
Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.
Die fiets
Ek sit by Ouma op die bruin leerbank. Sy is besig om Ma se nuwe serp te brei. Ouma se hande is altyd met iets doenig. Die kombuisdeur gaan oop, daar is voetstappe. Goed word op die kombuisvloer neergesit. Hulle is hier.
Ouma laat rus haar breiwerk vir ’n oomblik in haar skoot en gee my hand ’n stywe drukkie. Haar oë is sag. “Gaan groet gou. Hulle is seker hongerig. Daar is lekker varsgebakte brood in die kombuis.” Ek wil eerder nog hier by Ouma sit. Sy laat my rustig voel. Haar grys hare blink so mooi silwer in die middagson. Agter ons is die sitkamergordyne oopgetrek en die kaal wilgerboom se takke wieg treurig in die wind. Hier en daar dwarrel bros blare. Dis ’n lekker dag vir buite wees. “Toenou, dis jou gunsteling”, sê sy en dwing my met ’n ferm kopknik in die rigting van die kombuis.
Hulle het ’n hele spul goed saamgebring: Volgepakte tasse en sakke, ’n paar appelbokse met foto’s en CD’s. Swartsakke met beddegoed. Twee skooltasse.
Pa staan by die ingang van die kombuis. Ek gee hom ’n drukkie. Hy hou my styf vas, ’n bietjie langer as gewoonlik. Pa lyk so ongemaklik. Hy is gewoonlik ’n vrolike, selfversekerde mens. Hy weet hoe om ’n koei te help kalf of trekkers reg te maak. Gedurende die afgelope tyd was hy die sterk een. Dit is niks lekker om hom nou so te sien nie. My maag maak ’n draai.
Ma leuen teen ’n kombuisstoel met haar een hand se agterkant teen haar voorkop soos iemand wat duiselik of siek voel. Haar oë frons en haar lippe is op ’n dun streep getrek. Sy dra al vir weke nie meer grimering nie, vandag ook nie. Haar stem is skril toe sy opkyk en my sien: “O, kyk, hier is Stefanie.”
Daar is nie nou meer omdraaikans nie. “Mamma, Ouma sê daar is vars brood. Sy het vanoggend gebak terwyl julle weg was.”
“Ja, dit sal nou lekker wees, nè?” sê sy in haar kamma-opgewekte stem. Sy haal haar hand van haar voorkop en hou dit ‘n oomblik voor haar bors, asof sy nog iets wil sê en vergeet het wat dit was. “Kom ek haal vir julle kaas en smere uit. Is iemand lus vir koffie?” Dan draai sy om en haal bordjies en bekers uit die kas. Haar skoene maak ‘n dowwe skuurgeluid op die grys kombuisvloer.
Dis Pa wat die ongemaklike stilte verbreek. “Ek, um … Ek vat gou julle goed na julle kamers toe.” Hy tel ’n paar tasse met sy groot hande op, draai om en stap doelgerig uit die kombuis. As ek net kon saamloop! Of kon ontsnap na die dam, die stalle of net iewers weg van hier af.
Ek loer onderlangs na die tweeling. Hulle lyk vreemd, asof hulle van ’n ander wêreld is en nie by die prentjie van ons plaaskombuis pas nie. As jy ’n foto van ons in die kombuis kon neem en iemand anders daarna laat kyk, sal die kyker kon sweer dat hulle uit ’n ander foto geknip en op die kombuisfoto geplak is. Adriaan dra ’n oorgroot swart-en-rooi keps en sy broek hang laag op sy heupe. Lizaan het ’n heldergroen stywe broek aan met ’n pers trui wat haar bra laat deurskyn. Hulle klere is nie ingedra en deurgeleef soos my plaasklere nie. Hulle gesigte en hande is blekerig en sag, soos regte stadsjapies s’n seker is. Nie so bruin gebrand soos ek nie. Vir die eerste keer voel ek, die oudste tussen ons drie, veel jonger as hulle.
Lizaan se oë is rooi en opgeswel van al die huil. Sy het haar hare swart gekleur. Dit hang in vuilerige slierte. Elke nou en dan snuif sy hard en staar dan verder na die dak bo die stoof, seker om te kyk na die groot bruin kol op die plafon wat laas jaar na die reën verskyn het. Adriaan is konstant besig op sy Blackberry.
