Nathan bou bakstien-vi-bakstien an ôsse swat literatuur, sê Diana Ferrus

  • 0

...
Nathan het vi my ’n wêril oepgebriek, asoek my soul asse writer gerearrange, soeveel soe, hy’t my gehelp my true authenticity en identity asse swat Moesliem skrywer embrace, my ’n space vi my Cape Muslim vernacular gemak
...

Oppie 23ste April, mettie afstap innie paaitjie narie Public Health-gebou op UWC se kampus, sien jy mooi rône tafels met wit tafeldoeke en stoele soese banquet uitgelê, pronk. Die glasmure vannie foyer wattie son met oepe arms ontvang, smaak my highlightie vetrek en mens kannie but kyk narie mooi gedekte glase by elke bôd wat soes soldare vi hulle esteemed gaste staan en wag, asof hulle al klaa ’n standing ovation virrie laiks vannie event se gepaste theme creatie. Nathan Trantraal wôd vedag hie gehonour – full stop.

Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) ennie varsity van Westen Cape vier en ve’eer Nathan Trantraal vi sy literêre bydrae yt sy eie pen, asoek sy wholesome mentorship vi mienage skrywers wat oek oppie program hulle wêk en journeys saam Nathan met trots annie audience voolies. Ryan Pedro voer amal weg met sy poetry uit sy bundel, Pienk ceramic-hondjies, en Nathan se ma, Charmaine Africa, liewer ’n striking blik yt haa vetellings van haa debut publication, Amma. Ek lies yt my bundel, een voet innie kabr, die storie wat my die meeste gewroeg et, “King cello”. Die storie wat ek innie pwasa mettie ytie-qibla-yt theme moes geskryfit en ek voel innie wore wat ek daa voolies die advice ennie encouragement wat Nathan respectfully an my gegie et. Met niks voorsê of judgementie:

Moenie goet doen wat djy nie willie. Skryf soes et is. Moenie jouself sensorie en skryf wat djy wiet.

Met dai advice het ek myself gevra hoe vêr is ek willing om myself te challenge en hoe kan ek an unwanted theme maak wêk, cos writing is oek ’n job innie anne kant vi my. Is hoe my familie bly survive. In simple terms: Ôse swat skrywers se everyday chokers en survivors moments is rife en real as djy nog kryp en jou stêk biene try kry. Ek staan daa innie saal voo Nathan en my anne mentor Diana Ferrus en ek lies myself bare en uncensored innie public proudly. Isse full circle moment. Ek voel soese bakstien – deel vanne mier en sament, geanke.

Steward van Wyk bedank my vi my “mooi roerende woorde en voorlesing” en ek gaan sit while ek nog altyd binne biewe. Nathan het vi my ’n wêril oepgebriek, asoek my soul asse writer gerearrange, soeveel soe, hy’t my gehelp my true authenticity en identity asse swat Moesliem skrywer embrace, my ’n space vi my Cape Muslim vernacular gemak en het my die overlapping meet van dai twie wêrilde in perspective gebring.

Die program gan an ennie dance crew, choreography deur Michael Elroy Khoosal, onvou dramatically innie een hoek metta danser innie hoed en onnebaachie – remind my van Michael Jackson se “Smooth criminal”. Die bra sit en maak alleranne akeltjies en djy hoor Nathan se audio innie backrground van sy poem, “tot hie toe ennie vêderie”:

Wies careful van mense wat hulle harte op hulle moue dra
wan sukke mense wysie altyd vi jou hulle regte hartie.
Hulle regte hart is weggevou inne kissingsloep onnerie kooi.
Wies careful van mense wat sê hulle is lief vi jou
wan hulle regte liefde hou hulle inne koffieblik oppie kas.
Wies careful van mense wat in jou oë kyk as hulle met jou praat
wan hulle regte oë sit inne envelope onne innie laai.
Wies careful van mense wat vi jou sê jou hare is mooi
wan is hulle wat dywels begrawe innie krake in jou miere.
En wies careful van mense met baie katte
wan hulle kan dai katte na jou hys toe stie innie aan
en hulle sal jou kinnes in hulle slaap vesmoo.
En moenie goed wat jy langsie pad optel hys toe bringie
an somtyds los ieman vi jou dai goed langsie pad
en da kô jy en dra it in jou hys in.

