Nuusflits: Flitskaarte is ’n belangrike hulpmiddel in enige klaskamer

  • 0

Flitskaarte kan vir enige vak in die klaskamer aangewend word.

Hoe kan onderwysers kinders se belangstelling in die klaskamer prikkel? In hierdie onderhoud is 'n wenk:

Belangrike woorde in enige vak kan op flitskaarte geskryf word en in die klaskamer vir ’n twee-minuut-aktiwiteit gebruik word. Byvoorbeeld: toon die kaart, klank die woord of breek dit op in lettergrepe, dui begin-, middel- en eindklanke aan sonder dat die flitskaart getoon word, flits die kaarte al hoe vinniger. Die onderwyser wat die waarde van die aktiwiteit insien, sal ’n paar minute hiervoor inruim.

Vir nog praktiese voorstelle, lees die gesprek van Estelle Kruger met Ansie Lessing (AL) en Marike de Witt (MdW) oor hulle artikel:

Die gebruik van flitskaarte as hulpmiddel in die verwerwing van sigwoordeskat deur leerlinge met leestekorte

Julle vorige artikel het gehandel oor neurowetenskaplike insigte aangaande die leeshandeling,[1] waarin julle teoretiese grondslae vir lees bespreek het. Hoe dink julle is die gebruik van flitskaarte in die verwerwing van sigwoordeskat ’n praktiese toepassing van hierdie teorie?

MdW: Die twee navorsingstudies het hand aan hand geloop en die fokus was in hierdie spesifieke navorsing nie op die neurologie nie. Vir seker speel die neurowetenskap ’n rol in die agtergrondkennis van die opstel van sodanige program.

AL: By nabaat gesien het ’n aantal aspekte van die neurologiese funksie van die brein ’n rol gespeel in die gebruik van flitskaarte om sigwoordeskat te verbeter, alhoewel dit nie in die aanvanklike beplanning gefigureer het nie. In die lees van die flitskaarte het leerlinge aandag gegee en gebruik gemaak van die werkende geheue. Die identifisering van begin-, middel- en eindklanke het nie slegs beplanning en organisering vereis nie, maar ook kognitiewe vloeibaarheid en die vermoë om van een aktiwiteit na ’n ander oor te skakel. Dit bevestig ons vermoede dat die inskerping van die verskillende aspekte van die neurologiese funksie van die brein, veral tydens die voorskoolse jare, moontlik tot ’n verbetering in leerlinge se lees kan lei.

Julle maak melding dat die teorieë van Piaget en Vygotsky as onderbou van julle hulpverleningsprogram gedien het. Wéét onderwysers wat hierdie teorieë is en wat die implikasies daarvan behels?

MdW: Indien onderwysers die toepaslike opleiding het, behoort hulle ’n basiese kennis van die teorieë te hê aangesien die samestelling van opleidingsprogramme op dié beginsels gegrond is.

Julle het steierwerk (“scaffolding”) as konstruktiewe boustellasies in julle hulpverleningsprogram gebied aan leerders met behulp van die flitskaarte deur visuele stimulasie om die herkenning van woorde deur assimilasie te versterk. Dit klink na bruikbare onderwysmedia. Is julle program beskikbaar vir onderwysers om te bekom?

MdW: Die basiese beginsels van die gebruik van flitskaarte behoort in alle opleiding aan studente in die grondslagfase bekend gestel te wees. Dit is egter in die praktyk die verantwoordelikheid van die praktisyn om dit te skep en toe te pas – ’n beginsel wat net so ’n bietjie meer van die goeie onderwyseres verwag word. In ’n totaal oorlaaide program kan dit egter maklik agterweë gelaat word.

AL: Ons hulpverlening met flitskaarte behels meer as die gewone “flits van woorde” wat op kaarte aangebring is. Ons gebruik die flitskaarte ook om ouditiewe persepsie te versterk en leerlinge te help om onbekende woorde te dekodeer – aktiwiteite wat met groot gemak en sukses in die klas gedoen kan word. Die speletjies (geheuespel en “wie-lees-die-kaart-eerste”) is uitsonderlik aan ons program en veral bruikbaar in klein groepe. Ons is van mening dat flitskaarte ’n belangrike komponent van die leeshoekie in die klaskamer behoort te vorm. Ons het al verskeie werkswinkels (veral in die afgeleë gebiede van Limpopo) aangebied en baie positiewe terugvoer van onderwysers gekry.

Sou julle sê dat die vrae[2] wat ontstaan het na aanleiding van julle vorige artikel, in hierdie nuwe navorsing en artikel beantwoord is?

