Nuweling Anoecha Krüger wen Fiësta-toekenning vir beste opkomende kunstenaar

  • 0

Anoecha Krüger

"Werk hard, hou moed en wees eerlik," is die raad van Anoecha Krüger, wat onlangs die Fiësta-toekenning vir beste opkomende kunstenaar gewen het. Sy het die toekenning ontvang vir die rol wat sy in die produksie Raak vertolk. Raak is geskryf deur Kanya Viljoen, wat ook die regie behartig. Raak is vanjaar ook te sien by die Woordfees.

Die kykNET Fiëstas vereer jaarliks die werk wat die afgelope feesjaar opgelewer het, en is 14 Februarie by die Kunstekaap-teater in Kaapstad gehou.

Anoecha Krüger in die toneelstuk Raak (Foto: Verskaf)

Anoecha, jy is onlangs bekroon met ’n Fiësta-toekenning vir beste opkomende kunstenaar. Wat beteken die toekenning vir jou?

Dit is eerstens ’n groot verrassing en geskenk! Dit beteken ongelooflik baie om hierdie toekenning te kon ontvang en gee my hoop vir die avonture wat voorlê. Die afgelope paar jaar was moeilik, onbekend en scary, maar natuurlik ook magies. Hierdie toekenning val beslis aan die magical kant van dinge.

Jy het in die produksie Raak gespeel – vertel ’n bietjie meer oor die produksie en hoe jy daarby betrokke geraak het.

Raak vertel hoofsaaklik die storie van ’n jong getroude paartjie in ’n plattelandse omgewing wat stadig maar seker besig is om mekaar en hulself te verloor. Dit speel af oor die verloop van ’n aand waar hulle verhouding se krake begin oopbars en word ondersteun deur terugflitse van meer onskuldige tye in hulle lewe saam.

Die meesterbrein agter Raak is Kanya Viljoen. Sy het vir haar finale projek by UK se Dramadepartement lank gebroei en geskep aan hierdie konsep. Sy het vir my en David Viviers gevra om vir haar te speel en so het ons drie in 2017 begin workshop aan die storie in ’n klein repetisiekamer op Hiddingh-kampus. Vandag het die storie al ’n volle jaar geshow op verskeie plekke en ons speel binnekort by die US Woordfees.

David Viviers en Anoecha Krüger in Raak (Foto: Verskaf)

Vertel asseblief ’n bietjie meer oor die karakter wat jy vertolk.

Die karakter wat ek vertolk, is Jana. Sy is ’n mengsel van hardkoppigheid, hartseer en verlore onskuld wat skuil onder ’n masker van "alles is oukei". Haar borrelende, jeugdige kant kwyn geleidelik weg soos wat verwagting en die idee van liefde  met die verloop van tyd meer gekompliseerd raak. Ek dink Jana verteenwoordig ’n weergawe van baie jong vrouens wat drome en talente opsy skuif vir liefde en die verwagtinge wat liefde skep. Die bedoeling agter halsoorkop oorgee aan ’n ander persoon kom uit ’n mooi, naïewe plek, maar die lewe het ’n manier om jou met ’n vuis in die maag te slaan. Dit is waar Jana haarself bevind in Raak.

Van waar jou liefde vir toneelspel?

Ek dink daai liefde sweef nog altyd rond in my hart. Ek hou al van kleins af van stories en kon nooit regtig kies wat ek wou word nie, so toe kies ek ’n beroep waar ek enigiets kan word. Toneelspel is ook my terapie, my tjommie, my vyand en my eerste liefde vandat ek kan onthou.

’n Toneel uit Raak  (Foto: Verskaf)

Watter raad het jy vir mense wat graag ’n loopbaan in die uitvoerende kunste wil volg?

Doen dit om die regte redes. Werk hard, hou moed en wees eerlik. Eerlik met jouself, ander en in jou werk. Onthou ook om dit te geniet! Wees positief en entoesiasties oor wat jy skep en wat jy leer. Laastens, maak jouself reg vir vele eksistensiële-krisis-dae – dit is ’n ding.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Hopelik eindelose projekte saam met Kanya en David! Die beste deel van hierdie hele proses was om saam met hulle te werk en by hulle te leer. Hierdie jaar werk ek vir ’n paar maande by arepp: Theatre for Life wat in skole regoor die Wes-Kaap toer en bou tussendeur poppe saam met The Loft Puppet Co-span. Verder streef ek daarna om nog meer stories te skep soos wat tyd dit toelaat. Ek is beslis opgewonde vir al die potensiaal wat die toekoms inhou!


Anoecha Krüger ontvang haar graad in drama in 2015 aan die Universiteit Stellenbosch, met toneelspel as hoofvak. Sy maak haar professionele debuut in Christiaan Olwagen se teaterstuk Die huis van Bernarda Alba. Daarna volg produksies, waaronder HAM en Beloofde deur The Loft Puppet Co, VER(LOS) deur Des-Lee McKenzie, en Raak deur Kanya Viljoen. Sy is lid van The Loft Puppet Co, ’n teatermaatskappy naby Stellenbosch wat spesialiseer in poppe bou, poppemanipulering en teater skep. 

Raak is te sien by vanjaar se Woordfees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top