Allie pad tussen allie lines maakie danser-bra akkeltjies wat Nathan se wore liewe gie en hy ruk en shift en hak in poses wattie rhythm van Nathan se wêk pulse. Ek recognize ie poem uit Chokers en survivors. Asse poet self sien ek poetry breathe en ek dink dis perfect synergy – dans, rap, music. Is electric. My hat bloei vi Nathan. It smile en my trane wys hoe appreciate ek die honour wat hy kry, want hy vedien dié, over-en-over. Afterall, hysie man wattie MA innie Arts in creative writing se deur oepgetrappit ennit vi ôs amal na hom oepgehourit.

Nathan Trantraal isse poet, cartoonist, translator, playwright, screenwriter, short story writer en columnist. Hy was met sy debut anthology, Chokers en survivors (2015), die Ingrid Jonker-prys voo award en kry ’n ATKV-Woordveertjie vi poetry in 2014. Sy tweere bundel was Alles het niet kom wôd en sy wêk was al innie Kaap, München en in Amstedam in uitgestal. Sy cartoon illustrations sal djy oek mienage male in veskeie Suid-Afrikaanse koerante raak lies, ma as djy Nathan ken, dan wiet djy dais nettie accolades wat hulle van wiet. Hulle wietie vannie students, sy mentees se expression of praise as hulle die hare wêk in druk voo hulle sien; offie waardeering ennie instant prayer vi Nathan assie reviews, wat hulle hare wêk merit gie, appear; offie simple brood wat hulle mettie geld vanne nogge boek vekoepit deliverie. Dai wiet hulle nie. Dai wiet net dié wie al sy kindness receivit. En dai is hoe djy ienage empire bou, bakstien-vi-bakstien, me djy jouself wattie sament tussen hulle is.

Jitsvinger kom oppie scene en vemaak amal met sy lirieke wat as djy mooi lyste echoe wat Nathan preach. Sy beat is catchy en mens wil net hanne klop. Ôs klop amal ennit gan lekka, ma die wore slat my van sy chorus:

Isja almal sien uit na die dag van môre
Ek rewind die tyd cause die past is important
My mind record wat ek sien jy
Die lewe change so baie
That’s why die beat oorslat na die chorus

Vedag is Nathan die chorus en sy wêk die lyrics. En ôs wat yt sy veins tap issie miere wat bly bou anne hys virrie swat skrywers, of soe verduidelik Diana Ferrus in haa speech byrie prysoorhandiging na ’n stunning commendatio, wa Ronelda S Kamfer, Nathan se vrou rieken, hysie slimste man wat sy ken. Diana, ’n legend vi ôs amal, oekie vorage ontvanger van die prys, bedank Nathan vir sy rol wat hy speel en gespeel het om die huis van swart Afrikaanse literatuur te bou. Sy sê:

Soveel bakstene het jy daarin gesit. Jy’t selfs ‘n deur ook daarin gesit. ‘n Deur wat baie jongmense kan deurloop. En mag jy nog lank deel wees van daardie huis, waar ons daardie huis nog kamers kan by bou, omdat jy soveel jongmense geïnspireer het.

Marlene le Roux praat oek vannie podium en shine van trots oo Nathan ennie commemoration van hom as skrywer op Wêrilboekedag. ’n Noenoesdag verduidelik sy voelit na. Sy’t allie pat vannie Artscape gekom om Nathan te onnesteen. Marlene respond an Nathan se statement narie oohandiging waa Nathan sê: “Die taal wat vir my altyd gevoel het isse plek waa ekkie behoot ie, beginne alhoemee vi my soese hys te voel.” En met deernis beaam Marlene aan hom dat ôs hom volg en hy die hartklop van onse mense praat. En wat hy gesê et, dat hy begin tys voel, virre lang tyd nie ôssie gevoel in ôsse eie land gewiesitie. En sy gan vêre en verduidelik dat is stemme soes Nathan s’n wat vir ôs kan sê dat dit is ons land. Dit is ons nageslag. Dit is ons mense en ons praat ons taal. Sy hartklop is ons hartklop.

En op dai noot eindig die mooie formele deel vannie dag. Die guests kry elkeen ‘n copy van Nathan se nuutste graphic novel Die man wattie kinnes vang en familie in literatuur gan sit an tafel en briek brood saam onnerie dak vannie SBA en UWC, gesament en geanker soes solit bakstienmiere.

Lees ook:

Nathan Trantraal (1983–)

Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal: ’n resensie

Geskiedenis in woord en beeld: Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal

Resensie: Lang pad onnetoe deur Jason Reynolds, vertaal deur Nathan Trantraal

Wit issie ’n colour nie deur Nathan Trantraal: ’n resensie

Skrywer van die week: Nathan Trantraal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top