MdW en AL: Ons het nie probeer om al die vrae te beantwoord nie, omdat dit taamlik omvangryk is – dit vra vir seker meer as een artikel om dit aan te spreek, en ons werk daaraan. Hierdie wenke kan egter baie sinvol bydra in die soeke na oplossings vir soveel kinders met leesprobleme. Persoonlike inisiatief is ’n baie belangrike aspek van alle hulpverlening en dit is belangrik dat onderwysers idees aangryp, hulle eie maak en daarmee eksperimenteer tot voordeel van die leerlinge. Onderwysers behoort daarteen te waak dat hulle in ’n groef verval en behoort in gedagte te hou dat elke kind uniek is en persoonlike behoeftes het – ook ten opsigte van leesonderrig.

Ons kyk wel in ’n verdere ondersoek na graad R-onderwysers se mening oor ons teorie en hulle siening van die waarde van ’n neurologiese benadering tot ontluikende lees. Ons beplan ook om die teorie toe te lig met praktiese voorbeelde wat waarde vir onderwysers en ouers sal hê. Die vraag: “In watter mate sou ’n neurologiese benadering tot leesonderrig tot leerlinge se leessukses bydra?” sal ’n longitudinale studie vereis en ons hoop dat daar êrens in die praktyk ’n onderwyseres is wat vir so ’n studie sou kans sien.

Ek merk op dat julle ’n aantal sinvolle versoeke gekry het na die vorige gesprek wat ons oor julle navorsing gehad het[3] – het dit enige invloed op die huidige studie gehad?

MdW en AL: Die empiriese gedeelte van die navorsing oor flitskaarte was reeds afgehandel, voordat ons die versoeke nav die vorige gesprek ontvang het. Die basiese uitgangspunt vir alle leesonderrig bly egter altyd dieselfde: “Om vloeiend te kan lees vereis voldoende woordeskat, bemeestering van basiese konsepte, deeglike fonemiese bewustheid, kennis van die alfabetiese beginsel en die gedrukte woord en ’n effektiewe geheue” (uit die vorige gesprek aangehaal) en alle hulpverlening hou hierdie aspekte in gedagte.

Sinvolle vrae en versoeke lei egter altyd tot nuwe invalshoeke van navorsing – hierdie was maar een poging. Ons is reeds besig met ’n meer omvattende benadering wat reeds toegepas word in ’n loodsstudie waar die behoefte  baie groot is en hoop om binnekort navorsinguitsette beskikbaar te kan stel.

Watter praktiese raad het julle vir ouers van kinders wat leestekorte het?

MdW: Ouers moet nie wag dat die probleem te groot en onoplosbaar word nie – ouers kan self baie doen om dit aan te spreek. Die geheim lê daarin dat kinders van geboorte af gereed gemaak word vir toekomstige formele leerstrukture: lees, skryf en reken. Hierdie aspekte sal in hieropvolgende artikels aangespreek word.

AL: Gesels en lees stories vir die kinders, want taal- en luistervermoë is belangrike boustene vir latere leessukses.

Hoe kan onderwysers bemagtig word om julle hulpverleningsprogram te gebruik om leerders wat ontoereikende leesvermoë het, te help? Het julle al daaraan gedink om kortkursusse hieroor te ontwikkel en aan te bied?

MdW: Die belangrikste is seker om die beplanners van onderwys daarvan bewus te maak. Opleiding behoort in die eerste plek deur die onderwysdepartemente aangespreek te word. Kortkursusse bereik altyd net dié wat dit kan bekostig en hulle werk ernstig opneem. Binne die Suid-Afrikaanse konteks in sy geheel is die probleem egter so groot dat ernstige remediëring nodig is. Algemene statistiek wys dat slegs een derde van graad 3-leerders insigtelik kan lees.

Julle hulpverleningsprogram het oor 10 weke gestrek en die data van 11 leerders is gebruik. Hoe kan ’n onderwyser sodanige programme inpas in ’n oorvol kurrikulum en volgepakte klaskamers?

MdW: Dit is ’n sinvolle vraag, aangesien die oorgrote meerderheid van skole in Suid-Afrika meer as 45 leerders in ’n klas het.

AL: Dis belangrik dat onderwysers sal besef dat die gebruik van flitskaarte ’n onderontginde hulpmiddel is wat in meer as net die leesprogram gebruik kan word. Belangrike woorde in enige vak kan op flitskaarte geskryf word en in die klaskamer vir ’n twee-minuut-aktiwiteit gebruik word. Byvoorbeeld: toon die kaart, klank die woord of breek dit op in lettergrepe, dui begin-, middel- en eindklanke aan sonder dat die flitskaart getoon word, flits die kaarte al hoe vinniger. Die onderwyser wat die waarde van die aktiwiteit insien, sal ’n paar minute hiervoor inruim.

Julle navorsing is in ’n stedelike privaatskool gedoen. Dink julle dat die bevindinge toepasbaar is in landelike skole? Motiveer asseblief.

MdW: Dit sou toepasbaar kon wees as die onderwyseresse oortuig kon word van die sinvolheid van die program. Met ’n totale gebrek aan onderwyshulpmiddels en ondersteuning kan dit egter net ’n droom bly.