Ek besef meteens dat hulle nog nooit in ons huis was nie. Miskien is dit hoekom hulle nie in die prentjie pas nie. Ons moes altyd by hulle gaan kuier in die stad. “Dis moeilik vir oom Kobus om ’n hele naweek weg te wees van sy verpligtinge by die werk. As ons gaan kuier kan hy darem vinnig ingaan kantoor toe as dit nodig is” het Pa verduidelik.
Is dit hoe onvanpas ons plaasjapies daar by hulle in die stad gelyk het? Het hulle skaamgekry vir ons voor hulle vriende? Wanneer ons daar was het ons hope gemorskos geëet, behalwe as Ma die kombuis oorgeneem en boerekos gekook het. Dan het sy sommer genoeg gemaak om te vries sodat die tweeling dit later net warm kan maak. “Die kinders groei nog, hulle het behoorlike kos nodig” het sy altyd gesê. Dan het oom Kobus maar net sy drankie gevat, in haar rigting ge“cheers” en verder gekuier.
“Kom sit julle nou lekker rustig by die tafel” het Ma my gedagtegang onderbreek. “Stefanie sal nou-nou vir julle die perde gaan wys. Miskien kan julle vir Pietman vra om te help opsaal, dan kan julle ’n entjie ry. Julle weet mos hoe om perd te ry? Sokkies is lekker mak, hy sal julle niks maak nie.”
Hoekom moet Ma nou oor die perde praat? Ek is seker dat die tweeling nie in die minste in perde belangstel nie. Adriaan kyk nie eens op van sy foon terwyl Ma praat nie. Nee, perdry was my en Johan se ding. Ons saamdoen-ding. Ons het gereeld gaan ry, veral op luilekker Sondagmiddae wanneer Ma en Pa ’n bietjie wou lê. Johan op Bosbek, ek op Sokkies, sommer so bloots.
Partykeer het ons op pad huis toe eers in die plaasdam geswem. Dan het ons allerhande toertjies probeer doen of gekyk wie kan die meeste lengtes met een asem swem.
“Stefanie, dit klink dalk nou baie weird ... maar jy regtig is ’n cool sussie. Dis vir my lekker dat ons soveel dinge saam kan doen. As ek oor iets worry kan ek altyd met jou praat”, het Johan eendag gesê terwyl ons in die son droogbak. “Wat wil jy hê, Boeta?” het ek gespot. Hoewel ek in my noppies was oor Johan se kompliment, was ek te skaam om dit te erken. Hy was my ouboet en het die wêreld vir my beteken, maar dit was nie nodig dat hy dit weet nie!
“Wil jy hê dat ek môreoggend weer vir jou van my lekker broodjies vir skool moet maak? Of gaan dit oor ’n sekere Maryke ... Probeer jy haar nommer by my kry?” het ek gelag, en Johan het stilweg gebloos. Min het ek geweet dat hierdie intieme oomblik een van my belangrikste herinneringe aan my broer sou wees.
Ek en Johan was eendag, al ’n hele paar jaar terug, buite onder die kombuisvenster besig om modderpaadjies vir ons karretjies te bou toe ons die grootmense oor oom Kobus hoor praat het. Hy was my pa se neef. Ouma het kom kuier en die grootmense was doenig in die kombuis.
“Dis nie reg dat die tweeling sonder ’n ma grootword nie” het Ouma gesê. “Hulle is twee besige kinders. Kobus sê dat Adriaan gereeld by die skool in die moeilikheid is. Volgens die onderwysers soek hy skoor met ander seuns, maar vir Kobus vertel hy dat hulle hom boelie. Sy punte lyk sleg.”
My een modderpaadjie wou breek, ek moes dit gou las met ’n drë klont. Johan het tjoepstil gehurk en geluister na wat Ouma sê.
“Lizaan raak agter met haar skoolwerk en stel ook nie belang in enige sportaktiwiteite nie”, het sy verder gesê. “Asof die kind nie die behoefte het om te presteer in iets nie. Ek sê julle, dis omdat hulle te min aandag kry. Kobus werk gereeld laat, hy kan nie altyd kyk nie. En hy moet darem ook soms uitkom.” Ouma was altyd besorg oor haar kinders en kleinkinders. “Miskien moet ek daar gaan bly om ’n bietjie uit te help. Kobus kan doen met iemand om kos te maak en so. Ek kan ook darem probeer om die kinders te help met die basiese huiswerk en take.”
Ma, wat besig was om room te klop vir ’n koek, se hande het stil geraak en sy het opgemerk: “Ma, ons gee almal om vir Kobus en die tweeling. Maar geen regdenkende man behoort ’n vrou te vat wat so ’n wilde wegloopkyk in haar oë het nie.” Ma het kwaai geklink. Ek het groot oë vir Johan gemaak.
