Só lyk die Nuwe Stories 2013-finaliste se skryfstasies

  • 0

Ons het vir die finaliste in Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd gevra om vir ons 'n foto van hul skryfstasies te stuur.

 

"My gunsteling-plek om te skryf is in my bed. Die kamer is lekker donker en as ek die deur toemaak, kan ek die TV-versoeking net saggies in die agtergrond hoor. Daar is net twee goed wat my inspireer: ’n spesifieke opdrag met ’n sperdatum – en ’n emotional overload. As iets my ontstel, begin ek dadelik skryf - van stories tot crappy gedigte of BBM-boodskappies vir ’n vriendin. Dis ’n wonderlike uitlaatklep en partykeer omvorm dit tot iets bruikbaars. Ek het my een Nuwe Stories-storie geskryf toe iemand my hond doodgery het."

 

 

"Die foto van my lessenaar kan eintlik effens misleidend wees, want ek sit nie altyd hier wanneer ek met my skryfwerk besig is nie. Ek doen die meeste van my skryfwerk waar die inspirasie my tref. Maar by die lessenaar moet dit netjies wees. En stil. Hierna dra ek al die brokkies uit die chaos uit aan. Woorde op my selfoon, winkelstrokies, die wit hoekies van koerante … Dan sit ek die storie in stilte aanmekaar – my beste idees word uit stilte gebore."

 

 

"In my kop sit ek by ’n mooi houttafeltjie wat uitkyk op ’n groot stoep, ’n groentetuin, en agter dit die berge. In my kop skryf ek alles op ’n outydse tikmasjien en maak my korreksies met ’n druppende inkpen. In werklikheid skryf ek die lekkerste in ’n vertrek waar daar lewe is - waar my man agter my op die bank lê en TV kyk of langs my op die bed lê en lees. Hier in São Paulo is my opsies bietjie minder, want ek het ’n verskriklike afsku in die pienk skildery wat bokant ons eetkamertafel hang in die gemeubileerde woonstel wat ons huur. Dus is my gunsteling-plekkie op die bed, met my iPad, ’n koppie koffie, ’n bak tuisgebakte beskuit en die Bob Marley-oorfone wat ek vanjaar vir my verjaarsdag gekry het."

 

 

Ek is geen Casanova nie, maar die bad voldoen aan al my vereistes vir ’n kreatiewe ruimte. Dit beteken nie dat al my idees in die bad vorm aanneem nie. Idees kan enige tyd en plek gebeur en ek het gewoonlik ’n notaboek of my selfoon by my vir dié doel. Wie weet of ek dalk die volgende groot idee in Woolworths se groente-afdeling vind. Miskien tussen die tamaties. Maar idees het niks met skryf te make nie. Wanneer ek gaan sit om te skryf, mag daar nie dinge wees wat my aandag kan af trek nie. Daarom skryf ek graag in die nag. Daar is iets daaraan om in die nag-dood lewe te skenk aan iets nuuts. In die nag is dit stil en in die badkamer voel ek die weergalmende aanslag van my gedagtes teen die leë mure, die hoorbare ontwikkeling van nuwe idees, en ek is alleen in die wêreld, alleen in my denke en half eensaam.

 

 

"Dis moeilik om te sê waar ek my inspirasie vandaan kry. Ek het van 'n baie jong ouderdom af 'n wye verskeidenheid boeke gelees (van Sweet Valley High tot Stephen King, Nora Roberts en Anne Rice) en is redelik seker dat dit my skryftalent tot 'n groot mate ontketen het. Ek skryf op my lekkerste in die aand, terwyl ek musiek luister en daar 'n groot glas rooi wyn langs my skootrekenaar staan."

   

 

"In Frankryk is daar, soos in die meeste lande in Europa, baie mense en min spasie. Die gevolg is dat almal op mekaar bly en dat ons voordeur oopmaak op die straat. Die naaste wat ons aan groenigheid kom, is die plastiekgras op die bure se voorstoep, en die naaste bome is oorkant die pad in die ou Katolieke Kerk se tuin. Kinders van Afrika het groen nodig om te oorleef – dis wie ons is; die natuur is in ons bloed. In die "opmekaargeid" het ek wel vir my 'n klein hoekie van inspirasie gekry: voor die grootste ruit in ons woonstel, met 'n uitsig op die bome van die kerk. In die lente raak die takke pienk, vol blomme wat hul geur op die bries deur die ruit stuur na waar ek voor my rekenaar sit. In die somer, wanneer die hitte dreig om ons te versmoor hier in die suidweste van Gansland, kan ek vir ure sit en staar na hoe die hittegolwe die kerkbome se blare roer. Herfs bring 'n palet van kleur oor die kerk se tuin, en wanneer al die oranje en rooi blare in die winter afgeval het, bou ek kreature in die leë takke van ons enigste boom. Die boom hou ons gegrond, 'n klein herinnering aan wat vir ons wag (in oorvloed) wanneer ons weer huis toe gaan. In my hoekie kan ek droom, skryf, dink en nou en dan 'n snaakse diertjie in 'n boomtak sien."

