë om só te funksioneer, uniek belangrik is vir lande soos Suid-Afrika waar soveel van wat as “die dissipline” vermom word, verkalkte nabootsing is, beskerm deur wanopgevatte institusionele identifikasie tussen dissiplinêre en institusionele belange. Die argief dryf die pragtige kakofonie van die uitgestelde revolusie voort.

Openings versnel revolusies.
Openings kan nie bekostig word nie.
Openings is strategies.
Openings is morsig.
Openings verskaf nie afsluiting nie.
Openings is nie huishoudelik nie.
Openings is nie vrywillig nie.
Openings is nie versugtings nie.

Domus se tydelike tuiste, wat sedert sy ontstaan swewend was tussen enersyds ’n akademiese departement met eng-gedefinieerde institusionele en dissiplinêre belange teenoor andersyds die Biblioteek- en Inligtingsdiens, kon uiteindelik nie Domus se nomadiese, gebiedsonsekere aard finansieel onderhou nie, of die intellektuele en musikale ambisies daarvan bekostig nie. Onder druk om Domus institusioneel by die omvang van sy aanwinste én die energie van sy intellektuele en musikale projekte te formaliseer, het ek ’n proses aangepak om Africa Open – Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie – as ’n onafhanklike instituut in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe te vestig. Uit dié ontwikkeling is hierdie lesing se titel ontleen, want vir sover radikale oopheid, “om oop te word vir” of “oopgestel te word vir”, dui op daardie proses van ’n interne snit, is openings strukturele reaksies wat in werking tree teen die eenheids- (unitêre) of tweeledige (binêre) logikas van binne- en buitekant, van in- en uitsluiting; is openings in wese deurvloeibare ruimtes wat nuwe handelingsmoontlikhede bied aan institusionele raakpunte waar ons in wisselwerking tree.

By die Universiteit Stellenbosch is musiek al meer as ’n eeu geïnstitusionaliseer en, soos aangedui is, is veel van dit wat op musiekgebied by die universiteit bereik is, al wyd erken vir die lewering van nasionale maatstawwe in Westerse kunsmusiekuitvoering. Die beperkende normatiewe veronderstellings van ’n musiekdissipline wat as ideaal die skitterend gladde oppervlakke van gedissiplineerde vakmanskap aanneem, maak beide ’n krag en ’n swakheid uit: met die skep van normatiewe omstandighede vir Westerse kunsmusiekbeoefening maak die universiteit nou ’n vlak van musiekbeoefening op dié gebied moontlik wat ongeëwenaar in die land is. Aan die ander kant, indien daar in sulke normatiewe toestande gewerk word, ontvou die teenstrydighede wat in praktyke vervat is, nie doeltreffend in paradigmaskuiwe in nie. Gevolglik bly die interdissiplinêre opwinding van ons tyd uitgestel en die radikale optimisme van die onbekende bly onondersoek. Evoluering vanaf Africa Open se argiefwortels in Domus en die intensiteit van sy intellektuele en musiekprojekte in geïntegreerde navorsing deur uitvoering, komposisie, stelselsteorie, intermedialiteit, uiteenlopende interdissiplinêre rigtings, radikaal blootgestelde onderwerpsposisies, die rehabilitasie van polities en esteties verwerpte musiekvorme, gemeenskapsbetrokkenheid, verlewendigde vorme van musiekontleding en kritiese historiografie – alles beskrywings van my inspirerende en briljante studente se navorsing – is Africa Open gestig met die veronderstelling dat kennisskepping in Suid-Afrika nie beperk moet word deur epistemologieë, hiërargieë en teoretiese modelle wat tot die skep van Westers-oorheerste moderniteit gelei het nie.

Die instituut is dus verbind tot ’n artistieke en studieagenda wat dié opvattings uitdaag in die gees van streng ondersoek, moontlik gemaak deur die universiteit as laboratorium van nuwe idees en vorme asook die waarborger en voorsiener van ongehinderde ruimtes vir die vooruitgang van skeppende, vernuwende en ondersoekende denke. Met verloop van tyd sal Africa Opendie grootste, veiligste en tegnologies bes ontwikkelde ooptoegang-musiekargief in Afrika – Domus – daarstel, saam met die verskaffing van die voorpunt- en netwerkgerigte intellektuele ruimte vir navorsing, vernuwing en kritiese denke, toegespits op kreatiewe musiekprojekte in ’n Afrikaverband.

