Om voorsiening te maak vir die oudag van kunstenaars

  • 0

Sewentien personeellede, drie fietse en twee bussies vertrek 2 Junie van Potchefstroom na Durban … Die Clover Aardklop-span gaan fietsry ten bate van die Teaterbystandsfonds (TBF). 

Naomi Meyer het vir Gert van Niekerk, wat by die fonds betrokke is, gevra wat hulle doen en hoekom dit nodig is om geld in te samel.

Wat is die Teaterbystandsfonds?

Die fonds is daar om na kunstenaars om te sien wat agv een of ander situasie nie meer in staat is om te werk nie, en geen ondersteuning van enige ander oord af kry nie. Hulle is gewoonlik sonder familie wat na hulle kan omsien en het nie blyplek nie, ook geen medies of vaste inkomste waarop hulle kan terugval nie. Ons probeer ook help waar daar onverwagse mediese onkoste is, of 'n onverwagse groot uitgawe soos 'n begrafnis wat hulle nie self finansieel kan baasraak nie.

Waarom ‘n spesiale bystandsfonds vir diegene wat in die teaterbedryf was?

Dit is nie 'n fonds vir net teatermense nie - dit dek van ook televisie- en radiotegnici tot sirkusartieste en sangers. Dit gaan oor kunstenaars in die algemeen. Daar is geen bystand van die regering of enige ander organisasie nie, en as gevolg van die aard van vryskutwerk is daar baie selde medies of pensioenfondse vir kunstenaars. Die ander probleem is dat dit agv die ongereelde werk nie altyd moontlik is om self voorsiening te maak nie, en daar is groot onkunde, veral by jonger mense. Dis waaroor die werkswinkel gaan – om jong kunstenaars in te lig oor hoe om hulle beroep as 'n besigheid te benader.

Is daar enige fondse wat mense wat op die oomblik in die bedryf is, kan bekyk sodat hulle uit hul eie ook bydraes kan maak vir ‘n pensioen wanneer hulle die dag aftree – of kan hulle ook met die Teaterbystandsfonds in verbinding tree?

Nee, daar is glad nie so iets nie. Kunstenaars is op hulleself aangewese om hulle eie reëlings te tref aangaande pensioen en mediese fonds. Die TBF is 'n welsynsorganisasie, en behalwe raad en 'n bietjie bystand nou en dan is daar nie veel wat ons op 'n praktiese vlak in daardie verband kan doen nie.

Naomi het ook vir Andries Vrey gevra waarom Aardklop betrokke wil wees by die fondsinsameling ten bate van die Teaterbystandsfonds:

Clover Aardklop Nasionale Kunstefees het in 2011 besluit om jaarliks by te dra tot die Teaterbystandsfonds (TBF) uit erkenning vir die reuse-aandeel wat die kunstenaarsgemeenskap het in die sukses van die fees. Die fonds, wat vanjaar 50 jaar oud is, is 'n gevestigde struktuur en ons het vertroue dat ons bydraes met omsigtigheid bestuur word en na die regte persone gaan. Hoewel die fees slegs vir 'n week elke jaar aangebied word, is 'n fees allermins 'n eenmalige gebeurtenis op die almanak – daar word jaarliks nuwe debuutwerke en opdragproduksies vervaardig waaraan daar regdeur die jaar gewerk word, en die fees is ten nouste hierby betrokke. Die feesgeleentheid self is dus maar 'n vertoonkas van werk wat deur die loop van die jaar geskep is.

Tesame met die bogenoemde is die sowat R120 miljoen wat jaarliks deur die fees na die plaaslike ekonomie gebring word, beslis 'n teken dat die fees se mandaat en rol ook een van gemeenskapsbetrokkenheid is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top