
Dis die eerste dag van Suidoosterfees 2015 en Niël Rademan gesels in die verbywaai met Naomi Meyer.
Hallo Niël, hoe sit daardie warm stoel waar jy is op die eerste dag van die Suidoosterfees, die eerste een waarvan jy die uitvoerende hoof is? Of sit jy nie juis op die oomblik nie?
Ek is iemand wat "kalm" baie goed in die openbaar kan "speel". My studieveld is tog die toneel ...
Om ’n fees te organiseer is ’n groot werk en daar is baie mense om tevrede te hou. Wat was jou hoofdoelstellings toe jy gedink het wat op die program moet wees vanjaar?
Ek werk met 'n gesoute programkomitee van 'n verskeidenheid mense – ons besef dat ons ’n smorgasbord van vermaak moet aanbied, maar ons hou ons teikenmark heeltyd in gedagte.

Gepraat van om almal tevrede te hou: dalk is die hele organisasie van die fees soos om ’n koerant se afdelings te kies – almal lees dalk nie die sportafdeling nie. Wat kan jy vir mense aanbeveel wat hou van teater, of van musiek, of van saampraat?
Die vraag is bitter onregverdig. Hierdie program bestaan uit komponente wat soos my kinders /vriende voel, maar as ek moet: Siener in die Suburbs, The Medium en ODEION Strykkwartet & Zanne Stapelberg, Jakes Gerwel Gesprekke.
Jy is ’n kabaretkunstenaar uit eie reg. Wat maak jou persoonlik opgewonde van wat op die program is vanjaar, as jy iets moet uitsonder?
Slegs vir almal van Hennie Aucamp onder regie van die briljante Lindi Smit en musiekregie deur Gertjie Besselsen, én The Medium, 'n kort vermaaklike opera deur Carlo Menotti.

Wat is die praktiese reëlings vir mense wat nog nie kaartjies gekoop het nie? Waar moet hulle gaan kyk om die hele program te sien, waar koop hulle kaartjies en waar word al die shows aangebied?
www.suidoosterfees.co.za en Computicket.

Is daar enigiets wat gratis is?
Die volle gratis dagprogramme op 2 en 3 Mei met ’n verskeidenheid van sang, dans en toneelspelkomponente. Lewende trekklavier, marimba en koperblaasgroepe. Lyndans! 'n Kulkunstenaar, 'n flitsfees / flash mob / happening. RSG-konsert, boeke, kos en snuisterystalletjies. En nog vele meer.
Hierdie jaar se Suidoosterfees getuig van 'n wind wat met verandering waai – en ons leuse is, soos Aucamp in 'n kabaretstem, sou sê: Slegs vir almal!