As “openheid” nie die “antropomorfiese begeerte om oop te maak” is nie, maar ’n “oopgemaak-word veroorsaak deur die handeling van om-te-open”,8 is dit in die openings na buite toe dat ons moet vorentoe gaan, in die “hierheen roep” deur die vestiging van aanlokkingslyne na buite (eerder as om te reis na bestemmings wat as “buite” geïdentifiseer is). Africa Open sal aansluit by die soort denke en skeppende werk wat diep insny in ons vermoë om te “akkommodeer”. Die toekomstige ontwikkeling van musiekstudies in Suid-Afrika hang af van radikale openheid, van oop wees soos wat dit deur die skep van openings geskied. Die 21ste eeu se jong musici en musiekgeleerdes word nie net met die kunsmusiek van Westerse moderniteit in hul ore groot nie, maar ook met die ryke opname-erfenisse van jazz en ’n verbysterende spektrum van populêre- en wêreldmusiekvorme. Met die wye uitmonding van 20ste-eeuse musiekuitdrukking agter ons moet enige musikale ruimte wat hoop om interessante skeppende werk aan te moedig, respek hê vir die rykste verskeidenhede van alle agtergronde, tradisies en ontstaansgeskiedenisse se musikale uitdrukking. Ons moet van oral af die musiekvorme van kulture en samelewings anders as dié waaraan ons gewoond is, hierheen bymekaarroep: dié van intieme oorpeinsing, verbeelde tradisies, musiekvorme van ontkenning en weerstand, dié wat aan spesifieke geskiedenisse verbind is, dié van skokke of onderhandeling of oproer, musiek wat binne groot nasionale tradisies gesetel is, gewelddadige musikale verklarings van afwykendheid, gebeure, uitdagings, meditatiewe religieuse musiekekstases, musiek wat strek van streng prosesse tot vrye keuse, musiekvorme van stilte en transfigurasie – klank in al sy kaleidoskopiese grootsheid.

Africa Open voorsien uitgestrekte nuwe velde van akademiese en skeppende werk in musiek, of dit nou die jazzstudies en die argiefprojek is waarmee ons hoop om aandag aan onverdedigbare leemtes te gee deur die institusionalisering van ’n ryk en internasionaal invloedryke Suid-Afrikaanse musiekpraktyk; die vestiging van ’n interdissiplinêre forum vir populêre musiek wat gemik is op die beëindiging van die onverdedigbare skeidslyne tussen “hoog” en “laag” soos wat ons akademiese departemente dit laat voortbestaan; die skep van publikasieplatforms om skeppende werk akademies uit te gee volgens voorwaardes soos bevorder deur die noodsaaklikhede van sulke skeppende werk eerder as deur instellings- of dissiplinêre dogma; die gebruik van tegnologiese ontwikkelings om musiekkomposisie, -uitvoering en -navorsing aan te bied op maniere wat selfs tien jaar gelede nog ondenkbaar was; die rig van uitnodigings aan musici as lewende argiewe om by ons instellings te kom werk en doseer en ons akademiese kortsigtigheid oop te kloof; of die skerpgemaakte gereedskap van ons dissipline in te lê vir die aanlok van musiekvorme en -praktyke wat ons tot nou toe eenkant toe geskuif het, én om dit wat ons agtelosig omhels het, beter te begryp en te waardeer. Die instituut sal musiek aan die kunste herverbind sodat komponiste en musici nie kultureel en intellektueel onsigbaar is nie; sal uitvoeringsgeleenthede vereer as openings wat van binne af verwond; sal die interdissiplinêre werklikheid van musiek in die wêreld kragtig najaag, die wellustige krag vier van in en deur klank te dink; en sal die vernietigende interne politiekerye en die ideologiese geredetwis van Suid-Afrikaanse musiek, wat onvermydelik uit die Suid-Afrikaanse verlede spruit, intellektueel aanvat. Dít is die uitdaging: om ons te verbind tot ingewikkelde kwessies, nie om geskille te besleg nie, maar om daardeur oopgestel te word.