 

 

"Ek put my skryfinspirasie uit mense wat ek ken, geken het, of bloot mense wat ek waarneem. ’n Baie goeie professor van my het eendag teenoor my die volgende opgemerk: “Wat is die doel van ’n lewe as jy dit nie kan plagieer nie?” Die neerslag wat dit in my skryfwerk vind, is ’n kombinasie van ’n vermenging van werklikheid en fiksie. Daarom het ek streng gesproke nie ’n “skryfstasie” nie. Wanneer ’n idee, ’n titel, ’n karakter of ’n eerste sin by my opkom, sal ek dit onder “notes” op my foon stoor. Dis dan hiér waar dit vir dae, weke, selfs maande lê en broei en ontwikkel, sodat ek elke dag daarna kan kyk en die prentjie as’t ware in my kop begin inkleur. Wanneer die dag aanbreek dat ek voel ek wéét nou wat ek wil sê, ek weet wat die storie is wat ek wil vertel, sal ek my skootrekenaar nader sleep en lewe skenk aan hierdie idee, wat eens bloot ’n “note” op my foon was."

   

 

"My woonstelletjie is hartverskeurend klein, dus is dit nogal 'n uitdaging om vir 'n “kreatiewe ruimte” plek te maak, maar waar daar 'n wil is, is daar 'n weg. Dikwels sit ek op die bed, maar ek het onlangs 'n hoekie by my kombuistafel ingerig waar ek gewoonlik sit tot my rug begin kramp. In die nabye omgewing het ek omtrent altyd 'n blok sjokolade en 'n bottel wyn (wat ongelukkig op hierdie foto afwesig is, aangesien ek gisteraand alles opgedrink het). Ek speel ook graag met my matriosjka-poppies en pak hulle in- en uitmekaar terwyl kreatiewe storie-idees deur my kop wemel. Hierdie poppies is soos stresballetjies, maar met baie meer estetiese waarde en persoonlikheid! Dan hou ek ook altyd my spreekwoordeboek byderhand (ek is mal oor spreekwoorde en baie van my stories wentel dikwels om een enkele spreekwoord) en my gunstelingboek, Little Bee deur Chris Cleave. Ek kan hierdie boek op enige bladsy oopslaan en slegs een of twee sinne lees en dan is ek weer dadelik vuur en vlam om te skryf."

   

Niel se skryfstasie van alle kante.

"Ek sou graag wou sê dat die wêreld my skryfhoek is en dat ek elke ander dag myself met 'n skootrekenaar neerplak in een van die parke in Kaapstad, maar aangesien ek 'n meester is as dit kom by sloer en uitstel, probeer ek skryf in 'n netjies en georganiseerde spasie met die hoop dat dit my stemming sal beïnvloed en selfdissipline sal verskaf  – helaas werk dit selde. Omdat ek uitsluitlik 'n rekenaar gebruik vir skryf, is ergonomika baie belangrik vir lang sessies en word die lessenaar, stoel, rekenaarstaander, toetsbord en muis my grootste vertrouelinge en motiveerders.
Inspirasie is moeilik om te definieer. Die muse vang my altyd onkant en in die oënskynlike word daar soms ’n legio idees ontketen wat as vertrekpunt vir nuwe skryfwerk dien. Dis altyd pret om inspirasie te put uit die alledaagse en dit dan in te kleur met “wat as?” of “sê nou net”."

 

Willem het besluit om eerder sy notaboek en inspirasiefoto's met ons te deel.

"Ek het nie ’n spesifieke plek waar ek skryf nie – ek dra altyd ’n pen en enige vorm van papier – selfs al is dit net ’n winkelstrokie of ou fliekkaartjie – saam met my. Mens weet nooit wanneer die inspirasie jou pak nie, dus is dit beter om maar altyd gereed te wees.

Mense inspireer my om te skryf, want elke mens het ’n storie. Wat my veral fassineer, is nie die storie wat mense self oor hulle lewens vertel nie, maar juis dié feite en gebeure wat hulle nié noem nie. Ek is mal daaroor om vir mense te kyk. Mense se menings, denkwyse en sienings oor die lewe interesseer my geweldig."

 

Hier is 'n foto-collage van dinge wat Inge inspireer.

"Daar is nie altyd ’n spesifieke plek waar ek sal sit en werk aan my storie of gedigte nie. Eers na ek alles mooi agtermekaar het, sal ek my plekkie voor die rekenaar inneem. My droom en ideale kreatiewe ruimte sou wees om eendag voor die venster van my stylvolle penthouse te sit en werk, terwyl ek uitkyk op Kaapstad se liggies en Tafelberg. Toe ek klein was, moes my ma elke aand vir my ’n slaaptydstorie lees, en as daar nie ’n boek was waaruit sy kon lees nie, moes sy vir my ’n storie uitdink. Dit is dalk daar waar mooi stories, en om te skryf, deel van my lewe geword het."

 


Die skrywers op die kortlys kry die geleentheid om hul verhale na aanleiding van twee keurverslae en terugvoering van ervare keurders af te rond. Die eerste en tweede weergawe van elke verhaal sowel as die keurverslae sal ook op LitNet geplaas word, sodat skrywers wat nié die kortlys gehaal het nie, ook uit die proses kan leer.
Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

Lees die eerste weergawes van die kortverhale

Lees ook: Wenke van Afrikaans se kortverhaalkenners


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief
. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top