“Kobus kon mos van die staanspoor af sien dit voorspel net moeilikheid. Nou moet hy maar ongelukkig met die gevolge van sy besluite saamleef.” Sy het ’n oomblik getalm, diep ingeasem om haarself te kalmeer en sag gesê: “In elk geval is dit geen rede vir hom om so diep in die bottel te kyk nie.”
Ek kon my verbeel hoe Ma haar hande aan haar voorskoot afvee toe sy dit sê, soos wanneer sy klaar gepraat het. Ons kon hoor hoe sy weer begin om die room te klop. Johan het saggies vir my gelag omdat ek nie verstaan het wat sy met die kyk in die bottel bedoel het nie.
“Kobus gaan net deur ’n fase, my vrou. Hy moet nog die ding vir homself verwerk”, het Pa gepaai. “Jy dink dalk hy kuier en drink te veel, maar jy oorreageer. Gee hom net kans. Ons moet hom eerder help waar ons kan.” Soos gewoonlik het Ma het net stilgebly en aangegaan om die koek te versier.
Daar was ’n rukkie stilte. Ek en Johan het ons ore gespits toe Pa weer praat. “Ek dink dis ’n goeie idee dat Ma ’n rukkie daar gaan bly, as dit nie te veel van ’n ontwrigting vir Ma is nie,” het hy vir Ouma gesê. “En ons kan maar gerus meer by hom gaan kuier ... hom wys dat ons omgee.”
Johan was deel van die meeste van my herinneringe as kind. Hy was nog altyd lief vir fietse. Vir spoed. Ek onthou hoe hy met sy rooi fietsie heen en weer met die gebarste sementoprit jaag, vooroor gebuig teen die wind om vinniger te kan ry, sy hempie wapperend. Elke nou en dan sou hy na my kyk en sy haasbekglimlag gee. “Kyk sussie, so doen mens dit!” Hy was goed met fietsry. Motorfiets ook. Pa het vir hom ’n kleinerige motorfiets gekoop toe hy twaalf was en daarmee het hy die plaas platgery. Ek onthou nog hoe onrustig Ma geraak het as hy te lank wegbly. Skemertyd het sy buite gaan staan met Pa se flits en dit rondgeswaai sodat Johan van ver af kan sien dat dit tyd is vir aandete. Die vlermuise se swart glim in die vlietende straaltjie lig het my altyd laat gril. Ek was skaars tien, maar iets omtrent ma se dringende flitsswaaiery en die vlermuise wat net bo ons koppe swiep het my hoendervleis gegee.
Dit was nie lank daarna nie dat oom Kobus vir homself ’n motorfiets gekoop het. Ons het weer by hulle in die stad gaan kuier. Die blinkswart padfiets het voor die huis op die netjiese groen grasperk tussen die roosbome gepryk. Dit het geblink in die son, soveel so dat ek my oë op ’n skreef moes trek. “Ha ha, kyk hoe lyk Stefanie! Sy lyk soos ’n Japannees!” het Adriaan gespot en draaie om my gehardloop.
Pa het oom Kobus opgewonde uitgevra oor hoe vinnig die fiets kan ry en allerhande ander goed wat ek nie verstaan het nie. Johan het liggies met sy hand oor die warmgebakte leersitplek gestreel en saggies gefluit, duidelik beïndruk. “Jis oom, hierdie is ’n meneer van ’n fiets!” Hy het met ’n breë glimlag na oom Kobus gekyk. Omdat hy die oudste was, kon hy eerste saam met hom ’n draai ry. Daarna was dit ek, en toe het die tweeling elk ’n beurt gekry. Oom Kobus het mooi versigtig deur die spogstrate van hulle woonbuurt gery, maar dit het steeds vir my gevoel of die motorfiets ’n slapende monster is: Hy is nou kalm, maar wag tot jy hom wakker maak!
Ma het probeer om opgewonde te lyk vir oom Kobus se part, maar sy wou nie saamry nie. Ek het geweet dat sy eintlik niks van brullende enjins en spoed gehou het nie.
Toe Johan sestien was, het hy een Junie-vakansie alleen by oom Kobus-hulle gaan kuier. Hy was ’n week of wat daar. Die dag voor Pa hom sou gaan haal was die tweeling blykbaar lus vir pizza. Elkeen het besluit wat hulle wou hê en oom Kobus en Johan het gou gery om dit te gaan koop. Oom Kobus het net vinnig sy motorfietsbaadjie aangetrek en toe is hulle weg, vermoedelik windmakerig soos gewoonlik, luidrugtig af in die breë strate na die winkel.