In die loop van sy betoog om “The Open” te teoretiseer deur die verwantskap tussen mens en dier te oorweeg, staan Giorgo Agamben stil by die belangrikheid van die groot 20ste-eeuse soöloog Jakob von Uexküll se werk, voordat hy oorweging skenk aan Heidegger se worsteling met intense verveling.9 In ’n kort hoofstuk bestee Agamben tyd vir nadenke aan Uexküll se omskrywing van die begrip Umwelt (“omgewingswêreld” vertaal hy dit) en Umgebung (wat hy vertaal as “die objektiewe ruimte waarbinne ons ’n lewende wese sien beweeg”). Binne dié twee verbande, skryf Agamben, “bestaan daar geen unitêre wêreld nie, net soos daar geen ruimte en tyd bestaan wat dieselfde en gelyk is vir alle lewende dinge nie”.10 Uexküll veronderstel ’n “oneindige verskeidenheid van perseptuele wêrelde wat, hoewel hulle niekommunikerend en wedersyds eksklusief is, almal ewe perfek is en geskakel is asof in ’n reuse musikale partituur”.11 Vir Uexküll is die funksionele verwantskap tussen dié wêrelde ’n “musikale eenheid” tussen heterogene elemente wat “perfek ingestem” is en gee dit uitdrukking aan “die teenstrydige toevalligheid van […] wedersydse blindheid”.12 Die beweging tussen perseptuele wêrelde word vir Agamben ’n probleem van “om die grens te definieer – tegelyk die verwydering en die nabyheid – tussen dier en mens”.13 As Agamben erken dat die bewoning van dierewêrelde deur die gehalte van dierebetowering ’n “meer betowerde en intense openheid as enige soort mensekennis” kan wees, terwyl hy terselfdertyd die gevolgtrekking maak dat dié soort ongeëwenaarde hartstog van betowering in ’n bepaalde wêreld “geslote in algehele ondeursigtigheid” is omdat dit oop is in ’n nie-onverdoeseldheid, of oop tot ’n geslotenheid,14 dan verskaf hy nie net nadenke oor die menslike toestand nie, maar ook ’n metafoor vir die oopheid van instellings en dissiplines.

In dié verband staan Africa Open op die drumpel van ’n tevoorskyntreding nie soseer vanuit nóg-oop-nóg-geslote strukture wat nie radikale oopheid kan bekostig nie, as vanuit die intense verveling van daardie wedersyds eksklusiewe strukture met die onaktiewe, leë, agtergelate, in afwagting hangende kontekste waardeur hulle nie histories of ideologies betower word nie.

Africa Open rig die teleskoopvisier buitentoe vanuit die intensiteit van ons betowering deur ons partikuliere musikale hebbelikhede, om ’n skerp beeld te kry op ’n reusagtige musiekpartituur wat ons aanlok om ’n teiken te word vir wat daar buite is. Groot geskryf onder die titel Openings is die uitvoeringsaanduidings:

Openings is altyd HIER.
Openings is altyd NOU.

 

Eindnotas

 

1 Michel Foucault, The archeology of knowledge and the discourse on language, vert AM Sheridan Smith, Pantheon Books: New York, 1972, bl 215.

2 Die konferensie met die tema “Echoes of Empires: Musical encounters after hegemony” is gedurende 14–17 Julie 2010 by die Departement Musiek, Universiteit Stellenbosch, gehou, aangebied in samewerking met die South African Society for Research in Music (SASRIM).

3 Fontes Artis Musicae, 54:3, 2007.

4 Eoan Group Project. Eoan – Our story, ed. Hilde Roos en Wayne Muller, Johannesburg: Fourthwall, 2013.

5 An inconsolable memory, Aryan Kaganof, 2014.

6 Vir ’n vollediger weergawe van Domus se eerste tien jaar, kyk Santie de Jongh, “Armed with a light bulb at the end of a chord: The ten-year journey of DOMUS”, Fontes Artis Musicae, 62:3, 2015, 212–21.

7 Art, fate, and the disciplines: Some indicators, Critical Inquiry, 35:4, 2009, 1031.

8 Reza Negarestani, Cyclonopedia: Complicity with Anonymous Materials, Melbourne: re.press, 2008, 199.

9 Giorgio Agamben, The Open: man and animal, vert Kevin Attell, Stanford: Stanford UP, 2004. Oorspronklike uitgawe: L’aperto: L’uomo e l’animale, Bollati Boringhieri, 2002.

10 Ibid, 40.

11 Ibid, 40.

12 Ibid, 41–2.

13 Ibid, 59.

14 Ibid, 59.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top