
Danie van Wyk (agtergrondfoto: Pinterest)
Die finale konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch word deur die Senaat, die Institusionele Forum en die Raad gedurende hul vergaderings in Junie 2016 oorweeg.
Op 3 Junie 2016 is Die Burger se hoofopskrif: "Kaapse skool gee Afrikaans die trekpas".
Hou die universiteite se taalgesprekke verband met wat in die skole gebeur? Word daar op die oomblik ook buitengewoon baie oor skole se onderrigtale gesels? Naomi Meyer vra vir Danie van Wyk.
Danie, word daar op die oomblik in skole self - soos in die media - soveel oor onderrigtaal gesels?
By die meeste skole word daar nie oor onderrigtaal gesels nie. Wat wel ter sprake is, is hoe die kwaliteit van onderrig in veral voorheenbenadeelde skole, waar ek grootliks betrokke is, verbeter kan word en hoe om onderwysstandaarde in hierdie skole te handhaaf. Baie skole word tot ‘n groot mate gedwing om hul taalbeleid aan te pas of te hersien gegewe die integrasie van woonbuurte, asook die teenwoordigheid van immigrantekinders wat ook ‘n reg tot onderwys het.
Wat ek wel opmerk is dat daar byvoorbeeld skole in die Delft-omgewing is wat hul taalbeleid hersien het en Afrikaans weer as Huistaal en Engels as Eerste Addisionele Taal aangebied word. Dit het die skool se slaagsyfer verhoog en dit was ‘n besluit deur die ouers in daardie skoolgemeenskap. Die situasie sal dus van skool tot skool of van woonbuurt tot woonbuurt verskil. Ons intervensieprogramme is gebaseer op die verbetering van die beheer en bestuur van skole en die vraag is groot na die opleiding van skoolbeheerliggame in die verskillende aspekte van beheer en beleidformulering wat uit die aard van die saak ook taalbeleid in terme van die Suid-Afrikaanse Skolewet sal insluit.
Mense is bekommerd oor die veiligheid van hul kinders in hierdie skole en dit vorm ‘n groot gedeelte van hul gesprekke. Dit sluit bendebedrywigheded in en die misbruik van verdowingsmiddels. Hierdie skole loop onder vandalisme deur en hier gaan dit in die eerste plek om ‘n stryd om oorlewing. Taalbeleid is nie altyd so prominent op hul lippe nie. Daar is ander prioriteite.
Dink jy die feit dat verengelsing by universiteite aan die plaasvind is het ‘n direkte effek op mense se gevoel oor onderrigtaal by skole? Word dit nog net gefluister, of sien jy al ‘n merkbare effek of dryfkrag in die rigting van Engelstalige onderrig?
As universiteite besluit om slegs Engels as onderrigtaal aan te bied, sal dit beslis ‘n invloed hê op ouers dat hul kinders in Engels onderrig moet word, alhoewel baie van die onderwysers en ouers uit huis nie Engelssprekend is nie. Die ouers in stedelike gebiede is meer geneig om na Engels toe oor te hel terwyl dit nog nie in die platteland gebeur nie. Selfs groter sentra soos George en Oudtshoorn het tot onlangs hierdie tendens vrygespring, maar in die geval van Oudtshoorn moes ‘n laer- en hoërskool hul taalbeleid aanpas om die kinders van die plaaslike weermagbasis te akkommodeer. Die ouers is nie Afrikaanssprekend nie, en moes die betrokke skole hul kinders opneem as leerders. Die verengelsing van skole het oor ‘n tydperk plaasgevind. Wat egter uit die oog verloor word is dat Afrikaanse skole die toppresteerders is want die belang van moedertaalonderrig word deur daardie onderwysers en ouers besef. Die verengelsing van byvoorbeeld die Universiteit Stellenbosch, kan op die lang termyn tot die sluiting van Afrikaanse skole lei en tot gevolg hê ‘n grootskaalse afskaling van Afrikaans as onderrigtaal.
Die verengelsing van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement dra ook tot ‘n groot mate by tot hierdie tendens. Alle amptelike vergaderings geskied sles in Engels en die korrespondensie wat daarmee gepaard gaan ook. Die nuusblad van die WKOD verskyn ook slegs in Engels, en ek glo dit skep die indruk dat Engels verhewe bo Afrikaaans is. Die meeste skole neem hierdie besluite omdat dit ook die indruk kan skep dat die WKOD, indirek, Engels as voorkeurtaal bevoordeel.
