Nuwe stemme 6 – 6 vrae vir Angie Gallagher

  • 1

Nuwe stemme 6 het pas by Tafelberg verskyn. Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé is die samestellers van dié bundel, ’n versameling van die beste verse van Afrikaans se opkomende digters.

Liné Enslin gesels met die gepubliseerde digters. Lees hier die ander onderhoude.


 

Angie Gallagher

 

1. Beskryf jouself in ses woorde.

Lilliputterig, maar lief vir lywige ontleding.

2. Noem ses dinge waarsonder jy nie kan leef nie.

Ek sal seker nog kan leef, maar my lewe sal baie armer wees sonder gereelde gesels met my mense oor meer as net die prys van brood en melk. Stilte, sterk koppies tee, kaas, kuns wat jou hart uitruk (dit sluit boeke, films en musiek in), en my kat, Racheltjie.

3. Wat is die vreemdste plek of medium waarop of waarmee jy al ooit ’n gedig geskryf het?

’n Hele paar idees op inkopiestrokies is al per ongeluk in die asdrom gegooi en ’n paar ander in die stort van die agterkant van my hand afgewas, maar ek dink nie dis vreeslik ongewone plekke om goed neer te skryf nie. Ek neem partykeer ’n vinnige voice note op as daar nie ’n skryfding byderhand is nie.

4. Hoe lyk jou werkruimte?

5. Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Ek het liewer gunstelinge – maar hulle verander ook dikwels. Ek herontdek tans vir Opperman en is baie opgewonde oor Jolyn Phillips ná ek haar by vanjaar se Tuin van Digters in Wellington gesien het.

6. Vertel asseblief bietjie meer omtrent een van jou gedigte wat in Nuwe stemme 6 opgeneem is.

“vlerksleep 2.0” is geskryf na aanleiding van ’n dééglike ondersoek na die wêreld van Tinder en ander online dating platforms. Daar’t dadels van die dating gekom, maar darem kon ek dié gedig skryf.

vlerksleep 2.0

as jy in die aanlynbondel vry:
– wees met eksklamasie kwistig,
– hooflettersinne’s te luidrugtig,
– te veel punte sê jy’s moerig.

in dié opsitkers se lontlose lig
sal die hoekie vir eensames gedy

laat jou torings van poësie sloop
leer om emoji’s aan mekaar te knoop
laat snoere hiëroglief eksplisiteer
hoe graag, hoe grafies jy begeer

Luister hier na opnames van Angie se gedigte.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top