Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Donnay Torr

  • 1

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Donnay Torr

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Nuuskierig. Hardkoppig. Moerig. Onseker. Skeppend. Braaf (soms).

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Die “Australië toe!”-emigrasieproses het my anders laat dink oor en kyk na dinge. Die een ding waarsonder ek werklik sukkel (en wat nou so vê-ê-ê-r weg van my is!), is my vriende en familie. Lang gesprekke, mal partytjies, drukkies en wyn en gedeelde oomblikke saam met die mense wat ek liefhet. Dis blerrie kosbaar. Koester dit. Gewone dinge wat ook help: boeke. Musiek. Katte. Earl Grey-tee. Goeie seks.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

Dit gebeur min dat ek ’n gedig “beplan” – die goed bespring my gewoonlik, dan gebruik ek maar wat ook al naby is.

“Op Epping Treinstasie” het op Epping-treinstasie gebeur, terwyl ek wag op die oggendtrein werk toe. Daar was ’n nes vol jong Indian mynas bo my kop, een outjie het probeer vlieg … Op die spore geland net toe die trein daar aankom. Ek’t in trane uitgebars en moes die gedig in my stokou bandopnemertjie mompel. Ek dink die mense het gedink ek is gek. Wat ook maar oukei is, want daar is báie vreemde mense op die treine hier. Dis eintlik wonderlik.

En dan was daar natuurlik al ’n paar ellelange raadsaalvergaderings … En ’n baie inspirerende oomblik in ’n hysbak by ’n mediamaatskappy in die Kaap.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

Op die oomblik is dit ’n klein ingeboude hoekie in ’n “cookie cutter”-tweeslaapkamerwoonstel in ’n groterige woonstelblok. Dit is volgepak met CD’s, tydskrifte, post-it notes, woordeboeke, skryfgoed, brille, poskaarte en “goetertjie kakketjies”. Tans ook ’n leë gemmerbierbotteltjie met ’n handelsnaam/plakker waarvan ek hou: Gingerella.

Dit maak my man heeltemal gek, hy verstaan nie hoe die wanorde kan werk nie. Ek het nog altyd ’n “proses” met die skep van enige projek, wat ook al dit is. Soos dinge spertyd toe beweeg, raak my lessenaar al hoe meer deurmekaar en bisar. Wanneer alles voltooi is, maak ek skoon: wetwipes, Dettol, stoflappe, gooi goeters weg, herrangskik, maak potlode skerp (ek verkies om met potlode te skryf, eerder as pen). Dan begin ek van voor af met wat ook al volgende op die lys is.

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Skrywers: Terry Pratchett, Neil Gaiman, Haruki Murakami, Arundathi Roy, Nnedi Okorafor, Michael Chabon, Jonathan Franzen, Kazuo Ishiguro, Sally Andrews, Lauren Beukes, PG du Plessis, Harry Kalmer, Schalk Schoombie. Digters: Charles Bukowski, Warsan Shire, Maya Angelou, ee cummings. Daar is natuurlik nog baie meer. Ek vind dit onmoontlik om net een te kies. Te lief vir lees.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

As ek die temas van my gedigte erg wou vereenvoudig, sou ek sê dit wentel meestal rondom seks en vervreemding.

Dit was/is bitter moeilik om in ’n nuwe land aan te pas, veral as jy nie uit die ou land “gevlug” het of noodwendig lus was om die pad te vat nie. Mens herdink alles oor jouself en jou herkoms – en jou toekoms. “Kersfeessprokie” het ontkiem nadat ek die Kersversierings in een van die winkelsentrums naby ons gesien het. Kameelperde?! Leeus?! Warrefok, Australië?! Dit was ontsettend vreemd en ontstellend om skielik al die “Afrikadiere” te sien. Heeltemal uit plek uit. Ek het ook geskrik vir hoe emosioneel ek daaroor was. Moes dit uitpluis.

Foto van Donnay Torr: Sven Kristian

Luister hier na ’n opname waarin Donnay haar gedig "Memento mori" voorlees.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top