Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Elmarie Viljoen-Massyn

  • 0

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Elmarie Viljoen-Massyn

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

woorde woorde woorde woorde woorde woorde

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Koffie, middagslapies, musiek, my Bybel, woorde, pen-en-papier

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Nie rêrig vreemd nie, maar ek het op skool ná eksamens baie keer gediggies op die vraestelle geskryf om die tyd om te kry totdat almal klaar is. Ongelukkig het ek dit nie bewaar nie.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Ek is baie bevoorreg om in ons huis ’n “room of my own” te hê (soos Virginia Woolf aanbeveel). Hier is ’n tafel vir werk, ’n rusbank vir skryf, geweldig baie boeke (die helfte nog ongelees!), ’n paar plante vir ekstra suurstof, trinkets wat saam met my graf toe gaan, tot onlangs nog ’n kat. Ek probeer om ’n ferm hand oor die netheid van die vertrek te hou, maar sy het ’n sterk wil van haar eie.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Aangesien ons nou in sesse werk: Breyten Breytenbach, Petra Müller, Gilbert Gibson, Ilse van Staden en Ernst van Heerden (wat my as laerskoolkind tot gedigte-skryf gedryf het), en Etienne Leroux

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

Ek het in Pietermaritzburg grootgeword. Ons ouerhuis was oorkant Dell Superette, die kafee waar Fiona Harvey op 22 Desember 1988 gaan melk koop het voordat sy op pad huis toe deur Gert van Rooyen en Joey Haarhoff ontvoer is. Ek was ook 12, dieselfde ouderdom as sy. Vir my Nuwe Stemme 6-inskrywing moes ek twee nuwe gedigte skryf (die ander vyf was ou gedigte waaraan ek net geskaaf het). Vir inspirasie het ek onder andere probeer dink aan ’n unieke belewenis in my lewe en toe die idee gekry om oor my herinnering aan Fiona Harvey se verdwyning te skryf. Ek was ook bietjie nostalgies oor my eie kinderjare op daardie stadium en wou iets hiervan in die gedig invleg – alles sonder om soetsappig te wees.

Dit is hoe “Melk” ontstaan het.

Kyk hier na video's waarin Elmarie van haar gedigte voorlees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top