Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013: Onderhoud met Elmien de Klerk

  • 0


Vertel ons lesers meer van jou verhaal/verhale wat in Nuwe Stories 2 opgeneem is.

Stefanie is 'n jong tienerdogter wat 'n ontsettende verlies in haar gesin beleef. Na afloop van dié tragedie moet haar ouers 'n moeilike keuse maak. Daar is ook onafgehandelde sake wat na vore kom en gevolge het.

Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhaal persgereed te kry met die hulp van raad en keurverslae.  Hoe het jy hierdie proses ervaar?

Aan die begin was dit moeilik om die kritiek konstruktief te gebruik, omdat ek so 'n spesifieke idee van die verhaal gehad het. Namate ek dit toegepas het en die verhaal stadigaan verander het, kon ek egter saamstem dat dit 'n verbetering was. Dit het my geleer om 'n meer objektiewe standpunt in te neem en ander, wyer moontlikhede en idees te oorweeg.

Wat is die beste skryfraad waarvan jy al ooit gehoor of gelees het en wat jy probeer om self toe te pas?

Jy gaan nie net begin skryf en daar is dit dadelik perfek nie. Elke eerste poging is swak; moenie dat dit jou onderkry nie.

Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Etienne van Heerden het my voete onder my uitgeslaan met Toorberg. Dit was 'n voorgeskrewe werk in matriek en sedertdien lees ek sy boeke soos wat ek roomys eet: stadig en in stilte sodat ek die lekkerte kan uitrek. Ek geniet die kompleksiteit en diepte van sy verhale, en die vloei tussen die verlede en hede, realiteit en magiese elemente.

Ingrid Winterbach se boeke spreek weer emosioneel tot my. Dit laat my met 'n ontsettende melancholie, maar ek bly terugkom vir meer.

Het jy enige verdere planne vir jou skrywersloopbaan?

Ek is maar nog 'n groentjie as dit by skryf kom. Hierdie was my eerste inskrywing vir 'n kompetisie. Ek het baie uit die proses geleer en sal beslis weer aan skryfkompetisies deelneem. Wie weet, dalk skryf ek eendag 'n boek!

 

Titel:Nuwe Stories 2
Samestellers: Leti Kleyn en Suzette Kotzé-Myburgh
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798164627
e-ISBN: 9780798164634

Koop Nuwe Stories 2 van Kalahari.com

Koop die e-boek by Kalahari.com

 

Klik hier om die tweede weergawe van Elmien de Klerk se kortverhaal "Die fiets" te lees.

 

Klik hier vir die ander onderhoude.

Hoe lyk die kortlyskandidate se skryfstasies? Kyk hier!

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top