Toe hulle langer as twee ure weg was en oom Kobus nie sy selfoon geantwoord het nie, het Lizaan paniekerig begin word en die polisie gebel. Hulle het oom Kobus en my boetie se gebreekte liggame in die pad opgetel. ’n Trok het bo-oor hulle gery. Ma en Pa moes hulle gaan uitken.
Na die ongeluk was die huis stil. Leeg. Ma het nie meer handwerkies gedoen, gebak of geneurie wanneer sy hanslammers voer nie. Sy het nie meer skoon wasgoed van die draad gehaal, opgewonde oor hoe lekker vars en skoon dit nou ruik nie. Sy was so hartseer dat ek nie vir haar wou vertel hoe gebreek ék voel nie.
Pa het my gedwing om na ’n paar dae weer skool toe te gaan, maar goeie punte of oplet in die klas was nie meer vir my belangrik nie. Pouses het ek alleen in die badkamer gesit— hoe sou my pelle verstaan waardeur ek gaan? Wat moes ek vir hulle sê?
Pa was altyd buite besig en die lyne bo sy wenkbroue het net dieper geword. Die probleem van wie na die tweeling sou omsien, het baie swaar op sy hart gedruk. Ek en Pa het desnoods in die aande vir onsself kaastoebroodjies gemaak omdat Ma nie uit die kamer wou kom nie. Teen die derde week het Ouma my ma se protes geïgnoreer en by ons kom bly.
“Genoeg is genoeg, julle kan nie so aangaan nie.” Ouma het gehelp met kosmaak, die wasgoed, eiers uithaal en alledaagse dingetjies waarvoor Ma net nie meer kans gesien het nie.
’n Week of wat daarna het Ma een aand met olierige hare en ’n vuilerige kamerjas uit die kamer gekom. Sy het moeg gelyk. Leeggehuil. Sy het vasbeslote tot by my pa geloop waar hy besig was om vir ons koffie te maak. Haar stem was hees en sy het hard gepraat. Desperaat. Sy wou hê dat hy moes hóór.
“Kobus het nog altyd ’n drankprobleem gehad. Ons het daarvan gewéét, Gert. En ons het vir jare lank níks daaraan gedoen nie. Jy wou nooit hoor as ek iets daaroor sê nie. Jy het dit eerder geïgnoreer omdat dit gemakliker was.”
My pa het stadig omgedraai en na haar gekyk. Sy was te maer, onversorgd. Verwese. My pa moes sekerlik ook na haar verlang het, net soos ek. Hy het nie kwaad gelyk nie, eerder hartseer.
“Maar nou het ek klaar stilgebly. As daardie kinders by ons moet kom bly … Jy en die verdomde familie … Hierdie verdómde familie wat nie kans sien om daardie twee in te neem nie, moet wéét wat die waarheid is… Hoekom my Johan … Hoekom ons seun …”
Haar gesig het vertrek van die pyn, ’n pyn soos wanneer jou hart in jou ribbekas wil doodgaan, maar die lyf wil dit nie toelaat nie. Sy het kliphard gesnik. Ek het gedink dat sy weer sou begin huil en nie klaar sou kon praat nie. Maar sy het deurgedruk. My pa moes hoor. “Onthou jy... toe ons vir Kobus en Johan moes gaan uitken?”
“Natuurlik onthou ek. Hoe dink jy vergeet mens so iets?” het my pa gevra, pleitend. Hy het dit ook gehaat om my ma so te sien.
“Daar is een ding wat jy nie sal onthou nie, Gert, want jy het dit nooit gesien nie. Miskien wóú jy dit nie sien nie.” Nie ek of my pa het verstaan waarop hierdie gesprek afstuur nie. “Weet jy wat was in Kobus se motorfietsbaadjie se sak, Gert? ’n Half-jack brandewyn. ’n Donnerse leë, uitgesuipte half-jack.”
• Lees die tweede keurverslag oor "Die fiets"
• Lees die eerste weergawe van "Die fiets"
• Lees die eerste keurverslag oor "Die fiets"
• Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


Kommentaar
Sjoe! Indrukwekkende storie wat jou soos 'n wegholtrien gryp en later alleen by 'n vergete klein stasie los.