
Alta Cloete skryf vrouefiksie, maar wanneer sy romanses aanpak, skryf sy onder die naam Marilé Cloete. En, as jy jouself wil bederf, Marilé se twee nuwe boeke is ’n Doodgewone meisie en Volbloedliefde (ek is mal oor die titel).
Toe ek uitreik na haar, het sy eerlike antwoorde, insae en opregtheid met my gedeel. Lekker lees!
Wat beteken “romanse” vir jou as skrywer, verby die uitgewers en genre-verwagtinge?
Vir my beteken dit ontvlugting, versagting van die harde werklikheid. ’n Tikkie fantasie.
Het Suid-Afrikaanse romanse vir jou ’n duidelike identiteit, of sien jy dit eerder as ’n genre wat voortdurend beweeg en aanpas?
In die amper 21 jaar van Romanza se bestaan het daar baie ontwikkeling en groei plaasgevind. Ek dink dis die wenresep vir die jare wat kom. Bygesê, ek sien Afrikaanse romanses as meer realisties as wat ‘n mens dikwels in die Engelse wêreld vind. En dis natuurlik eg-Suid-Afrikaans, wat dit uniek maak.
Hoe vorm plek – dorp, stad, kultuur, taal – die liefdesverhale wat jy vertel?
Natuurlik is die liefde universeel, maar die kulturele en fisieke omgewing gee dit ’n unieke aard. Ek vermoed in my werk vind die meeste van daardie vorming onbewustelik plaas. Ek is in hart en siel Suid-Afrikaans – en dis wat my stories is.
Wat is die moeilikste emosionele waarhede om eerlik in romanse te skryf?
Elke ernstige liefdesverhouding begin met ’n oomblik vir elke lid van die paartjie waarin hy/sy moet besluit om die sprong te waag. Dis altyd ’n risiko om jouself vir die liefde oop te stel, want dit maak jou weerloos. Daardie oomblik is vir my belangrik, maar ook moeilik. Juis omdat dit so belangrik is.
Hoe balanseer jy ontvlugting met realisme in jou werk?
Die enigste tikkie fantasie in ’n romanse is die amper-perfekte held en heldin. Die verloop van die verhouding, die emosies wat ervaar word en die fisieke omgewing en aktiwiteite moet steeds geloofwaardig bly.
Is daar temas wat jy onder druk voel om in te sluit of te vermy?
Warm romanses is tans baie gewild en loopbaangewys sou dit slim wees om ook daar my voet in die deur te kry. Dis egter nie vir my nie. Nie omdat ek so besonder kuis is nie, maar omdat die aard van die liefdestonele nie vir my die kern van ’n romanse is nie. Die emosionele ontwikkeling tussen die held en die heldin is vir my sentraal. As ek doelbewus die liefdestonele meer intiem probeer maak, gaan dit nie eg wees nie.
Voel jy dat romanse ernstig opgeneem word binne die Suid-Afrikaanse literêre ruimte?
Beslis nie deur almal in die boekwêreld nie, maar sedert ek in 2007 my eerste romanse gepubliseer het, het daar geweldige vordering plaasgevind. Literators soos Louis Esterhuizen, en Nini Bennett-Moll van Die Boekboetiek, is byvoorbeeld entoesiasties oor romanses se plek in die groter literêre prentjie.
Dink jy Suid-Afrika se hoë vlakke van geweld, veral geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord, beïnvloed hoe romanse geskryf, gelees en ervaar word?
Deel van die grense waarbinne romanses geskryf word, is die afwesigheid van ernstige trauma soos wat jy noem in die stories.
Die grense het wel die afgelope aantal jare effens meer poreus geword en ernstige kwessies word nou dikwels aangeraak.
Die kernwoord hier is “aangeraak”. Dit word nooit in detail uitgespel nie en neem meestal die vorm aan van die held of heldin wat in die verlede trauma ervaar het, maar nou besig is om dit te verwerk.
Dis belangrik dat die held nie die heldin red nie (of andersom). Die nuwe liefde kan wel die persoon nuwe energie en insig gee oor hoe om sy/haar uitdagings te hanteer, maar die liefde word nie as ’n towerstaffie voorgestel wat alle probleme oplos nie.
Wanneer ernstige kwessies ter sprake kom, is dit belangrik om dit lig te hanteer (want dis ’n romanse), maar nie ligsinnig nie. Daar moet altyd respek en deernis wees. Die verwerking van ernstige trauma moet nooit as maklik voorgestel word nie.