AL: Die gebruik van flitskaarte in leesonderrig is juis ’n baie doeltreffende metode, omdat dit eenvoudig en betreklik goedkoop is. Die samestelling van woorde (VKV) in ander inheemse tale is moontlik ’n struikelblok.

Die navorsing wat julle gedoen het, berus hoofsaaklik op kwantitatiewe data. Is daar ook kwalitatiewe navorsing beskikbaar oor hierdie tipe hulpverleningsprogramme?

MdW: Daar is kwalitatiewe data in handboeke beskikbaar omdat waarneming in leesonderrig altyd ’n baie groot rol speel.

AL: Die flits van woorde wat op kaarte geskryf is, is ’n onderrigmetode wat al baie lank met ons is en dit word in baie handboeke oor leesonderrig genoem. Volgens die literatuur beskou baie onderwysers dit egter as ’n vervelige aktiwiteit, daarom die noodsaaklikheid om iets aangenaams van die aktiwiteit te maak. By die skool waar hierdie navorsing gedoen is, het onderwysers nie in die onderrig van lees van flitskaarte gebruik gemaak nie. Ons kon geen navorsingsresultate (kwantitatief óf kwalitatief) opspoor oor die waarde van flitskaarte in leesonderrig nie.

Het julle enige steun of kritiek van ander onderwysers in die skool gekry terwyl julle die navorsing gedoen het?

MdW: Onderwysers is deurgaans in die navorsing betrek en deel van die projek gemaak. Ons het hulle egter versoek om nie enige van die aktiwiteite in hulle klas toe te pas terwyl ons navorsing aan die gang was nie. Ons het baie positiewe terugvoer van hulle gekry oor die verbetering wat nie net in die lees nie, maar ook in die spelling van die leerlinge voorgekom het.

AL: Die navorsing is met graad 2- en 3-leerlinge gedoen. Die graad 1-onderwyseres het hulle beny en ons om hulp genader. Ek het ’n les vir haar klas gaan aanbied waarin al die aktiwiteite, buiten die geheuespel en “wie-lees-die-kaart-eerste” geïnkorporeer is. Die twee speletjies is verduidelik en die flitskaarte het ’n plek in die leeshoekie gekry. Ook in die klasopset was dit duidelik dat die leerlinge die aktiwiteite met die flitskaarte baie geniet het. Nadat die leerlinge die konsep van die herkenning van begin-, middel- en eindklanke bemeester het, het hulle baie geesdriftig aan die aktiwiteite deelgeneem. Om te voorkom dat die “vinnige” leerders die aktiwiteite oorneem, het ek die eerste ses leerlinge, namate hulle die aktiwiteit bemeester het, laat “slaap” (op die arms laat lê) – ’n aktiwiteit wat tot groot pret en genoegdoening by die leerlinge gelei het.

Een van julle aanbevelings is dat soortgelyke navorsing onderneem moet word. Beplan julle self enigiets in hierdie verband?

AL: Daar is dikwels nagraadse studente wat wonder oor ’n onderwerp vir hulle studie. Ons het gehoop ’n grade-onderwyseres sien kans om so ’n studie aan te pak.

’n Doelstelling wat julle nagestreef het in die studie is dat leerders se motivering om te lees verhoog word. In watter mate het julle daarin geslaag?

MdW: Ons dink tog ons het daarin geslaag om ’n gevoel van opgewondenheid en bemeestering by die leerlinge te skep. Die klem in sodanige program is om die gevoel van genot en ’n liefde vir lees te ontwikkel.

AL: Van die deelnemertjies aan die navorsing kon nie wag om by my te kom spog dat hulle by die huis gelees het nie. Die vraag bly egter of dit ’n langtermynsukses is – 10 weke is maar ’n kort tydjie in ’n mens se lewe.

Het enige nuwe vrae by julle ontstaan na afloop van hierdie studie?

MdW en AL: Ons hou ons ondersoekende breine in toom en bepaal ons liewer by die huidige navorsing, naamlik ’n indringende ondersoek na die waarde van ’n neurologiese benadering tot ontluikende lees en die ontwikkeling van praktiese voorbeelde in dié opsig wat waarde vir onderwysers en ouers sal hê.

[1] https://www.litnet.co.za/n-neurowetenskaplike-beskouing-van-die-leeshandeling.

[2]  Die vrae wat ontstaan het nav die vorige artikel was die volgende:

  1. Wat sou ervare graad 1-onderwyseresse van die teorie dink?
  2. Hoe kan die teorie met praktiese voorbeelde vir belangstellende ouers en onderwysers toegelig word?
  3. In watter mate sou ’n neurologiese benadering tot leesonderrig tot leerlinge se leessukses bydra?
  4. Hoe kan hierdie benadering sinvol aan die duisende onderwysers in die praktyk oorgedra word? Ons is oorbewus van die feit dat die enkele skole in stede nie die norm is nie.

[3] https://www.litnet.co.za/kinders-se-leesprobleme-is-daar-oplossings.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top