Opleidingsmateriaal van die Departement is slegs in Engels beskikbaar wat die gepaardgaande opleidingsmateriaal insluit. Daar is dus ‘n merkbare verengelsing van skole wat oor ‘n tydperk plaasgevind het.
Wat is die situasie met betrekking tot kostes: daar word gesê dat dit baie duur is vir ‘n skool om dubbelmediumonderrig te laat plaasvind. Wat is jou gevoel?
Dubbelmediumonderrig is wel duur en kostes word voorgehou dat dit nie bekostigbaar is nie. Van die skole waarvan ek bewus is, is daar wel dubbelmediumonderrig omdat daar nog ‘n sterk stroom Afrikaanse leerders is. Dit hang dus af van hoeveel kinders/ouers nog verkies dat leerders in Afrikaans by hierdie skole onderrig moet word. Indien die leerdertal daal, sou dit nie meer bekostigbaar en lewensvatbaar wees nie. Afrikaanse ouers word aangemoedig om hul kinders na skole te stuur waar Afrikaans nog sterk gedy.
Weer eens: daar word nie genoeg fokus op die plattelandse Afrikaanse skole geplaas nie. In die Wes-Kaap alleen is meer Afrikaansmediumskole as in die hele land saam. In Limpopo is byvoorbeeld nog net een Afrikaanse hoërskool oor terwyl daar 564 enkelmedium-Afrikaanse skole in die Wes-Kaap is. Die prentjie wat dus geskilder word dat Afrikaanse skole besig is om te verengels, geld nie hierdie funksionele, presterende skole nie.
Iets waarmee die US sal moet rekening hou in die finale besluit oor hul taalbeleid.
Danie van Wyk is die bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust (SAOOT).



Kommentaar
Ek het groot waardering vir Danie van Wyk se ingesteldheid teenoor Afrikaans. Hy was omtrent die enigste van die bruin elite wat hom ondubbelsinnig ten gunste van die gelyke status van Afrikaans en Engels aan die Universiteit Stellenbosch uitgespreek het. Daar is veral twee redes waarom Afrikaans as onderrigtaal aan die eens Afrikaanse universiteite afgeskaal of afgeskaf word, naamlik ANC-gedienstigheid in die universiteitsrade en -besture en omdat hulle swig voor geweld en dreigemente van geweld.
Wat die situasie van Afrikaans in sowel skole as universiteite beïnvloed, is verswelging deur swartes wat onderrig in Engels eis. Daar word sonder meer aanvaar dat die inrigting by sodanige eis moet aanpas pleks van om van die eisers te verwag om Afrikaans aan te leer, terwyl skole en universiteite in werklikheid inrigtings is waar 'n taal aangeleer kan word.
Wat hier plaasvind, is 'n kultuurstryd. Die ANC wil Afrikanerkultuur, insluitende sy taal, vernietig. Dit is waarom die koste van slegs een voertaal van owerheidsweë gesubsidieer word en die regering se voorkeurtaal is die koloniale taal Engels.
Ek is dankbaar dat Danie van Wyk dit duidelik gemaak het dat die DA in die praktyk glad nie die heil van Afrikaans najaag nie.
Johannes Comestor. Ek sien myself nie as elitisties nie en nog minder as deel van ’n "bruin elite" waarna jy verwys. Verwyder asseblief die etiket wat jy om my en ander bruines hang. My bydrae tot die taaldebat op die US het niks te make met my of enige ander bruin persoon se status binne die Afrikaanse taalgemeenskap nie. Ons probeer 'n eerlike opinie uitspreek omdat AFRIKAANS uiteindelik of die wenner of die verloorder in die proses gaan wees. My benadering is suiwer opvoedkundig van aard en vorm nie deel van 'n politieke of kultuurstryd nie.
Danie van Wyk. Ek aanvaar nie opdragte van jou nie. Anders as jy, matig ek my nie aan om namens al my etniese genote te praat nie. Omdat mense in die opsigte wat saak maak klaarblyklik nie gelyk is nie, veroorloof ek my om tussen elite en nie-elite te onderskei. Ek perk die waarde van Afrikaans nie in tot wat opvoedkundig is nie. Afrikaans is inherent aan my identiteit. Ek is dermate lojaal aan my moedertaal dat ek met oorgawe alles moontlik ter bevordering van Afrikaans doen. By my is daar nie 'n sweem van halfhartigheid in hierdie kultuurstryd nie.