Romanses bevat wel ’n tikkie fantasie (meestal in die vorm van helde en heldinne wat so ’n bietjie mooier is as die meeste van ons gewone siele), maar dis belangrik dat trauma nie geromantiseer moet word nie.
In die Engelse wêreld is daar wel sprake dat “borderline abuse” soms geromantiseer word en ek dink dis uiters gevaarlik.
Na jou mening: voel mense in Suid-Afrika emosioneel en sosiaal veilig genoeg om verlief te raak, en hoe beïnvloed dit romantiese vertellings?
Dis ’n baie onromantiese siening, maar ons moet onthou dat verliefdheid hoofsaaklik ’n fisieke proses is waaroor die “slagoffer” nie eintlik veel beheer het nie. Mense sal dus altyd verlief raak, selfs onder die moeilikste omstandighede.
My gevoel is dat hoe moeiliker mense se omstandighede is en hoe onveiliger hulle voel, hoe makliker hulle so ’n verliefdheid sal aangryp as die “redding” uit daardie situasie, hetsy emosioneel of fisiek.
Ek dink dit verhoog die skrywer se verantwoordelikheid om entoesiasties oor die liefde te skryf, maar om nie blote verliefdheid as ’n oplossing vir ’n karakter se emosionele behoeftes te teken nie. Dit is dus vir my belangrik dat die karakters moet besef wanneer hulle bloot verlief raak en dat hulle ’n onderskeid moet kan tref tussen verliefdheid en ware liefde. Vir my moet daar dus ’n oorgang tussen die twee wees.
Hoe benader jy die skryf van romanse in ’n land waar die werklikheid van vrouemoord en geweld teen vroue so teenwoordig is?
Romanses word meestal deur vroue as ontvlugting gelees en in daardie opsig is dit nou belangriker as ooit. Hoe moeiliker die werklikheid is, hoe nodiger het ’n vrou daardie ontvlugting. (Daar is natuurlik ook ander minder gesonde maniere van ontvlugting, wat dikwels met verslawing verband hou. Ek glo lees is die beste “verslawing” wat mens kan kry.)
Mense beweer soms romanses skep onrealistiese verwagtinge by vroue, maar ek dink selfs tieners is nie so naïef dat hulle dit met die werklikheid sal verwar nie.
Ek skryf dus vir vroue wat te midde van al die aakligheid in die wêreld steeds vashou aan die wonder van die liefde en ek dink dis ’n ernstige verantwoordelikheid wat ’n skrywer moet aanvaar.
Watter wanopvattings oor romanse-skryfwerk frustreer jou die meeste?
Mense dink iets wat maklik lees is noodwendig maklik om te skryf. Ek dink wanneer iets maklik lees, is dit juis omdat die skrywer baie moeite daarmee gedoen het.
Beïnvloed markverwagtinge enigsins jou kreatiewe keuses?
Nie juis nie. Ek skryf maar wat in my kop (of hart!) opkom.
Hoe bewus is jy van jou lesers wanneer jy intieme of sensitiewe tonele skryf?
Ek skryf waarmee ek gemaklik is en hoop dit kom by die regte lesers uit.
Voel jy ’n verantwoordelikheid teenoor diverse voorstelling, genesing of hoop in jou stories?
Ja, baie beslis. Diversiteit kom juis nog kort in Afrikaanse romanses. En ek moet altyd aan die einde van my storie tevrede wees dat die paartjie oukei sal wees ná ek hulle gelos het! Hulle karakterontwikkeling moes dus van so ’n aard gewees het dat ek voel hulle sou in die werklikheid ’n suksesvolle verhouding kon voortsit.
Watter verandering hoop jy om in die Suid-Afrikaanse romanse-uitgewerswese te sien?
Die streng grense waarbinne romanse geskryf word, het al heelwat verslap. Ek hoop dit gebeur nog meer, sodat skrywers meer vryheid kan hê.
En ek wens ons kan bruin romanseskrywers kry. Ek weet romanses het baie bruin lesers, maar dit moet sekerlik frustrerend wees om net altyd van wit helde en heldinne te lees.
Watter raad sou jy gee aan nuwe skrywers wat vandag die genre betree?
Skryf die storie wat jy graag wil lees!
Lees ook:
"Ek dink ek het liefdesverhale saam met melk ingekry!” – Elsa Winckler
"Real romance is more complex" – an interview with Nadia Cassim

